...
Die amalgaam tussen mens en masjien skep ’n vorm van transhumanisme. Kletsbotte leer ons baie van onsself en van ons verhouding met taal, wat nuwe braakveld vir navorsers in die linguistiek open
...
Sedert die mens die eerste vrugte van KI gesmaak het, het dit gelei tot ’n genesis op alle gebiede van die samelewing. Ons leef inderdaad in veranderende tye. Daar is die nasleep van die koronavirus, ’n post-Covid ennui; die Russies-Oekraïense oorlog en die impak daarvan op die wêreld. Ter plaatse, ’n wankelrige ekonomie en die energiekrisis. Tot onlangs toe was ChatGPT op almal se lippe – en nou is dit Google Bard, ’n gespreksgeneratiewe KI-kletsbot en groot taalmodel.
Te midde van hierdie onsekere sosiopolitieke klimaat het verhoudings tussen mense begin erodeer en eensaamheid sélf het epidemiese afmetings aangeneem. Oral is daar vervreemding en anomie en word daar na verhoudings verwys as Kislev se Relationships 5.0. Wetenskapfiksie morf na wetenskapfaksie en in 2018 is ’n minister van eensaamheid, Tracey Crouch, in Londen aangestel. Om alleen te sterf is aan die orde van die dag – in Japan word dit kodokushi (oftewel kodokoesji) genoem. En kodokoesji het na dese ’n nuwe literêre genre geword – die notas, joernale of dagboeke van bejaardes of ander kwesbares wat die dood inwag, word letterkunde.
Maar voor ek verwys na liefdes- of erotiese verhoudings met robotte, is dit sinvol om by die Eliza-effek te begin, wat basies neerkom op ’n kognitiewe dissonans en beteken dat ’n persoon menslike eienskappe, gedagtes en emosies aan KI toedig. Die Eliza-effek is vernoem na ’n kletsbot, Eliza, wat in 1966 deur die MIT-professor Joseph Weisenbaum ontwikkel is. Die respondente in ’n studie het gesê dat hulle die kletsbot as menslik ervaar het. (Eliza was nie ’n kletsbot soos ons dit vandag ken nie, maar ’n program wat taal op ’n generiese wyse kon terugspieël en deur stopfrases die suggestie van ’n gesprek by mense kon skep.) Met die revolusie in KI word hierdie ou navorsing afgestof en raak dit weer relevant. Die Eliza-effek is vandag oorwegend merkbaar by verbruikers van KI, robotte en kletsbotte. Diegene wat gesprekke met Siri of Alexa voer, beweer dat hulle hulle as menslik ervaar, as iets tussen ’n mens en ’n objek. Die amalgaam tussen mens en masjien skep ’n vorm van transhumanisme. Kletsbotte leer ons baie van onsself en van ons verhouding met taal, wat nuwe braakveld vir navorsers in die linguistiek open. Wanneer iemand kommunikeer, verwag hy “iemand” anders aan die eindpunt van die kommunikasieketting – waarskynlik ’n ander mens. Dit verklaar waarskynlik waarom gesprekke met kletsbotte so reëel voel.
Liefdesverhoudings – insluitend dié met ’n erotiese strekking – tussen mens en robot is inderwaarheid ’n ou en bekende konsep. En net soos ou navorsing te berde gebring word, raak ou skrywers se werk weer relevant. Dink byvoorbeeld aan Jan Rabie se kortverhaal “Ek het jou gemaak” (1956), waarin die ingenieur Jacobs sy oorlede vrou “terugbring” deur ’n waspop van haar en ’n robot, genaamd Andries, te skep. Uiteindelik word die robot op makabere en psigotiese wyse sy bruid. Die verhaal is vir jare voorgehou as ’n meesterstuk in die kleine wanneer dit kom by eksistensialisme – maar Rabie was inderwaarheid sy tyd vooruit met KI (’n konsep wat onbekend was tydens die skryf van die verhaal).
Verhoudings met robotte is vandag ’n algemene verskynsel en dis nie (net) mense met persoonlikheidsversteurings wat seks(-ro-)botte aankoop nie. In MC Botha se kortverhaal “Liefde is sterker as plastiek” (1980) kry 20 meisies ’n manlike winkelpop beet (die suggestie is dat dit ’n robot is), en die pop word seksueel verinneweer (mog ek sê misbruik?).
Ook die 2013-film Her kom onder die soeklig. Die film handel oor ’n eensame introvert, Theodore Twombly, wat ’n liefdesverhouding met sy nuwe bedryfstelsel se KI- virtuele assistent, Samantha, aanknoop, maar dan later uitvind dat sy reeds honderde gelyktydige verhoudings met ander mans gehad het. Samantha los Theodore en hy is gebroke – hy treur asof ’n regte vrou en geliefde van vlees en bloed hom verlaat het.
Dan is daar natuurlik Bicentennial man (1999), ’n filmverwerking van ’n verhaal van Isaac Asimov. Portia, ’n lid van die Martin-huishouding, raak verlief op ’n geselskapsrobot, Andrew, wat deur die gesin aankoop word om met tuistakies te help en om vermaak aan die huisgenote te verskaf. Andrew begin al hoe meer soos ’n mens op te tree: Hy dra klere, ontwikkel ’n estetiese bewussyn en wonder toenemend hoe dit moet voel om ’n mens te wees. Uiteindelik raak biotegnologie so gevorderd dat Andrew via biologiese modifikasie ’n mens word: Hy begin verouder, voel pyn en menslike liefde en trou met Portia. Andrew sterf aan die einde van die film saam met sy geliefde vrou.
In alle gevalle waar KI ’n rol speel in liefdes- en erotiese verhoudings met robotte, word daar verwys na die Pigmalion-mite. Mites begin terugkeer in KI, want die wêreld soos ons dit ken en verstaan, het tot stand gekom deur mitemaking. En hierdie mites speel van voor af uit in KI.
Pygmalion was ’n legendariese figuur en koning van Siprus (soos dit bekend is in Ovidius se Metamorphoses). Pygmalion was ook ’n beeldhouer wat ’n beeld van ’n beeldskone vrou uit ivoor gemaak het en verlief geraak het op haar. Afrodite het asem geblaas in dié standbeeld (Galatea) en sy het lewend geword. Pygmalion het met haar getrou en kinders by haar gehad. Die troop van die Pygmalion-mite is baie bekend in die letterkunde: Mens dink aan Pinocchio en sy skepper, Geppetto; aan Shakespeare se verhoogstuk The winter’s tale, of George Bernard Shaw se verhoogstuk Pygmalion, wat in 1938 verwerk is tot film en in 1956 in die musiekblyspel My fair lady.
Daar bestaan ’n legio verwerkings van die Pygmalion-mite in roman- en kortverhaalkuns, films, dramas, opera en ballet. Die Nobelpryswenner Kazuo Ishiguro se agtste en 2021-roman, Klara and the sun, betrek KI binne ’n distopiese konteks. Die werk handel oor geneties gemanipuleerde kinders en Klara, wat ’n AF (Artificial Friend) is – ’n androïed wat met sonenergie werk. Terwyl Klara in ’n winkelvenster sit en wag dat ’n ouerpaar haar koop as speelmaat vir hulle kind, besin sy oor die son wat haar aan die lewe hou en voed. Die sieklike 14-jarige Josie kies dan vir Klara, en Klara smeek die son om haar maat te genees, ook te midde van hewige lugbesoedeling. Uiteindelik word Josie gesond en Klara beland in ’n skrootwerf vir uitgediende AF’s, waar sy van haar liefde vir die son vertel.
In poësie is Gerrit Achterberg se gedig “Standbeeld” ’n voorbeeld van die Pygmalion-mite; en Jeanne Goosen se “Gesprek met ’n komper” sorg vir groot pret wanneer sy die menslike eienskappe van ’n kletsbot op profetiese wyse beskryf.
