Amerikaanse presidentsverkiesing 2024: Hoe raak dit ons?

  • 4

Aan die begin van 2024 is daar bereken dat ongeveer die helfte van die wêreldbevolking in dié jaar aan verkiesings gaan deelneem. Die verkiesing in Rusland het geen verrassings opgelewer nie, maar die uitkomste in Indië, Suid-Afrika, Frankryk en die Verenigde Koninkryk (VK) het vir groot verrassings gesorg. Premier Modi moes noodwendig alliansies aangaan om te bly regeer; plaaslik moes die ANC ’n regering van nasionale eenheid saamstel; in Frankryk het die politiek na regs gemik en uiteindelik na links geswig; en in die VK het die Arbeidersparty met ’n wegholoorwinning die regering onder Keir Starmer geword. Die VSA het egter ook sy politieke verrassings opgelewer soos toe die bejaarde Joe Biden op 82-jarige ouderdom op die nippertjie besluit het om nie sy nominasie as president vir ’n tweede termyn te aanvaar nie en daar ’n mislukte sluipmoordpoging op Donald Trump was.

Beide die Demokrate en die Republikeine in die VSA het nou hulle nasionale konvensies gehad en hulle presidensiële kandidate formeel aangewys. Die Republikeine het hulle nasionale konvensie in Milwaukee, Wisconsin gehou en daar is hulle verkiesingsmanifes as die 2024 GOP Platform aanvaar: Make America Great Again. Die Demokrate het gedurende Augustus hulle nasionale konvensie in Chicago, Illinois gehou; die Harris-Walz- presidensiële span is formeel aangewys en die Demokrate het hulle politieke platform aanvaar. Die Demokratiese platform beskryf klassieke demokratiese beleidsprioriteite soos besteding op infrastruktuur en vervaardiging, om belasting op die middelklas te besnoei, en om hoër belastings te hef op die ultrarykes en groot maatskappye om sodoende vir klimaatsverandering te betaal. Dit spreek lewenskoste aan, bekostigbare gesondheidsorg, aborsieregte en metodes om wapengeweld aan bande te lê.

Alhoewel daar ook ’n derde presidentskandidaat geregistreer is, naamlik John F Kennedy jr, wil dit voorkom asof hy nie ver gaan kom nie en waarskynlik sy steun aan Donald Trump gaan toesê. September en Oktober 2024 gaan dus twee intense maande van politieke veldtogte, radio- en TV-advertensies en politieke debatte wees wat in ’n verkiesing op 5 November 2024 gaan kulmineer.

Sedert 1788 vind daar elke vier jaar ’n presidensiële verkiesing in die VSA plaas en vanjaar sal dit die 60ste presidentsverkiesing wees. Die verkiesingsproses is egter meer ingewikkeld as die meeste ander demokrasieë s’n as gevolg van die ontstaan van die VSA teen die agtergrond van wat die stigters in Groot-Brittanje beleef het en nie weer wou toelaat in hulle grondwet nie. In ’n sekere sin het die oorspronklike skrywers van die grondwet in 1776 ’n permanente onstabiele bestendigheid in die grondwet ingeskryf en ’n presidentsamp geskep wat oor feitlik net soveel magte sou beskik as wat die koning destyds in Groot-Brittanje gehad het. Hulle groot bydrae was egter die wigte en teenwigte wat in die Amerikaanse konstitusie ingeskryf is en wat die bron van die onstabiele bestendigheid is.

Wat is die struktuur van Amerikaanse verkiesings?

Amerikaners hou elke twee jaar ’n verkiesing op die Dinsdag wat volg op die eerste Maandag in November, en in 2024 sal dit 5 November wees. Die 435 lede van die Huis van Verteenwoordigers dien tweejaartermyne en kan meervoudige termyne dien. Presidentsverkiesings vind elke vier jaar plaas, en sedert die drie termyne wat president Franklin D Roosevelt gedien het, is die grondwet gewysig (22ste Amendement, 1951) en kan ’n president net twee termyne van vier jaar dien. In die volksmond word daar in die VSA na presidensiële verkiesings verwys wat elke vier jaar plaasvind en na middeltermynverkiesings in die twee jaar tussen presidensiële verkiesings. Die 100 senatore dien elk ’n sesjaartermyn, maar om kontinuïteit te bewerkstellig, word een derde van die senatore elke twee jaar verkies of herkies. Benewens die verkiesing van politici op die federale vlak van regering word goewerneurs van deelstate ook verkies met termyne van vier jaar, maar elke deelstaat bepaal die aantal termyne wat ’n goewerneur kan dien. ’n Amerikaanse verkiesing sluit egter ook die verkiesing in van lede van die wetgewers van deelstate, asook verkiesings van raadslede van distrikte, stede, dorpe, skooldistrikte en ampte soos dié van plaaslike vrederegters (sheriffs) en plaaslike prokureurs-generaal.

