Praktiese wenke vir die Camino-stap

  • 7

Die tipiese geel pyl waarmee die roete aangedui word. (Foto: Amanda Matthee)

Met die Camino-pelgrimsroete in Spanje wat die afgelope jare so bekend geword het, is dit op talle mense se doenlys, maar dis eintlik ’n baie ander soort staptog as waaraan Suid-Afrikaners gewoond is. Die terrein is makliker en baie meer gelyk as ons staproetes, en jy stap deur bewoonde gebiede (plase, dorpe en stede) pleks van wildernisareas. Dis veilig genoeg dat jy dit (vrou)alleen kan doen, hoewel daar altyd mense in jou omgewing sal wees.         

Met “die Camino” word gewoonlik bedoel die Franse Camino (Camino Francés), wat in die Pireneë-bergreeks in Frankryk begin en in die Spaanse stad Santiago de Compostela by die manjifieke katedraal van Sint James eindig. (Net in Spanje alleen is daar nog vyf ander Camino-roetes, met verdere aansluitroetes uit Frankryk en Portugal.) Hierdie duisend jaar oue pelgrimstog na die graf van die apostel Jakobus vorm ’n integrale deel van die Spaanse Katolieke tradisie en het ’n bepalende rol gespeel om die land van die Middeleeuse Moorse oorheersing te help bevry. Die roete het in 1993 Unesco Wêrelderfenis-status ontvang en is verlede jaar deur meer as 300 000 mense van regoor die wêreld gestap.         

Gereelde rigtingwysers meet die kilometers na die eindpunt af. (Foto: Amanda Matthee)

Die hele Franse Camino is ongeveer 750 km lank (die bronne verskil), maar om dit gemaklik te kan doen, het jy vyf tot ses weke nodig. Ek het in 2008 kort onder 300 km daarvan gestap (in 17 stapdae; Ponferrada na Santiago en Finisterre) en vanjaar ongeveer 200 km (in 10 stapdae; Logroño na Fromista) – dis ’n ligte Camino van ongeveer 20 km per dag, terwyl die gemiddelde afstand nader aan 30 km per dag is.

Burgos se beroemde Frans-Gotiese katedraal waarvan die konstruksie in 1221 begin het. (Foto: Amanda Matthee)

Hier is my wenke vir ’n rustige staptog sonder blase of beserings:

