............
In kort verteenwoordig die emosionele introvert die melankoliese temperament; die emosionele ekstrovert die sanguiniese temperament; die onemosionele introvert die flegmatiese temperament; en die onemosionele ekstrovert die choleriese temperament.
.............

https://pixabay.com/photos/hippocrates-sculpture-bust-figure-5564510/
’n Mens sien dikwels hoe Facebook-vriende die uitslag van daardie grappige aanlyn quizzes met groot fanfare op hulle mure plaas – hoog in hulle skik, alhoewel niemand juis reageer op dié nuusvoer nie. Hettie se totemdier is ’n leeu en vir Fanie hou 2023 ’n rowwe maar belowende jaar in Las Vegas in. Ja, vriende se apatiese houding jeens hierdie quizzes bevestig net die ou cliché dat die langste reis wat ’n mens kan onderneem, die soeke na jouself is. En dit is hiér waar persoonlikheidstoetse inkom.
..............
Ja, vriende se apatiese houding jeens hierdie quizzes bevestig net die ou cliché dat die langste reis wat ’n mens kan onderneem, die soeke na jouself is. En dit is hiér waar persoonlikheidstoetse inkom.
............
Die Griekse geneesheer Hippokrates (ca 460–370 vC) het heel eerste die vier temperamentstipes geïdentifiseer, naamlik die choleriese, sanguiniese, flegmatiese en melankoliese temperamente. In kort verteenwoordig die emosionele introvert die melankoliese temperament; die emosionele ekstrovert die sanguiniese temperament; die onemosionele introvert die flegmatiese temperament; en die onemosionele ekstrovert die choleriese temperament. Hippokrates het volgens hierdie protosielkundige teorie geglo dat dominante liggaamsvloeistowwe (humores) jou oorheersende temperament bepaal. In die geval van die choleriese temperament is dit geel gal, en by die melankoliese temperament swart gal. By die flegmatiese temperament word te veel slym afgeskei, terwyl die sanguiniese temperament gerig word deur bloed. Alhoewel die siening van liggaamsvloeistowwe as aanduider van die persoonlikheidstipes later verwerp is, word Hippokrates se beskouing rondom die vier temperamente vandag steeds as metafoor in psigometriese toetsing erken, en vind ’n mens die kernbegrippe terug in moderne persoonlikheidstoetsing soos die Enneagram of Personality, die Myers-Briggs Type Indicator en die Keirsey Temperament Sorter. Tog loop die beskouings rondom introversie of ekstroversie (ook ekstraversie) soos ’n algoritme deur die vier argetipiese persoonlikhede. Volgens Jung lê die onderskeid tussen persoonlikheidstipes in die bron en rigting van ’n individuele persoon se uitdrukking van energie. ’n Ekstrovert rig sy energie uitwaarts, en ’n introvert inwaarts. Daar is natuurlik ook ’n derde kategorie, naamlik ambiversie – hierdie individue se energie kan van binne óf buite kom, aangesien die mens basies op ’n kontinuum tussen intro- en ekstroversie beweeg. Hippokrates se vier temperamentstipes bly egter ’n gewilde pseudowetenskaplike benadering wat, vir die interessantheid, nog algemeen in Christelike lektuur gebruik word. Maar wat behels die vier temperamente?
............
Volgens Jung lê die onderskeid tussen persoonlikheidstipes in die bron en rigting van ’n individuele persoon se uitdrukking van energie. ’n Ekstrovert rig sy energie uitwaarts, en ’n introvert inwaarts. Daar is natuurlik ook ’n derde kategorie, naamlik ambiversie – hierdie individue se energie kan van binne óf buite kom, aangesien die mens basies op ’n kontinuum tussen intro- en ekstroversie beweeg.
............
Die sanguiniese temperamentstipe: In teorie is jy optimisties, sosiaal, mensliewend, spraaksaam, genotsugtig, wispelturig, verbeeldingryk en innoverend.
Maar in praktyk drink sanguiniese mense saans, voor hulle gaan slaap, ’n paar koppies koffie om vinniger te droom.