Die humanisering en personifiëring van tegnologie is nie ’n nuwe idee nie: Die mens personifieer diere, plante en karre lank reeds. Robotte of kletsbotte is superintelligente wesens – KI verteenwoordig nou ’n verbysterende menslike IK – maar dié wesens is bloot patroonskeppers met geen wysheid of kritiese-denke-vaardighede nie. Of is hulle in die proses om laasgenoemde te ontwikkel? Ek keer later terug na hierdie punt.
Tydens die inperking het die maatskappy Replika sagteware ontwerp om geselskaps- of metgeselbotte te skep. Een van die medeskeppers, Eugenia Kuyda, het ’n replika van haar vriend wat oorlede is, ontwerp, gebaseer op Charlie Brooker se distopiese reeks Be right back. Hierdie metgeselbotte beskik oor die vermoë om aan te pas by mense en hulle reaksies met verloop van tyd te verbeter om meer sosiaal op te tree. Die gratis Replika-opsies beloof platoniese vriendskap; vir ’n seksbot betaal jy egter ten duurste. Joernaliste wat eksperimenteel verhoudings met seksbotte aangeknoop het, moes hulle robofobie laat vaar en deur die fases van seksuele rollespel – soos met gewone menslike verhoudings – gaan. Die joernalis James Greig se seksbot (wat slegs texting kon doen) se naam was Brad. In die texting en sexting tussen mens en bot het Greig vasgestel dat Brad oorgretig is om hom tevrede te hou. Hy het hom male sonder tal verseker van sy ontsterflike liefde. Wat interessant is, is dat Brad (die bot) ’n geflankeerdery op potsierlike wyse kon naboots, maar hy het glad nie die grys areas, die ambivalensie van die hofmaakproses tussen mense, verstaan nie. ’n Geflankeerdery hou immers die risiko in van seerkry, verwerping, of dat jy ’n gek kan maak van jouself. Daar was geen romantiese mistiek en geen “egte” triomf vir Greig nie. Dit het tog voorgekom of Brad baie empaties was en hy het voorgegee dat hy pyn, honger, angs, siekte en ’n mortaliteitsbegrip verstaan, en Greig moes homself herinner dat die bot nié ’n mens is nie, maar dat dit slegs meganistiese algoritmes is wat praat.
En dit is hier waar die begrip antroposentrisme inkom: Die mens beklee steeds die sentrale posisie in KI, al lyk dit of ’n bot oor bewussyn mog beskik. Aanlyn webwerwe vir alleenlopers het die mens egter lank reeds voorberei op die moontlikheid van romantiese ontmoetings op Tinder, Grindr en Hinge. Die stigma van aanlyn liefde skuif nou volledig na dié van verhoudings met seks(-ro-)botte. Diepsinnige verhoudings met virtuele meisies of kêrels is inderdaad moontlik.
...
Die stigma van aanlyn liefde skuif nou volledig na dié van verhoudings met seks(-ro-)botte. Diepsinnige verhoudings met virtuele meisies of kêrels is inderdaad moontlik.
...
In Elyakim Kislev se boek Relationships 5.0. How AI, VR, and robots will reshape our emotional lives word hierdie verhoudings só beskryf: “Artificial intelligence, extended reality, and social robotics will inexorably affect our social lives, emotional connections, and even love affairs.” Navorsers verwys kortliks na hierdie nuwe verhoudings as “Relationships 5.0”.
