
Foto: Sandra Gabriel op Unsplash
.........
My ouers kon nie Barbie-poppe bekostig nie. Ek en my sussie het die knock-off pop gekry, die Cindy. Dalk maar goed so, want ek het Cindy se bene gebreek. Nie oor ek ’n ontluikende reeksmoordenaar was nie. Oor ek wou karretjies gehad het, maar dit is nie in 1978 toegelaat nie.
..............
My ouers kon nie Barbie-poppe bekostig nie. Ek en my sussie het die knock-off pop gekry, die Cindy. Dalk maar goed so, want ek het Cindy se bene gebreek. Nie oor ek ’n ontluikende reeksmoordenaar was nie. Oor ek wou karretjies gehad het, maar dit is nie in 1978 toegelaat nie. My gunstelingvakansie was wanneer my neef met ’n hele tas vol karretjies kom kuier. Ons het weke lank gebou aan ’n dorpie uit stofpaaie, huisies, damme en daai hele tas vol karretjies.
Ek het kort daarna verklaar ek wil ’n motorwerktuigkundige word, maar dit is nie in 1980 toegelaat nie. Ek wou op hoërskool houtwerk as vak neem, maar dit is nie in 1987 toegelaat nie. Ek moes hou by huishoudkunde en beige slaapsokkies brei. My sussie was wel dolgelukkig met popspeel, nuwe resepte probeer en allerlei naaldwerkprojekkies saam met my ma aanpak. Ek het vrede daarmee gehad.
Net soos ek vrede gehad het met die Barbie-film of Barbie-manie. As vroue wil optof in pienk en met mimosas in die hand die film gaan kyk, wie is ek om te kla? Hoekom gaan ek op Facebook myself as “Safe from the Barbie movie” merk? Of verklaar dat dit my irriteer? My verveel? Om pienk en sag en vroulik te wees is tog een faset van vrouwees? Of word dit nie in 2023 toegelaat nie? Watter aspek van vrouwees is tans onaanvaarbaar? Dit is maar een van die kwessies wat Barbie opper.
..............
Hoekom gaan ek op Facebook myself as “Safe from the Barbie movie” merk? Of verklaar dat dit my irriteer? My verveel? Om pienk en sag en vroulik te wees is tog een faset van vrouwees? Of word dit nie in 2023 toegelaat nie? Watter aspek van vrouwees is tans onaanvaarbaar? Dit is maar een van die kwessies wat Barbie opper.
..............
My enigste pienk sokkies was vuil, so ek is met zero pienk aan my lyf op ’n Sondagoggend filmteater toe. Soos voorspel, was al die sitplekke uitverkoop. Soos voorspel, was die gehoor meestal vroulik. Soos voorspel met Greta Gerwig aan die stuur, is Barbie ewe veel ’n verheerliking van die pop se nalatenskap as ’n veroordeling van dieselfde nalatenskap, maar bo en behalwe dit, fantastiese vermaak. ’n Rare verskynsel. Jy hoef nie die Zach Snyder / Justice League-verwysing of enige van die ander 300 verwysings te verstaan om die film te geniet nie.
Dit is ’n gebalanseerde blik op die pop wat 64 jaar gelede verskyn het. Poppe tot op daardie stadium was meestal babas, want dit was immers al wat toegelaat is in 1959. Vroue moes streef om ’n ma te wees. Barbie was dus vir daardie generasie ’n openbaring. Hulle kon hul eie geld maak, hul eie huis besit. Toe die verskillende beroep-Barbies verskyn, kon hulle droom om dokters, ruimteverkenners of motorwerktuigkundige te wees. Ken was die accessory.
Tog, Barbie se nou middel en groot borste het weer druk op vroue geplaas om ’n sekere voorkoms te hê. Daar was blykbaar ’n Slumber Barbie kompleet met dieetwenke en ’n skaal. Die skaal se gewig was op 55 kg gestel. Stel jou voor watse voorbeeld dit vir ’n vyfjarige meisie stel?
As mens vir ’n oomblik die Barbie-polemiek opsy skuif en na die film slegs as film kyk, is dit ’n besonderse poging. Mens kan sê die stel, die inkleding, die klere en dus wêreldskepping is maklik: Mens kopieer bloot die bestaande speelgoed, maak dit lewensgroot en mik ’n kamera daarop. Dit is egter nie so maklik nie. Dit vat talent om ’n wêreldbekende wêreld te herskep, dit outentiek en bekend te hou, maar ook nuut en verwelkomend te maak. Barbieland se plastiek, gekombineer met strokiesprentagtige animasie, perfekte beligting en minimale rekenaartruuks het die film meer tasbaar gemaak.
Die redigeerder verdien ’n Oscar-benoeming vir die aanmekaarplak van die kleurvolle, oordrewe, fabelagtige “oorlogstoneel” op die strand.
Ek kan aan geen ander aktrise dink om Barbie te vertolk as Margot Robbie nie. Sy is die beeldskone blonde, blouoog stereotiepe Barbie. Sy het ook die onblusbare positiwiteit en die amper leë houding wat die perfekte, plastiek-Barbieland van haar vereis. (Mattel meen Barbie moet amper persoonlikheidloos wees, want die kind wat met haar speel, moet ’n eie persoonlikheid kan projekteer.) Wanneer sy die patriargie van die regte wêreld begin verstaan, beweeg sy van haar oogverblindende glimlag na trane, en vang soveel van vroue se bestaan in daardie eenvoudige oorskakeling vas.
Robbie word slegs deur die nimlike Ryan Gosling oorskadu wat Ken met entoesiasme aanpak. Hy het kop eerste in die lafheid ingeduik. Hy is kostelik, of hy nou agter Barbie aanloop, die patriarige aangryp of besef patriargie is eintlik nie sy voorkeur nie. Hy sorg vir ’n diep emosionele verbintenis met die gehoor.
Barbie gun die pop die krediet wat sy toekom, maar spreek ook die skade aan wat sy verrig het. Gerwig vra ook hoe ons verder beweeg: Hoe lyk die nuwe vergestalting van die speelding? Wat word sy in 2023, of 2033, toegelaat?
Gaan kyk die film vir die antwoord.
Lees ook:

