
Skermgreep: "Journey across Europe" (Bito2 op YouTube)
Ek het ’n nuwe verslawing. Ek kyk na die video’s van ekspedisies deur moderne treinboemelaars.
As gevolg van maatskaplike uitsigloosheid, werkloosheid, oorbevolking en ennui het daar ’n aktiwiteit ontstaan wat bekend staan as trainhopping, trainhitching of freight-hopping, wat ek vir die doel van dié artikel as “treinboemel” vertaal.
Laat ek eers verduidelik wat train surfing is. Dit verwys na ’n aktiwiteit waar jongelinge uit hopelose omstandighede in lande soos Suid-Afrika, Brasilië, Indië en Bangladesj op bewegende passasierstreine klim, op die waens se dakke dans, aan die buitekant van treine hang of swaai, of ander doodsveragtende akrobatiese toertjies doen en dan betyds wegduik vir die oorhoofse elektriese kabels. Hierdie treinwaaghalse (of train surfers) word gewaar op voorstedelike treine tussen townships en groot metropole, en ter plaatse aangetref op voorstedelike treine tussen Johannesburg en omliggende townships, en tussen Kaapstad en omliggende townships. Binne hierdie subkultuur word treinwaaghalse voorstedelike helde binne die sfeer van hopelose en ellendige maatskaplike toestande. Alhoewel treinwaaghalse se aktiwiteite verskil van dié van treinboemelaars, kan die twee oorvleuel: Ook treinboemelaars maak gebruik van die doodsveragtende toertjies wat treinwaaghalse uitvoer.
Treinboemelaars is jongmans wat die wêreld verken deur op onwettige wyse van goederetreine gebruik te maak. Die oogmerk van treinboemelaars is primêr om op verbode wyse te reis, verbode plekke binne te gaan en video-opnames van hulle reise te maak wat dan via hulle onderskeie YouTube-kanale vertoon word. Dié jongmans is avonturiers wat hierdie lewensgevaarlike reise as beroep beoefen – en op ’n siniese en nihilistiese wyse teen die sosiale sisteem rebelleer. Die dood is net ’n oogwink ver, en hulle vreesloosheid – of is dit dapperheid? – word ’n vorm van ekshibisionisme, opgedis aan hulle miljoene gretige en afwagtende volgelinge. Die mees algemene doodsoorsaak by treinboemelaars is om van treine af te val of onder treine in te val, om boukonstruksies soos brûe te tref, of om deur elektriese kabels doodgeskok te word.
........
Waar die Amerikaanse hobos tot vandag toe doelloos rondswerf, bedryf die meer gesofistikeerde Europese treinboemelaars hulle aktiwiteite as kunsvorm.
........
Die Amerikaanse treinboemelkultuur verskil van die Europese eweknie. Treinboemelaars word in Amerika ook hobos genoem en is in die reël ongesofistikeerd en haweloos: hillbillies wat uit arm huise uit die Amerikaanse platteland kom, met swaar aksente praat en ongewas en ongeskeer voorkom. Treinboemel bestaan reeds sedert die koms van treine in die VSA, maar het momentum gekry tydens die Amerikaanse Burgeroorlog en die Groot Depressie toe trekarbeiders op goederetreine geklim het om kosteloos na hulle bestemmings te reis. Waar die Amerikaanse hobos tot vandag toe doelloos rondswerf, bedryf die meer gesofistikeerde Europese treinboemelaars hulle aktiwiteite as kunsvorm.
Dié Europese jongmans is nie haweloos nie; hulle kom uit goeie huise, is verfynd, belese, hoogs intelligent en wel ter tale; en hulle beskik oor ’n grondige kennis van geografie, geskiedenis, politiek, chemie, fisika, meganika, weerkunde, spoorsny en ekologie, om ’n paar kennisterreine te noem. Want hierdie kennis plus atletiese vaardighede is onontbeerlik vir hulle gevaarlike ekspedisies. Daar is ook kompetisie tussen treinboemelaars, wie se vername doelwit is om interessante, verbode en onbekende plekke te besoek, te verfilm en hulle YouTube-gevolg te vermaak. Europese treinboemelaars is tegnokrate: moderne ontdekkers wat die buikkant van Europa vir mense wys. Hulle boeiende vollengtefilms word gekenmerk deur ’n meer intellektuele aanslag as dié van die Amerikaanse treinboemelaars.
