
Foto: Canva
1.
Oor die kuns van stap het die kunstenaar Maira Kalman gesê: “Go out and walk. That is the glory of life.” En of mens praat van ’n flâneur of iemand wat deur die stad slenter, drentel of stroll – die geskiedenis van stap behoort aan almal: Daar is die antieke pelgrims se stapmites; die dame en heer wat ingehaak, met ouwêreldse flair, romantiese wandelinge onderneem het; die gewoontestapper wat sy omgewing so goed ken; die trekarbeider wat om den brode ’n stad leer ken; die pendelaars, voetgangers, rugsaktoeriste en meelopers, nomadies, van orals maar ook van nêrens.
Die skrywer Rebecca Solnit verwoord dit treffend in haar 2000-meesterstuk, Wanderlust: a history of walking:
This history of walking is an amateur history, just as walking is an amateur act. To use a walking metaphor, it trespasses through everybody else’s field — through anatomy, anthropology, architecture, gardening, geography, political and cultural history, literature, sexuality, religious studies — and doesn’t stop in any of them on its long route. [...] The history of walking is everyone’s history [...].
Oor die kuns van stap het baie skrywers al geskryf, en stap was die inspirasie vir talle kunswerke. Wanneer jy stap, lyf jy jou omgewing in; en stap verruim die gees, dit maak die sintuie ultrasensitief en bewus van die sensoriese én die sensuele. Jy sien die buitengewone in die alledaagse raak; die tussenin wêrelde met al die oomblikke bínne-in oomblikke. Ja, jou mind gaan op flight mode wanneer jy stap. Die stapper neem die kleinste besonderhede waar: ’n hond, ’n vlinder, ’n voëltjie, ’n wurm, ’n blom, ’n boom, ’n slak, ’n blaar ... Stap is ’n handeling van gefokuste aandag en liefde. Jy raak bewus van die gees van die seisoen, soos die betowering van ’n winterbeswyming as die getroue en vriendelike ou aarde onder jou voete kraak in ’n blaarkombers. Jy voer solitaire ’n droomgesprek met jouself wat véél meer intiem en verreikend as enige gesprek met ’n ander persoon is. Stap lei tot skeppende vreugdes, gebore uit verveling. Daar bestaan selfs ’n musiekterm wat gebore is uit stap: moderato – op ’n loopgang.
Die romantiek onderliggend aan stap of aan ’n wandeling is vandag in ’n groot mate vervang deur die eendimensionele en meganiese aktiwiteit van stap met ’n slimfoon waarvan ’n toepassing aandui hoeveel steps ’n persoon gedoen het. Baie mense glo hulle moet 10 000 steps ’n dag doen om fiks of slank te bly.
........
Ek staan nie stil om praatjies met ander stappers te maak nie – om te praat is om die intieme kameraderie tussen vreemdelinge te verbreek. Om alleen te stap is om te deel in die geselskap van mense wat nie praat nie.
........
Ek is egter ’n gewoontestapper, en ek stap daagliks, om verskeie redes. Soos om te dink. Ek staan nie stil om praatjies met ander stappers te maak nie – om te praat is om die intieme kameraderie tussen vreemdelinge te verbreek. Om alleen te stap is om te deel in die geselskap van mense wat nie praat nie. Maar dit is altyd hartverwarmend wanneer ’n vreemde persoon in die verbygaan glimlag. Só ’n vlugtige groet of glimlag is die herkenning van gedeelde menswees. Wanneer ek ’n vreemdeling se gesig sien ophelder uit blydskap om mý, ’n vreemdeling, te groet, dan dink ek altyd aan die volgende reëls in Walt Whitman se gedig “Song of myself”:
In the faces of men and women I see God, and in my own face in the glass,
I find letters from God dropt in the street, and every one is sign’d by God’s name,
And I leave them where they are, for I know that wheresoe’er I go,
Others will punctually come for ever and ever.
Ek het op 1 Mei 2020 tydens die grendelstaat uitgebreek en begin stap asof ek nooit weer vryheid sou smaak nie. Volgens Dlamini-Zuma se inperkingsmaatreëls mog ons mos net tussen 6 en 9 soggens geoefen het.