Elke deelstaat bepaal hoe die verkiesings in daardie deelstaat sal plaasvind, en daar is geen oorhoofse onafhanklike verkiesingskommissie soos in byvoorbeeld Suid-Afrika nie. Daar is egter ’n federale verkiesingskommissie (FEC) wat in 1974 tot stand gekom het as uitvloeisel van die Watergate-skandaal, wat toesien dat fondse wat na politici vloei, gereguleer word en dat presidentskandidate ondersteuning in hulle veldtogte kry. Voornemende presidentskandidate moet ook by die FEC registreer om aan die verkiesing en voorverkiesings te kan deelneem.

Op sy eenvoudigste gestel, is presidensiële verkiesings ’n reeks van 50 verkiesings tussen twee kandidate wat in elke deelstaat plaasvind. Dit begin reeds vroeg in ’n verkiesingsjaar met ’n reeks voorverkiesingsuitdunne om geskikte kandidate te vind en eindig met ’n nasionale verkiesing in November. Die verkiesings gebruik die eenvoudige meerderheidskiesstelsel wat ook die “first past the post”- of wenner-neem-alles-stelsel genoem word. Daar is dus nie sprake van proporsionaliteit in die verkiesings nie en indien ’n kandidaat in ’n deelstaat soos Ohio met net een stem sou wen, kry hy of sy al die stemafgevaardigdes of deelstaatafgevaardigdes (sogenaamde electors) wat beskikbaar is en wat uiteindelik die president sal kies. Die meerderheid van die populêre stem bepaal dus nie wie die president gaan wees nie, maar die wenner is die kandidaat wat eerste 270 van die 538 lede van die kieskollege (Electoral College) op hom of haar verenig. Die kieskollege is ’n unieke meganisme in die Amerikaanse kiesstelsel wat uit 538 lede bestaan en saamgestel is uit die getal lede van die Huis van Verteenwoordigers (435) saam met die aantal senatore (100) asook drie verteenwoordigers van Washington, DC. Hierdie stemafgevaardigdes bestaan uit partylojaliste wat na die verkiesing in Desember eenmalig in Washington, DC konstitueer en dan die president kies deur die stemme wat hulle van die deelstate verteenwoordig uit te oefen. Die kieskollege ontbind dan na hierdie verkiesingsproses.

Die stelsel bestaan reeds sedert die implementering van die oorspronklike grondwet in 1789, maar is in 1804 en weer in 1961 gewysig. Stemafgevaardigdes stem histories en uit tradisie vir een van die twee partye om die steun aan ’n kandidaat te gee. Partylojaliteit is dus van kritieke belang by die aanwys van ’n stemafgevaardigde. Die eerste kandidaat wat 270 uit ’n moontlike 538 stemme behaal, word die president, wat dan in Januarie van die volgende jaar ingehuldig word. Daar was al dislojale stemafgevaardigdes in die verlede, maar die getalle was klein en dit het nie die uitkoms van enige presidentsverkiesing oor die afgelope 236 jaar betekenisvol beïnvloed nie. Daar was reeds vyf presidentsverkiesings waar die kandidaat met die meeste stemafgevaardigdes nie die populêre stem gewen het nie, naamlik in 1824, 1876, 1888, 2000 en 2016, die bekendste, toe Hillary Clinton die meeste stemme gekry het, maar Donald Trump president geword het met die meerderheid deelstaatafgevaardigdes. Die deelstaat met die meeste deelstaatafgevaardigdes is Kalifornië met 54 stemme; Texas het 40, Florida 30 en New York 28 stemafgevaardigdes. Geen deelstaat het minder as drie stemafgevaardigdes nie.

Wat is op die spel in die 2024-verkiesing?

Die 2024-verkiesing in die VSA is dus nie ’n middeltermynverkiesing nie, maar ’n presidensiële verkiesing met baie meer as net die verkiesing van ’n nuwe president op die spel. Met die uittrede van president Biden op 21 Julie 2024 word die Withuis dus betwis deur twee kandidate, naamlik visepresident Kamala Harris (59) en haar spanmaat, goewerneur Tim Walz (60) van Minnesota. Kamala Harris maak geskiedenis as die eerste vrou van kleur wat as presidentskandidaat aangewys word, maar sy is nie die eerste vroulike kandidaat nie – daardie eer het Hillary Clinton te beurt geval. Walz maak ook geskiedenis omdat hy die eerste onderwyser van beroep is wat deel is van die wedloop om die presidentskap. Harris en Walz word geopponeer deur voormalige president Donald Trump (78) en sy spanmaat, senator JD Vance (39). Indien Trump die verkiesing wen, sal dit die eerste keer wees dat ’n president na een termyn in die Withuis en vier jaar buite die politiek ’n terugkeer maak sedert Grover Cleveland dit in 1892 reggekry het teen Benjamin Harrison.

