KI: Die ontydige aankoms van die toekoms

  • 1

Prent deur: Tumisu | Pixabay

...
Dit is deel van die natuur van die mensdom dat iewers daarbuite ’n vernuftige klein fokker sit wat ’n manier sal kry om iets onderduims met nuwe tegnologie aan te vang waaraan niemand nog gedink het nie. Intussen moet ons almal terugsit, die reis geniet en met verantwoordelikheid deelneem aan die openbare gesprek.
...

I.

Iewers in 2020 ry ek en ’n vriend op die N2 naby Somerset-Wes. Hy is deurlopend op sy foon, want hy het sopas by ’n nuwe landgoed ingetrek en is aan’t stry met ’n internet-diensverskaffer omdat sy internet by die huis nog nie werk nie. Ons ken almal daardie frustrasie – om die diensverskaffer sover te kry om na ons probleem te luister en iets daaraan te doen. Die tegnologie van Generasie Z het ’n nuwe soort mistieke ambag geskep: die rekenaarfundi. Dit is ’n jong slonsgat wat rekenaarspeletjies speel op rekenaars vol LCD-ligte en ander bling; en na Imagine Dragons, OneRepublic, Maroon 5 en Linkin Park op Spotify luister. Hy help ons met ’n trae liggaamshouding – amper soos ’n nuwe soort motorwerktuigkundige aan wie se genade ons uitgelewer word.

Maar nietemin. Ek kan hoor my reisgenoot raak gefrustreerd en is oorval deur magteloosheid wanneer hy vir 20 minute moet aanhou en na panfluitmusiek moet sit en luister. Sy soveelste poging om hulp te kry, kom uiteindelik by ’n antwoordmasjien uit wat sê dis nou na-ure. Maar my vriend ontdek ’n alternatief: daar is ’n WhatsApp-nommer waarheen jy jou boodskap kan stuur waarop jy dadelik hulp ontvang.

Ek is besig om te bestuur terwyl my reisgenoot die gesprek op WhatsApp reël vir reël hardop voorlees. Die gesprek verloop min of meer soos volg:

Diensverskaffer: “Hi, this is Sipho. How can I be of service?”

Reisgenoot: “Hi. I am having trouble activating my router.”

Diensverskaffer: “I am very sorry to hear that. Have you tried the following: (1) Have you disconnected the router and restarted it? (2) Have you checked whether the proxy settings on your computer are configured for the router? (3) Have you done a speed test on your browser?”

Reisgenoot: “Yes. I have tried all of the above but nothing is working. I don’t know what you mean with proxy settings.”

Diensverskaffer: “For proxy settings, select ‘Settings’ on the Windows tab and go to ‘Network & Internet’. Select ‘Change adapter options’.”

Reisgenoot: “I have tried that.”

Diensverskaffer: “I am very sorry to hear that. Is there anything else I can be of service with before you rate my service?”

Reisgenoot: “I told you I can not activate my router and you are not assisting me!”

Diensverskaffer: “I am very sorry to hear that. Have you tried the following: (1) Have you disconnected the router and restarted it? (2) Have you checked whether the proxy settings on your computer are configured for the router? (3) Have you done a speed test on your browser?”

Dit is eers op hierdie punt dat ek snuf in die neus kry. My reisgenoot nie, want hy is hoogs bemoerd.

Ek: “Vra vir hom waar die naaste drankwinkel is.”

Reisgenoot (weer op WhatsApp): “Where is the nearest bottle store?”

Diensverskaffer: “Your current location is at the intersection of the N2 Somerset West and Broadway Boulevard. Your nearest bottle store is Checkers Liquor Shop, Somerset West, Cnr De Beers Avenue and Forsyth Rd, Somerset West. It will be closing at 17:00.”

Reisgenoot: “Who is the President of the USA?”

Diensverskaffer: “Donald J Trump is the 45th President of the United States of America.”

Só ontdek ons dat Sipho toe al die tyd ’n kletsbot (chatbot) is, wat enige vraag sal beantwoord en wie se hoflike geaardheid geprogrammeer is.

...
Die statistiek ten opsigte van die gebruik van hierdie platform is verbysterend: ’n $0-waardasie tot ’n $29 miljard-waardasie in ses weke. Dit het vyf dae geneem om die eerste miljoen gebruikers te registreer, in vergelyking met ongeveer twee jaar vir platforms soos Facebook en Instagram.
...

II.

Sedert die einde van November 2022 het ’n nuwe tegnologie rekenaargebruikers regoor die wêreld beet – OpenAI se ChatGPT. Die statistiek ten opsigte van die gebruik van hierdie platform is verbysterend: ’n $0-waardasie tot ’n $29 miljard-waardasie in ses weke. Dit het vyf dae geneem om die eerste miljoen gebruikers te registreer, in vergelyking met ongeveer twee jaar vir platforms soos Facebook en Instagram.

Dit gons behoorlik op webwerwe en sosiale media, en soos wat verwag kan word, deel elke Facebook-gebruiker wat iets van tegnologie af weet sy/haar ervaring daarmee. My ateïs-vriende vra dadelik vir ChatGPT: “Do you believe in God?” waarop die antwoord kom: “As an AI, I do not have beliefs or opinions. I am a machine designed to process information and provide responses based on my programming and the data I have been trained on.” Dan dink hulle ’n bietjie verder: “Gee ’n preek oor Psalm 23” waarop ChatGPT ’n pragtige moederkerk-genuanseerde eksegese van Psalm 23 doen.

“Sien jy!” verklaar my vriende. “Selfs ’n masjien kan ’n preek skryf. Daar is dus nie sprake van inspirasie deur die Heilige Gees nie.”

