ATKV vier vanjaar 90ste bestaansjaar

  • 2

Gerrie Lemmer

Die ATKV is vanjaar 90 jaar oud en so ’n mylpaal kan nie anders as om gevier te word nie.

Die afgelope 90 jaar al spits die ATKV hom daarop toe om Afrikaans te bewaar en te bevorder, en het dié organisasie van krag tot krag gegaan. Vandag se ATKV is ver verwyderd van die ATKV wat in 1930 deur slegs 12 mense gestig is – die organisasie het volgens hul webtuiste nou ongeveer 70 000 hooflede, met 30 kultuurprojekte per jaar  wat bykans 55 000 inskrywings genereer en meer as 220 000 mense regstreeks betrek.

Gerrie Lemmer, die uitvoerende hoof van kultuur van die ATKV, gesels oor dié mylpaal.

Gerrie, die ATKV is vanjaar 90 jaar oud – hoe voel dit om hierdie mylpaal te vier en wat beplan jul alles?

Watter groot jaar is dit nie vir die ATKV nie. Om 90 kersies dood te blaas is beslis nie almal beskore nie. Mason Cooley het eenkeer gesê: “Lees gee vir ons ’n plek om heen te gaan wanneer ons moet bly waar ons is.”

Min het ons geweet wat 2020 vir die land (en die wêreld) inhou, en dat die COVID-19-pandemie-regulasies ons letterlik sou inperk.

Ons besluit om in dié feesjaar veral op lees te fokus, het weer eens onderstreep dat lees die ideale manier is om jou wêrelde te verbreed (veral as jy letterlik by die huis moet bly).

ATKV-takke woeker reeds om projekte aan te pak wat die waarde van lees onderstreep.

Vat ons terug na 90 jaar gelede, na die ATKV se beginjare – hoe en waarom is die ATKV gestig?

Die naam van Sybie van der Spuy word onlosmaaklik aan die ATKV verbind. Onder sy leiding is die aanvoorwerk gedoen om die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging op 19 Augustus 1930 in Kaapstad te stig. Die ATKV is destyds as debatsvereniging in die Suid-Afrikaanse Spoorweë & Hawens gestig om aan die werkgewer te toon dat taal en kultuur vir die Afrikaanse personeel belangrik was. By hierdie debatsaande was daar ook optredes van mense wat ’n sang- of klaviersolo gelewer het – seker daar waar die ATKV se kultuurafdeling begin het. In 1936 is die plaas Hartenbos naby Mosselbaai aangekoop sodat die personeel daar kon gaan vakansie hou. Dit was inderdaad die begin van die ATKV-oorde.

Die ATKV is deur 12 mense gestig as ’n organisasie waar mense die lekkerte van Afrikaans-wees met mekaar kon deel.

Hoe lyk vandag se ATKV teenoor die ATKV van 90 jaar gelede?

Die ATKV was oor al die jare, en is nog steeds, ’n voorloper ten opsigte van talle aspekte van die Suid-Afrikaanse taal-en-kultuur-huishouding en in die toerismebedryf. Dit is nie nou anders nie, en die ATKV vervul op vele terreine steeds ’n leidende rol.

In die woorde van die besturende direkteur, Sonél Brits, is die ATKV se “selfopgelegde taak” om teen 2020 steeds “om te sien na die diverse Afrikaanse gemeenskap se taal- en kultuurbehoeftes met sy fisieke, intellektuele en morele komponente”. Ná 90 jaar wil die organisasie steeds die verskil wees wat hy al vir jare vir Afrikaans in Suid-Afrika was.

Hoe het die ATKV dit reggekry om die “toets van die tyd” te deurstaan en 90 jaar later steeds voortstrewend te wees? 

Die ATKV se rol om inklusief te wees, om brûe te bou, en om persepsies te verander, staan vas. Die voordele van hierdie benadering word bevestig met die uitstekende impak van die ATKV se projekte. Die suksesse wat by ATKV-takke behaal word, was nog nooit so inspirerend soos nou nie. Die derduisende jongmense wat aan ATKV-projekte deelneem en by ATKV-jeugtakke aansluit, skep hoop vir die toekoms.

Hoe sou jy sê het die ATKV dit reggekry om oor die jare relevant te bly, te transformeer, en by die veranderende tye aan te pas?

Aanpasbaarheid is ’n vaardigheid wat individue en organisasies in staat stel om voort te bestaan. In 90 jaar moes die ATKV by veranderende tye aanpas en het ons dit ook reggekry. Dink maar aan die vernuwing van projekte (hier moet ons beslis ook verwys na ons nuutste DigiProjekte), die lidmaatskapmodel wat oopgestel is vir ’n ieder en ’n elk wat lief is vir Afrikaans, en ook ons fokus op Afrikaans se tweedetaalsprekers.

Die ATKV het nog nooit teruggestaan vir ’n uitdaging nie. Deur te luister kon ons daarin slaag om behoeftes in die mark wat ons dien te identifiseer en planne te beraam om dit te vervul.

Wat is sommige van die noemenswaardige mylpale of hoogtepunte wat die ATKV oor die afgelope dekades gevier het?