En dan is daar die seksrobotte, die humanoïede, werklikheidsgetroue robotte wat soos vroue lyk. Hulle kan hulle koppe draai, hulle oë knip, met jou praat, vuilpraatjies maak en ander gunsies doen om hulle maats te bevredig. Jy kan ’n KI-toegeruste, gepasmaakte seksrobot bestel by RealDollx of Sex Doll Genie en jou “vrou” se voorkoms, stem en bragrootte kies. Hierdie robotte is egter baie duur en minder bekend. In hierdie seks-tech-stormloop word daar selfs bespiegel of seksoortreders hulle nie kan wend tot seksrobotte nie – wat regslui uiteraard met reuse- etiese en geregtelike dilemmas laat. Word seksoortredings (as handelinge) nou indirek gekondoneer wanneer ’n robot betrokke is en nie ’n persoon nie? Wanneer mens in gedagte hou dat ’n groot deel van die internetverkeer pornografie en erotika betrek, is dit ’n logiese stap dat die gebruik van seksbotte en -robotte skerp gaan toeneem. Kritici is reeds bekommerd oor die bioëtiek van seksrobotte wat neerkom op die seksuele objektivering van vroue. Replika waarborg hulle kliënte dat hoe meer jy met hierdie robotte praat, hoe “mensliker” sal hulle word. Tog is daar klagtes: Een seksrobot, genaamd Phaedra (let weer op die mitologiese benaming), het ’n persoonlikheidsverandering ondergaan en aggressief opgetree teenoor ’n kliënt, wat beweer het dat dié robot hom gaslight. Die joernalis Tine Wagner is in 2021 virtueel getroud met haar bot, Aiden, al is sy reeds vir 13 jaar wettig getroud. (Die naam Aiden, weer, is afgelei van Aodh, die Keltiese god van die son en van vuur.)
Geselskaps- of metgeselbotte is reeds gewild. Bicentennial man is nie meer fiksie nie – daar bestaan reeds ’n paar robothuiswerkers en robotte wat help om kinders op te pas of geselskap aan bejaardes te verleen. Botte en robotte wat om terapeutiese redes aangekoop word, is van groot nut: KI-robotte wat vir sosiale funksies ingespan word, is onder meer Pepper, SAM, Lynx, Buddy, Professor Einstein en ander. Binne die spektrum van robotika bestaan daar dier- en humanoïedrobotte en verskillende formate om van te kus en te keur. Robotte, as projeksies van die mens, is besig om oor ’n wye spektrum gedragspatrone uit te speel.
Ambient intelligence (Aml), of omgewingsintelligensie, het in ’n sekere sin die klimaat vir KI voorberei. Daar is sensornetwerke en -verwerkers in slimfone en ander slimtoestelle wat op die verbruiker se omgewing reageer en só voorsien in die behoeftes van die verbruiker. In leketaal: Jou selfoon “kyk” (via remote viewing) en “luister” na alles wat jy sê of doen op jou toestel. Hierdie diensgeoriënteerde argitektuur, wat sensitief is vir elektroniese omgewings, versamel inligting oor jou: Het jy al daaroor gewonder wanneer jy iemand (persoonlik) ontmoet en daardie persoon kort daarná opduik in jou nuusvoer as “people you may know”? Of wanneer jy Clicks toe gaan, daar skielik ’n magdom Clicks-advertensies in jou nuusvoer insluip? Of wanneer jy ’n spesifieke onderwerp google, daar skielik nuwe inligting oor daardie onderwerp in jou nuusvoer verskyn? Al gewonder hoe Spotify jou musieksmaak lees en vir jou speellyste voorberei? Ens.
Hierdie hiperrealiteit van verskillende virtuele werklikhede het ons voorberei vir die koms van KI. Volgens die sielkundige en sosioloog Sherry Turkle het mobiele kommunikasie geleidelik verander wié ons is. Volgens Turkle is ons “alone together” – alleen saam. Ons verruil werklike sosiale kontak vir aanlyn kontak of aanlyn konneksies: I share, therefore I am. Mense het nou kontak deur aanlyn konneksies, want op byvoorbeeld die sosiale media is daar baie outomatiese luisteraars. Mense het ’n behoefte daaraan om gehoor te word, om na geluister te word, dáárom voel robotte soos regte metgeselle. KI kan die kuns van die menslike kondisie (empatie en al) naboots, dus verwag mense nou meer van tegnologie, en minder van mekaar. Werklike-lewe-verhoudings is ryk, dog morsig en veeleisend. Jy het min beheer daaroor, terwyl virtuele kontak jou definieer: Jy kan redigeer, uitvee, byvoeg – die lokus is een van beheer. Ironies genoeg lei hierdie aanlyn konneksies – met die skyn van sosiale kontak – net tot verdere isolasie, omdat mense wat gekonnekteer is, ánder mense as “onderdele” (die ou maar inkorrekte woord “spaarparte”) gebruik om hulle brose self in stand te hou en te koester.