In die verlede het die groot ontdekkers besit geneem van nuwe, onontginde terrein; die moderne ontdekkers verfilm verbode terrein. Toegerus met ’n selfiestok, GoPro, ’n klein hommel en ’n rugsak waarin daar ’n slaapsak, gasstofie en opslaantentjie, termiese klere, hangmat, kos en gebottelde water is, durf die treinboemelaar sy ontdekkingsreise aan. Hierdie mans gebruik hulle fone se GPS om rigting te hou, soos om die roetes van die goederetreine te voorspel. En omdat hulle onwettig op goederetreine reis, is hulle nie altyd seker waarheen ’n spesifieke trein beweeg nie – hulle sal byvoorbeeld net weet in watter rigting hulle beoogde bestemming is. ’n Treinboemelaar bespied soms vir ure – of dae – ’n yard, of rangeerwerf. Hulle kruip meesal in die buitewyke, of in die bosse langs die rangeerwerf, weg om nie die aandag van spoorwegpersoneel of sekuriteitswagte te trek nie. Hulle is vernuwend en kan ook sélf weerkaatsende klere dra om te lyk of hulle spoorwegpersoneel is. Om die roetine van treine te verstaan verg geduld; en om roekeloos op te tree stel jou bloot aan moontlike arrestasie of dodelike ongelukke. So, hierdie manne wag.
........
In die verlede het die groot ontdekkers besit geneem van nuwe, onontginde terrein; die moderne ontdekkers verfilm verbode terrein. Toegerus met ’n selfiestok, GoPro, ’n klein hommel en ’n rugsak waarin daar ’n slaapsak, gasstofie en opslaantentjie, termiese klere, hangmat, kos en gebottelde water is, durf die treinboemelaar sy ontdekkingsreise aan.
........
Die treinboemelaars wag vir ’n trein in die rangeerwerf om te vertrek, hardloop langs die trein, gryp na ’n vashouplek en spring op een van die waens. Hulle is lief vir goederetreine wat uit vragwaens (gondolas in hulle taal) bestaan wat skroot of erts vervoer. Diegene wat atleties is, kan daarna, terwyl die trein in beweging is, van wa na wa spring totdat die beste skuilplek gevind word. Van die gondolas bevat opgesnyde stukke skroot met skerp punte wat die treinboemelaars kan sny of hulle klere kan skeur. Daar kan letterlik enige iets in ’n wa wees, en hierdie ouens klim dikwels vuil, besmeer met steenkoolvullis, by hulle bestemmings af. En as ’n vragwa nie beskikbaar is nie, sal sulke avonturiers roofry deur in ’n passasierstrein se toilet weg te kruip. Hulle reis dikwels ook met treine wat vraghouers vervoer. Die gevaarlikste vorm van reis is om in die klein spasie tussen die vraghouer en treinwiele te lê. Dit beteken dat die treinboemelaar vir ure aaneen doodstil in een posisie moet bly. Hy durf nie aan die slaap raak nie, anders val hy deur tot tussen die treinwiele. Aan die krampe in sy lyf, of die feit dat dit in Europa snerpend koud kan raak, kan hy niks doen nie. Daar is ook diegene wat op die koppeling tussen waens staan en vashou vir die volle duur van die reis.
Treinboemelaars vertel hoe gevaarlik dit is om op ’n bewegende goederetrein te spring, aangesien ’n trein altyd vinniger ry as wat dit vir die menslike oog sigbaar is om akkuraat te volg. En daar is dikwels nie behoorlike vashouplek nie. Maar wanneer dit moontlik is om die skroewe op die wiele te tel, is dit veilig om op te spring, aldus dié avonturiers.
