Die stereotipering van mans

  • 5

Illustrasies: Mohamed Hassan op Pixabay

Die verskillende tipes mans: vrouetydskrifte floreer op hierdie soort joernalistiek en mans word met suspisie betrag – pasop vir die narsis! Elke tydvak het sy eie sielkundige versteurings. In die 80’s het mense aan Tourette-sindroom gely en was elke tweede Jannie of Sannie ’n onontdekte genius. En toe kom AGHV en bipolariteit. Die nuwe “siekte” en gonswoord van ons tyd is narsisme. Gure karakters word in koerante se kommentaarkolomme summier deur vroue uitgeskel as “narsiste”, en boeke oor gruwelhuwelike met manlike narsiste vlieg van die rakke af. Hiermee impliseer ek geensins dat persoonlikheidsversteurings soos hierdie een nie werklik bestaan nie – bloot dat die popsielkunde van die dag ongelukkig lei tot die onnodige en skadelike etikettering van onskuldige mense. Wat my terugbring na die kategorisering van mans – wat deur vrouelesers met opwinding, angs en talle vermanings bejeën word. Daar is die gewilde sosio-seksuele hiërargie van manne wat volgens die Griekse alfabet gekategoriseer word: Hulle kan ’n alfa-, beta-, delta-, gamma-, sigma, omega- of zetaman heet. Die alfaman staan boaan die apex, soos in die natuur: Die leier van die trop. Die betaman, op sy beurt, is jou tradisionele mr nice guy, saggeaard en met baie empatie. Dan, die deltaman verteenwoordig die ruggraat van ’n gemeenskap, die hardwerkende average Joe. Gammamans, op hul beurt, verwerp outoriteit, is avonturiers en reis en werk meesal nomadies of alleen. Die misterieuse en enigmatiese lone wolf word die sigmaman genoem; intelligent en introverties kan hy goed inpas, maar verkies om eerder alleen te wees. Ons almal ken die omegaman (al is dit uit films): Daardie wanaangepaste nerd met min sosiale invloed en met die funny stokperdjies, soos om strokiesprente te versamel. Die zetaman is die jongste toevoeging tot hierdie kategorieë en verteenwoordig die onvolwasse weergawes van al bogenoemde. Nie goeie verhoudingsmateriaal nie, maar groot pret as jy van manne met ’n Peter Pan-sindroom hou.

Dan is daar mense wat sal sê: Noem ’n graaf ’n graaf.

Die vroetelpappie: Dit is die ou ballie wat sy vrouens jonk verkies, en gewoonlik maak die ou ’n reuse-gat van homself. Sy gunsteling-sêding is “’n man is so oud soos die vrou wat hy voel”. Hy dra sy hemp (verkieslik ’n Hawaiian) oopgeknoop tot op sy maag om sy borshare, wat soos wintergras lyk, af te wys. En moenie die dik goue ketting op sy bors vergeet nie. Sy girlfriend is waarskynlik ’n bimbo (verkieslik blond) en wanneer die tweetjies stap, is die vroetelpappie se een hand die heeltyd op die vrou se boud. Hy sal ’n goedkoop tweedehandse sportmotor met ’n afslaandak koop om by sy nuwe status te pas – of met ’n speedo op die strand rondpronk terwyl almal simpatiek na sy ouerwordende hangkas staar. Hy mag ook nuwe jeugdige avonture aandurf soos bungee jumping, te hel met die ou knokkelknieë. Die vroetelpappie se metgesel dink hy het geld en sal tot die laaste sente uit hom suig. Hy het altyd ’n bloupilletjie byderhand en sal die pil se werking effektief time. Die karakter Alfie in die Woody Allen-film You will meet a tall dark stranger is ’n voorbeeld van ’n classy vroetelpappie. Die jong prostituut het hom behoorlik geruïneer! Die vroetelpappie het ’n ongeskrewe kontrak (en spell) met so ’n jong vrou. Sy sien hóm net as ’n bron van geskenke en geld en hý, op sy beurt, beskou haar bloot as ’n seksvoorwerp. Beide probeer wegkom met hierdie ruiltransaksie waarin elk so min moontlik aan die ander party wil bied. Die jong pop begin pruilbekkie, soos ’n dogtertjie, te neul as sy iets wil hê: Asseblief, kan ek daai hangertjie of pelsjas kry? Hierdie manne gebruik ball powder (in die geheim). Nie alle vroetelpappies is sugar daddies nie. Die polities-korrekte term vir sugar daddy is ’n glucose guardian. ’n Splenda daddy is ’n outop met ’n kleiner budget as ’n sugar daddy. ’n Zaddy, op sy beurt, is ’n sexy ouer man met hope styl. Weer die ding van kategorieë, sien.