  • Om te Camino ... of nie. Dis seker voor die hand liggend, maar jy moet in die eerste plek van stap hou om hierdie tog aan te pak. As jy in die motor klim om ’n blok kafee toe te ry eerder as om te stap, is die Camino heel moontlik nie vir jou nie.
  • Sorg vir jou voete! Ook vanselfsprekend, maar onthou, jou héle staptog hang van jou voete af. As jy nie jou voete ken nie, gaan jy jou Heiland leer ken op daai pad. Let op na jou voete se swak plekke – daar waar nuwe skoene jou altyd druk of skaaf, is waar jy die grootste gevaar loop om blase te kry, en dis waar jy die voorkomingspleisters moet opplak om wrywing teen jou vel te vermy. Die geheim is om gereeld te rus en skoene en sokkies uit te trek sodat jou voete heeltemal kan afkoel, om te voorkom dat “warmkolle” en blase vorm.
  • Reis lig. Goeie lewensraad, maar dis nog meer van toepassing op die Camino, want die hoeveelheid gewig wat jy saamdra, hou direk verband met die welsyn van jou voete. Hoe ligter jou rugsak, hoe makliker gaan jy stap – ek mik vir 7–8 kg.
  • Pak net die noodsaaklikste. Die Camino is ’n wonderlike oefening om te kyk hoe eenvoudig ’n mens kan leef en met hoe min jy kan klaarkom. As jy by die huis vier gesigroompies gebruik, vat jy hier net die belangrikste een saam (die een met sonskerm). Soos die grappie onder stappers lui: Jy sal selfs jou tandeborsel se steel afbyt as dit jou rugsak ligter kan maak. En: Niks wat jy in daai rugsak pak, weeg “niks” nie – elke bietjie gewig dra by.
  • Tyd van die jaar. Die hoogseisoen oral in Europa (Junie, Julie, Augustus) is baie besig en vrek warm. Ek het in 2008 in Mei gestap, meestal in koue en reën, en vanjaar in September, met enkele warm dae en feitlik geen reën nie – ek verkies dus September.
  • Die Spaanse regering administreer buitelandse pelgrims deels deur middel van die plaaslike Confraternity of St James. Onthou dus om die Suid-Afrikaanse Confraternity (google dit) heel eerste te kontak vir jou “pilgrim’s passport” vóór jy gaan vir jou visumaansoek, want hulle soek ’n brief as bewys dat jy as bona fide-pelgrim geregistreer is.
  • John Brierley se deeglike, volledige gids, A Pilgrim’s Guide to the Camino de Santiago – Camino Francés, bly maar die beste (die 15de uitgawe het in 2017 verskyn). Daarvolgens kan jy jou hele staptog beplan en besluit waarvoor jy kans sien.
  • Die munisipale herberge (albergue municipal) is teen vyf euro spotgoedkoop, gewoonlik met stapelbeddens in kamers of sale met tot soveel as 70 mense, ’n kombuis met basiese gereedskap en kookgeriewe (jy moet natuurlik self jou skottelgoed was), soms ’n wasmasjien en droër (waarvoor jy ’n paar euro betaal), of plekke vir klere was en ophang. Die volgende vlak van verblyf is die private herberge teen nege euro, wat kleiner is, maar basies dieselfde bied, of dit kan beter wees, en van daar af op tot hotelle met sterre. Uiteraard is laasgenoemde die meer beskaafde opsie, maar dis eintlik by die herberge waar jy die ware karakters van die Camino ontmoet. Omdat ek ’n ligte slaper is, reis ek altyd met goeie oorpluise (silikon werk die beste, en dit beskerm ook jou ore tydens vlugte), ’n masker om lig uit te sluit en slaappille.
  • Daar is min goed wat die Camino ewenaar vir ’n wegkom-van-alles-vakansie, wat sosiale media en koerant lees insluit. Tog is ’n selfoon en/of tablet baie nuttig om darem basies in kontak te bly met die res van die wêreld, en vir Google of Uber soos nodig (vir laasgenoemde moet jy sorg dat jy lugtyd in Suid-Afrika of Spanje gekoop het – vind uit by jou diensverskaffer). Gratis WiFi is oral beskikbaar – indien nie by jou blyplek nie, dan by die naaste restaurant. Daar is ook oral laaipunte vir jou toerusting. (LW: Onthou die Europese kragprop.)
  • Die taal. Soos vir die Franse is dit blykbaar vir die Spanjaarde ’n saak van eer om nie Engels te praat nie (wat nogal pikant is as mens gewoond is aan die Angel-Saksiese wêreldoorheersing). Sorg dus maar dat jy gou die basiese Spaanse woorde leer vir “ja”, “nee”, “dankie”, “asseblief”, verskillende kossoorte, ens. En soos in enige vreemde omgewing kom jy ver met ’n vriendelike groet en ’n glimlag. Een van die mooiste dinge van die weg is dat die plaaslike mense jou in die verbygaan ’n goeie Camino toewens – “Buen camino” – en dan antwoord jy met “Gratias” (Dankie). Jy groet ook jou medepelgrims met “Buen camino”.
  • ’n Sak van 50 liter – selfs kleiner – is oorgenoeg; sorg net dat dit ’n stewige raam en middelband het, sodat jy die gewig om jou heupe vastrek en dit nie aan jou skouers hang nie. ’n Buidelsakkie om jou middel werk lekker om klein goedjies of geld altyd byderhand te hê; dis ook nuttig terwyl jy in transito is per vliegtuig, bus of trein. Vir vroue: ’n ligte inkopiesak wat klein opvou in sy eie sakkie kan maklik instaan vir ’n handsak.
  • Dis die geld werd om na ’n kampeerwinkel te gaan vir liggewig stapklere wat vinnig droog word, sodat jy dit gereeld kan uitwas (pak waspoeier in). Dieselfde geld ’n staphanddoek (suède-agtig, en koop ten minste die “large”). My lys: 1 kortbroek, 1 staphemp met lang moue (teen sonbrand én koue), T-hemp en langbroek vir saans, reënbaadjie wat ook dien as warm baadjie, 2 paar sokkies, 2 stelle onderklere, hoed. Vir vroue: ’n ligte rokkie of sarong kom baie nuttig te pas.
  • Dis ’n ou debat: stapstewels of drafskoene? As jy swak enkels het, is stewels moontlik beter, maar dit maak jou voete moeër omdat dit swaarder is. Andersins is ’n paar goeie drafskoene met ’n lekker breë basis heeltemal voldoende. Daarby ’n paar sandale om saans te dra, maar sorg dat hulle stewig genoeg is dat jy in ’n noodgeval ook met hulle kan stap. Crocs het ’n groot verskeidenheid wat lig en waterbestand is.
  • Jy sal selfs in die mees basiese herberg ’n kussing kry, maar dra vir veiligheid ’n slaapsak saam – ’n warm een as jy in die koue tyd gaan stap, en vir die somer sommer ’n dun, goedkoop een.
  • Al kan jy meestal langs die pad kos koop by restaurante of winkels, is dit ’n goeie stapreël om altyd ’n bietjie noodvoorraad saam te dra. Energiestafies, neute en pakkies “nut butter” werk wonderlik – soos Tim Noakes ons geleer het, is vet ’n beter vorm van stadig-vrystellende energie as koolhidrate en suiker (fyngebak en lekkers). Daarom koop ek gewoonlik vir middag- of aandete pakkies salami, kaas en olywe, en pak die orige in vir die volgende dag (’n plastiekbakkie met ‘n deksel wat ook as bord kan dien, is baie nuttig). Ek vat altyd teesakkies saam as ek reis, en my eie stapbeker en teelepel.
  • Dra altyd water saam, maar ek vind twee 1-liter-bottels onnodig baie. Water is swaar, en daar is gereeld waterpunte waar jy jou voorraad kan aanvul. Ek het sommer twee stewige 500 ml-bottels vir bruiswater hergebruik.

