Titel: “Dames en here”
Skrywers: Elbie Adendorff, Lisinda de Jager en Elize Steenkamp
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780637005784
’n Splinternuwe, allesomvattende en diepgaande gids vir redevoering en debattering het die lig gesien. Dames en here is ’n welkome riglyn vir redenaars, debatteerders, onderwysers, afrigters en ouers, geskoei op die riglyne van die ATKV, en geskryf deur gesoute kenners van die aard van openbare redevoering en die vereistes vir die suksesvolle uitvoering daarvan. In hul inspirerende voorwoord stel die skrywers hul uiteindelike doelwit duidelik: om alle betrokkenes toe te rus met die nodige kennis en vaardigheid om sonder vrees aan enige openbare spreeksituasie te kan deelneem.
Die inligting, idees en wenke word hoofstuk vir hoofstuk duidelik en onomwonde uiteengesit. Die skryfwyse is toeganklik en aangenaam, soos in ’n lekkerlees-“geselstrant”, wat alreeds daartoe bydra om enige voornemende spreker se vrese te besweer. Jare lange kwessies (die “klein jakkalsies”) word aan die kaak gestel – onder andere die saak van “gekoopte” toesprake, ouerbetrokkenheid by die skryf van toesprake, die oorredende aard van die toespraak, ’n duidelike raamwerk, gepaste en volledige bronne en Streekafrikaans. Daar is ook fyner besonderhede, soos die belangrikheid van (oog)kontak met die gehoor, die kleur en grootte van die indekskaarte, ’n netjiese voorkoms – en angstigheid.
.......
Daar word ook aandag gegee aan fyner besonderhede, soos byvoorbeeld die wyse van aanval en verdediging, redenasiefoute, kritiekgewing, gesindheid en oortuigende lewering en betrek van die gehoor.
.......
Die beginsels van redevoering, riglyne en wenke geld ook onvoorbereide toesprake, en is ook van toepassing op die afdeling oor debattering. Ook hierdie afdeling (debattering) word deeglik deurgetrap, en daar word aandag gegee aan onder andere die deeglike voorbereiding van die debat, deeglike navorsing en relevante inhoud, spanwerk en die onderskeie funksies van elke spanlid. Daar word ook aandag gegee aan fyner besonderhede, soos byvoorbeeld die wyse van aanval en verdediging, redenasiefoute, kritiekgewing, gesindheid en oortuigende lewering en betrek van die gehoor.
Die handleiding gee ook riglyne vir ander soorte toesprake, onder andere die motiveringstoespraak, die paneelbespreking, huldeblyke en die bekendstelling en bedanking van sprekers.
Daar is fyn riglyne en wenke vir beide gevestigde en minder ervare beoordelaars in alle afdelings. Beknopte en duidelike “wenk”-blokke trek die aandag.
.......
“Dames en here” is baie meer as net ’n “klein bietjie leiding” om jou sê te kan sê – dit is voorwaar ’n moet-hê eenstopgids vir alles oor redenaars, en debatvoering.
.......
Inligting oor die werking van kompetisies, organisasies en persone buite die ATKV is ook ingesluit. Vorige wenners van kompetisies lewer positiewe kommentaar oor die sogenaamde Superkragte – die waarde van redevoering en debattering – nie slegs ten opsigte van die vaardighede wat aangeleer word nie, maar ook ten opsigte van die intrinsieke waarde daarvan. ’n QR-kode vergemaklik toegang tot hierdie getuienis.
Op ’n eenvoudige manier stel die skrywers in die voorwoord hul gesindheid en aanslag by die saamstel van hierdie kosbare handleiding soos volg: “(Redevoering) verg bloot selfvertroue, die wil om te leer en hard te werk, en ’n klein bietjie leiding.” “Dames en here” is baie meer as net ’n “klein bietjie leiding” om jou sê te kan sê – dit is voorwaar ’n moet-hê eenstopgids vir alles oor redenaars, en debatvoering.
Hoor-hoor!
- Zesta Vorster is ’n afgetrede Afrikaans-onderwyseres. Sy het jare lank drama- en redenaarsafrigting behartig en is steeds daarby betrokke. Sy was self ook dikwels ’n beoordelaar by ATKV-redenaarskompetisies.
Lees ook:
ATKV-Digipraat: wenke van ’n gereelde beoordelaar van redenaarskompetisies