Ek het stapmal geword, besef dat huisarres nié met my akkordeer nie. Ek het dikwels gedink aan Forrest Gump wat begin hardloop het en kon dit volkome verstaan. Nou ja, toe begin ek nalees oor mense wat stap. Hulle sê jou manier van stap verklap baie van hoe jy dink. Ek verneem ek loop vinnig en driftig, soos iemand wat marsjeer. Mense wat vinnig loop, sê hulle, dink ook vinnig. Dan kry jy sulke ploerte wat aanslof. Hulle loop morsig, hulle links en regs is uit sync en dis die mense met wie jy eers dans as hulle van voor af aankom in ’n gang in Checkers en jy wil verbykom. Hierdie stappers se oë is meesal dood – offline! – daar is geen opvangs in die boonste faculties nie. En jy kry die sluipers – hulle is lank en skraal, veervoetig, en sal goeie inbrekers uitmaak. Hulle loop so sjarmant uit hulle heupe uit en vaar waarskynlik goed in ballroom dancing. Hierdie stappers is analities en vlug van begrip. ’n Gewoontestapper leer baie van mense so in die verbygaan.
Én van hulle honde.
........
’n Gewoontestapper leer baie van mense so in die verbygaan. Én van hulle honde.
........
Die mooiste van mense wat met hulle honde gaan stap, is seker die onverbloemde trots op hulle gesigte: Kyk hoe mooi lyk Fiefie, kyk net die pienk strik, sy was gister by die salon. Dan is daar die eienaar wat dink sy woef is baie gevaarlik; hy sal met so ’n meewarige beweging die dier op die leiriem éénkant toe trek sodat jy veilig kan verbykom.
Om met ’n hond te gaan stap, bevat ’n speelse element: dis pret, en by tye skreeusnaaks.
Soos die ou wat met sy hond en ’n moeeerse poop scoop gaan stap. Wat maak hy met so ’n yslike ding? Hou hy skelm ’n olifant iewers aan? Sy scoop is groot genoeg om ’n dieretuin te bedien. Wel, om presies te wees: Dit lyk soos die skopgraaf van ’n boulorrie. As hy my sien, giggel hy senuagtig “haaaai” en ek kan sweer sy linkeroog spring drie keer. Senuwees of OCD. Want daar’s ’n ánder nare waarheid: Mense en hulle honde trek (langsamerhand) al meer op mekaar. Die man met die poop scoop het blonde krulle, en sy Spaniel se haredos lyk kompleet soos Pa s’ n.
Maar inderwaarheid is hierdie ou op pad na wat ons in hierdie lowerryke buurt in Pretoria noem “die hondetoilet”. Dit is eintlik ’n hondeparkie met ’n afgekampte tuintjie waar honde heel diskreet ’n draai kan loop.
Die deur na die hondetoilet is bitter oulik: twee houthekkies met knippies (vir privaatheid), dan betree jy die hondepark. Daar wemel dit van hondeboodskappe gelaai met feromone en hormone. Ek gaan sit dikwels op ’n bank om ’n bietjie te rus en betrag dan die geheimtaal van sosialisering en snuffelroetes ... Die hondepark is vas teen die draad met sy laatmiddagverkeer en mense wat vir die honde-eienaars waai en toet. Hulle ken die ritueel; die human wat wag vir sy vierpotige vriend om klaar te maak, sy body language die ene geduld en konsentrasie. En die hond wat sonder skroom op sy hurke gaan, ’n veraf uitdrukking in die oë. En ja, natuurlik word daar van honde-eienaars verwag om ’n poop scoop en sakkies byderhand te hou.
As ’n gewoontestapper is ek ingestel op waarneming en nie soseer op sosialisering nie, soos reeds genoem. Ek loop elke dag die voormalige polisieman en sy Yorkie-reuntjie raak; beide is klein gebou, maar nog met baie fight in hulle. Die Yorkie stoei meer in ’n spindans aan sy leiriem as wat hy op die grond loop, want Yorkies se ego’s is enorm en die dingetjie storm sommer die rottweilers.
Ek het nie op die oomblik ’n hond nie, maar ek dink my alter ego is ’n swart chow. ’n Beer met ’n wapperende pers tong. ’n Chow is ’n stil hond wat swyg soos ’n landmyn. Blaf net as hy iets te sê het. ’n Diep siel wat Hindoe-tempels bewaak...
Langs die pad kom ek ook ’n paar katte teë. En moenie ’n moeilikheidmakerkat onderskat nie; heel bo aan die lys is die grys kat met die wit sokkies. Wanneer hy ’n hond sien, pof hy homself boggelrug en versper die staproete, doodkalm, sy pupille twee strepies in die middagson voor hy wegspat die bosse in, oënskynlik verveeld met die speletjie. Maar teen dié tyd gaan die brakke van Turffontein beserk. Die volgende boosdoener wat vlug, is ’n swart kat – hy sweef pffff soos Batman oor ’n reuse blombedding. Voorstedelike katte is uitgevrete diere wat in die sonnetjie sit en dommel en nie ’n snor verroer as hulle ’n muis of voël gewaar nie. Nee, hierdie katte leef van Whiskas, tuna en white privilege. Ek verneem daar is mense wat hulle katte selfs bederf met salmmousse, snoekpaté en calamariringe. Katte is arrogante wesens, en daarom territoriaal. Hulle wéét die honde is aan leirieme en skadeloos.
