- Nini Bennett-Moll skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
1
Op die kantlyn
Marnus Kok
Naledi, 2024
Die verskyning van kortverhaalbundels het geleidelik getaan sedert die tagtiger- en negentigerjare, toe postmodernisme ’n hoogbloei in Afrikaanse kortkuns beleef het. ’n Mens dink byvoorbeeld aan die vernuwing wat Koos Prinsloo met kortverhaalbundels soos Die hemel help ons (1987) en Slagplaas (1992) gebring het. Verskeie antologieë het ook die lig gesien, waarvan die kanonieke Die Afrikaanse kortverhaalboek, saamgestel deur Abraham H de Vries, waarskynlik die belangrikste voorbeeld is.
Ook kortkortverhaalbundels soos Kort-kort (1990), met Tom Gouws en PH Roodt as samestellers, word gereken as genietlike, maar kwaliteitkortkuns.
Die onlangs verskene Op die kantlyn van Marnus Kok is ’n belangrike toevoeging tot die yler wordende korpus kortkuns. In die persverklaring verneem die leser: “Marnus Kok, tans woonagtig in Bloemfontein, is sedert 2017 ’n sportskrywer by Netwerk24 waar hy onder meer die doen en late volg en verslag doen oor die Blitsbokke (nasionale sewesrugbyspan), die Varsitybekerreeks en die Protea-vrouekrieketspan.
Hy het in 2013, op 33-jarige ouderdom, ’n voltydse student geword toe hy aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus gaan studeer het. Tussen 2017 en 2018 het hy ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi waar dié bundel deels gedien het as voorlegging vir die graad. In 2023 het Kok ’n meestersgraad in Afrikaans en Nederlands aan die NWU verwerf.”
........
Dit maak volkome sin dat ’n sportskrywer ook sy gawe vir beriggewing inspan in ’n meer literêre subgenre soos die kortkortverhaal: Dit handel in beide gevalle oor die waarneming, beheersing en ráákskryf van momentum, tempo en besonderhede.
........
Dit maak volkome sin dat ’n sportskrywer ook sy gawe vir beriggewing inspan in ’n meer literêre subgenre soos die kortkortverhaal: Dit handel in beide gevalle oor die waarneming, beheersing en ráákskryf van momentum, tempo en besonderhede.
Op die kantlyn bevat 82 flitsverhale. Sommige van die verhale is net 18 woorde lank, byvoorbeeld “Oupa” (bl 99): “Sy sê die slegste deel daarvan om ’n ouma te wees, is om langs ’n oupa te slaap.” Hierdie verhaalgreep of -vinjet meld hom aan as raaisel of enigma, en dis oop vir die leser om te interpreteer. Die ontkoppeling tussen die ouma en die geïmpliseerde kleinkinders is duidelik; een betekenis is waarskynlik dat die oupa dalk hulpbehoewend, selfs infantiel mog wees; of dat hý meer aandag van die ouma as die (werklike) kleinkinders vereis. ’n Ander vertolking mog wees dat die oupa nie gesteur wil word tydens sy nagrus nie; en dat hy minder omgee vir die kleinkinders as sy vrou.
’n Leser roep met Kok se verhale John Miles se ikoniese Liefs nie op straat nie (1970) voor die oog. In beide Kok en Miles se bundels word die rol van die buitestander verken – en stilistiese ingrepe soos ironie en vervreemding, en temas soos sosiale isolasie en gevolglike disintegrasie, ingespan. Laasgenoemde herinner aan die sosioloog Émile Durkheim se beskouing van sosiale anomie. Die woord “kantlyn” in die titel aktiveer enersyds idees rondom buitestanderskap, maar suggereer andersyds die kantlyn van ’n geskrif: kantlynaantekeninge of -notas. Kripties en vlugtig.
Waar die tradisionele kortverhaal 1 000 tot 7 500 woorde lank is en ruimte laat vir meer karakters en gepaardgaande karakterontwikkeling, intrige en ontknoping, fokus die kortkortverhaal op slegs ’n enkel idee of oomblik. En dit vereis presisie aan die kant van die skrywer. Die bekendste kortkortverhaal beslaan slegs ses woorde: “For Sale: Baby shoes, never worn.” Dit is ’n verhaal (ja, inderdaad!) deur Ernest Hemingway wat eers in 1991 werklik deur kritici gekanoniseer is.