Kamala Harris (Grafika: OwlishArts, Pixabay.com)

Die samestelling van die presidensiële spanne is ook baie betekenisvol. Harris, wat met die linkervleuel van die Demokratiese Party geassosieer word, het Walz gekies wat ’n jaar ouer as sy is, maar van die deelstate verteenwoordig waar die Demokrate meer steun benodig. Hy word ook as ’n gematigde Demokraat beskou met wie baie stemgeregtigdes wat hulle tussen die Republikeine en Demokrate bevind, kan assosieer. Trump het ’n jeugdige JD Vance as sy spanmaat gekies as ’n dinamiese konserwatiewe stem uit Ohio met ’n trefferboek agter sy naam, Hillbilly Elegy (2016), wat ook as ’n film die lig gesien het. Alhoewel Vance baie kritiek op Trump gehad het gedurende sy eerste termyn, het hy intussen ’n lojale ondersteuner van Trump geword, iets wat Trump absoluut vereis.

Die verkiesing sluit ook in dat een derde van die Senaat vir ’n termyn van ses jaar herkies word en hier kan daar ook verandering verwag word. Tans beskik die Republikeine oor 50 senatore en die Demokrate oor 48, maar twee onafhanklike senatore stem gewoonlik saam met die Demokrate. Die grondwet bepaal in gevalle waar die verdeling 50/50 is, dat die visepresident dan die bepalende stem sal uitoefen, en dit was die afgelope vier jaar die funksie van Kamala Harris. In die 2024-verkiesing moet 34 senatore herkies word. Uit hierdie groep het die Republikeine die beste kans om hulle getal senatore te verhoog, na 52, en dit laat die Demokrate dan met 48 lede van die senaat.

Al 435 lede van die Huis van Verteenwoordigers moet ook herkies word, en tans beskik die Republikeine oor ’n meerderheid van 220 teenoor die Demokrate se 212 lede. Die algemene verwagting is dat die GOP (Grand Old Party), of dan die Republikeine, hulle meerderheid in die Huis van Verteenwoordigers sal behou. Dit is ’n baie klein meerderheid en dit maak dat daar soveel fokus is op die kantelpuntstate of sogenaamde battleground states geplaas word – dit is die deelstate wat met ’n klein verandering van kiesersteun van een party na ’n ander kan kantel en dit kan die presidentskap, beheer oor die Senaat en beheer oor die Huis van Verteenwoordigers verander. 

Wat is die rol van kantelpuntstate?

Daar is 50 deelstate in die VSA en ’n reeks administratiewe gebiede (soos Puerto Rico, Guam en die Mariana-eilande) wat deel uitmaak van die VSA. Politieke steun het oor lang periodes gevestig geraak en daar word aanvaar dat die noordooste van die VSA met deelstate soos New York, Massachusetts en New Jersey tipies die Demokrate sal steun. Insgelyks sal die deelstate aan die weste van die VSA, soos Kalifornië, Oregon en Washington, ook Demokraties stem. Beide die ooskus en die weskus het groot bevolkings met baie diversiteit met stede soos New York en Los Angeles en San Francisco. Demokrate kry ook baie steun in die sogenaamde roesgordel met deelstate soos Michigan, Illinois, Indiana en Ohio. Sekere metropole in Texas het ook in die onlangse verlede sterk Demokratiese steun opgelewer. Politieke minderhede soos swart kiesers en Spaanssprekende groepe se belangrikheid het toegeneem in die diverse aard van deelstate, buiten die rol wat gender en LGBTQ-groepe speel.

Die Republikeinse Party maak weer staat op steun in die deelstate wat middel-Amerika uitmaak met deelstate soos Montana, Wyoming, Noord- en Suid-Dakota, Nebraska, Kansas en Oklahoma. Dan het die GOP ook sterk steun in deelstate soos Florida, Tennessee en die Carolinas.

