Reïnkarnasie. Die opvatting, hetsy filosofies of religieus, dat die siel ná ’n biologiese dood hergebore word en ’n nuwe lewe in ’n nuwe liggaam begin. Die woord reïnkarnasie is afgelei van ‘n Latynse woord en verwys na hertoetrede tot die vlees, of hergeboorte. Hierdie transmigrasie van die siel berus op die beskouing dat die siel ontsterflik is en kan groei, evolueer of volwasse word.
Dié leerstelling is ’n sentrale begrip in Hindoeïsme. Dit word ook algemeen geglo in verskeie antieke en moderne godsdienste, soos spiritisme, teosofie en Eckankar, en word aangetref in die spirituele sienswyse van baie stamme die wêreld oor.
Die Hindoeïstiese beskouing van reïnkarnasie sluit ook die idee van transmigrasie in, waar die siel na ’n ander liggaam oorgaan na die dood. Hierdie oorgang is afhanklik van die aard van die karma wat deur die individu in vorige lewens opgebou is. Die uiteindelike doel van die Hindoeïsme is om die siklus van samsara (siklusse van lewe en dood) te verbreek, en moksja te bereik. Moksja is op sy beurt ’n toestand van vryheid van hierdie siklusse van geboorte en dood. Dit is ’n toestand van ewige saligheid en eenwording met die hoogste goddelike realiteit, Brahmaan.
Die Boeddhistiese beskouing van reïnkarnasie is eweneens ’n belangrike konsep binne die Boeddhistiese leer, waar die soeklig op wedergeboorte en samsara val. Binne die Boeddhistiese konteks van reïnkarnasie gaan dit nie om die oordrag van ’n permanente siel of self na ’n ander liggaam nie; dit is eerder ’n oordrag van bewussyn, wat die somtotaal van al die voorafgaande karma en aksies van ’n individu bevat.
Die uiteindelike doel van ’n Boeddhis is om die siklus van samsara te verbreek en nirvana te bereik. Laasgenoemde dui op ’n toestand van uiteindelike bevryding van lyding en gehegtheid. Dit beteken nie net om nie meer hergebore te word nie, maar ook om diep begrip en innerlike vrede te bereik.
Soos in die geval van Hindoeïsme, bestaan daar verskeie strominge binne die Boeddhistiese tradisies wat dui op die verskille in interpretasie van dié beskouings wat weer afhanklik is van spesifieke kultuuropvattings.
Daar is diegene wat glo in reïnkarnasie – om welke rede ook al – en ander, weer, wat sonder enige twyfel wéét hulle het voorheen gelewe. Binne die moderne tydsgees word die opvatting gehuldig dat mens via drome fasette van vorige lewens kan onthou of herroep, of dat die herinnering aan vorige lewens deur middel van hipnose geaktiveer kan word. Hoe dit ook al sy: Die uiteenlopende filosofiese of religieuse beskouings rondom reïnkarnasie was nog altyd ’n brandpunt van bespreking – en in omstredenheid gehul.
Hoewel sommige gelowe, soos Judaïsme, die Christendom en Islam, nie glo dat individue reïnkarneer nie, glo spesifieke groepe binne dié godsdienste wel in reïnkarnasie, soos die kabbala-aanhangers en die Orde van die Rosekruis.
Die belangrikste teksvers wat deur Christene aangehaal word as “bewys” dat reïnkarnasie nie bestaan nie, is Hebreers 9:27: “En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel, so sal Christus ook, nadat Hy een maal geoffer is om die sondes van baie weg te neem, vir die tweede maal sonder sonde verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid.”
........
Tog was die Christelike geloof nie altyd gekant teen die idee van reïnkarnasie nie.
........
Die Christendom verwerp die beskouing van reïnkarnasie, omdat dit die kruisdood, oordeel en redding (al dan nie) van Christus irrelevant maak. Tog is daar Christen-apologete wat ten gunste van reïnkarnasie betoog; in Matteus 17 word daar byvoorbeeld gespekuleer of Johannes die Doper ’n inkarnasie van Elia was. Dieselfde geld vir Johannes 9:1–2, wanneer Jesus se dissipels Hom vra of ’n man wat blind was sedert sy geboorte, gestraf is as gevolg van sy sonde (by implikasie vóór sy geboorte: ’n ánder inkarnasie), of as gevolg van sy ouers se sonde. Jesus se antwoord aan sy dissipels negeer egter die moontlikheid van reïnkarnasie – alhoewel die vraag mens steeds laat kopkrap.
