ATKV-redenaars 2023: wenke deur Elbie Adendorff

  • 1

Agtergrond: https://pixabay.com/photos/microphone-it-lecture-entry-sound-2775447/; ATKV-redenaarslogo: https://atkv.org.za/neem-deel/kultuurprojekte/redenaars/

Elbie Adendorff praat met Naomi Meyer oor die ATKV-redenaarskompetisie wat reeds vanjaar aan die gang is.

Elbie, sal jy vir ons lesers vertel wie jy is – van jou daaglikse werk, maar ook jou betrokkenheid by die ATKV se redenaarskompetisie?

Ek is ’n dosent in Afrikaanstaalverwerwing by die Departement Afrikaans en Nederlands aan die US. Ek leer tweedetaal- en vreemdetaalstudente Afrikaans. Ek is al jare lank betrokke by die ATKV se redenaarskompetisie – eers as afrigter toe ek nog onderwys in KZN gegee het. Sedert 2003 is ek betrokke as beoordelaar by die redenaarskompetisie, maar ek bied ook beoordelaarskursusse en skryfkursusse aan. Vir my is dit ’n ongelooflike voorreg om by hierdie prestige kompetisie betrokke te wees. Ek sien dit as ’n voortsetting van my werk as ’n Afrikaansdosent.

Jy is jare lank al beoordelaar by die ATKV se redenaarskompetisie. Wat dink jy is die waarde en betekenis van redenaars op skoolvlak vir kinders?

Die waarde en betekenis wat redenaars op skoolvlak vir kinders bied, is legio. Ek dink dat dit in die eerste plek help met kinders se kommunikasievaardighede en veral die praatvaardighede. Maar vir my lê die intrinsieke waarde in die niesigbare voordele van redenaars: die ontwikkeling van kritiese denkvaardighede, navorsingsvaardighede en skryfvaardighede.

...........
Die waarde en betekenis wat redenaars op skoolvlak vir kinders bied, is legio. Ek dink dat dit in die eerste plek help met kinders se kommunikasievaardighede en veral die praatvaardighede. Maar vir my lê die intrinsieke waarde in die niesigbare voordele van redenaars: die ontwikkeling van kritiese denkvaardighede, navorsingsvaardighede en skryfvaardighede.
............

Maar dit is die geleentheid wat aan kinders gebied word om hulle stemme te laat hoor – veral oor kwessies wat vir hulle belangrik is. In ’n land waar mense se stemme lank onderdruk was (en is, in sekere omstandighede), vind ek die kompetisie ’n bevrydende kompetisie waar kinders onbevange kan redeneer oor belangrike sake. Die waarde van die kompetisie is ook om denkende kinders en jongmense die lewe in te stuur.

Die wêreld is besig om onder ons neuse te verander. Is die vaardigheid om voor mense te praat iets wat kinders later in hul lewens gaan aanhou nodig hê, dink jy? Hoekom, of hoekom nie?

Ek is van mening dat die praatvaardighede nooit gaan uitsterf nie – ek sê altyd: Jy gaan dalk nie vir ewig kan rugby of krieket of netbal speel nie, maar jy gaan jou hele lewe lank moet praat. Wat ook al jou beroep eendag gaan wees, jy sal moet praat.

...........
Ek is van mening dat die praatvaardighede nooit gaan uitsterf nie – ek sê altyd: Jy gaan dalk nie vir ewig kan rugby of krieket of netbal speel nie, maar jy gaan jou hele lewe lank moet praat. Wat ook al jou beroep eendag gaan wees, jy sal moet praat.
...........

Daarom is dit belangrik dat die vaardigheid om voor mense te praat, aangemoedig moet word. Dit is ’n broodnodige vaardigheid om met gesag en met selfvertroue en goed gemotiveerde redes jou sê te kan sê.

Het jy wenke vir kinders wat vanjaar aan die kompetisie gaan deelneem? Wat is die belangrikste aspekte van suksesvolle redenaars vir beoordelaars?

Vir hierdie jaar (maar so ook vir elke jaar wat ek al beoordeel het), stel ek die volgende voor:

  • Kies ’n onderwerp waaroor jy passievol is en wil praat – nie jou ma of pa of die onderwyser se onderwerp nie. ’n Spreker is alleenlik oortuigend as dit vanuit sy/haar hart kom. As beoordelaars kom ons maklik agter as jy nie passievol oor die onderwerp is nie.
  • Praat natuurlik en met oorgawe en oortuiging oor jou onderwerp – sonder om oordramaties te wees.
  • Stel jou standpunt duidelik.
  • Doen jou eie navorsing.
  • En seker die belangrikste: Moenie toesprake koop nie! Jy leer niks uit die proses nie. Jy leer alleenlik as jy by jou toespraak betrokke is. Dit beteken nie dat jy nie hulp kan kry nie, maar dit moet jou onderwerp en jou toespraak wees.
  • Suksesvolle redenaars is diegene wat die balans kry tussen oorredende inhoud en oorredende aanbieding.

Aan ander lesers wat dalk sukkel om voor mense te praat – of dit in ’n vergadering is, of in jou huis waar gesinslede nie altyd met groot aandag luister nie, of in vriendskaplike situasies: Dink jy redenaars kan ook in allerhande ANDER situasies iets beteken? 

Ek het al gesien hoe redenaars in ander situasies uitblink as gevolg van die vaardighede en lesse wat hulle daaruit geput het. Omdat ek by ’n universiteit werk, kon ek al sien hoe redenaars as studente beter vaar in opstelle en opdragte op universiteit. Hulle lewer ook baie sinvolle en kritiese bydrae in klasgesprekke. Van hulle word ook in leierskapsrolle gekies. Ek is van mening dat ons in hierdie land mense nodig het wat sinvol ’n standpunt kan stel en dit goed gemotiveerd op ’n logiese en objektiewe manier kan oordra.  Ons het nie mense nodig wat mekaar verskree en doodpraat nie, maar kan luister na mekaar en daarop kan reageer. Ook in alledaagse situasies soos die huisgesin en skole kan hierdie vaardighede baie nuttig wees.

Lees ook:

ATKV-Digipraat: wenke van ’n gereelde beoordelaar van redenaarskompetisies

Persverklaring: ATKV-Crescendo kondig elf finaliste aan

ATKV vier vanjaar 90ste bestaansjaar

ATKV-Tienertoneel-persverklaring: Dreunend-dapper talent bekroon

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top