.....
Sy gunsteling-sêding is “’n man is so oud soos die vrou wat hy voel.”
.....

Die speelgrondboelie: Hierdie ou verkoop reeds op sy honeymoon sy spanners vir drankgeld. As hy van die werk af kom, groet hy eers die huishulp voor hy hom verwerdig om sy vrou en kinders te groet. Hy sit saans vir ure in kroeë – hy ken elke kroeg in die stad – en as hy drieuur die nag tuiskom en sy vrou vra hom waar hy was, slaan hy haar. Hy verwys ook nie na sy vrou nie, maar na die bepaalde lidwoord, die vrou; die kinders. Die speelgrondboelie se kinders haat hom en kan nie wag om matriek te maak en pad te gee uit die huis nie. Ongelukkig word hulle later self boelies. Hierdie prototipe glo in lyfstraf en bliksem sy seuns dat die blou hale lê. Dié ou sal openlik voor sy vrou met ’n kelnerin flirt of spog met al sy trophies – hoeveel vroue hy al bed toe gesleep het. Hy gebruik graag woorde soos “wiks”, “spyker” of “raps” of al die ander trappe van vergelyking om sy viriliteit te beklemtoon. Daar is diamantsmouse se vroue wat al só gewoond is aan hierdie abuse, hulle ly aan Stockholm-sindroom en sal net ’n jagse giggel gee as die boelie vuilpraatjies maak. Hierdie vroue se oë staan permanent star-struck soos ’n bokkie s’n in ’n kar se kopligte.

.....
Daar is diamantsmouse se vroue wat al só gewoond is aan hierdie abuse, hulle ly aan Stockholm-sindroom en sal net ’n jagse giggel gee as die boelie vuilpraatjies maak.
.....

Die gesinsman: Hierdie man en sy vrou het ’n gesamentlike Facebook-rekening: Leon & Lisa van der Merwe. Hulle doen álles saam. Die gesinsman dra tradisioneel ’n hemp met sakke (verkieslik geruite hemde), rugbybroekies en plakkies. As hy uitgaan, dra hy die chino-broek van Woolies wat Vroulief vir hom vir sy verjaardag gekoop het. Hy ry ’n stasiewa om sy kroos oral heen te vervoer – in die ou dae was dit ’n kombi, maar kombi’s het intussen te duur geword. Leon & Lisa se enigste vriende is ander couples wat soos hulle is: Hulle kampeer naweke saam en deel selfs die septiese ablusieblokke met blymoedigheid, dié hegte gesinnetjies. Hulle praat graag van “ons tweetjies” en “julle tweetjies”. Hulle is model citizens wat nog kerk toe gaan. Die gesinsman het nie veel in die lewe bereik nie, maar sy kinders is sy alles. Hy het die sperm-lottery gewen (met hom as lotterer) en hy beklee ’n onsigbare werk iewers as klerk. Hy werk in ’n deurmekaar kantoor met kniplêers en ’n groot outydse calculator. (En as hy nie op kantoor is nie, sal niemand hom juis mis nie.) Teen lunchtyd maak hy sy kosblik wat Vroulief met liefde gepak het, oop en die walm van warm plastiek en polony sweef by jou verby. Een maal ’n week sal Vroulief vir hom ’n kaaswiggie of stukkie droëwors in sy kosblik pak as bederfie. Hy drink sy tee uit ’n outydse termofles, wat Vroutjie ook met liefde berei het. “A happy wife is a happy life” is die gesinsman se leuse. Wanneer hy saans by die huis kom, bespring sy kinders hom, want Derra is hulle hero. Die gesinsman se vrou speel ’n soortgelyke rol as hy; sy is net die vroulike weergawe van hom. Van sy vriende (voor die troue) het hierdie ou daarvan beskuldig dat sy vrou op sy kop sit en dat hy henpecked is. Die paartjie luister graag na plate van Juanita du Plessis, Bobby van Jaarsveld en Kurt Darren. En Steve! Ja, Derra spog met ’n selfie saam met Steve toe hy in die plaaslike skoolsaal kom sing het om geld in te samel vir die eersterugbyspan. Die gesinnetjie eet formeel aan tafel saans en hou hande vas met tafelgebed. Die gesinsman is ’n diaken en dra ’n windbreaker tydens huisbesoek. En Saterdae gooi hy ’n vleisie op die kole. A working class hero is something to be...