Tog was die Christelike geloof nie altyd gekant teen die idee van reïnkarnasie nie.
Die Griekse wysgeer Plato het in reïnkarnasie geglo. Hy het beweer dat menslike siele voorheen in ’n volmaakte domein bestaan het, in die teenwoordigheid van God. Hierdie siele het egter gesondig en is van God geskei. As straf is hulle in liggame op aarde geplaas. Die doel van die lewe is om die oorspronklike sieleskuld reg te stel en na God terug te keer. Dit kon slegs geskied deur die verkryging van kennis, en aangesien God almagtig is, het Plato die idee verwerp dat een leeftyd genoeg is om sodanige kennis te verwerf om terug te keer na God. Gebaseer op Plato se oortuiging dat die menslike liggaam ’n strafgevangenis is en dat siele op die aarde is om ’n vlak van kennis te verkry wat meer as een leeftyd sou neem om te leer, is dit duidelik waarom hy in reïnkarnasie geglo het. Plato se geskrifte dateer uit tussen 430 en 347 vC, lank voor Christus se lering. Teoloë wat ná Plato geleef het, was in stryd om hul nuut verkrygde Christelike oortuigings met dié Platoniese idees te versoen.
.......
Plato het in reïnkarnasie geglo. Hy het beweer dat menslike siele voorheen in ’n volmaakte domein bestaan het, in die teenwoordigheid van God. Hierdie siele het egter gesondig en is van God geskei. As straf is hulle in liggame op aarde geplaas.
.......
Maar hierdie beskouing was van vervlietende aard. In 325 nC het die Romeinse keiser, Konstantyn die Grote, en sy moeder, Helena, verwysings na reïnkarnasie in die Nuwe Testament in die Bybel verwyder. Insgelyks: Tydens die Tweede Konsilie van Konstantinopel in 553 nC is die beskouing van reïnkarnasie binne die Christelike kerk verwerp en as kettery bestempel, want dit was in stryd met die leer van die opstanding van die liggaam en die noodsaak van Christus se genadedood. Heelwat vroeë Christelike teoloë, soos Valentinus en Basilides van Alexandria, het egter steeds die leer van reïnkarnasie aangehang.
Hierdie dualisme het deurgesuur na die moderne tyd. Die New Age-beweging het ’n belangrike rol gespeel in die vestiging van populêre Westerse beskouings rondom reïnkarnasie. Die New Age-beweging, wat sedert die sewentigerjare in die VSA beslag gekry het, is ’n informele, holistiese beweging wat die spirituele outonomie van ’n individu voorop stel. Esoteriese denke, religie, diverse spirituele groeperinge en antieke kennis het opnuut onder die soeklig gekom, en talle boeke, esoteriese artefakte soos kaartpakke (byvoorbeeld tarot) het die lig gesien. Uiteraard is reïnkarnasie herverpak in ’n versuikerde gedaante waarin daar afgewyk word van leerstellings. Begrippe soos old soul en gevoelens van déjà-vu, herhalende drome, ESP, irrasionele fobies, of ’n affiniteit vir vreemde kulture en tydperke is sonder meer aangevoer as redes vir reïnkarnasie. Die bemoeienis met vorige lewens sorg vir heerlike stories. In die film You will meet a tall, dark stranger word die karakter Helena uitgebeeld as ’n voorbeeld van tipies naïewe New Age-aanhanger wat onder die invloed van haar waarsegster, Cristal, begin glo dat sy voorheen gelewe het en haar toekomsbesluite daarvolgens rig – wat uiteindelik uitspeel in ’n selfvervullende profesie. Hollywood het met mening ingekoop op die idee van reïnkarnasie, en in die film Chances are begin die vorige lewens van die karakters deur te sypel tot in die hede, tot groot verwarring en vermaak van die kyker. Ongelukkig bestaan daar vandag meerr stadslegendes oor reïnkarnasie as kennis, wat op (min of meer) feitelike aannames gebaseer is. Die verromantisering van vorige lewens het ’n gewilde konsep geword en elke tweede old soul het nou deel aan die selfkoesterende ontvlugting van vorige inkarnasies. In die Afrikaanse letterkunde is François Bloemhof se genietlike roman Hostis (1998) ’n voorbeeld van ’n prikkelende narratief wat aan die hand van reïnkarnasietematiek geweef is.
........
Om die parapsigologiese domein op wetenskapliklike wyse te bestudeer, was nog altyd ’n uitdaging.
........
Om die parapsigologiese domein op wetenskapliklike wyse te bestudeer, was nog altyd ’n uitdaging. Ian Stevenson het in die sewentigerjare navorsing gedoen oor “xenoglossie”, ’n term wat in die begin van die 20ste eeu deur die navorser Charles Richet gemunt is. Xenoglossie verwys na die tale wat jong kinders spontaan begin praat – maar die betrokke kinders het hierdie tale nooit aangeleer nie; dit skyn ‘n “oorblyfsel” van vorige inkarnasies te wees. Of, soos iemand opgemerk het: Soms het die Skepper bloot vergeet om die lei skoon te vee. Xenoglossie kan spontaan onder hipnose manifesteer wanneer ’n pasiënt ’n vorige inkarnasie herroep en dienooreenkomstig die vreemde taal begin praat. Of xenoglossie kom voor, tot die verbystering van die ouers en ander sibbe, wanneer jong kinders tale wat bekend aan hulle was in vorige lewens, begin praat. Linguiste wat hierdie tale, hulle variante, die sosiolekte asook die uitdrukking van die tale binne historiese kontekste moet identifiseer, staan verstom voor hierdie verskynsel. Daar is inderdaad min verklarings vir xenoglossie, en reïnkarnasie skyn ’n moontlikheid te wees. Kinders verloor later die vermoë om hierdie tale te praat – om dieselfde rede as waarom daar atrofie intree in die fyner linguistiese vaardighede van tale wat ’n persoon lank laas gepraat het. Die oordrag van hierdie tale geskied immers via die menslike brein, met al die implisiete aberrasies van die hoër kognitiewe funksies
’n Baanbreker op die gebied van vorige-lewe-regressie, hipnose en reïnkarnasie is die bekende en gerespekteerde Amerikaanse psigiater Brian Weiss. Hy is bekend vir topverkopers soos Many lives, many masters: the true story of a prominent psychiatrist, his young patient, and the past-life therapy that changed both their lives (1988); Through time into healing: Discovering the power of regression therapy to erase trauma and transform mind, body and relationships (1993); en Same soul, many bodies: Discover the healing power of future lives through progression therapy (2005).
........
In grafiese besonderhede het Catherine haar 86 vorige inkarnasies in verskillende kultuur- en historiese kontekste beskryf.
........
In Many lives, many masters beskryf Weiss die geval van Catherine, ’n alledaagse jong vrou, werksaam as laboratoriumassistent by ’n hospitaal. Sy het Weiss genader om hulp vir paniekaanvalle, fobies soos ’n vrees vir die donker, om te verstik/verdrink, en ander nagmerries. Weiss, ’n stoïsynse klinikus en wetenskaplike, het op hierdie stadium nie geglo in die moontlikheid van reïnkarnasie of enige moontlike parapsigologiese verskynsels nie. Hy het Catherine onder hipnose geplaas, en met toenemende verbasing begin luister na haar vorige inkarnasies – wat hy op band opgeneem het. Die temas in haar onderskeie lewens het hul bly herhaal: gedetailleerde beskrywings van katastrofiese trauma, wrede dode (wat sy gesterf het), verwysings na geweldsmisdade, oorlog, armoede en onderdrukking. In grafiese besonderhede het Catherine haar 86 vorige inkarnasies in verskillende kultuur- en historiese kontekste beskryf. Haar fassinasie met Egiptiese esoteriese artefakte kon teruggevoer word na lewens wat sy so ver terug as 1536 vC gehad het. Weiss kon die bestaan van moderne inkarnasies bevestig aan die hand van openbare argiewe. Hy het gesnap dat Catherine se angsversteuring oor duisende jare strek, maar dat die behandeling deur hipnoterapie dieselfde is, behalwe dat die tydsraamwerk verskil. Catherine het oor ’n sterk psigiese potensiaal beskik wat toegang tot die “superbewuste” (aldus Weiss) moontlik gemaak het. Vir Weiss beliggaam die superbewuste veel meer as toegang tot Jung se kollektiewe onbewuste; dit is die spirituele dimensie van die mens, en met Catherine se inherente psigiese potensiaal was dit moontlik om hierdie dimensie via hipnose te bereik. Dit is interessant om te noem dat Catherine se geestesvervoerings (trances) toegang gebied het tot die superbewuste met dié se kennis oor die lewe en dood en die lesse wat ’n siel moet leer alvorens dit (uiteindelik) met God kon verenig. In ’n bewuste staat het Catherine nié oor laasgenoemde kennis beskik nie.