'n Hedendaagse pelgrim by een van die talle pelgrimstandbeelde langs die pad. (Foto: Amanda Matthee)

Ten slotte: Die Camino is eintlik soos die lewe: daar is nie ‘n regte manier om dit te doen nie, daar is net jóú manier om dit te doen. Op jou eie tyd en teen jou eie pas. Buen camino!

Detail van Burgos-katedraal. (Foto: Amanda Matthee)

Omtrent elke dorpie langs die pad het ’n pragtige ou klipkerk. (Foto: Amanda Matthee)

 

 

  • 7

Kommentaar

  • Carel Schmahl

    Goeie opsomming en wenke. Ek en my vrou het die laaste gedeelte +/- 130 km in 2013 gestap.

  • Baie dankie!
    Lekker gelees ...
    Groete vir Amanda.
    Ons was saam op Dinamiek-redaksie vroeg 80s in Stellenbosch.

  • Suzette Kotze-Myburgh

    Mariana, die beste sal wees as jy Brierley se boek koop en daarvolgens beplan - omdat daar op omtrent enige afstand slaapplek beskikbaar is, kan jy jou roete volgens jou eie behoeftes uitwerk. Andersins, as jy nie self die beplanning wil doen nie, kontak CaminoWays - hulle reël toere saam met verblyf, plus die opsie om jou rugsak van plek tot plek te laat vervoer.

  • Ek is amper 75 en glad nie fiks nie, maar wil sooo graag ‘n camino gaan stap. Verkieslik in Italië. Ek wil dit nie alleen doen nie. My man sukkel om te loop, maar hy is bereid om my te vergesel. Sal hy dit op ‘n bromponie (of selfs ‘n fiets) kan doen?

  • Suzette Kotze-Myburgh

    Baie mense doen die Franse Camino per fiets, maar ek weet nie van die Via Francigena (Italiaanse Camino) nie. Lees gerus die WEG-blog wat Gerda Engelbrecht in Mei vanjaar daaroor geskryf het.

  • Baie mooi kleurvol en prakties beskryf en baie geluk op jou prestasie wat dit beslis is suster!
    Die Camino het nou gewis hoër op my doelys opbeweeg en my voete juk!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top