Die stereotipering van vroue

  • 2

Hierdie rubriek is fiktief. Enige ooreenkoms met jou as leser is toevallig.

In ’n vorige rubriek het ek verwys na die stereotipering van mans en beloof om in dié aflewering te skryf oor die stereotipering van vroue.

Dit is inderdaad so dat mens ander nie op rigiede wyse in kassies, kompartemente – noem dit wat jy wil – kan plaas nie. Maar dit is wel die geval dat die narratiewe onderliggend aan menslike gedrag en prototipes in patrone bly uitspeel. Hier volg ’n paar van die vroulike stereotipes.

Die poeierholle 

Hierdie dames is The real housewives en jy tref hulle aan in die ooste van Pretoria, die noorde van Johannesburg en in die Kaapse wynlande. In Pretoria woon hulle byvoorbeeld in nouveau riche-woonbuurte soos Moreletapark, Faerie Glen, Woodhill of Olympus. Hierdie dames shop by Woolies en ry dikgat 4x4’s soos Pajero’s of Fortuners. Poeierholle sal ook met groot oë vir jou die wonders van nuwe handelsmerke soos Hyundai of Kia besing.

n Poeierhol glo dat die prys van ’n item die aanduiding van kwaliteit is: Hulle sal duisende spandeer op ’n Smeg-ketel net om hulle ander poeierholvriendinne te beïndruk (Bennett Read of Russell Hobbs is benede hulle standaarde, om van Sunbeam nié te praat nie). Hierdie neus-in-die-lug vroue is deel van damesklubs of boekklubs (waar hulle binnekort Toetsie Terblanche se jongste en grensverskuiwende roman, Pols, sal bespreek). Die ouer poeierholle het jare gelede afrondingskole bygewoon waar hulle geleer het om fyn te onthaal en te sit soos ’n queen.

Wanneer ’n poeierhol ’n boek wat sy onlangs gelees het, op Facebook aanbeveel, sal sy met groot sorg ’n altaar bou met haar ouma se ouma se fyn porselein en silwerlepeltjies – maar dis die potpourri wat die prentjie afrond en wat die fokuspunt van die foto is.

Poeierholle kompeteer heeltyd met ander mense, al het van hierdie dames nie ’n loopbaan van ’n dag oud nie en al is die enigste prestasie waarop hulle kan roem, die feit dat hulle by hul ryk en suksesvolle mans slaap. Baie van die Kaapse poeierholle se tuine is uitgelê met nylongras, ’n gewoonte wat posgevat het tydens die Kaapse droogte van 2018. Die Kaapse poeierholle hou van sosiale outings soos wynproe in die Stellenbosch- of Franschhoek-omgewing, en poeierholma’s gee vir hulle dogters etiketboeke (die tweede bybel) van tannie Emsie en haar opvolger, Nataniël, vir hulle 21ste verjaardag.

........
Pretoria se poeierholkorps is dikwels lidmate van die Moreletapark NG-gemeente, waar hulle dan Sondae hulle dank betuig vir al die seëninge wat hulle uit die liewe Heer se hand ontvang.
........

Hierdie dames se mans werk hard, beklee goeie poste en sluimer meesal iewers in die agtergrond. Poeierholle se hele bestaan word gefilter tot dit wat superieur is – en nee, hulle het weinig empatie met ander mense. Pretoria se poeierholkorps is dikwels lidmate van die Moreletapark NG-gemeente, waar hulle dan Sondae hulle dank betuig vir al die seëninge wat hulle uit die liewe Heer se hand ontvang. Van hierdie vroue is aanhangers van Gretha Wiid, daardie charismatiese onderbroeksalwer, en woon graag haar Worthy Women-byeenkomste by. (Gretha begin al haar praatjies met “Hi julle outjies, ek wil graag ietsie met julle deel.” So terloops.)

n Interessante ding van ’n poeierhol is, selfs al tref jy haar eenuur die nag aan, sal jy haar steeds deur ’n ring kan trek. Moet haar net nie belas met jou probleme nie…

(Ns. Aan die leksikograwe wat dalk hier lees: Die woord poeierhol is, sover my (en ’n taalghoeroe se) kennis strek, nog nie opgeneem in ’n woordeboek nie, alhoewel die woord sy weg in gewone omgangstaal gevind het na aanleiding van ’n skrywe deur Chantelle de Wet.)

Die feminis

Die feminis se rol in die gemeenskap is van onskatbare waarde – en absoluut broodnodig. Maar dan is daar gewaande feministe met die simplistiese motto “All men are bastards.” Die aanhangers van so ’n bar ideologie se kode is eweneens eenvoudig: Gee mans die skuld vir álles. Maar feminisme as teorie is veel meer genuanseerd en kompleks as dit.

Die tweede tipe feminis glo in haar binneste sy kan kompeteer met mans, dat die teenwoordigheid van testosteroon jou nie superieur maak nie; inteendeel. Maar teenstrydig met hierdie misandrie sal die dames praat van “’n vrou met balls”. Jong, moderne feministe sal byvoorbeeld aanhalings uit ’n gedig soos “Still I rise” van Maya Angelou op hulle lywe laat tatoeëer.