Sanguiniese mense neig maklik na toksiese ekstroversie. Breyten Breytenbach verwys in Katastrofes na daardie ewig optimistiese siele as dié wat “liggaamsoefeninge doen in die skemer”. Alhoewel toksiese ekstroverte jou graag met ’n selfhelpboek soos The law of attraction of lesse in dankbaarheid wil bearbei, voer hulle positiwiteit té ver. Dit is inderdaad ook nodig om te treur en deur die kwota dood, verlies of trauma wat die lewe vir jou uitdeel, te werk. Sanguiniese mense beskik oor ’n arsenaal vaardighede wat van hulle gewilde mense maak. Baie is bloot oppervlakkige party animals en hedoniste en die woorde bubbly of fun loving is van toepassing op hulle. In daardie hoekies vir eensames projekteer alleenlopers hulself gewoonlik as die sanguiniese persoonlikheidstipe – álmal het dieselfde belangstellings, soos dans, die buitelewe, of die mooi dinge in die lewe. Maar in praktyk is die sanguiniese tipe gebore drama queens en eindig hulle liefdeslewens straks in passiemoord.
Hierdie persoonlikheidstipe is lief vir praat en hulle praat dan ook teen die spoed van wit lig, wat van sanguiniese mense gebore afslaers of sportkommentators maak. Maar al die geesdrif en warmte ten spyt, het hierdie mense die aandagspan van ’n goudvis en is die meeste op Ritalin. Hulle beskik oor hope geesdrif, maar ’n gebrek aan deursettingsvermoë. ’n Sanguiniese persoon is veeleisend. Hulle bel nie ander mense nie; nee, hulle video call, dan swem hulle bakkies die ene oë en ore jou hele skerm vol. En nee: Nie almal hou van video calls nie. Verkoopsmense, motiveringsprekers en charismatiese pastore is as ’n reël sanguinies. Gretha Wiid is beslis sanguinies. Hierdie temperamentstipe is lief vir oversharing en stuur aanhoudend foto’s (en video’s van hulself) wat jou foon laat sing soos ’n slot-masjien in ’n outydse casino. Sanguiniese siele se motto is “yes, we can” of “bly net positief”.
Die melankoliese temperamentstipe: In teorie is jy stil, geslote, ernstig, emosioneel intens, waaksaam (of agterdogtig), buierig, gefokus, kreatief en pligsgetrou, en verkies jy om onafhanklik te dink of werk. Nogal ’n smorgasbord vol teenstrydighede.
Maar in praktyk en in die burgery van die emosionele introverte was Sartre se bekende uitspraak, “hell is other people”, nog nooit so waar soos vir die melankoliese temperamentstipe nie. In ’n wêreld waarin ekstroverte die oorhand het en regeer, het dié emosionele introverte ’n moeilike tyd. Kyk ’n mens na ’n program soos Boer soek ’n vrou, raak jy bewus van die subtiele stigmatisering van introverte. “Sy hou haar bietjie eenkant. Sy is in haar dop gekruip.” Om “eenkant” te wees, maak jou gewis nie gewild nie – sosiale druk en die ongeskrewe protokol van sosiale konvensie verkies ekstroversie bó introversie. “Hy is inkennig ...” Of: “Ons wil haar ook deel maak van die groep – siestog, sy is tog so stil.” Introverte moet hulself altyd verdedig, want skynbaar lyk dit soos ’n anomalie om jou eie (intelligente) geselskap bo dié van ander te verkies. Introversie word dikwels as ’n swakheid beskou. Daar bestaan selfs selfhelpboeke vir introverte om in ’n ekstrovert-gedrewe wêreld te oorleef, byvoorbeeld The introvert survival guide. En dit is inderdaad die melankoliese tipe wat die eise van sosiale druk die meeste aan hul bas voel. Jy herken ’n melankolikus in sosiale situasies aan sy lomp interaksie; sy kop knik soos buikspreekpop s’n en hy gee ’n gipsglimlag. Maar onthou: Die melankoliese temperamentstipe is baie sensitief. Hierdie mense is egter ook passief-aggressief en beskik oor die temperament van ’n landmyn. Hulle is lief daarvoor om te onttrek en te broei of te sulk. ’n Melankolikus met issues se forte is om ander mense vuil kyke te gee (terwyl hy swyg soos ’n sfinks, natuurlik). Alhoewel hulle slagoffers van selfviktimisasie kan wees, is melankoliese mense besondere fyn observeerders. Op hulle beste is hulle puik analiste, of blink hulle uit in skeppende velde as komponiste of digters. Koos Doep was waarskynlik melankolies. Hierdie temperamentstipe se gunstelingkykstof is espionage-reekse soos The X-files of Blacklist. Op hulle slegste klouter melankolikusse op koshuisdakke en maai sonder rede ’n klomp kinders of studente af, óf hulle ontaard in berugte reeksmoordenaars. Die skadu-argetipe waarvan Jung gepraat het, is inderdaad ook Dexter se “dark passenger”. Waarskuwing: Die melankoliese temperamentstipe sukkel om konflik te hanteer. Melankolikusse se motto is “los my uit”.