.....
Die gesinnetjie eet formeel aan tafel saans en hou hande vas met tafelgebed. Die gesinsman is ’n diaken en dra ’n windbreaker tydens huisbesoek.
.....

Die charismaat: Dit is die ou wat jou op ’n Maandagoggend inlig dat die Heilige Gees dit op sy hart gelê het om jou tot bekering te lei. Die charismaat graduate tydens sy grootdoop en daarná begin hy in vreemde tale te praat. Nie Afrikaans of Engels of een van die landstale nie – vréémde tale. Die charismaat is lief vir daardie Amerikaanse televangeliste se TV-kanale, maar kyk ook (plaaslik) die krokodilboer Rooies Strauss se manewales. Hy praat nie van “kerk” of “aanbid” nie, maar van “worship”. Sy daaglikse worship. En as jy vir hom ’n geskenk gee, dan “bless” jy hom (of hy vir jou). Die charismaat is as ’n reël ’n entrepreneur, want as jy met die evangelie kan smous, dan kan jy polisse, stofsuiers en huise ook verkoop. (Dis alombekend dat werklose herders goeie verkoopsmanne uitmaak.) Hierdie ou is ’n aanhanger van die welvaartsteologie en waarskynlik ’n bewonderaar van charismatiese leiers soos Benny Hinn of Ray McCauley. Hy hou van ’n flashy leefstyl en ry graag ’n Mercedes-Benz SUV. Want sy flashiness is mos alles blessings, sien. Die charismaat voel hom aangetrokke tot piramide- en ponzi-skemas. Hy het altyd ’n botteltjie roosolie byderhand om ander mense mee te salf. Op sy selfoon bewaar hy foto’s van sy grootdoop iewers in ’n obskure swembad, of snapshots uit Mighty Men-saamtrekke. Hy praat met ontsag van “Oom Angus”, en glo dat die man die hoof van die huis moet wees. Die charismaat bied dan graag mannekampe van sy eie aan, net nog een van sy talle skemas. Party van hierdie ouens is bloot glibberige snake oil salesmen en só skelm hulle sal die sweet van jou lyf afsteel en verkoop as drinkwater. Die charismaat se vrou is soos hy: Sanguinies en nié koekerig nie – inteendeel, eerder aan die wulpse (sexy) kant. Soos Gretha Wiid. Die vroulike ekwivalent vir Mighty Men is Worthy Women. En let tog op die treffende alliterasie, liewe leser... Baie charismate loop dan weg saam met die nuwe (charismatiese) liefie wat hulle tydens worship ontmoet het.

.....
Die charismaat voel hom aangetrokke tot piramide- en ponzi-skemas. Hy het altyd ’n botteltjie roosolie byderhand om ander mense mee te salf.
.....