........
Jong, moderne feministe sal byvoorbeeld aanhalings uit ’n gedig soos “Still I rise” van Maya Angelou op hulle lywe laat tatoeëer.
........
Die eksvrou

Die eksvrou is soos ’n poltergeist – jy hoor net altyd van die skade wat sy aangerig het, maar jy sien haar nooit, alhoewel haar spook in die omtrek bly. Dit is dié vrou wat ’n onskuldige man se lewe verwoes. Sy bekom ’n beskermingsbevel teen hom omdat sy kán en omdat die wet aan die vrou se kant is: gender-based violence draai in haar guns. Selfs al is so ’n ma ’n alkoholis of druggie en verneuk sy haar man met ’n boemelaar, sal sy steeds die rol van die victim speel – en die meeste mense sal haar glo. Daardie meem wat sê jy is famous in ’n onbekende sielkundige se lêer, is van toepassing op die eksvrou. Mens is jammer vir die man wat met die (eks)vrou getroud was: Sy maak die kinders teen hulle pa op, ’n sindroom wat al vir dekades aangaan, maar wat intussen ’n naam en gesig gekry het: ouervervreemdingsindroom. Hierdie vervreemding lei dikwels tot ’n lewenslange breuk tussen die pa en sy kinders, en die kinders word opgelei om per WhatsApp uit te saai wanneer hulle hul naweekbeurte of kuiers by hul pa kry. Alles wat die pa in liefde en goeder trou probeer doen, word afgemaak as belaglik. Die eksvrou sal ook haar gewese man se nuwe vrou viktimiseer as sy die kans kry.

........
Daardie meem wat sê jy is famous in ’n onbekende sielkundige se lêer, is van toepassing op die eksvrou.
........
Die superbitch

Die superbitch is seker die grootste nagmerrie van al die vroulike stereotipes. Die karakter Beth Dutton (Kelly Reilly) in die minireeks Yellowstone is ’n goeie voorbeeld. Of Joan Collins in Dynasty. Die superbitch se stem sny soos ’n Minora blade deur murg en been en dis bekend dat vroulike staatsaanklaers met hierdie persoonlikheid hulle sake wen omdat mans se broeke bewe wanneer die superbitch hulle begin ondervra. Sy is die toonbeeld van hoon en sarkasme en ’n meester in die uitruil van beledigings wat sy heel kreatief (en selfs komies) aanbied. Superbitches sense mekaar; en alhoewel hulle hul snedigheid op amper almal uithaal, sien hulle uit na ’n showdown met ’n gelyke – ’n ánder superbitch. Hulle sal aanvanklik gemeenplase uitruil, maar net om die waters te toets. Hierdie vroue is baie territoriaal en sal ’n “swakker” persoon onder hul vlerk neem en namens dié een fight, want hulle thrive op konflik. Almal is bang vir die superbitch se skerp tong – en om ’n geveg teen haar te wen, is haas onmoontlik, want hoe sy so vinnig op haar voete kan dink en ander mense se swakhede identifiseer, bly ’n bose enigma. Die getroude superbitch se tasse staan semipermanent in die spaarkamer gepak.

........
Superbitches sense mekaar; en alhoewel hulle hul snedigheid op amper almal uithaal, sien hulle uit na ’n showdown met ’n gelyke – ’n ánder superbitch.
........
Pappa se kroonprinses

Die kroonprinses is óf die enigste kind óf die enigste dogter van ’n ouerpaar. Sy ry van jongs af ’n peperduur kar wat Pappa vir haar gekoop het, in prysklas ligjare bó haar portuurgroep s’n. Die kroonprinses ondervind probleme met verhoudings, want niemand is op standaard – of vergelykbaar met Pappa – nie. Die kroonprinses wat mooi is, kom met ’n skok agter dat die meeste mans net in haar lyf belangstel – iets wat Pappa met sy lewe probeer verdedig het. Diesulkes wat wel suksesvolle liefdesverhoudings mog aanknoop, kies hulle maats oor die groot ooreenkoms wat hulle met Pappa toon: Die kroonprins met wie sy (wil) trou, is dan ook ’n kloon van haar pa. In mafiamovies soos The godfather sien mens Pappa se kroonprinses (Connie Corleone) in haar volle glorie.

Pappa glo onwrikbaar dat sy kroonprinses oor hope talent beskik, en Hollywood-filmvervaardigers sal vir hulle dogters klein rolletjies in films (op ’n skinkbord) aanbied, al lag die hele wêreld vir die talentlose girl. O, en as die kroonprinses gedigte skryf, sal Pappa ’n selfpublikasie met ’n oplaag van 20 000 bundels op die wêreld loslaat. Daar is ook gevalle waar Pappa vir sy kroonprinses se 21st betaal om haar eie popalbum te maak, en letterlik duisende rande sal opdok om haar in ’n studio te sit. Al beteken dit ook dat die arme producer die gebrek aan talent en musikaliteit met sy sagteware moet regdokter. Net solank sy ’n album van haar eie uitreik! Dan, as Pappa verjaar, sing die kroonprinses vir hom, wat ’n bevestiging van haar talent is.

