- Nini Bennett-Moll skryf gereelde rubrieke vir LitNet.
........
Ek flits my ligte vir die Corolla en onderdruk ’n gevoel van weemoed oor die onbekende reisiger wat my verlaat.
........
1
Eensame wit oë in die nag.
My motorligte, plus dié van die voertuig voor my, vir honderde kilometer aaneen deur die Karoo. Dit is net ons twee reisgenote. Soms skroom ’n voertuig verby en val weer terug, daardie hipnotiese suising van die langpad.
Ek is bewus van die groot sterre wat brandsteek in die swart hemel, suile lig, soos ek bewus is van my eksistensiële eensaamheid. En ek is intens bewus van vreemdelinge. Ek weet nie hoe ver ons bestemming nog op die horison naderskuif nie; ek is net dankbaar vir die kar voor my wat eerste om elke kronkel gaan, wat ’n onsigbare buffer tussen my en spoedlokvalle of dalk ’n onverwagse wegholbok vorm.
Ure later skei ons paaie. Ek flits my ligte vir die Corolla en onderdruk ’n gevoel van weemoed oor die onbekende reisiger wat my verlaat.
*
Lank gelede het ek ’n film gesien met ’n spesifieke toneel wat my bybly.
In ’n voorstedelike huis het ’n man en vrou rusie.
Die man storm by die voordeur uit, en, onsamehangend in sy ontsteltenis, in die paadjie af na die voorhekkie, swenk weg, straat se kant toe ...
Hy merk nie die drawwer, ’n jong meisie, wat om ’n blinde draai kom nie. Sy hardloop in die man vas, bots teen sy bors, sy arms weerloos en oop.
Vir ’n sekond kyk die man en vrou na mekaar met die skok van herkenning wat vreemdelinge so goed verstaan. Dan omhels hulle mekaar.
Die man begin bitterlik te huil.
Die vrou huiwer, lig haar arm en streel die man se agterkop. Sy weet. Dis asof dit maar altyd so was: daardie onbeskryflike begrip vir ’n ander mens, sonder vrae, sonder niks.
Sonder waarskuwing ruk die vrou uit die man se arms en hardloop weg. Die kamera talm vir ’n paar sekondes op haar gesig, nou verward.
Sy hardloop; hý staar verslae na haar rug. Sy kyk nie om nie.
“Ek het vergeet om te vra wat jou naam is!” roep hy agterna. “Asseblief, sê net vir my wat is jou náám ...?”
Ek dink dikwels aan dié toneel. Ek kan nie onthou wanneer ek dit gesien het nie, of wat die naam van die film is nie. Ook die karakters bly, na al die jare, naamloos. Ek onthou hulle gesigte egter in grafiese besonderhede; om die een of ander rede bly die toneel hom herhaal in die teater van my verbeelding.
*
Op konkrete reishaltes is mens ingestel op reisigers. Passasiers en pendelaars. Lughawens, bushaltes, stasies en taxistaanplekke. Meelopers en medereisgenote; nomadies, van orals, maar ook van nêrens.
Lank gelede het ek noodgedwonge baie bus gery. Elke oggend en middag was die bekende gesigte by die bushalte. Sélf het ek nooit met iemand gepraat nie; die ander het ook, sover ek kan onthou, geswyg. Om te praat is om die intieme kameraderie tussen vreemdelinge – die ongeskrewe kontrak – te verbreek. Tog het ek aan die groepie pendelaars geheg geraak. Jy kan selfs sê ek het lief geraak vir hulle. Hulle teenwoordigheid was so alledaags, so vanselfsprekend, dat ek nooit die noodsaak daarvan bevraagteken het nie. Immer teenwoordig, soos die grys gety se geluidlose draai, was die kuddetjie by die roetebord met die bankie. Ek onthou die angs as daar skielik ’n afwesige gesig onder hulle was – wat het gebeur? Is die persoon dalk siek, dood ...? En die blydskap as ek weer die bekende onbekende by die volgende opklim sien wag.
Hulle teenwoordigheid was ’n gerusstelling: Ek is hier. Ek is betyds. En – ek is nie alleen nie. Ek ís.
Dalk was dit maar altyd die geval, ek weet nie; en dalk het ons maar altyd saam gewag, gister en al die dae voor gister en al die gisters wat “verlede” beliggaam.
Pelgrims van die sterflikheid.
*
2
Die sielkundige dryfveer verbonde aan hierdie paradoks van intimiteit en afstand lê waarskynlik in die feit dat die mens van nature empaties is. ’n Mens dink ook aan die waarde van omgeegroepe soos Alkoholiste Anoniem, waartydens lede met bymekaarkomsessies hulle donkerste geheime rondom hulle verslawing met mekaar deel.
As vreemdelinge tekens van wederkerige begrip toon, kan dit ’n sneeubaleffek van kollektiewe intieme kameraderie skep.
........
Tussen vreemdelinge bestaan daar ’n gevoel van vryheid, omdat hulle nie mekaar se verledes ken nie.
........
’n Ander verklaring is dat wanneer vreemdelinge in ’n situasie verkeer waar hulle kwesbaar voel, hulle gouer ’n band vorm, omdat hulle troos en ondersteuning by mekaar soek. Dit is evolusionêr ’n oorlewingsmeganisme wat mense motiveer om in ’n tyd van onsekerheid bondgenote in mekaar te vind – en hierdie gedeelde kwesbaarheid help om dieper vertroue te skep.
Tussen vreemdelinge bestaan daar ’n gevoel van vryheid, omdat hulle nie mekaar se verledes ken nie. Dit is makliker om persoonlike bekentenisse – of geheime – aan ’n vreemdeling te onthul, omdat daar ’n verminderde risiko van oordeel of negatiewe gevolge is.
Maar – uiteindelik is die mens ’n enigmatiese wese, en skiet die bogenoemde verklarings hopeloos te kort. Die mens bly ’n misterie. En dalk het ek reeds te veel gesê.
*
Ek het ’n behoefte aan die geselskap van mense wat nie praat nie. Met wie ek nie praat nie.
Nie praat nie.
Kommentaar
Dit is ontsettend pragtig geskryf, Nini. Iets wat ek wil bêre.