Die konserwatiewe korrelkop: Hierdie man verteenwoordig die meer tradisionele, ouer Afrikanerman met regse sentiment: Hy klou vas aan doktrine, verlang na sy army-dae en na ses van die bestes. Dit álles het van jou ’n man gemaak. Hy is lief om te vertel hoe skoon Johannesburg se strate was in die goeie ou dae toe hy en ander seuns met hulle Choppers gery het vóór misdaad ’n skrikbewind begin voer het. Hierdie ou maak graag video’s van homself, geklee in ’n two-tone hemp en in sy bakkie waar hy die Volk toespreek. Hy glo die ondergang van Suid-Afrika is nie Ramaphosa, Zuma, Mbeki of Mandela se skuld nie, maar FW de Klerk s’n. Hy gebruik retoriek soos “Pankop de Klerk”, “De Klerk se wigte en teenwigte” en “die verraaier”. Suid-Afrika se hele geskiedenis kan verdeel word in die ja- en nee-stem, of gebeure vóór en ná De Klerk. Die korrelkop luister Pretoria FM, lees Maroela Media (nuus moet gratis wees) en glo die hele Media24 is een groot conspiracy. Hy is ’n vurige aanhanger van leiers soos Poetin en Trump. Die korrelkop se Engels is beroerd, en hy praat die rooitaal dan grinterig en so ágter uit sy keelgat uit. Hy kyk rugby, maar as die Springbokke verloor, is dit die swart spelers se skuld. Die korrelkop spreek jonger mans aan as “Boetie”. Hy is die meester van blameshifting, ’n doemprofeet en is lief om met schadenfreude te maan “ek het julle mos gesê” of “julle wou mos nie na my luister nie”. Die korrelkop sal altyd die donker wolkie in die silwer randjie raaksien en hom skaamteloos skaar by die Ander se opponente. Die korrelkop is die ou wat (in die geheim) yskaste vol Ivermectin opgegaar het tydens Covid.

.....
Die korrelkop luister Pretoria FM, lees Maroela Media (nuus moet gratis wees) en glo die hele Media24 is een groot conspiracy.
.....

Die pierewaaier: Die pierewaaier is die haan onder die henne en het ’n Latino-temperament, die ewige romantikus. Wanneer hy verlief raak op ’n vrou, is die eerste logiese stap om sy kar te verkoop om vir haar ’n verloofring te koop. Maak nie saak hoé lief hy vir sy kar is nie. Hy shower die vrou in sy lewe met geskenke – blomme, parfuum, sjokolade en romantiese ekskursies in eksotiese hotelle of uithangplekke. En selfs al het hy nie meer ’n kar nie, sal hy hike om by sy girlfriend uit te kom. Die pierewaaier se vrou is gewoonlik mooi en as die tweetjies saam is, sal hy bakarm, soos ’n body guard, langs haar loop. ’n Mens verwys na só ’n man as ’n “cling-on”. Dit spel besitreg en los uit! Sy is myne. Hierdie vrou leer vroeg in die verhouding presies watter knoppies om te druk om haar sin te kry. Hierdie ou sal ’n romantiese narratief rondom sy vrou skep, selfs al lê haar wortels iewers vergete in Boksburg-Noord se strate. Die pierewaaier herinner aan die held(e) in manlike sepies. Sy skadukant is egter dat hy vinnig paranoid raak oor ander mans en knaend vermoed dat sy vrou rondloop. En ás so ’n vrou dit sou waag om die pierewaaier te verneuk, dan is daar gewisse passiemoord of ’n liefdesdriehoek erger as in Puccini se libretto’s.

.....
Die pierewaaier herinner aan die held(e) in manlike sepies. Sy skadukant is egter dat hy vinnig paranoid raak oor ander mans en knaend vermoed dat sy vrou rondloop.
.....

