Nini Bennett-Moll skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.
1

Klein wonderwerk deur Hans du Plessis (Lapa, 2025)
Klein wonderwerk
Hans du Plessis
Lapa Uitgewers, 2025
Die bekroonde skrywer en digter Hans du Plessis se oeuvre sluit ses digbundels, drie jeugromans en tien romans in. Vir die jeugverhaal Ditsem Dawid! verwerf hy die ATKV-kinderboektoekenning. Die Griekwa-Afrikaanse digbundel Innie skylte vannie Jirre, waarvan daar meer as 65 000 eksemplare verkoop is, is bekroon met ’n erepenning van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en die CBSA-prys vir godsdienstige lektuur. Du Plessis is ongelukkig op 25 Oktober 2024 oorlede. Hy het ’n reuse bydrae gelewer tot die letterkunde, taalkunde en aanbied van slypskole in skeppende skryfkuns.
En met hierdie akkolades stel Du Plessis met sy jongste roman, Klein wonderwerk, wéér nie teleur nie. Op die agterflap beweer Jeanette Ferreira: “Om so vroeg as moontlik soveel spanning te skep dat jou leser nie die boek wil neersit nie, is nie enige skrywer se forté nie. Du Plessis kry dit reg. En vindingryk ook.”
........
Kan intergenerasiepyn en -konflik genees? Is dit moontlik dat twee mense wat absolute teenpole van mekaar is, mekaar wel vind?
........
Petrus kry swaar na die afsterwe van sy vrou, en weens sy sig wat verswak. Hy moet besluit wat van sy geliefde pragplaas, Pronkbos, gaan word. Sy enigste seun het van kleins af meer in rekenaars as in boerdery belang gestel en ná sy egskeiding geëmigreer. Sy seun se eksvrou en sy enigste kleinkind het spoorloos verdwyn. Petrus besluit om sy kleinseun op te spoor, want hy soek ’n erfgenaam vir Pronkbos. In die tou by ’n munisipale kantoor ontmoet Petrus vir Anina, ’n jong ma en maatskaplike werker. Anina het ’n traumatiese jeug gehad: Sy is seksueel misbruik en uitverhuur aan ’n prostitusiekartel in die hawe. Ten spyte van haar noodkrete het haar ouma, ma en pa geweier om gehoor te gee – haar pa en neef was inteendeel juis déél van die opset om haar as jeugprostituut te verhuur om die arm gesin se huur te betaal. Anina het ná matriek gaan studeer, en haar droom om ’n maatskaplike werker te word, word bewaarheid. Ongelukkig het sy getrou met ’n man wat eweneens gewelddadig was, en hulle is geskei. Haar seuntjie het die sin en anker in haar lewe geword.
Petrus vertrou nie jong vroue nie – hy moet sy eie trauma verwerk met sy skoondogter wat sy kleinseun van hom vervreem het. Anina, weer, haat ou mans. Tog besluit hulle om mekaar te help. Ek het in ’n vorige rubriek verwys na die intieme kameraderie wat tussen vreemdelinge bestaan – mense wat mekaar van geen kant af ken nie, maar vertroosting by mekaar vind. Dié roman is ’n voorbeeld hiervan.
Die boek spreek onderliggend ’n legio kwelvrae en narratiewe aan: Kan intergenerasiepyn en -konflik genees? Is dit moontlik dat twee mense wat absolute teenpole van mekaar is, mekaar wel vind? En kan twee vreemdelinge wat die pyn van misbruik en mishandeling ken, ’n hegte band vorm en hulle gesamentlike dog andersoortige verwonding met empatie en vergifnis bejeën sodat daar ’n kentering by beide intree?
Die roman draai om enigmas en die onvoorspelbare wel en wee van die lewe, en dít is waarin die boeiende krag van die werk lê.
........
Du Plessis het die kompleksiteit van die menslike kondisie verstaan.
........
Klein wonderwerk is bedrieglik eenvoudig en toeganklik op die oppervlak beskou, maar dit spreek sensitiewe temas met wysheid en deernis aan. Du Plessis het die kompleksiteit van die menslike kondisie verstaan.
En die kleinseun? Wat het van hom geword, en nog belangriker: Wié is hy?
Die roman verras met talle kinkels en intriges wat die leser nie sien kom nie. Du Plessis verdien lof vir sy behendige prosa en die talle mooi en poëtiese stelwyses.
“Sit op die bed en wag. Die ou man sal nou hier wees, en as jy weet wat goed is vir jou, sal jy doen wat hy sê.”
Toe is ek alleen en die deur is toe. Benoudheid wurg die asem soos ’n seekat uit my uit. Angs het my skaduwee geword, vrees my enigste metgesel. Hoe het ek hier gekom? Wat het ek verkeerd gedoen? Ek is ’n toemondkind wat nie eers die vrymoedigheid het om met my ouers te praat nie. Hulle glo my nie. (119)
Asook:
Selfs nadat sy besef waarvoor sy hawe toe gebring is, bly Gesiggie hoop en verlang en treur. Totdat sy, soos almal van ons, nie meer omgee nie.