Tydens haar termyn as Rapport se boekeredakteur het Anastasia de Vries, wat op 27 Augustus vanjaar oorlede is, die gereelde deelname en publikasie van hierdie kortkortverhale (vonkfiksie) aangemoedig.
Op die kantlyn se verhaalvinjette berig vanuit ’n aweregse, ironiese en onbetrokke vertellershoek en laat dit aan die leser oor om die “storie te voltooi”. Vanweë die gedronge en minimalistiese aard van dié verhale beweeg dit baie na aan poësie. In ’n tydvak van digitalisering, waarin lesers se aandagspan inderdaad al korter word, bied Kok ’n verfrissende publikasie wat mens weer laat besin oor die vlugtige en vervlietende aard van menslike verhoudings.
Miles is in ’n klas van sy eie, en Kok se werk is nie op dieselfde peil as Liefs nie op straat nie. Tog – met die beste mikroverhale in die bundel skep hy iets vir die fynproewer van kortkuns. ’n Goeie kortverhaal gaan onder meer om die kuns van balans, van ewewig – en Kok se verhale getuig van ’n brose, maar sekure ekwilibrium.
2
Hallo, Ma
Chrisna Beuke-Muir
Naledi, 2024
Die Afrikaanse letterkunde het ’n lang tradisie van briefromans, of die bundeling van briewe. ’n Mens dink byvoorbeeld aan Marlise Joubert se briefnovelle Klipkus (1978), of Hennie Aucamp se briewebundel Mits dese wil ek vir jou sê (2013), saamgestel deur Petrovna Metelerkamp. Nog so ‘n voorbeeld is die briefwisselings tussen Abélard en Héloïse, wat in Afrikaans bekend geword het in die verwysings in NP Van Wyk Louw en Sheila Cussons se poësie. Die aangesprokene in die literêre brief is tweeledig: enersyds die reële ontvanger van die brief, maar ook die leser, wat as voyeur die gesprek volg en betekenis uit die kommunikasieproses tussen die briefskrywer en -ontvanger konstrueer. Uiteraard spil persoonlike briewe rondom tematiek soos eensaamheid, liefde en beproewing; maar uiteindelik word die meeste briewe ’n soeke na identiteit. Die briefskrywer is ook die fokalisator wat terugkyk op herinneringe.
........
Die Afrikaanse letterkunde het ’n lang tradisie van briefromans, of die bundeling van briewe.
........
Chrisna Beuke-Muir is ’n letterkundige en senior lektrise in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Namibië, en ook die stigter van die Windhoek Woordfees. Sy tree in verskeie podiumproduksies in Suider-Afrika, asook in België, Nederland en Duitsland, op. In 2010 promoveer sy onder Hennie van Coller met ’n PhD getitel “George Weideman as dramaturg”. Tydens die Windhoek Woordfees in 2018 het sy die Afrikaans-Vlaamse podiumproduksie Passiedigters saamgestel en op die planke gebring saam met die Ten Adem-podiumdigters van Gent.
Hallo, Ma is ’n verwerking van ’n reeks rubrieke deur Beuke-Muir wat die afgelope 11 jaar in Republikein se “Ons taal”-rubriek verskyn het.
Die 84 gebundelde briewe in dié bundel handel oor ’n deurlopende gesprek met die skrywer se oorlede moeder: Sy vertel van haar ervarings as letterkundedosent, dikwels in simbiose met die Nederlandse literatuur. Sy lewer kommentaar op literêre aspekte van onder meer strokiesprente, die Nama-taal, haar persoonlike verhoogproduksies, en Afrikaans as taal in Namibië, ’n land waar Engels die enigste amptelike taal is.
........
Persoonlike briewe speel ’n belangrike rol in die letterkunde, aangesien dit ’n venster open op die intieme ervarings en menings van skrywers, hul geliefdes, en tydgenote.
........
In hierdie briewe word die leser gekonfronteer met die skrywer se onsekerheid – die moeder bevind haar immers in ’n “Ander dimensie”: Dié raaisel in die spieël word verhef tot ’n ontmoeting, een van aangesig tot aangesig. Heelwat briewe sentreer rondom hierdie stormagtige verhouding met die verteller se moeder; en die briewe is diep roerend. Hallo, Ma herinner in hierdie opsig aan Briewe uit Brielshoop (2018) deur Helene Olivier; en in die poësie toon dit ooreenkomste met Marlise Joubert se briewe aan haar moeder in disteltyd (2021). Beuke-Muir se briewe se slotte, of groetwoorde, weerspieël haar identiteitsoeke: Die slotwoorde bevat selfrelativerende naskrifte, byvoorbeeld:
“Ma, Ma sê niks nie.
