LitNet Akademies-leesgoed: Elbie Adendorff

  • 0

Elbie Adendorff deel haar top drie leesgoed vir die afgelope jaar met LitNet Akademies.

Etienne van Heerden se Klimtol. Die roman het my teruggevoer na my kindertyd toe ons klimtol “gespeel” het. Dit het my teruggevoer na ’n tyd van onskuld en pret. Ek het gehou van die uitbeelding van menslike emosies en die ingewikkeldhede van die karakters wat met mekaar in kontak kom. Die verweefdheid van die verskillende motiewe in die roman het my beïndruk, veral die deurlopende spelmotief in al sy manifestasies. Dit was vir my lekker om die (tragiese) verhaal van Snaartjie Windvogel uit In stede van die liefde verder te lees en uiteindelik te lees hoekom sy aan die einde van In stede van die liefde net “verdwyn” het.

Koop dit by Kalahari.com!

Dana Snyman se Onder die radar. Ek het gehou van die uitbeelding van nostalgie en verlange wat in al die kortverhale na vore gekom het. Dana se uitbeelding van die karakters het my geraak en ook laat terugdink aan ’n vroeë tyd van onskuld en kind-wees. Dana skryf met soveel eenvoud en deernis, maar ook met ’n eerlikheid, oor die mense wat hy op sy reise teëkom. Ek het gehou van die dieper dimensie wat in elke verhaal so onverwags op my afgekom het.

Koop dit by Kalahari.com!

PG du Plessis se Fees van die ongenooides. Ek het nie werklik gedink ek sal van die roman hou nie, aangesien ek nie hou van historiese romans nie, maar dit het ’n impak op my gehad. Ek het gehou van die deernis waarmee Du Plessis die karakters en die oorlog en geskiedenis uitgebeeld het; asook die verteller wat amper lastig indring in die verhaal. Die taalgebruik was vir my verskriklik mooi en op plekke poëties.

Koop dit by Kalahari.com!

 

Klik hier en vind uit wat sê die res van ons akademici.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top