Die kroonprinses sit die man in haar lewe in kompetisie met Pappa en “was jy maar meer soos my pa” word ’n alledaagse verwyt. Hierdie huwelike het nie ’n snowball’s hope in hell om te oorleef nie, en collapse gewoonlik. Die kroonprinses kan absoluut niks, niks verkeerd in Pappa se oë doen nie.

........
Die kroonprinses ondervind probleme met verhoudings, want niemand is op standaard – of vergelykbaar met Pappa – nie.
........
Die boheem

Die boheem is een van die interessantste en coolste vroulike stereotipes. Sy dra lang, vloeiende rokke en gewade soos kaftans, en as sy beduie, klingel haar bangles. Sy beduie nogal driftig, wat eerder die indruk skep dat sy dirigeer. Sy dra graag enkelringe en toonringe en haar hare is óf baie lank, óf kort geskeer. O, en moenie die boheem se liefde vir hoede vergeet nie! Sy dra haar unieke voorkoms met kunssinnige sofistikasie, en hierdie dames is baie spiritueel (let wel, nie godsdienstig nie). Haar morele kompas is suiwer en sy kan met enige persoon oor die weg kom: Sy verstaan die komplekse grys areas van menswees, en is ’n uitstekende raadgewer.

Die boheem het ’n voorliefde vir New Age-dinge, en verwys na haarself as ’n “empath” of “old soul”. Jy eien haar ook aan woordgebruik soos “die universe/heelal”, “ek stuur vir jou lig”, of “ek voel jou energieveld”. Die boheem is lief vir juwele met vere in en sal nie huiwer om ’n dreamcatcher om haar nek te dra nie. Sy voel haar aangetrokke tot kristalle, of sy versamel laasgenoemde, wat sy “klippe” noem. Die boheem hang uit by kunsuitstallings en kunstefeeste en is ’n kranige ondersteuner en koper van kuns en boeke. Sy vorm deel van die groupies wat skrywers en kunstenaars omring, óf is self ’n skrywer of skilder.

........
Die boheem dra kennis van toekomstowery soos die lees van tarotkaarte of teeblare.
........

Die boheem beoefen allerlei fassinerende stokperdjies, soos junk art of om mandalas te ontwerp. Esoterika, joga en meditasie is deel van haar daaglikse leefstyl, soos die rook van geurige hubbly bubblies. Die boheem dra kennis van toekomstowery soos die lees van tarotkaarte of teeblare. Sy brand graag kerse en wierook en sy leef in vrede met haarself en die wêreld om haar.

Dit is moeilik om die boheem seksueel te peil: Daar mog gerugte die rondte doen dat sy warmbloedig en sonder onnodige inhibisies is, en sy sal byvoorbeeld nie huiwer om topless te swem nie. In ’n sekere sin is die boheem ’n skoner en dwelmvrye inkarnasie (of reïnkarnasie) van die free-spirited hippies van weleer. Die boheem het alles gesien en ervaar en voer gesprek oor eksotiese dinge waarvan die meeste mense nog nie gehoor het nie. Sy herinner mens nogal aan dié song:

Ooo, I've been to Georgia
And California
And anywhere I could run
Took the hand of a preacher man
And we made love in the sun
But I ran out of places and friendly faces
Because I had to be free.

Die matriarg

Die matriarg is die tradisionele ystervrou. ’n Goeie voorbeeld van dié prototipe is Cara Dutton (Helen Mirren) in die minireeks 1883. Daar is twee soorte matriarge: die familiematriarg, en die matriarg wat die sosiale leer klim en uitblink in byvoorbeeld politiek en ander leiersposisies. Die matriarg is die figuurlike termietkoningin wat die familie of sosiale gemenebes bymekaar hou. (Sy is die natuurlike vyand van die snowflake, elders beskryf.)

Matriargie ontstaan gewoonlik spontaan tydens krisisse soos oorlog, siekte of nood, om velerlei redes – soos wanneer die vader (patriarg) afsterf, of bloot as swakkeling uit die sosiale struktuur uitval. Dit kan ook wees dat die kwaai tante haar man, as gewaande swakkeling, gedomineer of ondermyn het en dat hy verdryf is tot skadufiguur iewers in die agtergrond. Mens hoor dikwels van vroue wat, nou ja, vroualleen ’n boerdery oorgeneem het en die kinders eiehandig grootgemaak het. Óf sy het haar man se firma as boukontrakteur oorgeneem en regeer nou die bouers met ’n ysterhand.

........
Almal het respek vir Moederowerste en loop op eiers in haar teenwoordigheid.
........

Almal het respek vir Moederowerste en loop op eiers in haar teenwoordigheid. Mens sien soms ’n ou tannie wat motor bestuur en vinnig en kiertsregop loop – en die deur aan die passasierskant oopmaak vir haar man, ’n ou omie met ’n krom rug wat met sy kierie agter haar aansuiker. En soos intergeneratiewe gedrag tussen geslagte bly uitspeel, skep die oorspronklike matriarg ’n presedent vir matriarge wat ná haar kom. Van hierdie matriarge behou dan hulle nooiensvan, of dra dubbeldoorvanne waarin hulle nooiensvanne behoue bly.