Weiss was besorgd dat sy mediese en wetenskaplike reputasie skade sou ly met sy nuutverworwe kennis van Catherine se vorige inkarnasies. Maar later het hy besef dat die wêreld móés kennis neem van sy bevindinge. Hy het transkripsies gemaak van hulle terapeutiese sessies, wat, soos genoem, op band opgeneem was; en hierdie transkripsies is later verwerk in Many lives, many masters, ’n blitsverkoper wat ’n New York Times Bestseller was en waarvan meer as ’n miljoen kopieë verkoop het.
Weiss het bevind dat Catherine oor geen psigose, persoonlikheidsversteurings, delusies of ander patologieë beskik nie; sy het ook geen vooraf kennis van haar vorige inkarnasies gehad nie.
........
Weiss het bevind dat Catherine oor geen psigose, persoonlikheidsversteurings, delusies of ander patologieë beskik nie; sy het ook geen vooraf kennis van haar vorige inkarnasies gehad nie.
........
Met Weiss se vorige-lewe-regressiemetodes het Catherine uiteindelik genesing van haar fobies en nagmerries begin ondervind. Maar wat nog meer verbysterend is, was die toetrede van die “Meesters” – of sogenaamde Meestersiele – hoogs geëvolueerde siele wat ’n mens lei en help om lewenslesse – die verskillende fasette van onvoorwaardelike liefde en empatie – te leer. Hierdie Meesters het tydens hipnose deur Catherine getolk; ’n vorm van spirituele kanalisering wat boodskappe aan beide Weiss en Catherine gebring het, byvoorbeeld: “Our task is to learn, to become God-like through knowledge. We know so little. By knowledge we approach God, and then we can rest. Then we come back to teach and help others. Everything comes when it must come. A life cannot be rushed, cannot be worked on a schedule as so many people want it to be. We must accept what comes to us at a given time, and not ask for more. But life is endless, so we never die; we were never really born. We just pass through different phases. There is no end. Humans have many dimensions. But time is not as we see time, but rather in lessons that are learned.” En op die vraag waarom ons in die vlees, of as mense op aarde, hierdie lesse moet leer, was die antwoord: “Those are different levels of learning, and we must learn some of them in the flesh. We must feel the pain. When you’re a spirit you feel no pain. It is a period of renewal. Your soul is being renewed. When you’re in physical state in the flesh, you can feel pain; you can hurt. When you are in physical state you can experience relationships.”
Weiss het tot die slotsom gekom dat ’n mens ánder mense wat jy in jou bestaande inkarnasie ken, waarskynlik ook in vorige lewens geken het. Net die rolverdeling verskil: Jou man kon byvoorbeeld voorheen jou pa, ma of oom gewees het. Siele migreer saam soos swerms voëls en (her)ken mekaar.
Ná die gevallestudie van Catherine het Weiss verskeie werkswinkels en seminare oor die onderwerp aangebied, en talle publikasies het hieroor die lig gesien. Sedertdien het Weiss 4 000 pasiënte met soortgelyke vorige-lewe-ervarings gehipnotiseer en op terapeutiese wyse begelei om van hulle stoornisse te genees te word.
Weiss se navorsing oor vorige-lewe-regressie was egter nie nuut nie – dit neem ’n plek in langs die werk van Edgar Mitchell, CJ Ducasse, Martin Ebon, Helen Wambach, Gertrude Schmeidler, Frederick Lenz, Edith Fiore en Elisabeth Kübler-Ross. Tog word navorsing oor reïnkarnasie na die rande geskuif, want die Westerse hoofstroomdenke, geskoei op godsdienstige en kulturele oorlewering, beslis dat reïnkarnasie nié bestaan nie.