Die boerpot is natuurlik as passasiersmotors in spesiaal ontwerpte waens bo-op die trein is. Van die karre is nie gesluit nie en jy kan bloot inklim en eersteklas reis.
Daar is die manne wat hardloop en van wadak na wadak spring – en wat perfekte balans vereis as die dakke van die waens rond is, soos in die geval van waens waarin olie, brandstof of chemikalieë vervoer word. Omdat die kompetisie tussen die treinboemelaars op YouTube sterk is, moet hulle voortdurend met nuwe toertjies of veraf bestemmings vorendag kom om hulle kompetisie te klop. ’n Meer onlangse tendens is die gebruik van hommels om rangeerwerwe te bespied – baie slim, inderdaad.
Sommige treinboemelaars het duisende ingeskrewe volgelinge en ’n kykergevolg van tussen twee en sewe miljoen op YouTube. Internetprestige. En met talle donasies verdien hulle méér as ’n goeie inkomste.
Die avonturiers vermy ook stasies. Hulle sal tipies op rangeerwerwe afspring terwyl die trein nog beweeg. Rangeerwerwe is gewoonlik ’n kilometer of wat buite ’n stasie, dus spring hulle gewoonlik daar af indien hulle van treine wil verwissel, en die proses begin dan van voor af om vir die regte trein te wag. Die GPS-toepassings op hulle fone word gebruik om hulle roetes te beplan en te bepaal waarheen die trein waarop hulle hul bevind, op pad is. Hulle oortree ’n legio sekuriteits- en emigrasiewette, en om onwettig op ’n trein te reis, is ook ’n vorm van diefstal. Sou ’n treinboemelaar gearresteer word, kan hy tronkstraf in die gesig staar. Hulle slaap in bosse, woude en koppies, in leë geboue, of op die dakke van geboue. ’n Dak klink na ’n vreemde keuse, maar dis inderdaad die veiligste opsie – met die voordeel dat jy kan uitkyk oor die omgewing en betyds polisie of sekuriteitspersoneel kan gewaar. Hierdie fikse jongmans weet uit ervaring dat die wagte wat hulle jaag, te oud, te lui, te oorgewig of bloot te onverskillig is om hulle in te haal, veral as daar ’n koppie is waarteen hulle uitklim – kom hulle 99 uit 100 keer weg. Natuurlik word die jaagtogte verfilm, wat die spanning verhoog. Hulle is ook daarin gekonfyt om hulself uit benarde situasies los te praat. Wanneer die risiko van agterdogtige owerhede ’n realiteit word, sal hulle hul fone en GoPro’s se SD-kaarte uithaal en versteek sodat daar geen bewys of rekord van enige onwettige aktiwiteite is nie.
........
Hulle is manlik, in hulle twintigs; hulle beweeg alleen en in die skadu’s, behalwe soms wanneer hulle by mekaar aansluit om spesifieke ekspedisies te voltooi; hulle is meesal universiteitsverlaters; hulle is nie haweloos nie, alhoewel mens kan wonder hoe hulle familie oor hulle reise voel (dís nou as hulle daarvan bewus is); en hulle is gekultiveerd. Hulle word gekenmerk deur hulle Spartaanse leefwyse.
........
