Jacinda Ardern, die eerste minister van Nieu-Seeland, is die afgelope week of wat konstant op die voorblaaie van koerante. Die gewildste foto deesdae is een waar sy in ‘n hidjab besoek gaan aflê het aan Moslem-gemeenskappe in Christchurch na die terroriste-aanvalle waarin vyftig mense gesterf het.
Nie net het sy haarself as kultureel sensitief bewys nie, sy het ook binne tien dae reggekry wat die Amerikaners nou al dekades mee sukkel: wapenwetgewing in haar land verander. Outomatiese wapens soos dié wat in die aanvalle gebruik is, is onwettig verklaar en ʼn begroting om wapens terug te koop van burgers is opgestel. Sy het dit gedoen deur haar uitvoerende magte te gebruik. Daar word verwag dat haar parlement binnekort wetgewing sal goedkeur wat soortgelyke maatreëls sal bevestig. Sy kon voete gesleep het en gewag het dat dit deur die gewone, langsame kanale gaan. Sy het gekies om dit nie te doen nie.
In die VSA, die land met die meeste aanvalle waarby outomatiese wapens betrokke is, kon daar oor dekades heen nog nie een enkele stukkie wetgewing uitgevaardig word om outomatiese vuurwapens te verban of te beheer nie. Die President kan hom kwalik verwerdig om kommentaar te lewer wanneer daar nog ʼn skietvoorval met massiewe lewensverlies in sy land plaasvind.
Tog is daar vroulike politici wat besig is om nie net oor vuurwapenbeheer nie, maar ook oor ander maatskaplike kwessies, voorbrand te maak vir verandering. Kamala Harris, ‘n presidensiële kandidaat vir 2020, is ʼn voorstander van beter salarisse vir onderwysers spesifiek, maar ook vir werkers oor die algemeen. Alexandria Ocasio-Cortez, Rashida Tlaib en Ilhan Omar is onder die jonger generasie die nuwe trifekta van mag wat wyd oor die omgewing, rasse-aangeleenthede en maatskaplike aangeleenthede agiteer.
Angela Merkel, die Duitse kanselier, word toenemend as die leier van die vrye wêreld beskryf. Dis ʼn posisie wat vakant geraak het nadat Barack Obama se tweede termyn as president tot ʼn einde gekom het. Sy is bekend daarvoor dat sy baie keer die koel kop is wat eenheid bewaar wanneer haar manlike kollegas kop verloor.
Ysland se eerste minister, Katrin Jakobsdóttir, het in Oktober 2018 opspraak verwek toe sy saam met ander vroue in protes teen ongelyke betaling uit haar werksplek gestap het.
Elkeen van hierdie voorbeelde is van vroue wat hul politieke mag gebruik om met empatie, en soms met drif, sosiale geregtigheid te bevorder. Elkeen van hierdie vroue openbaar deur hul optrede en deur die kwessies wat hulle kies om te ondersteun, ʼn bewussyn van dit wat werklik in hul spesifieke lande brandpunte is. Meer as bewussyn, openbaar dit ʼn bereidwilligheid om die agente te wees wat verandering teweegbring.
Selde sien mens dieselfde by hul manlike eweknieë. Vroue het eenvoudig hul vinger op die pols van die nasie op ʼn manier wat mans dit nie het nie.
Natuurlik is daar mans wat grootskaalse sosiale verandering teweeggebring het – Nelson Mandela, Mahatma Gandhi, Martin Luther King, om maar ʼn paar te noem. Is dit toevallig dat hulle in elke geval geagiteer het teen onderdrukking waaraan hulle onderwerp was? Nee.
Waar ons in Suid-Afrika op die vooraand van ʼn verkiesing staan, is dit dalk goed om te kyk na hoe die verteenwoordiging van vroue in ons politieke partye lyk. Dis maar vrotterig. Ons hoef nie verder as Bathabile Dlamini en Natasha Mazzone te kyk om te besef dat empatie en emosionele intelligensie nie universeel-vroulike eienskappe is nie. Patricia de Lille en haar Good-party? Haar bait and switch met die Onafhanklike Demokrate is nog te vars in die geheue.