Ma?
Tatta, My-Stil-Moederaarde.” (166)
Asook:
“Tatta, My-Ma.
Van jou vreugde-oorvrete dogter.” (100)
Beuke-Muir verdien lof vir haar idiomatiese ontginning van taal, byvoorbeeld: “Daai ou het ’n skuins voorkop soos ’n plaas-lêwentrie […]” (17)
Persoonlike briewe speel ’n belangrike rol in die letterkunde, aangesien dit ’n venster open op die intieme ervarings en menings van skrywers, hul geliefdes, en tydgenote. Die briewe in Hallo, Ma weerspieël in dié verband ’n rou en ongesensorde uitdrukking van kreatiwiteit wat uiteindelik dien as katarsis vir die verteller én die leser. Die boek is ’n egodokument sowel as ’n tydsdokument met briewe wat gedateer is van 2013 tot 2023. Die uitgebreide bronnelys aan die slot bevat verwysings na talle tekste waarmee die skrywer in die briewe flankeer. Geen “ernstige” literêre kritiek nie; meestal pittige of tong-in-die-kies verwysings na skrywers en hulle werk. Die briewe wat oor die skrywer se jeugherinneringe handel, sorg vir ’n welkome afwisseling in terme van tematiese verskeidenheid. Hierdie is ’n verkwiklike bundel en beslis die lees werd.
3
“Dames en here”
Elbie Adendorff, Lisinda de Jager en Elize Steenkamp
Lapa, 2024
Is jou kind dalk ’n advokaat-in-wording? Of perdalks ’n toekomstige politikus?
Op Facebook is dit ’n florerende besigheid: die skryf van toesprake vir skooldebatte en -redenaars. Daar is selfs ma’s wat hulle dienste aanbied (teen stewige vergoeding, natuurlik). Van die klandestiene WhatsApp-groepies weet ek nie veel nie, maar ek is seker dit bestaan. En terwyl die bloedjies worstel met uitdagende onderwerpe – klimaatsverandering, of die kolonisering van Mars (knipoog) – ontaard hierdie redenaarskompetisies inderwaarheid in ’n kompetisie tussen die ouers wat die toesprake skryf. Van die leerders rammel dan moedig hul gememoriseerde stukke af, wetend dat oom Gert of tannie Linda dalk “beter” mog vaar. En só gaan die siklus van skooldebatte voort – ’n slagveld vir kinders, maar ’n ware oorlogsterrein vir die ouers.
En van toesprake in die algemeen gepraat: Die meeste mense luister met ’n halwe oor na byvoorbeeld die gebruiklike toesprake tydens ’n bruilof – dis sosiale protokol – maar een ding is seker: As jy ’n gemors maak van ’n toespraak, dan onthóú mense dit.
.........
Toesprake is, vir die interessantheid, ook ’n literêre subgenre en beklee as sulks ’n unieke plek in die kanon van retoriek, redenaarskuns en letterkunde.
.........
Toesprake is, vir die interessantheid, ook ’n literêre subgenre en beklee as sulks ’n unieke plek in die kanon van retoriek, redenaarskuns en letterkunde. Deur presisie van taalgebruik, logiese redevoering, ’n emotiewe aanslag en die etiese implikasies van ’n betoog (logos, patos en etos) lewer ‘n goeie sprakkunstenaar toesprake wat gehore inlig, inspireer, of mobiliseer.
Goeie toesprake het op historiese vlak vir deurslaggewende oomblikke in die geskiedenis van die mensdom gesorg. ’n Mens dink byvoorbeeld aan Winston Churchill se oorlogstoesprake soos “We shall fight on the beaches” wat die krag van taal, gekombineer met ’n poëtiese ritme, illustreer. Churchill het in 1953 die Nobelprys vir Letterkunde verower, onder meer vir die literêre kwaliteit van sy oorlogstoesprake.
Net so toon Barack Obama se toesprake, soos sy “A more perfect Union” van 2008, dat die subgenre van toesprake oor die vermoë beskik om komplekse maatskaplike kwessies met welsprekendheid en hoop aan te spreek. Obama het die Nobelprys vir Vrede in 2009 ontvang; dit beklemtoon weer eens die transformerende krag van goeie toesprake en die vermoë van taal om mense oor grense heen te verenig. Beide Churchill en Obama demonstreer dus dat die kuns van redevoering ’n baken van hoop in onstuimige tye kan wees, wat op sy beurt die verrykende invloed van goed gekonstrueerde retoriek op die wêreldtoneel weerspieël.
