Die middeljarige metroman en ander manewales

  • 2

Foto: v2osk op Unsplash

Die Chinese weet. Die Chinese weet watse florerende mark daar vir middeljarige mans wat ’n bietjie TLC nodig het, bestaan. Daar is selfversorgings- en kosmetiese produkte om van te kus en te keur. Die dae wat ’n man na sweet of Aqua Velva ruik, is onherroeplik verby. Nou ja, professor Miller Moolman het swaar aan sy middeljare begin dra en daagliks ’n draai op Takealot gegooi om hierdie groeiende en opwindende mark vir die ouer man te verken. Die enigste ooreenkoms tussen al hierdie gadgets was dat dit USB-herlaaibaar was.  

Om vandag met ’n kaalgeskeerde kop rond te loop, was nog nooit so maklik nie. Danksy die Chinese is daar nou ’n spognuwe skeermes met sewe koppe beskikbaar – nie drie, of vier, of vyf, of ses nie – nee, séwe koppe. Met fittings om ’n welige bos neushare of ander lastige liggaamshare te verwyder. Manscaping. In “Drie kaalkoppe eet tesame” verwys Jan Rabie na drie korrupte argetipes wat saam eet (meer bekend as “trogvreet” ter plaatse). “Die ligte van die restaurant gloei metaalagtig op die kaal gepoleerde krone ...” Moolman het gedink aan die kabinet en gewonder wat die honourables gebruik om hulle krone te laat blink, want hy het lankal reeds uitgevind dat gewone Vaseline ’n man se kop die beste laat glans. Nadat hy een aand ’n onderhoud met Anton LaVey op YouTube gekyk en dié gebieg het dat gewone petroleumjellie sy onheilige kroon so laat blink, het hy hierdie beproefde raad begin volg. En is sedertdien LaVey ewig dankbaar vir sy bydrae tot die mensdom.

..........
Wanneer die ouderdom grys kwashale in die bokbaard maak, is daar ’n produk met die naam Clairol Natural Brown wat die jare fnuik.
..........

Moolman het natuurlik ook ’n netjiese bokbaardjie gedra en ’n klein geheimpie aangeleer: Wanneer die ouderdom grys kwashale in die bokbaard maak, is daar ’n produk met die naam Clairol Natural Brown wat die jare fnuik. Die ou professor het dus deur die loop van ’n maand al hoe gryser geword en dan skielik eendag (gewoonlik op ’n Maandag) weer tien jaar jonger gelyk. Wat sy kollegas in die teekamer vir mekaar gefluister het, weet nugter alleen, maar hy was oortuig dat niemand sy geheim kon ontrafel nie.

Wanneer ’n man ouer word, is een van die eerste goed wat meegee, sy sitvlak. Mans sónder agterstewe besef nie aldag hoe gelukkig hulle is nie; vra maar die evasgeslag, wat spook om hierdie rondinge in toom te hou. Miller Moolman is een van daardie mans. Sy broeke gly alewig agter af en bondel dan soos ’n krop slaaiblare op sy afwesige agterstewe. Nadat hy gatvol geraak het om sy broek op te trek, het hy kruisbande begin dra – maar gevoel soos ’n spotprentkarakter uit TO Honiball se werk. Uiteindelik het hy die moed gehad om ’n fake butt aanlyn te bestel. Daar was baie variasies op die tema, maar die woorde “padded butt” het die meeste in die advertensies voorgekom. Ons held het besluit op “men breathable butt lifting underwear”: ’n vals, of nagemaakte agterstewe wat kom in die gedaante van ’n stywe onderbroek met gespierde knopboudjies, soos dié van Bryan Habana. Maar van stryk af het die nagemaakte agterstewe probleme opgelewer. Moolman het sy nuwe onderbroek, sitvlak en al, te hoog opgetrek en ’n wipgatsjimpansee het uit die spieël na hom teruggestaar. Néé. Maar toe hy die kontrepsie laat sak, hang die vals boude ónder die boudwange soos by iemand wie se niere op raaiselagtige wyse uitgesak het. Dit was dan ook tydens ’n belangrike vergadering by die universiteit dat die ou akademikus sy gat gesien het. Hy  het opgestaan om toilet toe te gaan. Hy het egter nie besef dat hy skynbaar sy regterboud stukkend gesit het nie – sy nuwe agterwêreld was gel-padded. Sy regterboud het teen sy been afgeloop. Hy het verstom gestaar na die pienk jellie wat teen sy skoen saamkoek. En skielik het hy onthou dat ’n mens in die tagtigerjare sulke pienk haarjel in groot flesse gekry het – nóg jel, nóg jellie – ja, ’n drillerige pienk gedoente het om sy skoenhak geklodder. Die simmetrie van sy agterstewe was daarmee heen en hy het oorbluf gedink dat Breyten iewers na boude as “boontjielobbe” verwys. Om sy verleentheid te verberg, het hy toe maar soos iemand wat ’n oudiënsie met koning Charles het, rugwaarts na die deur bly loop en só die kamer verlaat. Nee, oudword is gewis nie vir sissies nie.