Europese treinboemelaars leef incognito. Weens die risiko van arrestasie dra hulle ook gesigsmaskers, of hulle sal hul gesigte uitdoof in die video’s. Maar ten spyte van hulle identiteite wat in misterie gehul is, is die tipiese profiel van so ’n persoon die volgende: Hulle is manlik, in hulle twintigs; hulle beweeg alleen en in die skadu’s, behalwe soms wanneer hulle by mekaar aansluit om spesifieke ekspedisies te voltooi; hulle is meesal universiteitsverlaters; hulle is nie haweloos nie, alhoewel mens kan wonder hoe hulle familie oor hulle reise voel (dís nou as hulle daarvan bewus is); en hulle is gekultiveerd. Hulle word gekenmerk deur hulle Spartaanse leefwyse (of altans, tydens die reise, wanneer hulle kosteloos probeer reis). In geval van nood het hulle wel geld om noodgedwonge ’n passasierstrein te haal, ’n dokter te besoek, of in ’n goedkoop losieshuis te oornag. Die kos wat hulle tydens hulle ekspedisies eet, is energiestafies, kitsnoedels, aanmaaksop of hawermout. In die een geval het ’n treinboemelaar selfs van geblikte hondekos geleef. Wanneer die manne se water opraak, sal hulle dou of druppels water van plante af drink, of water uit ’n rivier skep en kook. Die hele gedagte én die opwinding lê daarin om met die absolute minimum die uithoeke van die wêreld te verken.
Soos reeds genoem, gaan daar ure van deeglike beplanning in treinboemelaars se voorgenome reise in. Die grotes is Shiey, ’n 28-jarige man van Litaue; Gifgas, ’n Belg, ongeveer dieselfde ouderdom; en Bito, ’n Duitser uit Berlyn. My gunsteling is Shiey, vanweë sy intelligensie, charisma en verbysterende akrobatiese vermoëns. Shiey se YouTube-kanaal het die mooi naam “Illegal freedom”. En dan het dit natuurlik verskeie kere gebeur dat Shiey en Gifgas saam reise onderneem het, met gepaardgaande video’s wat vir boeiende kykervaring sorg.
Die enigmatiese Shiey, lank en skraal en altyd in swart geklee, se gunstelingbestemmings is die voormalige Oosblok-lande soos Serwië, Bosnië, Montenegro, Latwië, Slowenië, of Oekraïne. Op die meer gewilde roetes word verlate fabrieke, verlate myne of verlate militêre installasies besoek. ’n Interessante eienskap van die twee is dat hulle ’n hoë etiese kode handhaaf – al is dit ’n etiese kode wat buite die norme van die samelewing val. Hulle sal byvoorbeeld vir hawelose honde en katte kos gee, en/of aan mense se deure klop en verneem of hulle nie die betrokke diere wil inneem nie; hulle sal in leë huise ingaan om hulle GoPro’s en selfone daar te laai, maar niks steel nie en ook nie daar oornag nie; en hulle sal opruim waar hulle geslaap het en geen rommel agterlaat nie.
Shiey se repertoire is inderdaad wyer as sy eweknieë s’n – en daarom gevaarliker. Doodsveragtend. Hy het die gewoonte om op hoë geboue se dakke te klim en dan op die rand van so ’n gebou, een voet voor die ander soos ’n touloper in die sirkus, te loop. Hy klim ook graag duiselingwekkend hoë konstrukte soos steierwerk, brûe en antennas uit; en hy oornag op geboue se dakke. Shiey se spesialiteit is om verlate en verbode plekke te verken – natuurlik deur die lens van die YouTube-gevolg. En met miljoene kykers, die gesiglose gehoor wat hom aanmoedig, is dit waarskynlik vir die jongman die moeite werd. Elders lees ek dat National Geographic ’n paar lesse by Shiey kan leer: toegerus met slegs ’n GoPro en selfiestok lewer hy films met treffende kinematografie en boeiende narratiewe. Een so ’n voorbeeld is Shiey en ’n meeloper se besoek aan Tsjernobil en Pripjat. Die Tsjernobil-kernkragramp was ’n katastrofiese kernongeluk waartydens kernkragsentrale nr 4 op 26 April 1986 naby die dorp Pripjat in Oekraïne ontplof het. Hierdie ontploffing en brand het groot getalle radioaktiewe deeltjies in die atmosfeer vrygestel en na raming ongeveer 90 000 mense se lewens geëis.
........
In die woude rondom Tsjernobil is dit altyd herfs – die blare is permanent rooi as gevolg van die langtermyneffek van radioaktiwiteit.
