Barbie: ’n Feministiese ikoon of ’n paradoks in pienk?

  • 0

Erkenning: Sandra Gabriel op Pixabay

I’m a Barbie girl, in the Barbie World
Life in plastic, it’s fantastic
You can brush my hair, undress me everywhere
Imagination, life is your creation

Come on, Barbie, let’s go party
[...]

I’m a blond bimbo girl in a fantasy world
Dress me up, make it tight, I’m your dolly
You’re my doll, rock ’n roll, feel the glamour in pink
Kiss me here, touch me there, hanky panky

You can touch
You can play
If you say, “I’m always yours” (ooh, oh)
[...]

Make me walk, make me talk, do whatever you please
I can act like a star, I can beg on my knees
Come jump in, bimbo friend, let us do it again
Hit the town, fool around, let’s go party
[...]

Come on, Barbie, let’s go party (ah ah ah yeah)
Come on, Barbie, let’s go party (ooh oh, ooh oh)
Come on, Barbie, let’s go party (ah ah ah yeah)
Come on, Barbie, let’s go party (ooh oh, ooh oh)

“Barbie Girl” van die popgroep, Aqua, was in die negentigerjare bedoel as onskuldige bubblegum song waarna tienermeisies graag geluister het. Maar met die koms van die 2023-film, Barbie, kom hierdie song (wat skynbaar nie meer so onskuldig is nie) weer onder die soeklig.

Haar volle naam is Barbara Millicent Roberts en sy is in 1959 gebore in Mattel se speelgoedfabriek. Die film, Barbie, het alle rekords by die loket laat spat en oral op die sosiale media is daar net pienk – ’n mens raak skoon duiselig van al die pienk. (En pienk het ’n sterk Freudiaanse ondertoon.)

Daar was chick lit-blitsverkopers soos The Twilight Saga, maar chick lit word gekritiseer vir die genderstereotipering van die damsel-in-distress-mite, van weerwolwe en vampierhelde waarop meisies verlief raak. Maar Barbie, as modepop, het sedert haar ontstaan ses dekades gelede van dié etikettering probeer ontkom. Haar leuse was nog altyd “you can be anything” en omdat sy nie ’n babaspeelpop is nie, is die plakker “feminisme” vinnig op haar geplak. Tog vertel dié pop se voorgeskiedenis ’n ander storie – naamlik dat sy afgekyk is van ’n Duitse, erotiese prikkelpop met blonde hare en blou oë (ja, die Ariese voorkoms). Ruth Handler, ’n Amerikaanse sakevrou en die skepper van Barbie, het die pop, Bild Lilli, in die vyftigerjare in ’n winkel  in die Alpe gesien en besef dat daar ’n mark is vir volwasse speelpoppe vir dogtertjies. Lilli was egter ’n pop met sterk seksuele innuendo’s en sy het selfs in ’n strokiesprent gespeel. Die gedagte van ’n modepop het by Handler posgevat, en die bekendstelling van Barbie in 1959 het reeds vóór die Tweede Feministiese Golf plaasgevind. Barbie se ouma was met ander woorde ’n Ariese prikkelpop. Ken is eers in 1961 bekendgestel, en Barbie se droomhuis in 1962, lank voordat ’n vrou in die VSA ’n bankrekening mog gehad het, vergeet nog van eiendom van haar eie. Mattel bly egter ambivalent oor of Barbie ’n feministiese ikoon is. (Natuurlik: Laat die kopers en kykers spekuleer, dit is prima bemarking!)

Tog is feministe nie geesdriftig oor die pop se debuut op die silwerdoek nie. Terme soos “bimbo-feminisme” word gebruik en daar word beweer dat Barbie eintlik méér verteenwoordigend is van die Amerikaanse droom. Om te ontdek dat jy sterflik is, is nie juis ’n aardskuddende filosofie of eksistensiële krisis nie. En om te ontdek dat jy selluliet het, is bloot veldiep. 

.....
Barbie-manie, femme-fobie en vrae oor hiperboliese vroulikheid het opnuut opgeklink. 
.....

Verder word Barbie gekritiseer vir haar blonde hare, want blonde hare verteenwoordig meer van ’n sosiale konstruk as ’n haarkleur: Hollywood-films het blonde aktrises al in die dertigerjare geëtiketteer as leëkoppe. Blondines is dalk hot, cool of sexy, maar moet dit net nie assosieer met intelligensie nie. En alhoewel ons weet dat dit ’n ongegronde vooroordeel is, het hierdie stereotipering deurgesuur na die Barbie-film. 