Matriargie is geensins onnatuurlik nie en kom voor in die diereryk by bonobo-ape, heuningbye, miere, meerkatte, edm.

Blommetjie-gedenk-aan-my

Hierdie vrou is die selfaangestelde kurator van die familiemuseum. Sy het op skool reeds skryfpapier uitgeruil in die dae van die Grensoorlog, toe skryfblokke nog prentjies van troepies of sonsondergange op gehad het. Hierdie argivaris het ook ’n lang geskiedenis van penmaats dwarsoor die wêreld, epogge voor die koms van die internet. Sy het haar familie-argiefie versier met Letraset en kalligrafie (toe jy nog by die CNA kalligrafieboeke en vulpenne kon koop).

Blommetjie-gedenk-aan-my het byna letterlik alles bewaar: haar stuk gips vol kindergraffiti toe sy haar arm in standerd 6 gebreek het; haar skoolhempie waarop haar pelle op die laaste skooldag geskryf het; ’n Bybel dikgeswel met goue sywurmharte, geparste blomme en briewe; haar ou skoolrapporte en foto’s as rekord van die lewens van almal wat sy ken. O, en moenie die knipsels haarlokke en wisseltande van familiekiddies (wat die tandmuis gekoop het) vergeet nie. En ook nie die waardevolle “My Skoolloopbaan” en haar versameling jaarblaaie nie. Dié argivaris het uiteraard ’n fees gehad toe die era van scrapbooking aangebreek het.

........
Dié argivaris het uiteraard ’n fees gehad toe die era van scrapbooking aangebreek het.
........

Vandag is hierdie tannie die sameroeper van skoolreünies en skep sy WhatsApp-groepies om die langslewendes bymekaar te hou. Ja, en met Oupa se begrafnis het sy ’n gedig geskryf wat opgeneem is in die begrafnisbrief (wat sy ook met groot sorg bewaar). Waar ou ballies soms ’n gier ontwikkel om hul stamboom uit te lê en genealogiese navorsing te doen, doen die argivaris al lewenslank die bewaarwerk van almal se herinneringe.

Snowflakes

Snowflakes is baie broos. Hulle werk nie, kom uit ’n hoërmiddelklasomgewing en is chronies verveeld; hulle lewens is leeg. ’n Snowflake drink te veel wyn, slaappille of pynpille met kodeïen in (wat hulle “geel pille” noem). Aptekers sien hulle op ’n afstand raak, omdat hulle berug is daarvoor dat hulle op onderduimse maniere die kontrolemeganismes vir skedule 5-medikasie probeer omseil.

As neurotiese bobaasmanipuleerders lê hulle ook in hulle kamers, asynlappies op die voorkop, en hul kinders leef in vrees: Hulle leer van kleins af “Sjuut, Mamma voel nie lekker nie.” Hulle is migrainelyers en vroeër jare het hulle aan yuppiegriep gely.

........
Aptekers sien hulle op ’n afstand raak, omdat hulle berug is daarvoor dat hulle op onderduimse maniere die kontrolemeganismes vir skedule 5-medikasie probeer omseil.
........

Ek wens ek kon ’n vlieg teen die snowflake se muur wees! Omdat sy so baie tyd op hande het, stel sy milieukledings op vir haar talle selfies. Enige iets van Victoriaanse banke en blomme, en sy geklee in eksotiese aandrokke, die selfie stick en timer met presisie gestel. Op die swak geneemde selfies sien mens die vrou se kort nek en haar arm wat grotesk uitgroei en dikker word na die lens se kant toe.

Snowflakes in Pretoria-Oos drink uit hulle handsakke (half-jacks). Die koms van die sosiale media het sin gegee aan dié vroue se leë bestaan: Hulle bring die hele dag op Facebook deur, tel hulle likes, en verklaar ’n ewige wrok teen iemand wat hulle dúrf teëgaan. Hulle sal dan spog hoe hulle so ’n persoon summier “geblock” het. Baie snowflakes word Facebook-digters en hulle skinderrelase oor ander “digters” bons van inboks tot inboks.

Snowflakes is woke. Maar ’n snowflake gone bad, byvoorbeeld ’n dame wat skei en alles verloor en haar uiteindelik in ’n rondawel bevind, verander in ’n martelaar. Sy dobber op die rand van wanhoop en post gereeld bedekte selfmoorddreigemente op haar Facebook-muur, waarop haar vriende dan bekommerd (moet) reageer. ’n Snowflake het lankal geleer om onderduims te wees en stories te vertel en daardeur haar sin te kry. Wanneer sy by haar GP opdaag, het sy ’n rits “siektes” op ’n papiertjie neergekrabbel. Maar dokters herken hierdie aandagsoekers op ’n afstand. Moenie die fout maak om vir ’n snowflake te vra hoe dit gaan nie – sy gaan ’n halfuur lank praat.