Die choleriese temperamentstipe: In teorie is jy ’n gebore leier; taakgeoriënteerd, ambisieus, wilskragtig, aggressief, prakties en psigologies robuus. Jy werk goed saam in ’n groep (waarvan jy gewoonlik die leier is), en kom met blink oplossings vir probleme vorendag. Jy is die een wat kalm bly en kophou tydens ’n noodsituasie.
Maar in praktyk het choleriese mense ’n vinnige humeur en is geneig om baasspelerig te wees. Die wêreld word gedomineer deur politici – die onemosionele ekstroverte – wat namens die ontredderde kuddes besluite moet neem. Choleriese mense is mal oor konflik; inteendeel, hulle floreer daarop. En as daar nie genoeg konflik in hulle onmiddellike omgewing is nie, dan pick hulle fights om hulle gewaande superioriteit te bewys. Tydens ’n sosiale krisis, soos die COVID-19-pandemie, skryf die choleriese tipe graag ope briewe aan politici of koerante. Dit is só dat die skryf van ope briewe amper psigotiese afmetings aangeneem het tydens Covid. Met die tabak- en drankverbod het hierdie briewe (in Afrikaans, nogal) kleintjies gekry en is die gewese Minister van Gesondheid, Zweli Mkhize, en Kopdoek-Dlamini-Zuma aangevat en uitgehaal oor hulle beweerde wanbestuur. Choleriese mense raak sigbaar veral tydens sosiale krisisse. Dink byvoorbeeld aan die Kaapse droogte van 2018. Skielik, uit die bloute, tree daar ’n magdom virtuele hoofseuns en -dogters na vore om vir ánder voor te skryf wat om te doen. En ons almal onthou seker daardie doos wat tydens Covid in ’n winkel op jou afgestorm en jou berispe het dat jou masker nie reg sit nie. Ja, dit hét soms gebeur dat jou masker bloot soos ’n nagedagte aan jou ken hang.
Hierdie temperamentstipe beland dan ook graag en vinnig in gevegte op die sosiale media, en hulle lys blocked contacts is langer as Pablo Escobar se hitlist. Die choleriese prototipe se liggaamsvloeistof, aldus Hippokrates, word gekenmerk deur geel gal – dit is seker waar die idioom “om gal te braak” vandaan kom. ’n Choleriese man druk nie jou hand nie, hy pomp jou hand.
Op hulle beste is cholerici charismatiese, hardwerkende en selfopofferende leiers. En op hulle slegste is hierdie mense narsiste en speelgrondboelies. Die skadukant van die choleriese temperamentstipe is ’n magsjagsheid wat van hulle diktators maak – Poetin is ongetwyfeld choleries. ’n Mens bewonder egter die choleriese prototipe vir hulle ambisie, want hulle klim die leer na sukses met rasse skrede. Wanneer beurtkrag drieuur die nag toeslaan, sal ’n choleriese ou met ’n inverter kliphard AC/DC of “I’ve got the power speel” net om sy bure te treiter. Omdat hy kán. Cholerici se motto is “nou luister jy fokken mooi vir my” of “ruk jou reg”.
Die flegmatiese temperamentstipe: In teorie is jy ontspanne en rustig, kalm, na binne gekeer, geduldig, verstandig, vreedsaam, standvastig, konsekwent en selfgenoegsaam.