“Dames en here” word aangebied as ’n eenstopgids vir álles oor toesprake. Dit is ’n selfhelpboek wat jou onder andere gaan help met redenaarskompetisies (individueel en in spanne); debatte (al die verskillende soorte); toesprake soos bedankings- en motiveringstoesprake; onderwerpontleding; die saamstel en skryf van ’n toespraak; die aanbied en lewering van ’n toespraak; die reëls en beoordeling van redenaars- en debatkompetisies, en nog meer. Streeksbeoordelaars en gesoute afrigters van regoor Suid-Afrika gee ook wenke vir onderwysers oor hoe om ’n debat of redenaarskompetisie te reël. ’n QR-kode in die boek gee toegang gee tot wentoesprake.
.........
Ek is een van daardie introverte wat in sweet uitslaan wanneer ek voor ’n gehoor moet praat. Daarom kan ek in alle eerlikheid sê: Ek het baat gevind by hierdie boek.
.........
Ek is een van daardie introverte wat in sweet uitslaan wanneer ek voor ’n gehoor moet praat. Daarom kan ek in alle eerlikheid sê: Ek het baat gevind by hierdie boek. Dit is nie net afgestem op redenaars en debat nie, dit is ’n gids vir almal, oud en jonk.
Openbare spreekbeurte word dikwels beskryf as senutergende ervarings. Is jy bang om by ’n werksfunksie te spiets? Is jy bang om na ’n onderhoud te gaan? Is jy benoud oor daardie toesprakie wat jy by ’n troue of begrafnis moet afsteek? Is jy ’n leerder wat snags rondrol oor daardie debats- en redenaarkompetisie wat soos ’n berg voor jou lê? Op ’n meer universele vlak: Niemand kan dit ontkom om iewers voor ’n gehoor, groot of klein, te praat nie. Maar: “Dames en here” haal die angel van vrees uit laasgenoemde situasies, en die boek, heerlik en verbruiksvriendelik in ’n groot kladboekformaat, rus enige spreker toe met die nodige vaardighede om met selfvertoue ’n gehoor toe te spreek. Dit is ook ’n werkboek met blanko dele wat die leser kan invul.
“Dames en here” slaag daarin om die kuns en wetenskap van doeltreffende kommunikasie te demistifiseer. Hierdie boek, geskryf deur ’n drietal ervare professionele kenners, Elbie Adendorff, Lisinda de Jager en Elize Steenkamp, dien as ’n onontbeerlike gids vir enigiemand wat hul weg in die wêreld van toesprake en debatte wil oopsien.
Vir beginners en ervare sprekers is hierdie hoofstukke ewe insiggewend en toeganklik, aangesien dit praktiese advies met ’n teoretiese grondslag kombineer.
Wat hierdie gids uniek maak, is die fokus op opvoeders en kompetisie-organiseerders. Dit sluit die wenke van streeksbeoordelaars en ervare afrigters regoor Suid-Afrika in, wat dit besonder waardevol as handleiding vir onderwysers maak. Wenke oor hoe om openbare spraak- en debatkompetisies te reël, sorg dat die boek nie net ’n bron vir leerders is nie, maar ook as ’n hulpmiddel kan dien vir fasiliteerders wat oratoriese talent wil ontgin.
Die integrasie van moderne tegnologie deur QR-kodes, wat toegang tot wentoesprake bied, is ’n bonus. Dit gun die lesers die geleentheid om by die bestes te leer, wat die materiaal in die gids meer interaktief maak. Hierdie digitale toevoeging versterk die praktiese toepassing van die lesse in die gids.
En of jy nou ’n nuweling is, of ’n gesoute redenaar, “Dames en here” sal jou begelei in die vaardighede van ’n gesoute spreker/redenaar/debatteerder. En vir die Kerskous? ’n Dawerende ja. Want hierdie gids is die eerste en enigste van sy soort in Afrikaans.
Lees ook:
Heil die Leser! Die omstrede Vance – en sy boeiende memoires
Heil die Leser! Die huwelik tussen woord en beeld: vier ekfrastiese bundels
"Dames en here" deur Elbie Adendorff, Lisinda de Jager en Elize Steenkamp: ’n resensie