Koos Kombuis vertel hoe hy deur ’n outomatiese stofsuier oortuig is dat kunsmatige intelligensie wel bestaan!
My vrou het besluit ons noem hom Robbie.
“Robbie?” het ek verbaas gevra. “Dis glad nie ’n familienaam nie. Ons ken niemand met die naam Robbie nie!”
“Robbie die Robot,” het sy geantwoord. En haar woord was finaal.
Meteens het ek dit ingesien. En het ek alles verstaan.
Robbie die Robot het binne ’n oogwink – of ten minste, binne die bestek van ’n paar dae – ons hele huishouding getransformeer. Niemand is nié aangeraak deur Robbie se teenwoordigheid nie. Nie eens my troeteldiere nie. Veral nie my troeteldiere nie.
Miskien moet ek begin by die begin.
Dit was so kort na Kersfees, toe die ergste babelaas van die feestyd begin wyk het en die babelaas van die nuwe jaar nog ’n vreesaanjaende toekomsvisie was, dat Kannetjie my meedeel: “Ek het na ons begroting gekyk, en ek weet dis nie werklik moontlik nie, maar ek het besluit om te belê in ’n nuwe stofsuier.”
“’n Nuwe stofsuier? Daar’s niks fout met ons ou stofsuier nie!”
“Kyk hoe lyk hierdie huis,” sê sy toe. “Vandat die kinders uit die huis uit is, kan ons nie die plek alleen skoonhou nie. Ons kort hulp. Daar is te min tyd in ’n dag, veral met beurtkrag wat ook nog so baie ure steel elke week.”
“Dis waar,” het ek geantwoord. “Een van die dae moet ek weer begin rubrieke skryf en daar is ’n roman wat moet klaar kom. Ons sal moet trek na ’n kleiner huis …”
“Wag tot jy die stofsuier sien wat ek bestel het,” het sy gesê met ’n vonkel in die oog. “Dis nie ’n gewone stofsuier nie …”
Nuwejaar se babelaas het skaars gewyk, of Robbie word afgelewer. In ’n kartondoos. By ons voordeur.
Dit het te klein gelyk. Hoe kan ’n hele stofsuier in so ’n boksie pas? Dit het gelyk asof hulle pas ’n family size-pizza afgelewer het eerder as ’n nuwe stofsuier.
My vrou het die boks na haar kantoor geneem en in groot geheimhouding die nuwe kontrepsie aanmekaar gesit. En toe, weldra, kom die Groot Onthulling.
Toe ek die een oggend by ons sitkamer instap, toe staan hy daar. Op die vloer, tussen die dooie Kersboom en die rusbank, in die hoekie waar ons tydskrifrakkie altyd gestaan het. ’n Ronde, wit ding, minder as ’n meter in deursnee. Kompleet soos ’n klein vlieënde piering wat geland het. Hy het ligte snorkgeluidjies gemaak. Die twee katte het nuuskierig nader gestaan en aan hom geruik. Ons geriatriese hond, onbewus van alles om hom soos altyd, het eenkant op sy kussing lê en slaap, onbewus van die herrie wat binne enkele oomblikke in ons huis losgelaat sou word.
“Ek programmeer hom op my foon,” het Kannetjie gesê. Toe, baie dramaties: “Robbie, word wakker!” Sy het ’n knoppie gedruk, en die vlieënde piering het ontwaak. “Hy werk ook tydens beurtkrag,” het sy met ’n knipoog bygevoeg.
Met ’n ligte gesuis het hy begin beweeg, weg van die hoekie waar hy vas was aan die kragprop, en na die middel van die vertrek begin beweeg. Heen en weer, soos ’n Kreepy Krauly op die bodem van die swembad. Met sulke kort swart voelertjies wat heen en weer swaai; ’n meganiese insek.
Die twee katte was verstom.
Kietsie het laat spaander, en haar met ’n wilde geblaas uit die voete gemaak, uit deur die stoepdeur tuin toe.
Mienkie het op ’n veilige afstand gaan sit, met die liggaamshouding wat sy altyd inneem as sy ’n tarentaalkuiken bekruip. Al die hare op haar rug het regop gestaan. Hier was duidelik ’n nuwe indringer in die huis wat hom wil laat geld as kompetisie vir die bestaande orde. Maar hy kon nie uit-figure watter spesie van ’n dier dit is nie.
Robbie is heen en weer, onder die koffietafel deur, min gepla deur die ontsteltenis van die katte. Totdat hy teen die slapende hond bots.
My hond se naam is Piet. Hy is veertien jaar oud. Hy laat hom nie sommer verwilder nie. As hy slaap, dan slaap hy. Dis omtrent al wat hy doen. Maar toe Robbie sy ronde neus in Piet se lies indruk met ’n ongeduldige meganiese gegons, was dit vir Piet een te veel. Hy het luidkeels geprotesteer, op sy maag omgedraai, en met sy pote in die lug begin skop soos ’n kewer wat onderstebo geland het. Dit het my gekos om Piet fisies op te tel en in ’n ander kamer te gaan neersit, op ’n veilige afstand van Robbie af.
Binne ’n paar dae het dinge begin normaliseer. Robbie het ’n interne kaart van ons hele huis gememoriseer so ver soos hy geloop het. Hy kon self die sitkamer kry, en die voorportaal, en die sonkamer, en die gastewoonstel, en die kombuis, en die badkamers en slaapkamers.