Theresa May is ook ʼn argument teen vroulike leierskap wat beterskap bring.
Wat maak die verskil tussen leiers soos Ardern, Ocasio-Cortez en ander teenoor die Mays en Mazzones van die wêreld?
Dis die verskil tussen vroue wat inkoop in die tradisioneel manlike model van magsgebruik en vroue wat op ʼn meer outentieke wyse hul mag gebruik. Dis die verskil tussen die geykte power over en power with.
Daar is nie veel vroue op die Suid-Afrikaanse politieke landskap wat my opgewonde maak oor hierdie verkiesing nie.
Miskien kan iemand Thuli oorreed om vir die volgende verkiesing te staan?
Kommentaar
Jy sit die pot so bietjie mis met Angela Merkel. Sy het gesorg vir die grootste enkele onnosele beleid van moderne tye deur aan te dring daarop dat Europa sy deur wyd oopgooi vir onwettige immigrante. Sy het eiehandig 'n reuse sosiale probleem geskep waarmee Europeërs vir ewig opgeskeep gaan sit. Met Thuli Madonsela sit jy ook die pot mis. Sy het nie een enkele ondersoek by die Openbare Beskermer self gedoen nie, hulle is en word almal deur die Spesiale Ondersoekeenheid gedoen - sy was 'n rubberstempel. Wat het sy nou eintlik gedoen behalwe om 'n paar ontbytpraatjies te lewer wat Helen Zille netsowel kon doen? Almal protesteer elke dag teen sosiale ongeregtighede, mans en vrouens; die paar voorbeelde wat jy aanhaal, is niksseggend. Werklik maar dun om die lyf, die artikel.
Politici met integriteit man, vrou, wit , swart is die antwoord vir ‘n vreedsame bestaan.
Nie so vinnig nie, Bettina. Terwyl Ardern Nieu-Seeland goed laat lyk sedert die terreur aanval met haar "softer and kinder approach", is haar party se beleid teenoor immigrante weersprekend:
1. Haar party se beleidsverklarings in 2017 het belowe om immigrasie met 20 000 per jaar te verminder - en het juis die anti-immigrant xenofobie hier aangeblaas en gebruik as 'n politieke speelbal;
2. Ardern se koalisie-vennoot (NZ First) is openlik xenofobies - en hulle leier alreeds anti-immigrant vir 25 jaar - Hulle het belowe om immigrasie te beperk tot 10 000 per jaar; (Hulle teiken Chinese, Indiërs en persone vanuit die Moslemlande.)
3. Ardern se Minister van Behuising het onlangs uitgevaar teen oorsese beleggers en die name van 30 Chinese wat huise gekoop het gepubliseer en Chinese blameer vir Auckland se tekort aan huise - en elkeen van die 30 kopers was of 'n NS-burger of iemand met permanente verblyfregte.
Intussen het die ekonomie sodanig agteruitgegaan dat dat dit 'n krisispunt bereik het. Boere kan nie die werkers kry om hulle koeie te melk of hulle oeste in te bring nie. 'n Addisionele 11 000 Nieu Seelanders is op die sogenaamde "job-seekers benefit" maar hulle weier om die werk te doen waarvoor immigrante (hoofsaaklik persone van kleur) nou ingevoer moet word met spesiale visums.
Dit is nie maanskyn en rose hier (ek woon in Auckland) net omdat Ardern 'n hijab oor haar hare getrek het nie.
Daar is alle voorbeelde van goeie en sterk vroue in die politiek, in SA ook (Zille?). Bandaranaike, Indira Gandhi, was die voorlopers in die politiek, meen ek. Maar dan is daar ook ander, soos Thatcher?, Peron, Pauline Hansen.
Die kwaliteit van 'n persoon se bydrae tot die samelewing kan sekerlik nie berus op sy of haar geslag nie. Ek sou dink dat Bettina dit beter weet as ander.