Ek en sy het daarna die gewoonte aangeleer om by die venstertjie te kom staan en vir die see te kyk. Dan verbeel ons ons ons is meerminne in die water. Partykeer fantaseer ons oor wie eerste gaan uitspoel en op watter strand. […]
“Ek gaan vandag op die strand uitspoel,” sê sy dromerig, “en ek gaan reguit huis toe hardloop.” […]
Ek sit my arm om haar. “En ek sal die see in swem en wegswem van my huis en familie af en ek gaan nooit trou nie.”
“Nooit ooit nie,” belowe Gesiggie.
En ons tuur deur die vuil ruit. (136)
En:
Niemand het haar al vertel hoe ’n vuur met ’n mens kan praat nie. Daar is ritme, musiek en lirieke in ’n Bosveldvuur. Tweespraak van lig en donker in die stilte van ’n aand vol sterre. Niemand het haar daarop voorberei dat ’n Bosveldvuur in die aand in tale praat nie […]. (92)
Hou maar ’n boks snesies byderhand. Klein wonderwerk is ’n boek van teenpole; van verwonding en verlossing; van wreedheid en teerheid; van noodlot en wonder. En uiteindelik, in die laaste hoofstuk, breek die lig deur.
2

Die Bybelse vas deur Ilse Roux (Luca – Lapa, 2025)
Die Bybelse vas
Ilse Roux
Luca (Lapa Uitgewers), 2025
Die skrywer, Ilse Roux, is die stigter en hoofontwerper by Ilse Roux Bridal, en is al 16 jaar werksaam in die huwelik- en ontwerpersbedryf. Sy is gebore en getoë in Malmesbury. Ná skool het sy verder studeer aan die Universiteit Stellenbosch, en ná 11 jaar in die onderwys het sy haar eie besigheid begin. Sy spog met talle toekennings agter haar naam as ontwerper van trourokke. In 2023 het Roux gedebuteer met Bakens van geloof.
Die Bybelse vas is nie net nóg ’n pienk boekie nie – dit is ’n ingeligte stuk Christelike lektuur wat besonder deeglik nagevors is, soos die uitgebreide bronnelys agter in die boek ook getuig. Die outeur anker haar werk in die hede met onder meer die gebruik van talle multimediaskakels in haar verwysings.
........
Die Bybelse vas is nie net nóg ’n pienk boekie nie – dit is ’n ingeligte stuk Christelike lektuur ... Die outeur anker haar werk in die hede met onder meer die gebruik van talle multimediaskakels in haar verwysings.
........
Binne ’n groter en meer holistiese konteks word vas gesien as die vrywillige onthouding van kos of drank vir ’n vasgestelde tydperk, en dit dien as geestelike ritueel in verskeie gelowe en filosofieë. Van die plegtige viering en vastyd van Jom Kippoer in Judaïsme, die vas tydens die Ramadan in Islam, en die Lydenstyd in die Christendom, tot die asketiese praktyke van verskeie Oosterse tradisies is vas ’n bekende ritueel vir geestelike reiniging, selfdissipline en (die hernude) verbintenis met die goddelike.
In die persverklaring verneem die leser: “Ontdek die geheimenisse van die Bybelse vas en ervaar ’n dieper verhouding met God. Die Bybelse vas is ’n omvattende studie en eietydse uiteensetting van hoe die Bybelse vas gelowiges kan versterk in geloof en hulle verhouding met Jesus Christus verdiep. Wanneer ons verstaan hoe om te vas en waarom ons dit doen, betree ons nuwe hoogtes van vryheid, geestelike vuur en oorwinning wat vir alle gelowiges deur Christus bewerk en beskikbaar gestel is. Die Bybelse vas ontsluit die verborge kern van geestelike gesag en berei lesers voor om meer van God in hulle daaglikse wandel te ontdek en te ontvang. Deur doelbewus die rumoer en bedrywighede van die wêreld opsy te skuif, skep ons meer ruimte vir God, sy stem, sy Woord, sy vrede en sy herstellende teenwoordigheid. Vas is ’n geestelike gebaar van onderwerping en innerlike verootmoediging aan God se gesag en sy Koninkryk wat lewensveranderende gevolge kan hê, want wanneer ons voor God neerbuig, lig Hy ons op. Elke kind van God is bestem om die misterie van die transformerende krag van die Bybelse vas vir daadwerklike deurbrake op elke vlak van hulle lewe te ontdek en ervaar. Die Bybelse vas is jou sleutel vir die deure na vryheid, oorwinning en ’n ongeskonde verhouding met die Drie-enige God.”