Kommentaar
Mens, nou praat jy! Hier volg ʼn paar interessanthede:
Dr. Chris Barnard, bekende hartsjirurg, word na bewering as volg deur dr. Paolo Giovetti aangehaal (verskoning, ek het die boek se naam vergeet ...):
“Ek het só ’n ervaring gehad met ’n pasiënt in die hospitaal. Terwyl ek as pasiënt op my bed lê in een van die sale, kom ’n vrou binne, buig oor my sonder om ’n woord te sê en verdwyn toe deur die venster. Ek het ’n suster daarvan vertel en die vrou beskryf. Die suster sê my toe dat op daardie tydstip, in ’n kamer nie ver daarvandaan nie, ’n pasiënt gesterf het wat aan die beskrywing van daardie vrou beantwoord het. Ek het die vrou nooit vantevore gesien nie en ook nie geweet wie in die betrokke kamer gelê het nie. Waarom sy ná haar dood by my was, weet ek nie.
“Bewerings van uittrede uit die liggaam is deur die wetenskap konsekwent verwerp as hallusinasies, droomtoestande of pure bedrog. Op grond van die materialistiese wetenskap kan trouens niks buite die liggaam van die mens bestaan nie, nie ’n ‘siel’, ’n ‘gees’, of ’n ‘fynstoflike liggaam’ nie, en indien daar so iets was, sou dit lankal deur middel van disseksie opgespoor gewees het.”
En: Aldus die Nederlandse sielkundige professor, Henri van Praag, van die psigologiese instituut van Leiden, “... kan mens nie ’n absolute bewys van reïnkarnasie gee nie ... omdat absolute bewyse nie bestaan nie. Behalwe in die wiskunde, maar daar spreek ons eers die aksiomas af, anders sou dit ook nie bestaan het nie. En in die empiriese wetenskappe, soos ons weet, word die aksiomas ook vooraf eers afgespreek. As ons dit nie eers afspreek nie kan ons dit ook nie bewys nie. ’n Mens kan nie swaartekrag bewys, soos sommige mense glo nie. ’n Mens kan swaartekrag net bewys binne die meganika van Newton. Maar dan moet ’n mens eers ’n paar hipoteses aanvaar, al sê Newton ook dat hy dit [die hipoteses] nie versin het nie.”
Dr. Ian Stevenson, verskeie navorsers en selfs Mahatma Gandhi het die geval van Shanti Devi ondersoek. Shanti is in 1926 in Indië gebore en het vanaf haar vierde verjaarsdag van haar man en kinders begin praat. Vanaf haar sesde verjaarsdag het sy haar ouers vertel hoe sy na ’n bevalling gesterf het. Shanti het al hoe meer van haar vorige lewe as Lugdi vertel. “Byna al haar stellings is waar bevind. Haar geval het daarna nasionale opspraak verwek en daar is jare lank daaroor geskryf. Shanti Devi is op 27 Desember 1987 oorlede.”
- It is not more surprising to be born twice than once; everything in nature is resurrection. ‒ Voltaire
- Read me, O Reader, if you find delight in me, because very seldom shall I come back into this world. ‒ Leonardo da Vinci
- I know I am deathless. No doubt I have died myself ten thousand times before. I laugh at what you call dissolution, and I know the amplitude of time. ‒ Walt Whitman
- My doctrine is: Live so that thou mayest desire to live again ‒ that is thy duty ‒ for in any case thou wilt again! ‒ Nietzsche
- As far back as I can remember I have unconsciously referred to the experiences of a previous state of existence … I have lived in Judea eighteen hundred years ago, but I never knew that there was such a one as Christ among my contemporaries. As the stars looked to me when I was a shepherd in Assyria, they look to me now a New-Englander. ‒ Henry David Thoreau
- My life as I lived it had often seemed to me like a story that has no beginning and no end. I had the feeling that I was a historical fragment, an excerpt for which the preceding and succeeding text was missing. I could well imagine that I might have lived in former centuries and there encountered questions I was not yet able to answer; that I had to be born again because I had not fulfilled the task that was given to me. ‒ Carl Jung
[Dalk als deel van mitevorming.]