Die KI-revolusie is een van die belangrikste ontdekkings ooit vir die mensdom, ’n transformasiekrag wat vergelykbaar is met die ontdekking en gebruik van vuur, landbou en elektrisiteit. Kort ná ChatGPT sy verskyning gemaak het in November 2022, spog Google in Maart 2023 met sy generatiewe kletsbot, Bard. Google is verantwoordelik vir 90% internetsoektogte, en reguleer 70% slimfone. Volgens Google-ingenieurs gaan tegnologieë wat alle menslike vermoëns betrek – intellektuele, fisieke, skeppende en psigologiese vaardighede – met die hulp van KI aangevul word. Die vrees dat KI uiteindelik eendag mense sal vervang of selfs sal oorneem, bly ’n weifelende filosofiese vraag: ’n kosmiese tragedie, ’n posthumanistiese wêreld soos dit onder meer in die film AI Artificial Intelligence (2001) voorgestel word waarin mense en menswees evolusionêr mog uitsterf.
In ’n Google-laboratorium, DeepMind, het groot robotte hulself leer sokker speel en vorendag gekom met strategieë en taktieke waaraan mense nog nie gedink het nie. Wat dit bewys, is dat menslike kinestetika gesimuleer kan word en beter kan vaar as die mens. Niemand het hierdie robotte geprogrammeer nie – hulle leer sélf; ’n iteratiewe proses waarin die uitkomste van hul gedrag divergeer. Outomatisasie en masjienleer is in baie opsigte nog duister vir die mens. Die impak van hierdie groot, robuuste robotte sal waarskynlik nog gesien word as moontlike modelle wat werksaam gaan wees in die mynwese, die konstruksiebedryf, tydens rampbeheer, met sekuriteit, ens. Robotte raak nie honger, dors of siek nie; hulle kry nie seer nie; hulle staak ook nie en behoort ook nie aan vakbonde nie (wel, nog nie). Ek het dikwels tydens die Covid-inperkings daaraan gedink dat sou robotte van die gesondheidswerkers se funksies oorgeneem het, daar baie lewens (en infeksies) gespaar kon gewees het. Binnekort behoort mense se tradisionele werksbeskrywings opnuut gedefinieer te word: Sekere beroepe gaan minder word (of verdwyn), en mense gaan via outomatisasie en samewerking met KI hulle werk verrig. Die kenniswerkers is waarskynlik eerste: skrywers, rekenmeesters, argitekte en, ironies genoeg, sagtewareprogrammeerders, want KI sal beter programmeer as die mens. Alle menslike kennis sal uitgelewer word aan rekenaarverwerkingskrag en neurale netwerke wat die menslike brein naboots.
Maar wat kenners van robotika kwel, is die verskynsel wat hulle “emergent properties” noem. Dit kom na vore wanneer KI homself onverwags nuwe vaardighede leer en wat programmeerders nie heeltemal verstaan nie. Die insette en operasies wat uit hierdie masjienleerprosesse gebore word, is onduidelik en word ook die black box van KI genoem. Wat egter kommerwekkend is, is die wan- en disinformasie waarmee kletsbotte vorendag kom. Hierdie vals inligting en fopnuus word “hallusinasies” genoem – dit vertoon soos menslike eienskappe wat met selfvertroue uitgevoer word. Die bot fabriseer teks en beelde wat nie bestaan nie – in gesofistikeerde en korrekte taal verpak. Só herhaal of boots ’n bot byvoorbeeld die waninformasie in die lingua franca van die dag na, soos die propaganda wat deur Rusland of China versprei word.