........
Voorstedelike katte is uitgevrete diere wat in die sonnetjie sit en dommel en nie ’n snor verroer as hulle ’n muis of voël gewaar nie. Nee, hierdie katte leef van Whiskas, tuna en white privilege.
........
Jy sien nooit ’n ongelukkige hond wat walkies doen nie. Hulle hardloop rond, uitgelate met wapperende pienk tonge en sterte soos uitroeptekens. Die toy pom, die ontploffing wol met die cartoon-gesiggie; of die basset wat in slow motion sy eienaar se tuin verwoes. Die houtkampies rondom die blombeddings is flenters. Die hond skoffel al die plante uit en sy lang ore trek vore in die grond.
Dan is daar daai jong ou wat met sy bulldog gaan draf – die bulldog met ’n stel ondertande soos Gwede Mantashe s’n. Ek skrik my boeglam toe die swetende drawwer en hond skielik om die hoek verskyn, die skerp gehyg van asem, en ek maak spore.
Die volgende gewoontestappers wat my pad kruis, is die Britse breeder met haar Great Dane, so vaartbelyn en lig op sy pote. En daardie schnauzer met ’n profiel soos ’n drilsersant wat ’n hond uit ’n bos blaf. En al dink die meeste stappers dat hulle honde gevaarlik is, weet ek van beter: Ek kan ’n polisiehond uitsnuffel as ek moet en my sesde sintuig is baie goed ontwikkel. Ek is nie bang vir die pitbull wat op ’n druppel trek na Devon Hofmeyr nie – of is dit nou andersom? Nee, dan eerder die Franse poedel met haar lang bene en sexy stappie: dáárdie teef het ’n venynige streep, dit kan ek aanvoel.
Het jy al ’n vrou gesien wat twee Dobermans wat 70 grade in sync aan hulle leirieme rem, vir 50 m aaneen kan beheer? Windskewe honde. Dis die tipe goed wat in dwelmdrome, sirkusse en kunsmovies afspeel. O, en voor ek vergeet: Daar is die meisie met die Belgiese skaaphond wat oë het net vir my (en ek vir hom, wink wink), dan wil hy met geweld losbreek na my toe. Hy’s nog ’n teenager. En dan sulk hy en straf sy ma deur te gaan lê, sý smekend en paaiend, maar néé. Hy’ t hond se gedagte, en dis nie walkies nie. Dan, so ’n paar minute se stap verder loer ek vlugtig oor my skouer: Hy’s nou op sleeptou. Hy het briek aangeslaan en Sannie moet haar sewe sakke sout sleep. Ek kry haar jammer, maar sy frons as sy my sien, want ek maak haar seun aandagafleibaar.
........
Ek is nie bang vir die pitbull wat op ’n druppel trek na Devon Hofmeyr nie – of is dit nou andersom? Nee, dan eerder die Franse poedel met haar lang bene en sexy stappie: dáárdie teef het ’n venynige streep, dit kan ek aanvoel.
........
Diere is vreeslik snaaks! Dit maak die gestap die moeite werd.
Nou die dag lees ek dat vroue wat ouerig word, hulle “heupe moet bestuur” as hulle gaan stap. Die hele truuk is om jou arms te swaai, dan kry jy momentum, die wind van agter en whoaa! By die mens staan arms tot balans soos ’n stert tot ’n voël. Al sê die mense ook jy marsjeer – so what.
Elke individu se unieke manier van loop – kriminoloë verwys daarna as jou idiosinkrasie – is ’n nuttige instrument as dit by die uitken van misdadigers kom. Die meeste mense kan nie hulle manier van loop en praat verander nie .... behalwe as jy ’n akteur of ’n baie begaafde misdadiger is, soos Verbal Kint (Kevin Spacey) wat die rol van die Turkse misdaadlegende Keyser Söze in die film The usual suspects gespeel het. Hy het voorgegee dat hy spasties is en het die polisie só op ’n dwaalspoor gelei.