Miskien is hierdie nie akademies bedoel nie. Maar die verwysingsraamwerk is betreklik oppervlakkig.
Ek verwonder my dat Ponti die verwysingsraamwerk van Nini se artikel as "betreklik oppervlakkig" beskryf. Die data wat Brain Weiss versamel het, is op 'n wetenskaplik-fundeerde manier gedoen. Dr Weiss is 'n psigiater wat onder 'n voormalige Nobelprys-draer aan die Universiteit van Yale promoveer het. Watter bewyse is daar nog nodig?
As mens van die postulaat uitgaan van die sewe chakras of energievelde wat die grondslag vorm van sowel TMC (Tradisionele Chinese Medisyne), Ayurveda en bv moderne osteopatie en kinesiologie, dan is dit duidelik dat net die eerste drie chakras (basis, sakraal en solar plexis) op die fisiese bestaan gerig is, terwyl die ander vier chakras almal op 'n meer transendente en spirituele vlak fingeer. Dit kan in die toekoms 'n logiese verklaring in wetekenskaplike teorie bied om onsterflikheid van die siel te begrond.
Ek dink mens moet versigtig wees om iets sommer af te skiet net omdat dit nie aanvaar word in terme van die dogmatiese leerstellings van sekere kerke nie. Maar ook daar het mens die inherente konflik van die Apostoliese geloofsbelydenis wat enersyds 'n bekenning tot die "ewige lewe" is, maar waar die kerk dit dan terselfdertyd as onversoenbaar met die tesis van reïnkarnasie afmaak.
Interessant... Alles is moontlik.., mense lieg so dat niemand meer weet wat is waar nie of lieg hul alweer. Party lieg en stry jou op in jou gesig so vol demone... al het hul iets gesê kan hul dit ontken. Skaamteloos, sad wéreld.
Baie dankie Nini, dis die beste samevatting wat ek nóg oor die onderwerp gelees het. Daar is ook die werk van Alice Bailey meer as 100 jaar gelede, en ook dié van Michael Newton wat vermelding verdien. Hy is 'n sielkundige wat net voor Weiss tot dieselfde gevolgtrekkings gekom het en toe vir jare daarop gefokus het, om regressies te doen en gevallestudies aan te teken in sy bekende Journey of souls en Destiny of souls. Ek is ook besig om sy Life between lives te bestudeer. Dit is 'n handleiding vir hipnoterapeute.
Ek is nie ’n geleerde nie. Ek glo in God en Jesus en die Heilige Gees, want ek het menige persoonlike ondervindings in Hul naam en hulp van hulle ondervind in my lewe wat ek dit nie kan afmaak as “miskien” nie.
Ek het ook ‘n ondervinding gehad waar die aartsengele aangeroep is om my heling te help en wat ek toe ondervind het, was astronomies.
Die inligtingstukke hierbo noem hoe deur die eeue inligting gewysig is en weggelaat is om konings en priesters te pas.
Ek kyk na die verskillende stukke gekyk en ek sien myself deur Jesus as ’n Christen, maar ek sien in die lewe van Boeddhiste en Hindoes so ’n kalm, liefdevolle lewenstyl, iets wat ontbreek in Christene.
Reïnkarnasie en die uiteindelike bereik van die lewe wat Goddelik is, klink so “reg”. Ek het al soveel slegte dinge in my lewe beleef wat ek deur Jesus oorleef het, met om later mense te ontmoet wat dieselfde beleef en dan kan ek hulle help, want ek het dit reeds beleef en oorkom en dit maak dit dan vir hulle makliker, want ek kan vir hulle die “resep” gee.
Ons God is groot en ek dink ons maak ’n fout om perke vir Hom te stel. Alles is by Hom moontlik. My grootste teleurstelling is dat mens nooit regtig gaan weet nie. Die Bybel sê nou sien ons soos in ‘n spieël, maar eendag sal dit alles aan ons openbaar word. Ek hoop regtig so.
En, ja, ek glo daar is werklik mense soos Weiss se pasiënt(e) wat wel vorige lewens onthou. En glo wel daar is aartsengele wat ons wil lei, maar ek dink ons het net so besig geraak dat ons nie die stemme van ons helpers kan hoor nie. Ons is te besig om daagliks te oor leef. Hoe stel ons dit reg? Ek weet nie. Miskien is dit die deel wat die Boeddhiste reg doen? Dis soos gebed en positiewe denke. Jy moet bid en glo dat God dit vir jou sal gee, is dit gelyk aan positiewe denke?