Roux se werk fokus dan primêr op die Christelike gebruik van vas, geboekstaaf deur talle teksverwysings, historiese inligting, en die bekentenisse van talle gelowiges. Sy ekstrapoleer haar persoonlike ervarings en insigte rondom vas met die getuienisse van talle ánder gelowiges, en erken dat Jentezen Franklin se Wanneer julle vas gedien het as impetus tot haar (dieper) belangstelling in hierdie geloofspraktyk. Die boek het oorspronklik in 2007 in Engels verskyn met die titel Fasting: Opening the door to a deeper, more intimate, more powerful relationship with God.
........
Uiteindelik is vas ’n vorm van geestelike oorlogvoering, nie om “God se arm te draai nie”, soos die outeur dit stel, maar om nader aan God te beweeg.
........
Die skrywer se betoog geskied rondom verskeie skriftuurlike verwysings, byvoorbeeld “Jesaja 58:6 (AFR83) […] ‘Is die vas wat Ek wil hê nie dít nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek?’” (die outeur se kursivering). Op bl 74 skryf sy, na aanleiding van Vlad Savchuk se YouTube-video “Five reasons why people do not fast”: “Jy verruil tydens vas dit wat tydelike waarde het (kos), vir iets wat ewigheidswaarde het (heiligmaking). Jy verruil die fisiese vir die geestelike, die sigbare vir die onsigbare.”
Roux gebruik onder meer Jesus Christus as voorbeeld, en dat sy leefstyl gekenmerk is deur gereelde tye van vas en gebed – en dat Hy daarom ’n sterker geestelike vermoë as sy dissipels gehad het.
Die skrywer gaan verantwoordelik om met die antieke gebruik van vas, byvoorbeeld die verskillende tipes vas vir mense wat chroniese medikasie gebruik, swanger vroue, of dié wat aan siektetoestande ly.
In hoofstuk 3 beskryf sy die verskillende soorte vas, soos die algehele vas, wat die Ester-vas, Jona-vas en die Esra-vas insluit en daarop neerkom dat só ‘n persoon vir bepaalde periodes slegs water drink. Die Ester-vas is geskoei op Ester 4:15–16, en impliseer dat die gelowige vir drie dae geen kos of water inneem nie. Roux onderssteun haar argumente met talle Bybelse narratiewe, maar sy trek deurlopend haar argumentslyn deur na die moderne tyd waarin ons leef, en na reële hedendaagse situasies waarmee mense worstel. Sy beskryf insgelyks die Jona-vas (50), asook die gedeeltelike vas, soos die Daniël-vas.
Uiteindelik is vas ’n vorm van geestelike oorlogvoering, nie om “God se arm te draai nie”, soos die outeur dit stel, maar om nader aan God te beweeg. Deur die vleeslike tydelik met die (suiwerder) geestelike te verruil, betree ’n gelowige ’n bonatuurlike en Goddelike domein waarin deurbrake, wonderwerke en oorwinnings – op alle vlakke – moontlik is, én gebeur.
Roux delf dieper as bloot eksegese. Sy bespreek die fisieke voordele van vas in hoofstuk 10 en haal gesag aan wat die fisiologiese prosesse, asook die voordele wat vas vir die menslike liggaam inhou, beskryf. Ek het die korrelaat tussen laasgenoemde fisiologie en die beskouings rondom vas van antieke filosowe soos Pythagoras, Plato, Aristoteles, Sokrates en Hippokrates besonder interessant gevind.
........
Alhoewel Die Bybelse vas op ’n Christelike lesersmark gerig is, is dit ook ’n boeiende werk wat ’n mens uit ’n mistiese spirituele of metafisiese invalshoek kan lees en waardeer – en laat herbesin oor die waarde van hierdie antieke filosofie.
........
Die skrywer bespreek ook die waarde van kollektiewe vas, wanneer gemeenskappe of gemeentes in tye van nood sáám vas.
’n Interessante toevoeging tot die beskouing rondom vas is die beskrywing in hoofstuk 12 van ’n “digitale vas” – en dat digitale oorgebruik soortgelyk is aan die oorversadiging van kos (of kitskos). Digitale “vraatsug”, soos Facebook-verslawing, lei insgelyks tot geestelike vertroebeling. Natuurlik kan mens nie net alle digitale toestelle los nie – en Roux bespreek die digitale vas op verantwoordelike wyse, soos sy ook met die res van haar boustof in hierdie boek omgaan.
Alhoewel Die Bybelse vas op ’n Christelike lesersmark gerig is, is dit ook ’n boeiende werk wat ’n mens uit ’n mistiese spirituele of metafisiese invalshoek kan lees en waardeer – en laat herbesin oor die waarde van hierdie antieke filosofie.
Lees ook:
Heil die Leser!: Die waarde van selfhelpboeke en motiveringslektuur
Springmielies: Die magiese en simboliese eienskappe van juwele