Die Duitse sielkundige Werner Wolff het die eerste navorsing gedoen oor mense se manier van loop en wat dit van hulle persoonlikheid verklap. In 1935 het Wolff vir ’n paar mans en vroue reënjasse laat aantrek sodat hulle voorkoms, ouderdom en geslag nie duidelik was vir die respondente in dié studie nie. Laasgenoemde moes afleidings maak oor die subjekte in die reënjasse se persoonlikheidseienskappe – en hulle was verstommend akkuraat. Afleidings soos of dit ’n dominerende, onseker of aandagsoekende persoon was, het met Wolff se gevolgtrekkings gestrook. Dít beteken dat mense mekaar se manier van loop intuïtief “lees”. Vroue wat byvoorbeeld weerloos voel in ’n betrokke situasie, sal langer treë gee as normaalweg en meer “kragdadig” begin loop in die aangesig van moontlike gevaar. Kriminele lees op hulle beurt ook met presisie mense wat sagte teikens is om geviktimiseer te word. En dink vir ’n oomblik: Wanneer John Wayne in die begin van ’n film by ’n kroeg instap, weet die kyker onmiddellik op grond van die held se koel en selfversekerde manier van loop wie die alfaman daar rond is.
........
Elke individu se unieke manier van loop – kriminoloë verwys daarna as jou idiosinkrasie – is ’n nuttige instrument as dit by die uitken van misdadigers kom.
........
Die manier van loop van staatsmanne en despote val nogal op. Dit is bekend dat Churchill baie vinnig geloop het; trouens, hy het altyd voor die res uit geloop – soortgelyk aan sy leierskapsvaardighede. Poetin loop insgelyks vinnig, met ’n kordate stappie, en hy swaai sy linkerarm en hou sy regterarm stil. Die rede hiervoor is dat KGB-lede hulle wapen in die regterhand vasgehou het.
Oor individue se unieke manier van loop en wat dit van jou persoonlikheid verklap, sê kenners die volgende (siekte, inperkings en ouderdom buite rekening gelaat): Mense wat vinnig loop, is gewoonlik ekstraverties, ywerig en pligsgetrou. Hulle skrik nie vir risiko’s nie en beskik oor hoë energievlakke. Hierdie mense hou hulle nie op met nonsens nie, en is besonder bedag op besonderhede.
Diegene wat stadig loop, is waarskynlik meer versigtig van aard. Om stadig en met kort treë te loop is tekenend van ’n introverte persoonlikheidstipe. Só ’n stapper is dalk meer selfgesentreerd (nie in ’n negatiewe sin nie), en meer flegmaties. In ’n vertrek vol mense sal hy of sy egter iewers in die agtergrond skuil en die kollig vermy.
As jy stadig en grasieus loop, is jy waarskynlik selfversekerd. Jy is ’n goeie kommunikeerder en hou jou kop (letterlik) hoog; mense beny jou jou nonchalente manier van dinge doen. Jy het nie ander se goedkeuring nodig nie en bly so koel soos ’n komkommer.
As jou manier van loop gekenmerk word deur lang, maar vinnige treë, het jy ’n positiewe uitkyk op die lewe. Jy is ’n dinamiese en vurige tipe persoon wat seker maak dinge word gedoen. Jy is logies, intelligent en produktief, maar mag as koud in jou interpersoonlike omgang ervaar word. Wanneer jy loop, maak jy oogkontak, iets wat vir jou natuurlik is. Om veeltaakvaardighede te bemeester is jou forté; en jy vind vinnig oplossings vir probleme, sommer so in die stap. Jy handhaaf hoë standaarde en verwag van diegene om jou om dieselfde te doen.
Dan: ’n Persoon wat sy voete sleep, is ’n angstige mens wat hom oor alles bekommer. Hierdie stapper is waarskynlik melankolies en kan hom nie distansieer van sy probleme nie. Hy sleep sy verlede met hom saam en hy bly in ou trauma of probleme vasgevang. Hy ontbreek die energie om deur alledaagse take en uitdagings te kom, en is apaties of gedemotiveerd.
Volgens Rebecca Solnit staan die mens se geskiedenis van stap nog in sy kinderskoene – en inderdaad so, want elke persoon se verwysingsraamwerk in hierdie verband is hoogs persoonlik en genuanseerd. Tog is stap die één eienskap wat mense kollektief saambind, ongeag die vreemde paaie waarop die lewe ons mag lei.
Lees ook:
Onderhoud: Toast Coetzer en Erns Grundling oor Weg Agterpaaie
Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Elders deur Erns Grundling


Kommentaar
Uitstekende artikel. 'n Daaglikse wandel is die beste medisyne.