Interessante artikel! Die gedeelte in Matteus hoofstuk 17 is spesifiek so geskryf om die sogenaamde profesie in Maleagi 4 vers 5 - 6 in vervulling te laat gaan. Dis nie 'n spekulasie vanuit die perspektief van die skrywer nie. Die Israeliete was vas oortuig dat hulle God op die punt is om 'n koningkryk op aarde te kom vestig. En ook dat die voorspellings in hulle heilige boeke besig is om in vervulling te gaan, en omdat Elia lewendig in die hemele in opgeneem was, was hy dus nooit dood nie. Duidelik het die skrywers verder ook vir Jesus so geskets asof hy sy eie wreedaardige dood voorspel in Matteus 17 vers 12. Dit is alles maar opgemaakte details oor Jesus se lewe, wat dekades na sy dood opgedis was.
Daar is ook ander teksverse, maar meer bepaald uit die 'Ou Testament', wat ook dui daarop dat die dood finaal is, veral in die boek Prediker.
Ek sou meer wou lees oor die presiese gedeeltes van die Nuwe Testament wat deur Konstantyn en Helena verwyder was. Ten spyte van talle soektogte op soekenjins sowel as deur middel van kletsbotte, kon ek niks omtrent dit vind nie.
Dierbare Snotjan
In die argiewe op my soveelste rekenaar lees ek die volgende:
1. Michael Tellinger in sy ‘SLAVE SPECIES of god’ sê die volgende: “In one apparent sitting of the Second Synod in Constantinople in 553 AD, the church editors deleted all of Jesus’ references to ‘reincarnation’ from the Bible. This was an important part of Jesus’ ministry and adhered to by his early followers. It also points clearly to his youthful influences while growing up in the East, absorbing the many different cultures of the Hindus and Buddhists. What’s more, in the 12th century, the Lateran Council added the concept of the ‘holy trinity’ into the Bible, an idea which was apparently never promoted by Jesus.”
2. Deepak Chopra skryf: “For centuries Eastern beliefs have had little effect on the West, despite some evidence that the Old Testament, for example, considered reincarnation possible. The Gnostics, a sect of early Christianity, espoused reincarnation before they were wiped out as heretics. Jesus seems to refer to it once. The followers of John the Baptist believed that he was either the Messiah or the return of the prophet Elijah, called Elias in the New Testament. This was important because of the belief that Elias would ‘first come’ before the Messiah. When Christ’s disciples questioned him about this, he replied, ‘Elias must truly first come and restore all things. But I say unto you, that Elias has come already, but they knew him not, but have done unto him whatsoever they liked ...’ then the disciples understood that He spoke unto them of John the Baptist (Matthew 17: 9-13). However, in Catholic theology reincarnation was condemned as heresy by A.D. 553. This disparity with Jesus’ comment has given rise to dark muttering that all references to reincarnation have been systematically removed from the Bible. True or not, the East was resisted.”
Ek was my hande.
Dolores Cannon het ook baie werk gedoen in hierdie verband en verskeie boeke oor die onderwerp gepubliseer. Sy het, soos Dr Weiss, van hipnoterapie en regressieterapie gebruik gemaak. Baie insiggewend.
Sal maar uitkyk of ek bietjie daai boek eendag te lese kan kry. Om te sien wat die bron van die stelling is. Dit is 2 eeue na Konstantyn en was dus gedoen deur 'n kerkvergadering. Maar hoe word so iets toegepas? Is al die bybels toe hoofkantoor toe gestuur en daar aangepas? Moet se ek sien steeds ook nie die konsep triniteit of god-drie-enig in enige van die ou boeke van die Israeliete nie. Dis maar deel van die erfsonde/soenoffer sprokie.
Dit was egter gewis moontlik dat die Boeddhisme vir Jesus ook kon beinvloed. Hoe sal mens nou weet?
Ek is maar net so skepties oor reinkarnasie as oor enige gode. Maar het die artikel ook baie geniet. Dis goed geskryf.