........
Verskillende video’s toon hoe Shiey die verbode uitsluitingsone te voet binnegaan, op pad na Pripjat. In die woude rondom Tsjernobil is dit altyd herfs – die blare is permanent rooi as gevolg van die langtermyneffek van radioaktiwiteit. Shiey se reisgenoot het ’n meter wat radioaktiwiteit meet in sy hand. En wanneer die bestralingsvlakke te hoog raak, verander hulle van rigting totdat hulle (betreklik veilig) binne aanvaarbare bestralingsvlakke verder beweeg. Die afgeslote sone word streng deur sekuriteitswagte bewaak. Die wagte dra klere wat hulle teen bestraling beskerm. In teenstelling hiermee swem Shiey en sy vriend deur ’n radioaktiewe rivier; dit is nag, en die termometer wys vriespunt.
Met die geluid van wolwe in die agtergrond stryk hulle moeg aan. Dan stap hulle deur ’n begraafplaas en Shiey vra: Wat is meer godverlate as ’n begraafplaas in Tsjernobil, en dit in die nag en in die winter? Iewers raak hulle watervoorraad op, en hy stop by ’n dam om hulle voorraad aan te vul. Ongelukkig is die water radioaktief en moet dit met oplosbare ontsmettingstablette behandel word alvorens dit gedrink kan word. Maar is dit veilig?
Die staptog duur ’n hele paar uur. Die kamera wys hoe Shiey deur ’n verlate hospitaal – ’n spookagtige murasie – stap en ’n gasmaskertjie wat vir ’n baba bedoel was, optel. Hoe hartverskeurend is dit nie!
Soms is die plek wat besoek word se ligging te gevaarlik om aan te dui. ’n Mens wil nie bots met die weermag, of ’n regering se sensitiewe of geklassifiseerde inligting bekendmaak nie – dit voorspel moeilikheid en arrestasie. Só ’n voorbeeld is ’n bunker in Letland, wat Shiey om bogenoemde sekuriteitsredes bloot gefotografeer het en nêrens aangedui het waar hy hom bevind nie. In die YouTube-kommentaarkolom het ’n kyker egter genoem dat die bunker in Letland is. En van verlate bunkers, of dié wat inderhaas ontruim is, gepraat: Onder die Londen-metro is daar ’n bunker uit die 1940’s wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in gebruik was en steeds ten volle operasioneel is. Die bunker beskik oor elektrisiteit en krane met skoon, lopende water. Dié bunker is ’n yslike plek met verskeie gange, hysbakke en stapelbeddens om op te slaap, kennelik vir duisende mense ingerig. Wat veral interessant is, is die moderne tegnologiese toebehore, soos mikrogolfoonde, in die bunker, in teenstelling met die outydse geiser (uit die veertigerjare) wat nog 100% werk. Waarom is die bunker op ’n gereedheidsgrondslag, water en krag en al, en wie hou die bunker operasioneel? Dit het Shiey tot drie jaar geneem om sekere verbode plekke te betree – maar hy verskaf nie meer besonderhede daaroor nie, om voor die hand liggende redes.
........
Die ruïnes van vakansiebestemmings op Montenegro noem Shiey “’n postapokaliptiese paradys”. En bouvalle: Al daarop gelet hoe ontsettend stíl ’n bouval kan wees?
........
Stede van relieke en rommel ... Op watter presiese oomblik sterf tyd en word dit opgeskort tot verlede tyd? Daar is iets intrinsiek poëties aan hierdie ekspedisies. In Sardinië byvoorbeeld is daar talle spookdorpe wat ontruim is as gevolg van aardbewings, vloede of gerugte van hekse wat kwansuis die betrokke plekke getoor het. Op die eiland Montenegro is daar skepe, verroes en verlate, met vervloë tekens van lewe soos Hustler-tydskrifte wat die seemanne gelees het. Die Joego-Slawiese Oorlog van die ’90’s se spore is nog oral sigbaar: blikkieskos, ver verby die vervaldatum, en artefakte wat daarop dui dat die skip op abrupte wyse ontruim is. Die ruïnes van vakansiebestemmings op Montenegro noem Shiey “’n postapokaliptiese paradys”. En bouvalle: Al daarop gelet hoe ontsettend stíl ’n bouval kan wees?