Poppe wat vervlees en in mense, wesens of demone verander, is nie ’n nuwe idee nie. ’n Mens dink byvoorbeeld aan films soos Annabelle (2014), The Boy (2016), Dolls (1987), Magic (1978), Saw (2004) en Child’s play (1988) waarin poppe as geleiers van moorddadige, bonatuurlike en vreesaanjaende narratiewe kykers se rughare laat rys. Onskuldige poppespel gaan oor in mitemaking en moraliteitsteater. Barbie is nou wel nie ’n gruwelpop soos laasgenoemdes nie, maar die onderliggende subtekste rondom haar lewe(ns) kan in verband gebring word met die kommersialisering van mites en van haar vervaardiger, Mattel, se selfdienende kapitalistiese agenda. In haar leeftyd het Barbie meer as 200 beroepe beoefen, insluitend ’n presidentskandidaat, skooljuffrou, ruimtereisiger, sjef, modeontwerper en musikus. Mettertyd het Barbie se poppereekse uitgebrei tot dié wat verskillende rassegroepe verteenwoordig, en wat in tandem met die woke-heid van ons tyd ook gestremdhede en fisiese aberrasies insluit. Barbie is dus inklusief, maar op ’n gierige wyse – alle vroue/meisies is welkom tot op ’n punt dat só agenda goedkoop, maklik en voorspelbaar raak. ’n Mens hoef nie buskruit te ontdek om te weet dat die volgende stap in die bemarking van dié pop ’n film sou wees nie. Barbie het elke boks denkbaar getik en talle animasiefilms en sosiale media-inkleding het die weg gebaan vir ’n vollengte film. Margot Robbie, wat te siene is as Jordan Belfort se beeldskone vrou in The Wolf of Wall Street, maak nou haar verskyning as Barbie. En die filmdoek-Barbie kan enersyds as tabula rasa, maar andersyds as die speelpop met haar geïmpliseerde geleefde ervaring oor ses dekades heen beskou word. Barbie-manie, femme-fobie en vrae oor hiperboliese vroulikheid het opnuut opgeklink. 

.....
Barbie se droomhuis, ’n McMansion, is ’n simbool van ’n hoër-middelklas bestaan, en van ware struggle (aldus sekere feministe), is daar weinig sprake.
.....

Feministe se hoofbeswaar teen Barbie is haar onrealistiese liggaamsafmetings: Sou ’n mens die pop se kurwes, gemeet aan ’n werklikelewe-model omskakel in massa, sou dit daarop neerkom dat Barbie se BMI (Body Mass Index) 16,2 sou wees, wat impliseer dat sy aan anoreksie ly. In 1972 het feministegroepe in die VSA tydens ’n nuwe Barbie-bekendstelling geprotesteer téén genderstereotipering waarin dogtertjies aangemoedig word om soos mannekyne en seksobjekte te lyk. In 2013 was soortgelyke protespogings gewelddadiger toe ’n klomp kaalbors-aktiviste betoog het tydens die viering van ’n lewensgrootte Barbie-droomhuis, poppe aan die brand gesteek en gedreunsing het “pink stinks”. Daar bestaan inderdaad sielkundige stoornisse wat met hierdie pop verband hou: Die “Barbie-pop-sindroom” is ’n liggaamsdismorfiese versteuring wat daarop neerkom dat ’n meisie/vrou eetversteurings soos bulimie en anoreksie ontwikkel om net so skraal soos Barbie te wees. En dan praat ons nog nie van dié wat plastiese chirurgie ondergaan om soos die pop te lyk nie. Barbie, as beeldskone pop/vrou, koester onrealistiese verwagtings by meisies om ’n prinsesagtige perfeksie na te streef. Die man as voyeur van vroulike skoonheid geniet voorrang; tog het Mattel blitsvinnig gediversifiseer en begin om Barbies van allerlei liggaamstipes in te sluit. (Ken was maar altyd net Barbie se bykomstigheid.) En asof dit nie genoeg is nie, het feministe mekaar tydens ’n Piers Morgan show in die hare gevlieg en beklemtoon dat Barbie ’n simbool van kapitalisme is – en dat dit feminisme se rol is om kapitalisme te kritiseer. Barbie se droomhuis, ’n McMansion, is ’n simbool van ’n hoër-middelklas bestaan, en van ware struggle (aldus sekere feministe), is daar weinig sprake. Feminisme verteenwoordig die stryd van gewone vroue – en volgens Morgan is mans, wat beledig voel deur die uitbeelding van Ken as Barbie se “bykomstigheid” in die film, bloot ’n klomp snowflakes. 