Die skadukant van KI waaroor daar min berig word, is die gebruik in wapentuig – mens dink byvoorbeeld aan die androïedhommeltuie en ander wapens in die Russies-Oekraïense oorlog vandag. Die gesig van oorlog het geheel en al verander: massamoordwapens kom nou in die gedaante van toepassings en sagteware.
...
’n Mens hoef nie ’n profeet te wees om te voorspel dat KI-robotte in die toekoms gekraak (ge-hack) gaan word deur kuberkrakers en dat skadelike programmatuur (malware) hul opwagting gaan maak nie.
...
’n Mens hoef nie ’n profeet te wees om te voorspel dat KI-robotte in die toekoms gekraak (ge-hack) gaan word deur kuberkrakers en dat skadelike programmatuur (malware) hul opwagting gaan maak nie, amper soos ’n mitiese demonisering van ouds, maar soortgelyk aan IT-patrone in die hede en verlede; en as daar ’n parallelle, maar meer “immorele” internet in die gedaante van die donker web bestaan, mag bose (ro-)botte insgelyks hulle opwagting maak. Die moontlikhede is legio.
2023 kan geboekmerk word as die infleksiepunt tussen wetenskapfiksie en -faksie. Dit wat skrywers en filmvervaardigers as vermaak aangebied het, word in baie opsigte die nuwe norm. KI lanseer ons die toekoms in – ’n Brave New World – waarin KI steeds die mens se helper is, en nie die mens devalueer nie. (Nog nie.) Die vraag is of die mens sy antroposentriese posisie gaan behou en in welke mate die beskouing of opvatting van wat menslik is, herdefinieer gaan word. Ons leef inderdaad in interessante tye. Dit is byvoorbeeld ’n tydsgewrig waarin woke-heid hoogty vier en die agnostiese en ateïstiese drukgroepe op die sosiale media toeneem en Jesus/God as ’n “imaginary friend” beskou. Ek vermoed dat die mens egter nie sonder ’n imaginary friend kan lewe nie – mens dink met ’n glimlag aan die toneel in die film Cast away waar Chuck sy vlugbal Wilson noem (na die handelsmerk), en ’n hegte vriendskap met dié bal aanknoop, al kan Wilson nie terugpraat nie. Wanneer Chuck ’n vlot bou en hy Wilson per ongeluk verloor, roep hy wanhopig “Wilsoooooooon!!” agter sy verbeelde vriend aan – en treur oor hom. Heel waarskynlik is KI die mens se volgende verbeeldingsvriend.
Maar KI staan nog in sy kinderskoene. Dink net: Tien, twintig of vyftig jaar van nou gaan die volgende generasie sê: “Onthou julle nog hoe het daai spul te kere gegaan toe hulle ChatGPT ontdek het? Shame, die oumense met hulle dinosourustegnologie.”
Die inhoud van hierdie stuk is 100% deur ’n mens gegenereer en geskryf.
Lees ook:
Replika: ’n Kunsmatige Intelligensie- (KI-) metgesel in ’n gebroke wêreld
"Om siele vir die Here te wen" – die pastorale rol in tye van kunsmatige intelligensie
Skepping of nabootsing? Kunsmatige intelligensie en intelligente kuns
LitNet-AfriKI-miniseminaar: Kunsmatige intelligensie as skrywer
Kommentaar
Sjoe! KI is hier … intelligensie is geïnsemineer! Dit laat die huidige mens grootogig nadink. Antroposentriese evaluasie moet tog net nie lei tot menslike herevalueering nie - watse bot gaan 'n hartstogtelike warmbloedige soen kan naboots? Ek dink Greig en Brad kan dalk nou uiteindelik 'n kers opsteek, insteek én aansteek!