In die 2024-verkiesing is die volgende deelstate as sogenaamde kantelpuntstate geïdentifiseer en word die meeste van die politieke veldtogte se geld hier spandeer (die getal deelstaatafgevaardigdes word tussen hakies aangedui):

  • Pennsilvanië (19)
  • Wisconsin (10)
  • Michigan (15)
  • Noord-Carolina (16)
  • Georgia (16)
  • Arizona (11)
  • Nevada (6)

En dan kan die volgende deelstate op die grens van kantelpuntstatus geplaas word: Texas (40), Ohio (17), Florida (30) en Virginia (13).

Wat is die politieke en ekonomiese vraagstukke?

Sedert die 2016-verkiesing waarin Donald Trump die president geword het, en met die Covid-krisis in daardie periode, het die Amerikaanse politiek ’n intense polariseringsproses ervaar, met die bestorming van die Kongresgebou op 6 Januarie 2021 ’n soort hoogtepunt. Die polarisasie is veral duidelik met betrekking tot vraagstukke soos die rol van die Amerikaanse Hooggereghof en die toepassing van besluite oor aborsie en ander maatskaplike vraagstukke.

Navorsing wat deur Gallup gedoen is gedurende die aanloop tot die 2024-verkiesing dui daarop dat die ekonomie waarskynlik die grootste faktor in die kiesers se besluit gaan wees of hulle Demokraties of Republikeins gaan stem, met ander woorde Harris of Trump. Die ekonomie is egter ’n wye konsep en uit navorsing blyk dit dat die Amerikaanse kieser bekommerd is oor verskynsels soos stygende inflasie, die stand van belasting en hoe dit verskillende groepe gaan raak, en veral wat die koste van die groeiende staatskuld gaan wees en hoe dit jongmense gaan raak. In baie gevalle is die vraagstuk oor die reg op aborsie na aanleiding van die Hooggeregshof se besluit om die Roe vs Wade-waterskeidingsaak om te keer belangriker as die ekonomie. In deelstate soos Kalifornië en New York is aborsie vrylik beskikbaar, maar in deelstate soos Pennsilvanië, Georgia en Florida is daar baie streng beperkings op wettige aborsies. Republikeine is grootliks gekant teen vrylike toepassings van aborsieregulasies en Demokrate is grootliks ten gunste van vrye toegang tot aborsie. Die saak het ook baie emosionele impak op kiesers in terme van godsdienstige oortuiging.

Gelyklopend met die ekonomie en aborsie is die vraagstuk oor immigrasie ’n baie groot twispunt in die aanloop tot die verkiesing. Dit was die groot strydpunt in Donald Trump se eerste termyn, veral met sy inisiatiewe om ’n muur tussen Mexiko en die VSA se suidelike grens te bou. In die Biden-termyn het die Demokrate ook die kwessie begin aanroer, maar nie met die intensiteit waarmee die Republikeine daarmee geïdentifiseer het nie. Vraagstukke wat saam met die immigrasiekwessie gevoeg word, is die voorkoms van misdaad en die smokkel van dwelms in grensgebiede. In die vierde plek is gesondheidsorg en die koste van medisyne ’n groot vraagstuk in ’n samelewing wat ouer word en mense langer lewe. Die vraagstuk oor dwelmverslawing in die samelewing word ook deel van hierdie kwessie tussen die twee groot partye en hulle beleidsvoorstelle.

Wapenbesit en vrye toegang tot veral outomatiese en semi-outomatiese wapens is ook ’n groot bron van stryd tussen die partye. Die keuse van Tim Walz as visepresidentskandidaat, wat ’n erkende jagter en ’n eksponent van verantwoordelike wapenbesit is, kan dalk aan die Demokrate ’n ekstra paar stemme besorg.

Buitelandse beleid word ook deel van die gepolariseerde Amerikaanse samelewing, maar navorsing dui daarop dat dit nie dieselfde impak op verkiesingsuitkomste het as die voorgaande kwessies nie. Politici het sterk menings oor die rol wat die VSA moet speel in die konflik in Oekraïne asook in die Midde-Ooste, veral tussen Israel en Palestina in die Gazastrook. Dit wil lyk asof Republikeine onder Trump uit Oekraïne sal wil onttrek en meer steun aan Israel sal wil bied, terwyl Demokrate die konflik in Oekraïne met hulle Navo-bondgenote sal ondersteun en groter druk op Israel sal plaas om vrede in Gaza te bewerkstellig.

Wat kan ons verwag?

