Die Barbie-fliek en agentskap: die pienk kalklig val op Ken

  • 2

ErikaWittlieb op Pixabay

..........
Halfpad in die pastel-extravaganza in kyk ek na Ken se perfekte plastiekgesig en dink: Die fliek se naam is dalk Barbie, maar dit gaan oor jóú, Ken.
...........

Halfpad in die pastel-extravaganza in kyk ek na Ken se perfekte plastiekgesig en dink: Die fliek se naam is dalk Barbie, maar dit gaan oor jóú, Ken.

My eie oomblik van verheldering (dat hierdie film behoort aan Ken) vind plaas op dieselfde oomblik as Ken se persoonlike lucidum intervallum.

Wat reeds in die film plaasgevind het, was dat Barbie tot dusver elke dag haar beste lewe in Barbieland geleef het. Sy was alles wat sy geskep was om te wees: Stereotipiese Barbie was na liggaam volmaak en lieflik, en elke ander Barbie in Barbieland was net soos die skepper(s) van die produk hulle uitgedink het. Hulle was presidente, Nobel-pryswenners, ruimtevaarders, dokters. Daar was nog verskillende Barbies: ’n Barbie in ’n rolstoel, sommige met ander liggaamlike gebreke of opsigtelike andersheid (een Barbie is oorgewig). Die subteks is egter ongetwyfeld: Elke enkele Barbie in Barbieland kan enigiets bereik wat sy wil. Die Barbie-leuse word verpersoonlik: You can be anything.

Ken bewoon ook hierdie wêreld (dis onduidelik waar hy woon en Barbie weet ook nie). Ken is haar kêrel, en hy slaap nie oor nie. Ken besit nie vir Barbie nie, Barbie besit alles. Ook vir Ken. Elke aand is girl’s night.

Hierdie wêreld is die wêreld soos ’n dogtertjie wat ’n Barbie-pop besit, die wêreld sien.

Hoe kan dit dan anders wees dat die man wat jou popspeelwêreld bewoon, nie ook is soos wat jy hom uitgedink het nie?

Of eerder, (nie) soos wat die skeppers wat vir Ken uitgedink het, dink dat klein dogtertjies mans (behoort te) sien (nie)?

In die film begin dinge vir Stereotipiese Barbie skeefloop. Sy ontwikkel selluliet. Sy begin nadink oor die dood.

Weens dié rampspoedige gedagtes raai Weird Barbie op die heuwel vir Stereotipiese Barbie aan om die werklike wêreld te gaan besoek. Ken reis saam met haar, soos dit hom betaam.

Dis hier, in Los Angeles, waar Ken en Barbie op rolskaatse langs die promenade skaats. Mans en konstruksiewerkers sien natuurlik dadelik vir Barbie raak (hoe dan anders – sy’s pragtig), maar wat van Ken?

Hy is nie camp, soos die Ken in Toy Story, nie. Hy is nie eens werklik bespotlik nie. Hy is net ’n vis uit die water. Hy is meer misplaas as wat Barbie kan droom om te wees.

Ken is ’n vroulike konstruk in ’n manswêreld.

...........
Ken is ’n vroulike konstruk in ’n manswêreld.
............

Hy voel aan hy is nie regtig besig om sy eie storie te vertel nie. In hierdie wêreld waar hy nou is, is dit ongehoord.

In die toneel waar Ken die hoë geboue in die sakekern sien, besef ek: Dis as ’t ware asof hy ’n manlike skrywer is – hy sien die belangrike onderwerpe raak waaroor daar berig moet word.

Geld en ekonomie. Spierkrag. Falliese geboue. Lande. Politiek.

Pienk Barbieland bestaan nie meer nie.

Die vraag is nou: Watter wêreld is die mees absurde een?

Op die oomblik wanneer die Ken in die Barbie-fliek opkyk en die regte lewe sien soos wat dit werklik is, is hy soos die leeuwelpie in my Kinderkransdae van jare en jare gelede: Hy proe die metaalsmaak van bloed in sy mond en daardie smaak is soet.

Ken dra dalk op daardie oomblik ’n cowboy-uitrusting soos net ’n dogtertjie wat lief is vir perde vir haar geliefde Ken kan aantrek, maar binne hierdie Ken kriewel daar sigbaar iets. Dit is die gevoel van iemand wat iewers aankom. Hierdie is die lewe soos wat dit nog altyd veronderstel was om te wees.

Barbieland bestaan nie meer nie.

Ken kry ’n klein kykie in hoe duiselingwekkend wonderlik dit is as die man aan bewind is (want dis soos dit hoort).

Mans koloniseer en brei grondgebied uit: Christopher Columbus, Cecil John Rhodes, Napoleon.

Al wat vroue in die regte wêreld doen, is dat hulle verlei.