Die emo chick

’n Jong vroulike snowflake noem mens ’n emo chick. ’n Emo chick het emosionele issues. Baie cool. Sy dra graag swart klere en het swart kringe onder haar oë. Baie emo chicks identifiseer as cutters en spog dan met hulle snye, self toegedien, op Instagram – hulle weet presies hoe om die sosiale media se gedragskodes te omseil. Emo chicks is superwoke en neem gender-based violence só ernstig op dat omtrent amper elke tweede man as voornemende vroueslaner of verkragter paradeer. Die emo chick dra neus- en oorringe (en ringe en piercings op ander plekke), lees en skryf poësie, en assosieer net met ander emo kids. Emotiewe musiek met wanhoop en selfdood as temas is hul kos. Die emo chick praat met ontsag oor depressie asof sy die simptome self uitgevind het, en ly aan ’n ewige slagoffermentaliteit. Niemand – ek herhaal: niémand – verstaan die emo chick nie.

........
Die emo chick praat met ontsag oor depressie asof sy die simptome self uitgevind het, en ly aan ’n ewige slagoffermentaliteit.
........
Die rock chick

Die rock chick is ’n vrou uit middelklasomgewings soos Brakpan, Boksburg, Brackenfell, Parow of die Moot, en hulle ouers het na Elvis en die Beatles geluister. Sy was van kleins af bewus van rockmusiek en het op skool ’n aanhanger van Pink Floyd, Led Zeppelin, Bob Dylan of Bruce Springsteen geword. Insgelyks was sy ’n fan van Afrikaanse rock in die laat ‘80’s en vroeg ‘90’s.

Rock chicks beweeg in groepies, en word gesien op selfies saam met rockmusikante soos wyle Piet Botha, Francois van Coke, Karen Zoid of Jan Blohm iewers in ’n rokerige kroeg. Hulle beplan hulle lewens rondom die rockkultuur, en kan spog dat hulle die eerste Voëlvry-toer bygewoon het.

........
n Rock chick het só ’n bewondering vir manlike rockers dat sy selfs sal toelaat dat so ’n ou by haar intrek (wanneer hy werk- of haweloos is, wat dikwels gebeur).
........

n Rock chick het só ’n bewondering vir manlike rockers dat sy selfs sal toelaat dat so ’n ou by haar intrek (wanneer hy werk- of haweloos is, wat dikwels gebeur); en dié rock chick sal vir haar rockheld sorg met ’n kamikazetoewyding wat ongeëwenaar is. Sy drink bier by rock shows en sal selfs werk doen as bar lady of waitress by ’n gig, enige iets om teenwoordig te wees as rockers sing. Wanneer ’n rock chick gesuip is, sal sy die liggaamstaal van ’n rocker naboots en maak of sy kitaar speel. En ja, mens sien nogal heelwat jarige rock chicks wat saam met hulle kinders shows van Fokofpolisiekar bywoon.

Mevrou Dokter, Mevrou Dominee en Mevrou Professor

Alhoewel daar baie gespot word met hierdie prototipe, bly hierdie elitistiese mevroue maar deel van die Afrikaanses se klassisme.

Mevrou Dokter & kie word gedefinieer deur hulle mans se beroepe en prestasies. Die man plant dan dieselfde status in die Mevrou voort, en die wunderkind, Johan Junior, word gebore. Dis nogal ’n verskynsel wat mens by ouer vroue in Stellenbosch of Waterkloof sien: Hulle speel ’n ondersteunende rol in hulle gades se lewens. Sélf het hulle iets soos ’n BA-manvanggraad geswot, nooit gaan werk nie, maar tree op as assistente vir hierdie mans. Mens sien soms byvoorbeeld hoe Mevrou Dokter dan ook die ontvangsdame of boekhouer by haar man se praktyk is, en vanweë die verworwe getroude status ook skouers skuur met die vooraanstaande burgers van die gemeenskap.

........
Mevrou Dokter & kie word gedefinieer deur hulle mans se beroepe en prestasies. Die man plant dan dieselfde status in die Mevrou voort, en die wunderkind, Johan Junior, word gebore.
........

Hierdie mans speel gholf en lei groot en vervulde lewens. Mevrou kan baie deftig onthaal, en wanneer sy uithang, dan vorm die ander Mevroue ’n groepie om haar (dames met min substansie, maar wat ook deel het aan die manlike Sanhedrin). Hierdie mans kon net sowel ’n huishoudster, kok, nanny of sekretaresse gehuur het, funksies wat Mevrou met groot ywer opneem. Inderwaarheid het hierdie mans en hulle Mevroue nie veel gemeen nie, maar sy behou haar relevansie deur ’n ondersteunende rol in die elitemasjien te speel.

Die divorcee

Die divorcee is in haar 40’s en ontnugter deur mans. Jy tref divorcees in groepe aan by sosiale geleenthede waar hulle saam aan ’n tafel sit, sletsappies en wyn drink, en hard en uitbundig lag. Waarskynlik vir die een of ander tong-in-die-lies grappie. Die divorcee is sinies oor verhoudings, omdat haar voormalige huwelik, waarin haar kuisheid en getrouheid haar nêrens gebring het nie, op die rotse geëindig het. Die divorcee is nié ’n mannehater nie; sy haat bloot die monogame gedagte aan ’n huwelik. Haar nuutgevonde vryheid open die hek vir haar om te eksperimenteer en ’n bietjie buite die eg te kafoefel.