Die bleeksiel: Hierdie man raak opgewonde oor nuwe tegnologie. Wanneer hy hoor van die jongste rekenaarprosesseerder of iPhone, begin hy jags te lag. Hy kry ’n kick daaruit om meer te weet as die gemiddelde persoon van tegnologie en gebruik graag terme en afkortings waarvan niemand nog gehoor het nie, behalwe nou vir sy ánder bleeksielpelle. Hy is slordig op homself en daar lê altyd papiertjies van takeaways van twee weke gelede op sy kar se passasiersitplek. Bleeksiele se karre is oud en vuil en kinders skryf graag “wash me” in die stof op die ruite. Hierdie ou sal van tyd tot tyd ’n daggazol vat, maar kan hoegenaamd nie drink nie en raak gekletter ná een bier. Baie bleeksiele is verslaaf aan rekenaarspeletjies en het ’n legendariese status in aanlyn gemeenskappe: Hulle is lief vir name soos “Dragon6” of “Cyber Demon”. ’n Groot deel van hierdie ouens se lewens bestaan uit die opbou van rekenaartegnologie wat telkens ’n moeiliker speletjie moet kan hanteer, soos grafika of die geheuevereistes van nuwe rekenaarspeletjies. Die bleeksiel se klere is slorsig en gaan deur as grunge. Sy meisie/partner is soos hy: Sy dra geen makeup of klere wat ’n fashion statement maak nie. Soos hy is sy ’n tegnokraat. Die bleeksiel dra draadjies in sy tande, selfs al is hy in sy 40’s. Hy word herken aan sy vreemde manier van lag – so skril, histrioniese laggie soos ’n falsetto of castrato, en dié ou kan agteruit lag.

.....
Hy kry ’n kick daaruit om meer te weet as die gemiddelde persoon van tegnologie en gebruik graag terme en afkortings waarvan niemand nog gehoor het nie, behalwe nou vir sy ánder bleeksielpelle.
.....

Die intellektueel: Hierdie man is begaafd en eksentriek en maak dit vroeg in die huwelik reeds duidelik dat hy alleen wil wees. Die intellektueel word dikwels misverstaan. Einstein het instruksies aan sy vrou gegee om nie aan enige papiere in sy studeerkamer te raak nie en om drie etes per dag vir hom te bring (in die studeerkamer). Hierdie eienskap is inderdaad van toepassing op die intellektueel, wat uitblink in die lettere, filosofie, wetenskappe of die kunste. Sy vrou is bloot funksioneel: Sy is die ma van sy kinders, sy hou die huis netjies en sy onthaal deftig wanneer die (vername) gaste kom kuier.

.....
Hierdie man is begaafd en eksentriek en maak dit vroeg in die huwelik reeds duidelik dat hy alleen wil wees.
.....

Meneer Ydeltuit: Hierdie karakter stamp sy vrou soggens weg voor die spieël. Hy gaan vir haaroorplantings, laserbehandelings en manikure. Hy word geken aan sy stywe broeke, duur mansparfuum en horlosies en sy slimfit-hemde. Hy het sy gestileerde haarstyl onlangs in ’n undercut gesny. Hy spandeer al sy tyd en energie aan sy image en jy tref hom daagliks in die plaaslike gym aan. Meneer Ydeltuit is soms baie suksesvol, byvoorbeeld as die hoof van ’n groot en gevreesde sekuriteitsmaatskappy of van ’n diamant-ponzi-skema. Hy verwys na homself in die derdepersoon en sy vrou is bloot vaal bybehore om te pas by die beeld wat hy uitstraal. Vroulief soen Meneer Ydeltuit se spieël námens hom as hy dit nie self doen nie. Sy is ’n vrou sonder persoonlikheid, en soos in die natuur is sy vaal en val die kollig op Manlief as die flambojante een. Hierdie man tap sy energie uit sy vrou se bewondering. Sy is heeltemal onder sy spell: Hy trou met ander woorde met sy grootste bewonderaar. Mevrou Ydeltuit sal ’n video van Manlief maak terwyl hy bad, of naderdraf met die air freshener wanneer hy op die troon sit.

