Die nege lewens van Mevrou Smit
Skrywer: Elizabeth Wasserman
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781776380558
“Om ’n spanningslyn vir 400 bladsye snaarstyf om die leser se nek getrek te hou,” skryf die krimiskrywer Piet Steyn in Die Afrikaanse Skryfgids, “werk nie.” Hy beveel aan dat ’n karakter geskep word om die spanning te breek.
In Tou, Steyn se derde boek met superintendent Pine Pienaar aan die stuur van sy misdaadreeks, maak hy gebruik van die myner Kris Frieslich en sy gesin om die spanning van die Hof onder die Kruis-bende se vigilantemoorde te breek. Ek sou wat wou gee om ’n boek oor die myner te lees.
Die internasionaal bekroonde misdaadskrywer Mike Nicol se Fish Pescado en Vicki Kahn-reeks bevat ’n stewige dosis humor, maar dit is veral die prettige bergie, Janet, op wie ek my hart verloor het. Lesers raak ook dadelik morsdoodverlief op dr Ann in Erla Diedericks se Die bewonderaar.
Tog, almal bykarakters.
........
Elizabeth Wasserman, wat meer bekend is vir haar Speurhond Willem en ander jeugboeke, gebruik humor om haar debuut-cozy, Die fantastiese Mevrou Smit, te anker. Ja, sy het die kuns om met woorde te skilder verfyn.
........
Elizabeth Wasserman, wat meer bekend is vir haar Speurhond Willem en ander jeugboeke, gebruik humor om haar debuut-cozy, Die fantastiese Mevrou Smit, te anker. Ja, sy het die kuns om met woorde te skilder verfyn. Kyk net hier:
“[...] word onderbreek en die orrel maak keel skoon met ’n paar waarskuwende note [...]” (bl 9)
En:
“Mevrou Dominee sou ’n kolonel op die slagveld kon wees.” (bl 19)
Wasserman se karakterisering deur byname soos “maermerrie” en “roomkoek” sê ook soveel meer as enige karakterbeskrywing.
En ja, daar is ’n moord – kenmerklik aan wyle Cecilia Britz se sagter krimiformule sonder die bloed en derms – maar dit is Mevrou Smit se vlymskerp tong en haar intrapslag in die piepklein dorpie, Aronspoort, wat my aan die lees gehou het. Alles aan Die fantastiese Mevrou Smit, van die kleurvolle omslag tot die storie, was vrolik.
Net so met haar tweede volwasse roman, Die nege lewens van Mevrou Smit.
Die vryskutresensent, Francois Bekker, bevestig dit in sy resensie, “Mevrou Smit vat weer voor op Aronspoort” (Beeld, 3 Junie 2024), wanneer hy sê: “Wasserman kry dit weer reg om lesers aan die raai te hou terwyl jy hardop lag vir die heerlike aweregse humor.”
Lees gou hier en sê vir my dat jy nie die hele boek wil lees nie?
Mevrou Smit is onthuts. “Wat bedoel jy, ou maermerrie? Wou jy nou sowaar gehad het dat die twee daar voor by die kansel staan en allerhande vals beloftes maak, met ’n dooie vrou wat vir hulle kyk?” (bl 12)
Wat ironies is aan die onbeskofte weduwee, is dat Mevrou Smit na Aronspoort, ’n fiktiewe dorpie in Robertson-omgewing, verhuis het juis om met haar aftrede weg te smelt in ’n plattelandse gemeenskap. Sy doen egter die teenoorgestelde. In Die fantastiese Mevrou Smit slaap sy die eerste aand in ’n polisiesel en trek ’n moordenaar vas “al was dit die verkeerde moord, nie die een wat sy wou oplos nie” (bl 14). In die opvolgroman vestig sy almal se aandag op die dooie vrou, die bruidegom se eksvrou, voor in die kerk.
Tomas Barnard, die bruidegom met die mooi blou oë en die dorp se enigste dokter aka distrikgeneesheer, vra dus met reg (met hoofstuk 4 se openingsparagraaf) aan Mevrou Smit:
“Kan jy nie uit die moeilikheid bly nie?”