Shiey is ’n interessante geval. Hy het in 2017 die Daily Mail gehaal ná sy doodsveragtende toertjies waartydens hy op die dakke van geseëlde vraghouers gespring het, en alhoewel sy YouTube-rekening al voorheen gesluit was, het hy nuwes geopen en met sy aktiwiteite voortgegaan. Sedertdien dra hy ’n gesigsmasker wanneer hy sy avonture verfilm. Hy erken hy ly aan paranoia en dat hierdie gevaarlike reise en toertjies sy selfterapie is: Om hoog bo ’n uitkykpunt te staan beteken figuurlik dat jy seëvier oor dit wat jou agtervolg. Om verbode plekke binne te gaan is om op legitieme wyse te “vlug”. Shiey is ook ’n kletsrymer wat liedjies opneem oor sy wedervaringe; twee albums het reeds die lig gesien en is op Spotify beskikbaar.
........
Hierdie video’s is outentiek en vry van die allure van bevoorregting, clichés en die verslete trofeë van “gewone” reise wat tog so bourgeois oorkom – kyk my selfie met die Eiffel-toring in die agtergrond!
........
Hierdie treinboemelaars wat die agterpaaie van die lewe bewandel, leef waarskynlik voluit – selfs al is dit in die aangesig van die dood. Hulle is ontdekkers wat niks verower of besit nie, maar bloot hulle reise verfilm en met miljoene ander mense deel; randfigure wat ánder se lewens verryk. Hulle kan nie konformeer tot die monotone gang van die alledaagse nie, selfs al is hulle begaafd en talentvol – Shiey sou byvoorbeeld maklik ’n Hollywood-waaghals kon word, maar verkies om op outentieke wyse sy eie handelsmerk as treinboemelaar te vestig. Ongelukkig is dit so dat hoe meer hierdie manne regkry of mee wegkom, hoe meer waag hulle. En hulle subkultuur van volgelinge sit gretig en wag vir die volgende video’s. Die skadeloosstelling aan die einde van elke video, dat die film fiktief is, vrywaar die treinboemelaars van vervolging en die video’s bly binne die bepalings van YouTube se gemeenskapstandaarde. Hierdie video’s is outentiek en vry van die allure van bevoorregting, clichés en die verslete trofeë van “gewone” reise wat tog so bourgeois oorkom – kyk my selfie met die Eiffel-toring in die agtergrond!
Om te reis is een van die oudste mitologiese narratiewe in die geskiedenis van die mens, en die frase “reisiger op pad na nêrens” is hier van toepassing. Dalk speel die verromantisering van treine ook ’n rol in die gewildheid van die avonturiers: Mens dink byvoorbeeld aan die digter Clinton V du Plessis se aangrypende bundels wat oor treine en rangeerwerwe handel; en selfs aan die Steampunk-beweging met hulle golden age-nostalgie oor stoomlokomotiewe. Tog het Koos Doep die laaste sê met sy nimlike liriek, “Skimme”:
daar’s skimme op skemer perronne
wat wag op ’n trein na die dag
weerlose, weerlose mense
op reis van perron na perron
Lees ook:


Kommentaar
Jislaaikit, met ysterballas, bomenslike koördinasie en Job se geduld ontvlug hierdie treinbliksems tydelik die tjoef-tjaf van die trapmeul. Gelukkig is ek te oud om te probeer, maar wonder nogal wat word van hulle ná al die adrenalien afloop. Hopelik is hulle verantwoordelike burgers wat telkens aan hul onderskeie verkiesings deelneem en belasting betaal sodat politici eendag na behore na hulle behoeftes kan omsien.