..........
Maar selfs hiérvoor was daar ’n gadget, gereed om aanlyn bestel te word: laserbehandeling wat jy tuis kan volg om moesies en ander ongewenste ouderdomsvlekke te verwyder.
..........

Want sien, wanneer ’n man oud word, shapeshift alles. Ook sy gesig: Die oë word kleiner, die kakebeenlyn verloor sy soepelheid, die neus word groter van die drank en daar groei varings uit die arme ou se ore. ’n Man se wenkbroue verhard in lang voelspriete soos dié van ’n insek en daardie gewraakte neushare raak opeens deel van die gesig. En as jy regtig sonder genade oud word, val jou gesig potholes in. Moolman het met die verslae geduld wat net Vader Tyd kon bring, die nuwe sproete en vlekke op sy lyf betrag. Maar selfs hiérvoor was daar ’n gadget, gereed om aanlyn bestel te word: laserbehandeling wat jy tuis kan volg om moesies en ander ongewenste ouderdomsvlekke te verwyder. Weer eens kompleet met USB-koppeling.

Daar is ook ander produkte wat die metroman kon aanskaf om sy voorkoms op te kikker – eufemisme vir die ouderdom. Want die middeljare kom soos ’n dief in die nag en voor jy jou kom kry, moet jy jou leesbril opskaal van 1.0, 1.5, 2.0, 2.5, 3.0, 3.5 – en in uitsonderlike gevalle, 4.0. Die koop van funky leesbrille was ’n gunsteling op Moolman se nimmereindigende aanlyn wenslysies. Daar is byvoorbeeld die literêre voorkoms; die Etienne van Heerden-brilraam wat ’n variant op die halfronde skilpaddopraam is; of die Antjie Krog-raam, wat op sy beurt ’n variant op die John Lennon-raam is. Moolman het egter ’n hekel gehad in daardie groot swartraam-mafiabrille soos dié wat Carl Niehaus deesdae dra en wat herinner aan die mafiabase in die ’70’s se rame.

Toe, onafwendbaar, begin die ou prof se stryd met sy tande. Wanneer ’n mens jonk is, is jou lááste gedagte dat jou tande in jou middeljare die gees gaan gee. Tande is nie biologies ontwerp om lewenslank te hou nie. Wel, 40 jaar gelede het Moolman met sy fiets geval en al vier sy voortande uitgebreek. Mettertyd is die tande opgebou en gekroon asof die ongeluk nooit plaasgevind het nie. Tot onlangs toe. Moolman het in ’n chicken mayo-broodjie gebyt en met verbasing sy twee voortande wat in sy middagete agtergebly het, opgemerk. En terstond ’n noodafspraak by sy tandarts geboek.