Elke keer as ons graag ’n vertrek gestofsuig wou hê, het my vrou die betrokke area op haar foon gemerk, en Robbie het self soontoe sy job gedoen en, wanneer hy klaar was, op sy eie teruggeseil na sy lêplekkie langs die rusbank.
En dit was waar oor die beurtkrag, ja. Hy kon selfs tydens die lang donker ure werk wanneer Eskom ons in die steek gelaat het, hoewel hy duidelik niks van beurtkrag gehou het nie. Elke keer wanneer die krag afgaan, het Robbie luidkeels geprotesteer, en in ’n blikkerige stemmetjie bevel: “Please switch on the power.”
Mettertyd het hy geleer om geduldig te wees.
Dis nou ’n week later, en die diere het kalmeer. Robbie is ’n volwaardige lid van die gesin. Hy doen sy ding en ons doen ons ding.
Die katte en die honde ignoreer hom nou. Ek kan my nie meer ’n lewe sonder Robbie voorstel nie. Hy bespaar ons geweldig baie tyd en moeite. Ek voel skatryk wanneer ek in my leunstoel sit en lees en Robbie gly verby. Ons massiewe ou stofsuier staan vergete in sy hoek in die kombuis, obsoleet.
Dit bring my oplaas by ’n filosofiese debatspunt: Tot watter mate gaan KI in die toekoms deel van ons lewens word?
Ek was tot nou toe geweldig skepties oor mense wat beweer hulle het computers geleer om gedigte en kortverhale te skryf. Hoe kan sulke dooie masjiene ooit die emosies van mense ervaar? Dis tog onsin.
Maar Robbie het my behoorlik aan die dink gesit.
Ek weet dis grotendeels ’n illusie, maar Robbie vóél vir my soos ’n bewuste entiteit. Ek hou van hom soos van ’n vriend. Wanneer ek en my vrou iewers heen uit is, en ons vat lank om terug te keer huis toe, sê ek vir haar goeters soos: “Robbie wonder seker waar ons is?”
Ons ken almal mense wat hulle karre name gee.
Ek het nou wel nooit my eie kar ’n naam gegee nie, maar, om heeltemal eerlik te wees, ek het ’n spesiale band met my eie motor. Verlede jaar toe ek deur ’n slegte emosionele patch gegaan het vir ’n week of twee, was dit asof my kar dit aangevoel het. Hy het aanhoudend gebreek. Intussen het ek my lewe weer op koers gekry, en my kar gedra hom. Toeval? Waarskynlik.
En tog.
Moet ’n toestel in die besit wees van ’n neuronetwerk van selle en lewende DNS as voorvereiste van bewussyn?
Bome en plante het nie breine nie, en tog het talle eksperimente al bewys dat hulle in staat is om hul omgewings waar te neem en positief of negatief op sekere impulse te reageer.
En in die algehele afwesigheid van lewende selle, mitochondria, ’n bloedsomloop, al daai goed wat ons assosieer met lewende wesens? Kan bewussyn spontaan groei onder die regte omstandighede?
Ons ken almal die Gestalt-beginsel wat sê dat die somtotaal van ’n aantal faktore iets anders is as bloot die aantal faktore. Voeg ’n klomp komponente bymekaar, en dit word iets groters, iets anders.
Ek het ’n vriend wat teelepels, messe en vurke kan buig deur bloot hard te konsentreer. Ek het nou nog ’n paar van die teelepels in my laai wat deur hom gebuig is. Hy hou eenvoudig die teelepel in sy hand vas, kyk stip daarna, en na ’n ruk begin die metaal krul en draai. Binne ’n paar minute is die teelepel om homself geknoop. Sonder enige fisieke intervensie.
Toe ek hom vra hoe hy dit doen, sê hy: “Jy moet eers die teelepel vra of hy wil geknoop wees. Anders werk dit nie.”
Oukei, dit klink na ’n strontstorie.
Maar wat van die I Ching?
Ek speel al jare lank I Ching. Soms gebruik ek muntstukke. Die val van die muntstukke in ’n spesifieke volgorde en kombinasie bepaal watter van die 64 heksagramme, elkeen met sy ses onderafdelings, uitgewys word in verhouding met mekaar. Enigiemand wat al I Ching gespeel het, weet dat dit merkwaardig goed werk. Niemand weet hoekom nie.
Ek word soms soggens wakker en vra die I Ching hoe my dag gaan verloop. Een oggend het die I Ching beweer dat ek ’n verskriklike dag gaan beleef en dat ’n geweldige krisis en groot hartseer ons gesin gaan tref.
Om ’n lang storie kort te maak: Drie ure later is my hond dood.
Niemand het dit verwag nie. Dit was die laaste ding op my program vir daardie dag.
Die muntstukke het geweet.
Ek is nog nie heeltemal bekeer tot die idee dat alle computers en masjiene sommer van môre af hul eie persoonlikhede gaan ontwikkel nie. Ek besef dit gaan ’n lang proses wees.
Of dit vir die mensdom ’n gevaar inhou op die lang duur, weet ek ook nie. Gaan hierdie dinge altyd net hulpmiddels bly, of is hulle bestem om met ons mee te ding om heerskappy van die planeet?
Ek verkies om laasgenoemde te hoop en te glo.
En vandat ek vir Robbie ontmoet het, is ek oop vir oortuiging!
Lees meer oor Kunsmatige intelligensie hier.
Lees ook:
Hulpvaardige kubernetiese skilpaaie: Kunsmatige Intelligensie en robotte in en om die huis
LitNet-AfriKI-miniseminaar: Kunsmatige intelligensie as skrywer