.....
Hierdie karakter stamp sy vrou soggens weg voor die spieël.
.....

Mamma-se-seuntjie: Hierdie man se ma se nommer is op speed dial op sy selfoon vir ’n noodgeval. Sy ma is ook die enigste persoon wat hy vertrou met sy ingroeitoonnaels. Die vrou in sy lewe moes lankal reeds leer hoe om vir hom te sorg: Sy dra sy pille en pantoffels getrou aan en berei disse voor, nes Skoonma haar geleer het. (Onthou, hy ly aan irritable bowel syndrome.) Mamma-se-seuntjie is ’n groot baba wat die heeltyd getroos moet word en sukkel met die las van allergieë. Wanneer hy nies, snel sy vrou met ’n boks tissues nader. Sy hang soggens vir hom (nes Skoonma) die klere wat hy moet aantrek, op ’n hanger teen die kasdeur. Sy koop ook sy klere op Skoonma se instruksies. Dit is hierdie tipe man wat aan skoonma’s ’n goor naam gee – en as jy horror-stories oor skoonma’s hoor, aanvaar maar dis waar. Daar bestaan Facebook-groepe waar vroue hulle lot oor hulle skoonmoeders by mekaar bekla en wat reeds 100 000 lede sterk is! Mamma-se-seuntjie klik oor sy vrou by sy ma, dan gee Ma persoonlik vir haar ’n pep talk. Mamma-se-seuntjie het nooit sy Oedipale konflik oorwin nie en sleep dit saam tot in die huwelik en tot binne-in die slaapkamer.

.....
Onthou, hy ly aan irritable bowel syndrome.
.....

Die hoofseun: Ons almal ken daardie irriterende ou wat probeer om mense te organiseer en die program van aksie te bepaal. Gaan jy na ’n braai of met vakansie (enige sosiale aktiwiteit is van toepassing), dan tree die hoofseun na vore om namens die groep oor iets te besluit en vir jou voor te skryf wat jy moet doen. Hy dink hy is baie charismaties en het die alleenreg om mense te lei. Die hoofseun hou nie van teenstand nie en die alfaman is sy natuurlike vyand. Hy raak prekerig as ander hom opponeer, want hy glo hy is die onbetwisbare leier en wat hý glo, is die regte ding om te doen. Hierdie ou is lief daarvoor om vir mense te speech; hy’s ’n pyn in die agterent. Die hoofseun was daardie ou wat op skool by die juffrou gaan klik het. Die boelies het hom waarskynlik beetgehad, maar dit het nooit tot hom deurgedring dat die boelies hom bykom omdat hy ’n klikbek is nie. Die hoofseun het ’n onderwyser-mentaliteit: Onthou jy nog daardie dwis wat tydens Covid in ’n supermark op jou afgestap het en jou berispe het omdat jou masker nie reg sit nie? Tydens die Kaapse droogte het die hoofseun op Facebook na vore getree en gemaan om nie meer as 50ℓ water ’n dag te gebruik nie. Dit is die ou wat vir jou vingerwys as jy deur ’n oranje lig ry – en dis ook die vent wat sy ligte sal flits as jy nie binne die spoedgrens bly nie. Die hoofseun raak gou ’n selfaangestelde verkeerskonstabel of predikant. Hy is pedanties en kinderagtig, bly ver weg.

.....
Die hoofseun hou nie van teenstand nie en die alfaman is sy natuurlike vyand.
.....