..........
Dus, as ’n argeoloog eendag my liggaam opgrawe, dan ontdek hy hierdie een perfekte tand in my mond, het Moolman onthuts geredeneer, waarop die tandarts vir hom ’n plaatjie met netjiese tydelike valstande gemaak het.
..........

Die eerste ding wat ’n tandarts gewoonlik aan ’n mens wil afsmeer, is ’n titaan-implantaat met die belofte dat dit “vir 500 jaar sal hou”. Dus, as ’n argeoloog eendag my liggaam opgrawe, dan ontdek hy hierdie een perfekte tand in my mond, het Moolman onthuts geredeneer, waarop die tandarts vir hom ’n plaatjie met netjiese tydelike valstande gemaak het. Om tandarts toe te gaan, is egter vir die ou prof ’n traumatiese ervaring. Hy ly aan ’n gag-refleks en sy tong land kort-kort in ’n stoeigeveg met die tandarts se boor ... Dan is daar daardie tandheelkundige tampons en rubbers wat aan deurstuite herinner wat die dokter in sy mond indruk om die kakebeen mooi wyd oop te hou. Drink ’n kalmeerpil voor jy tandarts toe gaan, was Moolman se vrou se wyse raad. Want hy het geen vreemde voorwerp in sy mond geduld nie.

Dít was net die eerste uitdaging.

Enige roker sal ná ’n tandartsafspraak vir jou vertel hoe moeilik dit is om met ’n verdoofde bek te rook. Moolman, wat gewoond was daaraan om sy sigaret tussen sy tande vas te byt, moes dit nou met gevoellose gums doen; die sigaret het slap in die wind gewapper. Soos ’n kar met ’n pap wiel, het hy gedink: Mens wil met geweld die binneband vervang, maar jy kan nie. Kap die ciggie skewebek soos Dirty Harry, het hy gedagdroom en die movie posters wat van Clint Eastwood ’n ikoon gemaak het, in sy geestesoog herroep. O, die ou cowboy met daai songeskreefde oogplooi wat so gevaarlik vir jou kyk! Nou het Moolman sy valstande in sy baadjiesak begin dra en slegs tydens belangrike universiteitsvergaderings ingesit. Hy het onthou dat sy ouma snags haar valstande in ’n glas water voor die bed gesit het, en het op dergelike wyse sy tande in ’n koffiebeker bewaar. Maar hy het een oggend op pad werk toe besef hy het sy tande vergeet. Hy het sy vrou gebel, wat hom meegedeel het dat sy dit in ’n koffiebeker op sy bedkassie ontdek en dit toe vanselfsprekend saam met die ander skottelgoed in Sunlight liquid gewas het. Dit was reeds te laat vir Moolman om om te draai. Nou ja, soos mens kon verwag, het hy uiteindelik sy kosbare valstande verloor, vermoedelik waar dit iewers in een van die universiteit se komiteekamers uit sy broeksak geval het.

..........
Om die blokkiesraaisel in Moolman se voortande te verdoesel, het hy voor die spieël geoefen om misterieus af te kyk soos ’n karakter in ’n Jack Vettriano-skildery.
.......... 

Intussen het hy snags die moontlikheid van ’n permanente kunsgebit via die internet ondersoek, maar die gedagte aan ’n onnatuurlik-egalige, spierwit klawerbord het hom ontmoedig. Nee; tande moet natuurlik lyk, en waarom lyk dit of ouer mense dieselfde templaat gebruik wanneer dit by tande kom? Om die blokkiesraaisel in Moolman se voortande te verdoesel, het hy voor die spieël geoefen om misterieus af te kyk soos ’n karakter in ’n Jack Vettriano-skildery. Maar hy was ’n man met gravitas, en hierdie affektasies het nie by hom gepas nie. Nee; nou het hy sy ondertande uitgestoot soos Gwede Mantashe en besluit dat die bulldog-voorkoms hom beter pas.  