Nee, sy kan nie!
Al verklaar sy op bladsy 30:
“Hierdie keer gaan sy haar slegs met haar eie sake bemoei, en Aronspoort kan maar self sien en kom klaar.”
Dit bring my by ’n paar feitefoute, en daar is heelwat. Mevrou Smit som Aronspoort so op:
“[...] In hierdie dorp het die straatligte oë. En selfs die posbusse skinder.” (bl 23)
Tog, as Mevrou Smit so graag wou wegsmelt, hoekom vestig sy dan doelbewus aandag op haarself? Hiermee saam, hoekom gaan sy terug na Aronspoort as dit spore na haar kan los? As jou lewe op die spel is en jy ag dit nodig om weg te kruip, doen jy dit immers in ’n dorp waar jy nog nooit was nie.
Ook, hoe het sy aan die einde van hoofstuk 1 geweet dat Lisa Martis, die bruidegom se eksvrou wat al die pad uit Kanada opgedaag het, “duidelik morsdood” is? Op daardie afstand? Sy kon net sowel slaap.
Hoofstuk 1 verklaar: “Al weer ’n moord in Aronspoort!” Dankie tog, want my leeservaring sou minder kleurvol wees sonder Mevrou Smit. Aan die einde van bladsy 247 wonder ek: Hoeveel moorde gaan nog in Aronspoort plaasvind? Genoeg dat Mevrou Smit haarself in ’n derde boek verder kan onthul? Wie is die ware Frankie, Fransina Groenewald, Franciska Schmidt en Tessa Smit?
Dit sluit aan by die misterie in Die nege lewens van Mevrou Smit. Hoe pas haar eksgevangene broer, Dirk, by haar wegkruip in? Is sy betrokke by dit wat hom in Pollsmoor laat beland het? Wat? Wie wou haar in Corfu doodmaak en hoekom?
Dit wakker nuuskierigheid by my aan ongeag die feitefoute.
........
Hoe onwaarskynlik en ongeloofwaardig dit ook al mag wees, hoop ek dat die volgende moord in die piepklein Aronspoort reeds plaasgevind het; dit verseker immers ’n derde boek.
........
Trouens, die maestro van verskillende genres, François Bloemhof, het reeds met sy trio Ludo Labuschagne-wiedoendit-raaiselromans die patroon vir ’n suksesvolle raaiselreeks geskep. Blou moord, wat verlede jaar verskyn het, se voorblad lyk eerder soos ’n advertensie vir ’n tequila-partytjie as ’n spanningsroman. Verder is Ludo se beskrywings kostelik en dra dit by tot die hele verhaal se humor en sarkasme. Dít – eerder as om die raaisel op te los – het my aan die lees gehou.
Met Mevrou Smit is dit anders. Die skrywer borduur nie net op Bloemhof se wenformule nie – sy gaan ’n stap verder en skep die grootste moontlike raaisel wat enige leser lank aan die lees sal hou, naamlik die misterie rondom die hoofkarakter waar ons nie alles in een boek ontdek nie. Juis daarom noem Bekker in sy genoemde resensie dat die Mevrou Smit-persona in die tweede boek verder ontwikkel is. Sy is ’n enigma met donker geheime en allesbehalwe eendimensioneel, maar sy boei lesers juis omdat sy so onweerstaanbaar is.
Hoe onwaarskynlik en ongeloofwaardig dit ook al mag wees, hoop ek dat die volgende moord in die piepklein Aronspoort reeds plaasgevind het; dit verseker immers ’n derde boek.
Alhoewel ek gewoonlik aanbeveel dat lesers eers die voorganger móét lees, werk dit juis beter om die tweede boek daarsonder te lees. Dit verskerp die misterie rondom Mevrou Smit nog meer.
Lees ook:
Die fantastiese mevrou Smit deur Elizabeth Wasserman: ’n lesersindruk
Lesersindruk van Die fantastiese mevrou Smit deur Elizabeth Wasserman