Die feminis Carol Hay beweer sy het Barbie-poppe van haar dogtertjie af weggehou, om dieselfde rede dat sy die “ligsinnige” Disney-prinsesse, wat wag om gered te word deur mans, van haar kind af weggehou het. Sý (Hay) self het vir jare met Barbie-poppe gespeel en haar ma se sanitêre doekies gedeps en gebruik as matrassies vir die poppe om op te lê; ure van vreugde waartydens epiese dramas tussen haar Barbies uitgespeel het. Maar om van Barbie ’n rolmodel te maak? Nee. Diegene wat die Mattel-narratief rondom die pop in pienk al vir dekades lank volg, onthou ook die motto “math class is tough”. En dít moes Barbie nie gesê het nie. STEM (’n akroniem vir “Science, Technology, Engineering, Mathematics”) was tradisioneel die speelveld vir seuns, nie dogters nie. Maar wat! Mattel het van hierdie glips herstel met ’n groter, blymoediger inklusiwiteit en ’n sterk fokus op die toekoms: “It is the best day ever. So was yesterday, and so is tomorrow, and every day from now until forever.” Dalk is dít wat feministe hinder: Barbie, as simbool van enige droom wat ’n meisie mog koester, is te maklik: Die feministiese subteks is te glad, die addendum tot al Barbie se nooit-volprese deugde leef ongelukkig net in die verbeelding van dogtertjies. En van rolmodelle vir meisies gepraat: Gillian Anderson, wat die rol van special agent Dana Scully in die ’90’s se The X-files gespeel het, het meer meisies geïnspireer om medies en in die wetenskappe te studeer as enige ander ikoon. 

Barbie se immergroen vervaardiger, Mattel, skram weg van die vraag om Barbie wel ’n feministiese film is, soos reeds genoem. Want, word daar gesê, Greta Gerwig wat betrokke was by die skryf en vervaardiging van die film, het reeds haar feministiese spore verdien met films soos Lady Bird en Little Women. Barbie se woke-heid blyk ook uit die keuse van gay en trans akteurs, met ’n kopknik in die rigting van LGBTQ+.  

Dan, natuurlik betrek vraagstukke oor gender en vrouwees ook kwessies soos moeder-dogter-verhoudings. Binne die kulturele verbeelding van pop-ikonografie van oor die 60 jaar is dit seker só dat Barbie as ’n “moeder” getipeer kan word: Dink hoeveel dogtertjies het sy “grootgemaak” – of beïnvloed – sedert 1959. Of delf feministe nou te diep? In die film word temas rondom moederskap sinvol hanteer, byvoorbeeld die verhouding tussen Gloria, vertolk deur America Ferrera, en haar dogter, Sasha, vertolk deur Ariana Greenblatt. 

.....
Uiteindelik word die uiteenlopende beskouings rondom Barbie blote projeksies van vrese en vooroordele op die arme pop-ikoon. En perdalks is Barbie ’n Rorschach-toets in pienk. Diegene wat haar liefhet én haat dra steeds by tot die omstrede en hoogs suksesvolle bemarkingsveldtog wat haar sedert 1959 laat floreer het.
.....

Uiteraard kom die rol van mitemaking in die film ook onder die soeklig – en gee Gerwig krediet: Dit ís slim en vernuftig gedoen. In Barbie woon al die Barbies in Barbieland, wat ’n tipe Eden simboliseer. Maar dit is ’n omgekeerde bybelse utopie waarin hierdie Barbies in beheer is. Barbie se besef dat sy sterflik is, herinner aan die Boom van Kennis Goed en Kwaad waarvan daar, figuurlik gesproke, geëet word. Barbie is eerste geskape, en Ken is uit haar geskape. Temas soos ’n argetipiese verlore paradys (wat insgelyks op meisies wag in die regte lewe) en die Barbie-matriargie, wat verander in die werklikelewe-patriargie, vergesel van die omgekeerde magsdinamiek tussen Barbie en Ken, word verfrissend hanteer. 

Dalk moet ’n mens ’n film soos Barbie nie ooranaliseer nie, want verskeie kritici is dit eens dat die film genietlik is en oor besliste meriete beskik. Nie alle films het ten doel om groot kuns te wees nie, soms is dit bloot daar vir vermaak. Uiteindelik word die uiteenlopende beskouings rondom Barbie blote projeksies van vrese en vooroordele op die arme pop-ikoon. En perdalks is Barbie ’n Rorschach-toets in pienk. Diegene wat haar liefhet én haat dra steeds by tot die omstrede en hoogs suksesvolle bemarkingsveldtog wat haar sedert 1959 laat floreer het. Barbie het vir meer as ses dekades aangepas en gemorf deur die verskillende fases van feminisme(s), deur woke-heid en die -ismes van ideologieë; sy het van krag tot krag gegaan met ’n soepel oorlewingsvermoë wat poppespel in rollespel verander, aangehelp deur ’n verstommende aantal produkte en bykomstighede uit Mattel se stal. Maar of Barbie ’n feministiese ikoon is? Ek twyfel. Barbie is nóg sprokie, nóg fantasie, en die bemoedigende slagsin “you can be anything” is waarskynlik beperk tot die verbeeldingswêreld van spelende kinders. Dalk is Barbie eerder ’n meestersklas in korporatiewe sukses en hoe goed hierdie pop daarin kon slaag om haarself telkens te herskep. En as infleksiepunt tussen die werklikheid, fantasie en kritiek vorm polemiek déél van die ewolusie van hierdie fantasie in pienk. 

Lees ook:

Barbie – ewe veel verheerliking, verwyt en vermaak

Die Barbie-fliek en agentskap: die pienk kalklig val op Ken

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top