........
Jy tref divorcees in groepe aan by sosiale geleenthede waar hulle saam aan ’n tafel sit, sletsappies en wyn drink, en hard en uitbundig lag.
........

Divorcees gaan saam in groepe uit, want dis veiliger so. Baie van hulle is enkelmoeders met loopbane. Hulle rook baie, en begin en eindig hulle sinne met “my ding”. Hulle dra oordadige make-up (om die middeljare te verbloem), en word deur die vrye radikale in testosteroon aangetrek: Hulle kuier graag in kroeë waar daar pool en darts gespeel word, by rugbywedstryde, of by countrysaamtrekke. Die divorcee is kwesbaar – en ’n ontnugterde romantikus. In romantic comedies is die heldin dikwels ’n divorcee (dis nou voor sy die held ontmoet en – al weer, sug! – verlief raak op hom). Soms koek divorcees saam in nagklubs waar jy langarm dans – ’n estrogeenwerf soos Maders Hotel of destyds in Zillertal in Pretoria. Wanneer hulle alleen is, ontvlug divorcees in Romanzas of hygromans (maar dít hou hulle vir hulself).

Die bakvissie

Die bakvissie is nog jonk en verwys na haarself as “bubbly” en “fun”. Sy paradeer graag in sjoebroekies waarvan die rafels op die tweede boudwang hang. Die bakvissie praat met ’n kleindogtertjiestemmetjie, maak ’n pruilbekkie vir die kamera (vir haar stortvloed selfies), of steek tong uit (alles báie snaaks, sien). Sy het die diepgang van ’n sopbord en is intellektueel nie juis ’n plofkop nie – sy het die aandagspan van … wel ... ’n goudvis. Maar sy weet presies watter knoppies om te druk om te manipuleer: haar ouers, haar boyfriend, haar medebakvissies …

Die bakvissie se grootste ambisie in om, wanneer sy trou, Sarie se Bruid van die Jaar-kompetisie te wen. Of om ’n bruidsprogram op kykNET los te slaan. Haar ander ambisie is om ’n kykNET-aanbieder soos Minki te word, met ’n flitswit glimlag, hope sjarme en ’n groot following.

Die bakvissie se lewe wentel rondom liminale feeste soos matriekafskeide, twentyfirsts, kombuistees, troues, babatees of enige ander partytjies – en sy word dan ook deur medebakvissies as “die siel van die partytjie” bestempel. Dis nou afgesien van haar twee primêre belangstellings, naamlik haar nuwe boyfriend (op daardie stadium; daar is báie), en haar spognuwe selfoon, kompleet met ’n selfoonhouer vol bling.

........
Die bakvissie se lewe wentel rondom liminale feeste soos matriekafskeide, twentyfirsts, kombuistees, troues, babatees of enige ander partytjies – en sy word dan ook deur medebakvissies as “die siel van die partytjie” bestempel.
.......

Die bakvissie is uiters gesteld op haar gewig en ly (klandestien) aan eetversteurings soos anoreksie en bulimie. Sy werk hard om ’n influencer op sosiale media te wees en pos daagliks foto’s met die hashtag “clean eating” of “low carbs”.

Wanneer bakvissies in groepies gaan uiteet, sê hulle “mos” aan die einde van ’n sin, en giggel dan onbedaarlik daaroor. Mos. Hulle het die vreemde gewoonte om in groepe saam kleedkamer toe te gaan: Die een sal sê “Ek moet nou gaan piepie”, dan sal die ander sê “Ek kom saam.” En dan giggel hulle. Presies waaroor die bakvissies daar praat, is nie seker nie, behalwe dat dit met die liggaamsfunksies binne die dye te make het. Behoede die man wat een van hulle date en dan vir ’n driekwartier buite die dameskleedkamer staan en wag terwyl sy en haar maters skynbaar piepie.

Om ’n bakvissie te wees is nie beperk tot ’n jeugdige ouderdom nie – ’n ouer vrou kan ook een wees; dit gaan oor mentaliteit. Hulle arsenaal daaglikse selfies grens aan oversharing en wanneer hulle hierdie foto’s op jou loslaat, skree jou selfoon soos ’n Morsekode in ’n oorlog.

Die heks

Die heks is daardie nare vrou wat as argetipe al lankal in sprokies ingeburger is. Mens dink aan daardie grappie van die ou wat vir sy vriend vertel dat hy ’n god is, want sy vrou bring elke aand vir hom ’n brandoffer vir aandete. Waarop die vriend antwoord: “Wel, my lewe is ’n sprokie, want as ek saans by die huis kom, sit daar ’n heks op die rusbank vir my en wag.”

........
Die heks praat met ’n rasperstem, of sy het ’n vals stem soos ’n papegaai.
........

Die heks is inderdaad enige getroude man se grootste nagmerrie. Sy voer ’n skrikbewind in die huis wanneer die voordeur toegaan. Die heks teiken net haar man, terwyl die superbitch in teenstelling met haar met almal baklei. Die heks praat met ’n rasperstem, of sy het ’n vals stem soos ’n papegaai. Sy rook soos ’n skoorsteen (en kan baie drink), en sy het die kuns vervolmaak om haar man te boelie, te downplay, en sy sal hom selfs aanrand indien sy die kans kry. Dít is natuurlik ’n verleentheid en dié ou sal vir niemand vertel van sy abuse nie. Van die familie weet van die mishandeling, maar hulle wil nie betrokke raak nie. Die familie se ongeskrewe kontrak is om hierdie sameswering toe te smeer.

As gevolg van haar talle gebroke verhoudings bevind die heks haar later jare dikwels alleen, met net ’n hond of kat as companion. Sy bly maar ’n onsmaaklike mens en kinders begin te huil in haar teenwoordigheid.

God se kaalvoetdogter

God se kaalvoetdogter is ’n tipiese vroutjie iewers op die platteland. Sy bemark haar enkelingskap op al wat ’n hoekie vir eensames is – ook die talle Facebook-blaaie wat uit Boer soek ’n vrou voortgespruit het. Sy hou van alles wat mooi is in die lewe; sy soek ’n man wat nie rook of drink nie, en wat die Here eerste stel. God se kaalvoetdogter dra steeds die geblomde rok wat sy gedra het toe sy 11 jaar oud was en haar gunstelingmotto is “voetspore in die sand”. Maar die kaalvoetdogter sal dink hierdie voetspore is háár idee. Sy is net so lief vir daardie stroop-op-steroids-gedig “Desiderata”.

........
God se kaalvoetdogter dra steeds die geblomde rok wat sy gedra het toe sy 11 jaar oud was en haar gunstelingmotto is “voetspore in die sand”.
........

Sy volg sepies wat sesuur die aand gebeeldsend word (vroeër was dit Loving, Egoli, 7de Laan, Binnelanders, The bold and the beautiful, ens). Alhoewel die kaalvoetdogter ’n voorslag in die kombuis is en waarskynlik ’n uitstekende moeder sal uitmaak, is haar kriteria met die oog op ’n liefdesverhouding so (str)eng dat sy óf ’n bullshitter óf ’n useless ou mag ontmoet. En wanneer sy dan trou en die huwelik in duie stort en dit haar wreed ontnugter laat, mag sy later in ’n divorcee of ’n snowflake verander.

Die intellektueel

Die intellektueel: In die film The mirror has two faces sien mens vir Rose Morgan (Barbra Streisand) in die rol van ’n letterkundeprofessor. Die vroulike intellektueel kan inderdaad ’n prof, skrywer of iets soos ’n IT-geek wees. Haar hare is dikwels lank en met haarknippies vasgetooi of stylloos kort geknip. Sy dra stokou denims of lang gewade met sandale, verpleegsterskoene met veters, of koekerige rokke met Cross-skoene (haar enkels is by tye geswel). Die intellektueel het ’n vlymskerp verstand en trek soms per ongeluk haar klere onderstebo aan vir werk – óf die prysetiket van haar nuwe top (sale half price) hang nog iewers uit.

........
Hierdie is min of meer die omgekeerde van die Hollywood-mite dat blonde vroue nie (ook) slim kan wees nie. Ai, die donnerse stereotipering tog!
........

Baie van hierdie dames dra nie ’n bra nie en het ta lankal reeds verbrand. Dit gebeur soms dat die intellektueel op 40 nog nie getroud is nie, maar dat sy wel sinergie mag vind met ’n beskikbare man uit ’n poel van potensiaal wat reeds só uitgedun is dat dit wat oorbly, min of meer haar eweknie mag bevat. Alhoewel hoogs intelligent, is die vroulike intellektueel nie noodwendig emosioneel so intelligent as wat haar kognitiewe vermoëns aandui nie en onderdruk sy haar emosies dienooreenkomstig. Sy kom soms eendimensioneel voor (haar veld van expertise), en haar idee van opdress vir ’n sosiale gedoe is om haar beenhare te skeer en lipstif aan te sit. ’n Goeie voorbeeld van die vroulike intellektueel is die senator Elizabeth Warren wat ’n regsprofessor by Harvard Universiteit was. Maar dit is ongelukkig so dat die gemiddelde man beter kan sien as wat hy dink, en eerder vroue met looks as met brains sal kies. Aan die ander kant, weer, het Marie Curie ’n geesgenoot in Pierre Curie gevind. Daar bestaan vroue wat beeldskoon én briljant is, maar deur die lens van die manlike voyeur kan ’n vrou nie albei wees nie – sy is net mooi. Hierdie is min of meer die omgekeerde van die Hollywood-mite dat blonde vroue nie (ook) slim kan wees nie. Ai, die donnerse stereotipering tog!

Die ewige romantikus

Die hoogtepunt in dié vrou se lewe is haar troudag (en voor dit dalk haar matriekafskeid). By gebrek aan ander hoogtepunte of landmerke, natuurlik. Sy herleef die sprokie van die ewige bruid en plaas gereeld troufoto’s van tien jaar gelede op haar Facebook-muur. Sy droom daarvan om ’n prinses te wees (of soos een behandel te word) en sal haar trourok in ’n glaskas bewaar vir die nageslag. Om bruid te wees is immers ’n vrou se groot(ste) dag, al het die bruidegom by die kansel sy ramparty se rumwalms afgesweet. Want om bruid te wees is ’n vrou se licence to kill.