In die aanloop tot die verkiesing met Trump en Biden as kandidate was dit duidelik dat Trump ’n maklike oorwinning sou behaal, maar dit het alles op 21 Julie 2024 verander toe Joe Biden besluit het om nie ’n tweede termyn aan te pak nie. Die Demokrate het egter teen die verwagting in binne twee weke hergroepeer en ’n sterk mobilisering van steun agter die Harris-Walz-veldtog daargestel. Dit is ook ondersteun deur ’n groot toename in politieke finansiering wat ’n kritieke element in Amerikaanse verkiesings is. Donald Trump en sy span is onkant betrap deur die vinnige hergroepering van die Demokrate en die wye steun wat die Harris-Walz-span kon mobiliseer.

September en Oktober 2024 gaan twee maande van intense politieke stryd afgee en die verskille in steun is baie klein. Die rol wat die kantelpuntstate gaan speel, gaan bepalend wees in die uitkoms van die verkiesing, maar die voordeel wat die Trump-Vance-span gehad het tot in Julie 2024 is uitgewis en ’n swaai van so min as 40 000 stemme in een van die kantelpuntdeelstate kan bepaal wie die president gaan wees. Met die inligting tans tot ons beskikking, wil dit voorkom asof die Withuis, Senaat en Huis van Verteenwoordigers met baie klein meerderhede deur die Republikeine oorheers gaan word, maar dit is ook nie uitgesluit dat die Republikeine die Kongres kan beheer, maar dat die Withuis in Demokratiese hande bly nie. Indien dit die uitkoms van die 2024-verkiesing gaan wees, doen die Amerikaanse grondwet sy historiese ontwerp gestand deur die politieke proses in ’n permanente staat van onstabiele bestendigheid te laat!

Intussen sit die wêreld die Amerikaanse politieke teater fyn en dophou. Gaan ons ’n voortsetting van die Biden-era sien met Harris as president, of gaan ons weer vier jaar van ’n ontwrigtende Trump ervaar? Suid-Afrika het nogal ’n interessante belang by die uitkoms, want in 2025 neem ons die voorsitterskap van die G20-groep lande oor. Die G20-spitsberaad sal dan in Suid-Afrika gehou word en dit is tradisie dat staatshoofde die gasheerland besoek. Ons behoort dus in 2025 óf president Trump óf president Harris amptelik in Suid-Afrika te verwelkom. Dit is twee uiteenlopende opsies en met uiteenlopende implikasies, maar dit is ook so vir Rusland, China, Israel, Oekraïne en Iran. Dit is belangrik dat Suid-Afrikaners die ontwikkelinge in die VSA met erns bejeën, want ons het betekenisvolle politieke, ekonomiese, tegnologiese en maatskaplike belang daarby.

  • 4

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Die artikel se inhoud spreek nie eintlik veel tot die opskrif nie. Dit verskaf wel 'n goeie oorsig oor hoe die VSA se sisteem ontwikkel het, hoe die sisteem werk, asook die belangrike vraagstukke wat die Amerikaners se debatte sal oorheers in aanloop tot die verkiesing, maar oor Suid-Afrika en hoe die verkiesing Suid-Afrika sal beinvloed, slegs maar 'n sin of twee. Hieruit kan mens seker aflei dat die Amerikaanse verkiesing weinig invloed op ons het. As die grootste saak sal wees wie Suid-Afrika gaan besoek vir die G20-beraad, dan is dit nie reusagtig in terme van impak op Suid-Afrika nie. Eintlik maak dit ook nie veel saak wie wen nie. Daar is 'n gesegde: left wing, right wing, same bird...'n Demokratiese regering sal seker moontlik, soos histories, bietjie meer van 'n oop beursie hê vir Afrika. So terloops, die heel eerste vrou wat as presidentskandidaat aangewys was in die VSA, was eintlik ene Victoria Claflin Woodhull in 1872, wat genomineer was deur die Equal Rights Party, hoewel haar benoeming nie as baie belangrik beskou word nie, omdat dit nie een van die groot politieke partye was nie. Dit word wel as simbolies belangrik beskou.

    Die grootste impak sal waarskynlik wees die eindelose stroom onsinnige en onsmaaklike aanlyn faaights wat ons op sosiale media gaan moet aanskou, en waar een na die ander vriend, vreemdeling, kennis, kollega en familielid oornag in 'n kenner van Amerikaanse politiek sal ontaard.

  • Danie de Villiers

    Dankie vir die goeie uitleg. Maar kan die skrywer verduidelik hoekom hy Trump se bewind as ontwrigtend bestempel?

  • Wat 'n ingewikkelde stelsel. Ons sou dit nooit verstaan het nie. Baie politieke onrus sou voor die verkiesing met kop aan kop uitslag kon volg. Bly ons bly in Suid-Afrika. Sien nie kans vir daai stryd nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top