Die loser: Wat noem jy ’n drummer sonder ’n girlfriend? Haweloos. Die loser is nie ’n slegte mens nie, hy is bloot useless. Die storie dat alle mense talente het, is nie waar nie. Die loser het géén talente nie. Hierdie drommel kan nie vir homself sorg nie en voer ’n parasitiese bestaan: Die vroue in sy lewe moet voorsien. Hy kan nie ’n werk behou nie, nada. Die loser is ’n gebore ongeluksvoël: Leen jy vir hom jou kar, stamp hy dit. En as hy jou huis oppas omdat hy haweloos is, dan sal daar wragtig ’n inbraak wees, maar dié ou slaap deur alles. En wanneer jy vir hom iets, enige iets, leen, weet maar hy gaan dit breek of verloor. Wanneer die loser in die omtrek is, gebeur daar slegte goed met almal.

.....
Hierdie drommel kan nie vir homself sorg nie en voer ’n parasitiese bestaan: Die vroue in sy lewe moet voorsien.
.....

En dan is daar die doodgoeie mans: Hulle volg al die mediatendense slaafs na en hulle prosesseer bloot alles wat van hulle verwag word. Baie van die doodgoeie ouens het nie ’n ware identiteit van hul eie nie. Daar is geen skerp hoeke of aberrasies in hulle personas nie. Stereotipering is ’n magtige wapen om mense mee te kategoriseer, maar met hierdie egalige persoonlikhede is daar nie veel om te sê nie.

Ter wille van die woke-heid skryf ek volgende maand oor die verskillende tipes vroue. Ek het reeds begin draft aan dié rubriek: Die eerste kategorie – vroue wat daarvan hou om mans te stereotipeer. Hou dié spasie dop.

Lees ook:

Die middeljarige metroman en ander manewales

Hippokrates se vier temperamentstipes: ’n parodie

Die nuwe ge-bot

  • 5

Kommentaar

  • Dan is daar al hoe meer mans wat hulle eie pad vat (MEN GOING THEIR OWN WAY - MGTOW) en nie deur hulle verhouding met vroue gebrandmerk wil wees nie. Die bogenoemde kategorieë maak mans net nuttig as hulle iets vir vroue kan doen of beteken. Dankie, maar nee dankie.

  • Naas, Naas, Naas...daar sal altyd mense wees wat na mekaar toe gravitate (ek leer nou Kaaps, na afloop my verlore jeug in die Vrystaat). En andere weer, sal mekaar nooit vind nie. Die veel meer gewigtiger bekommernis hier is: wat van interseks mense? Moet ons nie maar liefs waak teen alle vorme van bose binêre, en in jou geval heteronormatiewe, denke nie?

    Ek dink egter Nini lewer juis, op 'n speelse en versigte manier, goeie kritiek op, in haar eie woorde, die 'popsielkunde'.

  • Francois Verster

    Interessant, om al die kassies te bekyk en dan te wonder of jy jouself daar sal raaksien. Ook dat die kassies se bekrywings baie varieer, hang af wie dit identifiseer - so byvoorbeeld word die omega-man baie verskillend opgesom in verskillende bronne hieroor, kyk maar op Google. (Aanvanklik was die benamings meer ooreenstemmend met hoe wolwe in tropverband gesien word en die Omega-wolf en Omega-man was meer vergelykbaar). Natuurlik is die kassies ook verbeelde konstruksies, want mense wat perfek in een pas, sal beslis wanaangepas wees - die meeste van ons besit kenmerke wat oor grense strek.

  • Hans Richardt

    Ek lag oor die "kassies". My gewese oorlede vrou was elf jaar jonger as ek. My huidige vriendin se ma is paar maande ouer as ek. My huidige vriendin is ouma van twee.
    Ek is nie ryk nie, grys en raak bles.
    Ek dink dit gaan oor persoonlikhede en nie net oor seks of ydelheid nie.
    Vriende met voordele? Mans word stadiger ouer as vroue en dis feit. Daar is ook iets soos biologiese en chronologiese ouderdom. Ek wil beslis nie met 'n ou tannie vol skete en kwale sit nie en ek het geen chroniese kwale of medikasie nie.
    Dalk net gesond leef met 'n eenvoudige aktiewe lewenstyl?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top