Maar in praktyk dink flegmate hulle beoefen Zen, maar inderwaarheid is hulle zef.
..........
In teorie is jy ontspanne en rustig, kalm, na binne gekeer, geduldig, verstandig, vreedsaam, standvastig, konsekwent en selfgenoegsaam.
Maar in praktyk dink flegmate hulle beoefen Zen, maar inderwaarheid is hulle zef.
............
“Tap into your inner zef!” sê Die Antwoord mos. Flegmate verbeel hulself hulle is omgewingsaktiviste, maar hulle idee van protes is om petisies die wêreld vol te stuur, want hulle het nie die ruggraat om eens met ’n plakkaat iewers te gaan staan nie.
Die liggaamsvloeistof wat hierdie onemosionele introverte afskei, is slym (phlegm), vandaar die woord flegmaties. Inderdaad: Flegmate is so stadig en vervelig soos slakke. En ja, wanneer ’n karalarm onbeheerst in die verte begin skree, kan jy maar weet die eienaar van die kar is ’n flegmaat.
Op hulle beste is hierdie temperamentstipe begaafde kuberkroeks. Ons almal ken daardie wanaangepaste nerd wat as IT-geek met sy VPN die wêreld vol surf en meer op die dark web uithang as wat hy die daglig aanskou. Die flegmatiese tipe is gebore hackers en beland meesal op die FBI se lys van gesoekte misdadigers – tót die FBI hulle werf om vir die regering te gaan werk.
Flegmate is vervelige maar goeie mense: so koel en kalm soos ’n bergstroom, en die vriendelikes onder hulle ruik na fabric softener. Hulle raak passievol oor belastingvorms of oor die studie van insekte. Wanneer hulle ’n CAPTCHA-kode moet invul, weier ’n webwerf gewoonlik om te aanvaar dat hulle nié robotte is nie.
Die flegmatiese temperamentstipe is van nature skaam en tik eerder laaang whatsapps as wat hulle ’n voicenote sal los. Hulle bars in sweet uit wanneer hulle hul kamera moet aansit tydens ’n Teams-meeting, want hulle vermy die kollig teen elke prys. Riaan Cruywagen is ’n voorbeeld van ’n flegmaat met selfvertroue. Toe iemand tydens ’n onderhoud vir hom gevra het wat hy in sy vrye tyd doen, het hy geantwoord: “Blokkiesraaisels. Ek is mál oor blokkiesraaisels.” Flegmate kry merkwaardige dinge reg. Riaan het in dekades se tyd weinig verouder, en aartsvader Abraham, wat ook flegmaties was, het pa geword toe hy om en by 100 jaar oud was. “How to blend in” of “how to hide in plain sight” is waarskynlik ’n gepaste motto vir die flegmatiese tipe.
Alhoewel ons almal uit ’n kombinasie van hierdie vier temperamentstipes bestaan, is daar wel ’n dominante profiel teenwoordig by elk. Maar om bloot te sê “Gert is melankolies” of “Griet is sanguinies”, is nie akkuraat nie. Menswees is meer kompleks as dit. Ek wens ons was nie almal so nie. Maar ons is.


Kommentaar
Pittig en insiggewend met hope humor. Baie lekker om te lees. 🤓
Baie interressant.
Hou daarvan.
Baie oulik. Lekker gelag met tye.
Ja, jinne. Kompleks - en beslis oorvloeiings - en rus en rustig alleen en privaat en net bietjie afsit en afskakel en lekker slaap is seker wyse raad vir alle tipes mense tussenin alles, en sekerlik meer so vir introvert flegmatiese tipes wat voorheen baie temperamenteel was, ook uiters emosioneel en oor sestig, darem met tye.
Wel.
Ek het nou vergeet wat ek verder wou skryf. Sal maar ophou anders tik ek dalk 'n ellelange watookal.
Sonder om te bel.
Oy vey.
Ek het die vier tipes temperamente deur DISC leer ken. Dominant, Influencer, Steady, Cautious. Het die gratis Test123 aanlyn vir werksaansoekers laat doen. Dit gee insig in hul sterk en uitdagende eienskappe. Ek het dié artikel baie geniet, dankie daarvoor. In ligte luim geskryf, maar nogtans met pitkos.