Die ATKV het ’n baie interessante tydlyn. Ons het nog altyd die vermoë gehad om by die eksterne omgewing aan te pas. Dit is die rede waarom die ATKV na 90 jaar nog sterk staan. Van die mylpale is:

1930 – Die ATKV word gestig!

1931 – Die eerste uitgawe van die Taalgenoot.

1934 - Mev MS Pienaar word die eerste vroulike lid van die ATKV.

1936 – Die uitvoerende komitee koop die plaas Hartenbos.

1938 – ’n Simboliese ossewatrek vertrek vanaf Hartenbos na die Voortrekkermonument in Pretoria.

1943 – Die Vrou-en-Moeder-beweging word deel van die ATKV.

1946 – Die ATKV koop die huis van generaal Johan Rissik om die ATKV-hoofkantoor te vestig.

1949 – Die ATKV se ledetal steek die 50 000-merk verby.

1956 – ATKV-Natalia-strandoord word gekoop.

1965 – ATKV-Tienertoneel word vir eerste keer aangebied.

1973 – ATKV-Klein-Kariba word gekoop.

1974 – ATKV-Crescendo word vir eerste keer aangebied.

1976 - Die Hartenbos-museum word geopen.

1980 – Die ATKV vier sy 50ste bestaansjaar.

1983 – ATKV-Kampustoneel en Toneelteksprys word vir die eerste keer aangebied.

1984 – Die ATKV-prosaprys word bekendgestel. Dalene Matthee was die eerste ontvanger van die prys vir Kringe in ’n bos.

1990 – Die ATKV-skryfskool word bekendgestel.

1993 – Die ATKV koop ATKV-Buffelspoort en ATKV-Goudini Spa.

1994 – ATKV-Debat, -Redenaars, -Jeugberaad en ATKV-Applous skop af.

1995 – Die ATKV en ander vennote vestig die Pendoring-advertensietoekennings. In dieselfde jaar is oudpresident Nelson Mandela die gasspreker by die ATKV se algemene jaarvergadering.

1996 – Die ATKV koop JP van der Walt-uitgewers.

1997 – Die eerste ATKV-Entrepreneurskompetisie word aangebied.

1998 – ATKV-Christusfees skop af.

2000 – JP van der Walt-uitgewers se naam word verander na LAPA-uitgewers.

2006 – ATKV-Drakensville word gekoop.

2007 – Die ATKV-veertjies word verdeel in Mediaveertjies en Woordveertjies.

2008 – Die ATKV stel sy eerste kindertydskrif, Hoezit, bekend en begin Abbasorg-sorgsentrums.

2009 – ATKV-Postmatriek skop af en ATKV-Eiland Spa word aangekoop.

2011 – ATKV-Universiteitedebat skop af.

2013 – Die ATKV brei sy besighede uit deur die vestiging van aftree-oorde.

2014 – Die Vriend van Afrikaans word ’n filiaal van die ATKV.

2015 – Die ATKV speel ’n aktiewe rol in die vestiging van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA)

2017 – Die ATKV steek 70 000 lede verby.

2020 – Die eerste digitale projekte word bekendgestel.

Wat is van jul suksesvolste projekte wat vir jou uitstaan? 

Die ATKV bied jaarliks meer as 60 nasionale projekte aan. Projekte soos ATKV-Tienertoneel, ATKV-Redenaars en Debat, ATKV-Applous, ATKV-Sêr en Universiteitedebat, ATKV-Postmatriek, ATKV-Spelathon, ATKV-Media- en Woordveertjies, die VVA en ATKV-Crescendo staan vir my uit.

Wat maak jou opgewonde oor die ATKV?

Vir die afgelope 90 jaar het die ATKV aangepas en relevant gebly. Die ATKV is ’n MSW wat op gesonde besigheidsbeginsels bedryf word. Dit is ’n voorreg om deel van ’n organisasie te wees wat ’n verskil in alle gemeenskappe maak. Ons bedryf nie politiek nie; ons bemark en bevorder Afrikaans en die kunste op ’n inklusiewe wyse.

Wat hou die toekoms vir die ATKV in?

Die ATKV sal altyd daar wees om die Afrikaanse taal en kultuur op ’n vernuwende, inklusiewe wyse te bevorder. Daar is geen twyfel dat Afrikaans en die kunste onder groot druk is nie. Die ATKV sal deur goeie besigheidsbeginsels aanhou om ’n verskil te maak in duisende mense se lewens. Ons is baie opgewonde oor die geleenthede wat ’n veranderende wêreld vir die ATKV in die toekoms bied.

  • Besoek die ATKV se webtuiste vir meer inligting oor waarmee hulle alles besig is.
  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Marthinus Willemse

    Wat nie genoem is nie:

    Die ATKV is deur Spoorwegwerkers gestig. Ons in die Poskantoor het weer die ATKB (Afrikaanse Taal en Kultuur Bond) gestig, wat ondermeer redenaarskompetisies by skole gereël het. Gedurende die 1990’s is besluit om die ATKV en ATKB te laat saamsmelt.

    2020 is LAPA aan Penguin Random House verkoop.

  • Ons het al by al die oorde gekamp en watter plesier. Altyd vriendelik en gronde baie skoon. Baie geluk op die neëntig jaar en hoop dat ons binnekort kan kamp om die mylpaal te vier. Sal interessant wees om te weet wie is die oudste aktiewe lid.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top