........
Om bruid te wees is ’n vrou se licence to kill.
........

Dit laat mens dink aan die film Very bad things waarin Laura Garrety (Cameron Diaz) as obsessiewe bruid te midde van moord, doodslag en ’n makabere ketting van noodlottige gebeure stééds deurdruk om te trou. (Terloops, mens hoor dikwels van “toksiese manlikheid”, maar bestaan daar nie ook iets soos “toksiese vroulikheid” nie?) Die ewige romantikus leef in ’n rykeverbeeldingswêreld; sy leef in die droom van Lucy Jordan, Mills & Boon en swashbuckling ridders wat haar kom red. Sy is die ewige meisie van Avignon.

At the age of thirty-seven
She realized she’d never ride
Through Paris in a sports car
With the warm wind in her hair.

(Uit “The ballad of Lucy Jordan”)

Die nimfomaan

In omgangstaal staan sy net bekend as ’n “nimf”. Nimfomane staan teenoor mans soos bubble wrap vir ’n OCD-lyer. Nimfe is in die reël iets vir die oog, en oral waar sy gaan, skei sy feromone af en loop mans agter haar aan. Ongeag watse bra sy aan het, staan die nimfomaan se nippels altyd soos ’n paar spotlights. Sy belê in sexy lingerie, en as ’n ou ’n gelukkie op die lyf loop, sorg sy vir nóg ’n lucky packet binne-in. Sy beskik oor ’n seksuele magnetisme, en selfs al trek jy vir die nimf ’n goiingsak aan, sal mans haar steeds opsoek. Sy het ’n stout kant en mag vir die ouens wat haar graag van naderby wil leer ken, ’n paar van haar Margaret van Wyk-selfies aanstuur…

........
Sy beskik oor ’n seksuele magnetisme, en selfs al trek jy vir die nimf ’n goiingsak aan, sal mans haar steeds opsoek.
........

Die nimfomaan is ’n deurwinterde bedmaat en weet dat die sterkste (manlike) geen sal wen – hy sál sy reward kry. Maar of sy hom nog die volgende oggend wil hê, is ’n ander vraag …

Die oujongnooi

Jou pa het dalk so ’n niggie wat nooit getrou het nie, maar hiervoor vergoed deur hegte verhoudings met die kinders in die familie te hê. Die oujongnooi gaan saam tydens vakansies en tree op as die familie-confidante vir die kinders, wat uiteraard baie geheg is aan hulle tannie.

Die woord “oujongnooi” is ’n oksimoron en waarskynlik ’n oorblyfsel van die patriargie, soortgelyk aan die idioom “op die rak bly sit”, wat impliseer dat ’n vrou se status daarvan afhang of sy ’n man kon kry (wat ’n klomp tjol), en dat sy ’n sell-by-date het.

Die oujongnooi het waarskynlik ’n pynlike liefdesteleurstelling in haar 20’s beleef: liefdestrauma soos die dood van ’n man, of ’n ou wat haar verneuk het. En sedertdien koester sy haar selfopgelegde liefdesballingskap. Die oujongnooi se huis is ingerig vir haarself en uitsluitlik volgens haar behoeftes. Sy woon en werk selfstandig; het ’n loopbaan van haar eie; en stort haar liefde op diere uit. Sy word gereeld gesien by rescue shelters vir hawelose honde en katte wat sy sonder huiwering huis toe neem en met die grootste liefde versorg.

........
Die oujongnooi het waarskynlik ’n pynlike liefdesteleurstelling in haar 20’s beleef: liefdestrauma soos die dood van ’n man, of ’n ou wat haar verneuk het. En sedertdien koester sy haar selfopgelegde liefdesballingskap.
........

Haar huis, wat afgestem is om selfdienend te wees, is ingerig vir haar gerief. Sy binge graag op minireekse op Showmax, Netflix en al die ander tallose stromingsdienste – dan lê haar gunstelinglekkernye uitgepak op die bed (of bank). Die oujongnooi se gewig wissel van brandmaer tot obees – daar is dié wat nie juis kos koop nie en tevrede is met die boks graanvlokkies in die kombuiskas.

Die oujongnooi bring haar vrye tyd deur met stokperdjies soos tuinmaak – dis hóóg op haar agenda – asook allerlei arts en crafts om die lugleegtes van alleenwees te vul.

Doodgewone of hibriede vroue

En dan is daar die vroue wat doodgewoon, of bloot hibriede van die voorafgenoemdes is – of súlke unieke individue is dat hulle moeilik gekategoriseer kan word. Skrywers maak gebruik van stereotipering om karakters te skep; dit is die dominante, ikoniese gedrag van ’n persoon wat hom of haar laat uitstaan en vir so ’n skrywer ’n feesmaal bied wanneer dit by oordrywing kom. 

Lees ook:

Die stereotipering van mans

Barbie: ’n Feministiese ikoon of ’n paradoks in pienk?

 

  • 2

Kommentaar

  • Melodie Labuschaigne

    Puik en skreeusnaaks! Welgedaan, Nini Bennet-Moll! Ek herken heelwat dames in jou beskrywing, myself ingesluit..😉

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top