Die res van die tyd word die teks geskryf deur die man en dis waar hy gemaklik is. In die regte lewe kan geeneen van daardie Barbies in Barbieland enigiets wees wat hulle droom om te wees nie. In die regte lewe het die skeppers van die Barbiedroom ’n ontsettende ongemak op die skouers van werklike vroue gelaai: Hoe kry jy dit reg om buitengewoon te wees? Want dis wat jy in hierdie werklike wêreld moet wees.

Die film is egter so slim soos sy pienk bemarking. Almal word met slap rieme gevang. Die gehoor, meestal aangetrek in verskillende Barbie- en Ken-uitrustings, ontvang belangrike stof tot nadenke met betrekking tot genderrolle.

Hulle het nie gedink hulle koop kaartjies hiervoor nie.

.............
Die film is egter nie deur ’n mannehater geskryf nie. Die fliek handel oor wat die samelewing van ons almal gemaak het, wat voortdurend deur ons geskep en in stand gehou word.
Dalk is die film bowenal geskryf vir spesifiek en in die besonder: werkende ma’s wat sien hoe hulle klein dogtertjies jong vroue word sonder dat die ma die vaagste benul het hoe om haar kind voor te berei op wat vir haar wag.
..............

Die film is egter nie deur ’n mannehater geskryf nie. Die fliek handel oor wat die samelewing van ons almal gemaak het, wat voortdurend deur ons geskep en in stand gehou word.

Dalk is die film bowenal geskryf vir spesifiek en in die besonder: werkende ma’s wat sien hoe hulle klein dogtertjies jong vroue word sonder dat die ma die vaagste benul het hoe om haar kind voor te berei op wat vir haar wag.

Die film neem sy loop en Ken keer terug na Barbieland voordat sy weer daar kan uitkom. Hy gaan verander alles (ek het nog nie eers oor die simbool van die perd en mag gepraat nie).

Tussendeur, terwyl ek Ken se reis beskou, wonder ek: Wie mag uiteindelik vir wie uitdink? Wie kan dit regkry?

Dalk lewer die film kommentaar op ander vlakke van agentskap ook – hoe realisties is dit as mense mekaar van ander kulture verbeel? Is dit moontlik? Hoe waarheidsgetrou is enige “Ander” wat deur ’n skrywer of skepper uitgedink word – in ’n fiksiewêreld waar sekere realiteite (ook deur die skrywer uitgedink) bestaan?

Ek dink aan dinge soos of agentskap van toepassing is slegs as die een wat hom die “Ander” verbeel die een is wat die mag en die hef in die hand het. Dalk, as die een wat nie normaalweg die mag het nie, begin om haar die “Ander” te verbeel, is daardie “Ander” so misplaas omdat die reëls van die samelewing deur eeue en generasies heen iets anders dikteer.

Iewers dans daar weer karakters in vrolike kleure op die skerm. Ten slotte is die fliek vrolik en prettig, al is dit plek-plek ’n bietjie prekerig om die kompleksiteite van die samelewing uit te wys. Miskien omdat dit onmoontlik is om dit in woorde vas te vang.

Of die film ’n werklike verskil sal maak behalwe om ontsettend baie geld te maak, betwyfel ek sterk.

In die storiegegewe is daar wel ’n slot vir Ken, hoewel dit dalk nie heeltemal is wat hy self in gedagte het nie. ’n Paar dinge gebeur voordat Ken tot die besef kom: ek hoef nie deur die oë van heldeverende vroue te wees wie ek is nie.

I am Kenough.

Die film is immers op die ou end net ’n storie.

Lees ook:

Barbie – ewe veel verheerliking, verwyt en vermaak

  • 2

Kommentaar

  • Ek het al na 'n paar reaksies op die fliek gekyk en van die dinge wat mense raaksien het my geskok, bv dat die een Ken die ander uitdaag om saam met hom bed toe te gaan. Hoe meer ek egter na die reaksies kyk, hoe meer besef ek dit word alles deur volwassenes geskryf (insuitende die fliek self) wat meer in die pop(/-pe) se lewens wil sien of doen as wat enige kind hom/haar kan verbeel - die pop is oorspronklik geskep om *mee te speel*, nie om kommentaar op ons kultuur te lewer nie.

  • Snotjan vannemerwe

    "Girls will be boys and boys will be girls
    It's a mixed up, muddled up, shook up world
    Except for Lola
    Lo-Lo-Lo-Lo-Lola"

    Die film lyk regtig nogal prettig. Raak nou lus om dit te kyk.

    Tradisionele genderrolle is seker 'n thing nog. Maar dit is, einde ten laaste, jou keuse of jy in so rol wil instap of nie. Of ten minste dan, of jy daarin wil bly vassit.

    Ons moet altyd sensitief en krities staan teenoor die heteronormatiewe orde waarin ons, teen wil en dank, gebore word. Vroeër of later is elkeen, in 'n meerdere of mindere mate, slagoffers daarvan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top