Die ou professor se belangstelling in tandheelkundige gadgets het toegeneem en hy het ultraklankpoleerders en tuisprodukte, met hakies soos insekte se monddele, bestel om die rookvlekke af te krap, tandartsspieëltjie en al. Nóg twee tande in sy gewraakte laglyn het afgebreek en Moolman se kom-en-gaan tandarts toe het amper epiese afmetings aangeneem. Hy moes die rektor oor twee dae van aangesig tot aangesig sien vir ’n belangrike vergadering, en die tandarts het die twee uit tande weer aan twee wankelrige buurtande vasgegom, maar dié het intussen weer uitgebreek. Nou het Moolman gespog met ’n passion gap waarop menige inwoner van Bishop Lavis jaloers sou wees. Intussen het die dok ’n tydelike brug, wat van oogtand tot oogtand span, ontwerp. Met die belofte dat ’n Maryland-brug op pad is ... en in Moolman se dagdrome het hy gesmaail met ’n wit flitsglimlag soos ’n aanbieder op kykNET. Maar steeds was dit het einde niet. Die ou prof moes bedags baie praat – meesal Teams-vergaderings – en dit was nie lank nie of hy het agtergekom dat sy brug loskom: Eers maak die spoeg so ’n fluitgeluid voor sy tande begin vibreer en vir die eerste maal het hy besef dat ’n mens letterlik die tande uit jou mond kan praat. Uit pure desperaatheid het Moolman snags sy soektogte rondom tande – of die afwesigheid daarvan – voortgesit. Dalk het die internet ’n vinniger en slimmer oplossing gebied, byvoorbeeld die grill(z) wat die gangsters in die Wes-Kaap as fashion statement dra. Grill kom van ’n motor se “radiatior grill”, en soos die fabrikaat ’n eiesoortige aansig aan ’n motor verleen, só spog die draer van grill met ’n unieke gebit. Jy kan ’n chroom-, silwer of goue grill bestel ... óf ’n reënboogkleurige glimlag, soos ’n paar uitspattige krale. Nuwe tande vir slegs R250 (!) (en duurder). Néé; die weerbarstige en flambojante grill-tande het die ou prof afgeskrik. Maar op ’n Goth-website het hy ontdek dat jy ’n stel spierwit vampiertande kan bestel, prominente oogtande en al. Hy het amper die bestelling geplaas: Dracula-tande is seker beter as niks nie? Veral as jy jou vrou se naelvyl kan gaps om die slagtande minder prominent te maak. Maar hy het hom betyds bedink. Dan eerder weer tandarts toe om sy tydelike brug vas te kry ... As ’n nagedagte het ou prof bespiegel of hy nie Covid-fobie moet pleit en die vergadering met ’n masker moet aandurf nie. Nee. Mens kan ook nie vir ewig agter ’n masker skuil nie.

Dat kapitalisme aanhoudend nuwe behoeftes skep, is inderdaad waar. Dít het Moolman terdeë besef. En opsluit sy nuwe waterflosser vir sy komende Maryland-brug bestel. Én sy bestelling by die tandarts bevestig: Hy soek groot tande soos sy jeugheld, Bryan Ferry, en ja, dit moet A1-wit wees. Want sien, die Chinese weet. Daar is geen prys op ’n verlore jeug nie. Die tragikomedie van oudword speel uit in nimmereindigende aanlyn wenslysies en gadgets wat troos – en deel word van die steeds groeiende mark vir selfversorgings- en ydelheidsprodukte vir ouer mans.

  • 2

Kommentaar

  • Miller Moolman

    Wat die skrywer nalaat om te sê is dat die “men breathable butt lifting underwear” ook ander probleme gee. Wat presies met "breathable" bedoel word is onduidelik, m.a.w. hoe haal 'n mens se agterstewe asem?

    Die probleem met bogenoemde produk is juis die feit dat dit baie raserig is indien 'n mens se agterstewe dit sou waag om 'n sug te laat. Dit maak 'n harde vibrerende klapgeluid.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top