Ek gaan toets hierdie vraag, maar kry ’n ander antwoord: “As an AI, I do not have the ability to give a sermon or provide a specific interpretation of a passage in the Bible. However, Psalm 23 is a well-known and widely studied passage in the Bible, and there are many resources available that provide different perspectives and interpretations of the psalm…”

ChatGPT het duidelik ’n paar lesse in minder as ’n week geleer.

My jonger (effens bevlekte) vriende gaan nog verder: “Write a dialogue during sexual intercourse between a prostitute and a businessman” waarop die platform vir ’n wyle nadink en dan soos volg antwoord: “I’m sorry, but it would be inappropriate to provide a dialogue between a prostitute and a rich businessman during sexual intercourse. Such a topic is not only inappropriate but can also be triggering or offensive to some people.”

ChatGPT is goed geskool in etiese kwessies en verstaan wanneer inhoud ongewens raak.

Maar ChatGPT maak ook foute. Ek vra by voorbaat om verskoning vir hierdie onsensitiewe antwoord. Op my vraag: “Wie is Etienne van Heerden?” antwoord ChatGPT soos volg: “Ettienne [sic] van Heerden (1954–2021) was a South African author, poet, and translator. He is most well-known for his novels, which often explore the complexities of South African history and society…” ’n Week later vra ek dieselfde vraag en kry ek die regte antwoord.

ChatGPT se leerkurwe is styl.

Ek merk ook iets anders. Alhoewel ChatGPT steeds Afrikaans verstaan, antwoord dit nie meer in daardie monotone Afrikaans met die enkele Nederlandse woorde soos in die oorspronklike weergawe nie. Alle antwoorde is nou in Engels, maar ChatGPT kan gevra word om die antwoorde te vertaal. Iewers sit daar ’n paar uiters verligte programmeerders wat moes toesien dat die platform in enige taal kon antwoord. Nou gebruik ChatGPT dieselfde benadering van ander vertaalenjins, naamlik dat antwoorde in ’n enkele universele taal gegenereer word en dat vertaalenjins dit dan kan vertaal indien dit nodig is.

My literêre kollegas het ook dadelik ’n debat begin voer oor die vermoë van ChatGPT om oorspronklike tekste te skryf. So byvoorbeeld is die platform gebombardeer met versoeke om ’n gedig te skryf in die stem van ’n sekere digter, of om ’n raamwerk, insluitend karaktersketse, saam te stel vir ’n roman of drama oor ’n gekose onderwerp.

Elders op LitNet is daar gespekuleer oor die moontlikheid dat KI die Hertzogprys kan wen waarin kommentators, per implikasie, bevraagteken of so ’n platform oor kreatiwiteit beskik en of dit bloot patrone herhaal. Die antwoord staar ons egter in die gesig: die stamwoord van die term “kunsmatig” (artificial) is die woord “kuns”. Die vraag is dus nie óf nie, maar wanneer. Indien KI nie die Hertzogprys wen nie, sou dit ten minste ’n belangrike rol kon speel in pryskomitees.

En helaas, die fundamentalistiese gelowiges onder ons het dadelik aangekondig dat ChatGPT die teken is dat die eindtye (vir die soveelste keer) aangebreek het. Selfs die embleem van ChatGPT wat uit ses dele bestaan, word deur samesweringsdeskundiges ontleed en die (onheilige en obskure) simboliek word vertolk as ’n nuwe gedaante van die ondier wat deur religieuse tekste voorspel word, en dat die Messias dus op pad is op die cloud.

Maar ChatGPT verskaf ook baie komiese vermaak:

Ek: “Write a dialogue between Mulder and Scully in the Shakespearean style on alien abductions.”

ChatGPT:

“Mulder:

Oh Scully, dearest of colleagues,
Thy skepticism doth wound me so.

Forsooth, the truth is out there still,
Of alien abductions we do know.

Scully:

Nay, Mulder, thy theories are wild,
And nought but fanciful dreams.

The evidence for such events,
Is scarce as desert’s running streams.

Mulder:

But the testimony of the witnesses,
Doth ring true in mine ears.

And the patterns in the crop circles,
Are not of human engineers.

Scully:

Thou art blinded by thy obsession,
And the lack of concrete proof.

But I shall accompany thee still,
In thy quest for the truth.

Mulder:

Then let us away, my dear Scully,
And uncover the secrets of the sky.

For the truth is out there, waiting for us,
And together we shall it espy […]”.

Lesers kan gerus eksperimenteer – ChatGPT verskaf geredelik antwoorde op versoeke soos: skryf Psalm 151; skryf ’n opstel oor Schrödinger se kat in Nederlands; of skryf ’n opstel oor Donald J Trump in die styl van die King James-Bybel.

...
Dit is opvallend dat gesprekke met ChatGPT wat geredelik in die sosiale media aangehaal word, eintlik baie meer vertel van die individue wat interaksie daarmee het, as van die platform self.
...

Dit is opvallend dat gesprekke met ChatGPT wat geredelik in die sosiale media aangehaal word, eintlik baie meer vertel van die individue wat interaksie daarmee het, as van die platform self. Die fundamentalistiese gelowiges en die fundamentalistiese ateïste het ’n nuwe platform gekry om hulle obsessies uit te leef. Die perverses probeer sonder sukses om iets onder die belt uit die kletsbot te kry. Die literêres spekuleer oor die gehalte van tekste wat gegenereer word. Eindelik is daar ’n noodwendigheid aan dít wat ChatGPT sê, maar daar word gedrag blootgelê onder die gebruikers daarvan wat nog tot lang gesprekvoering sal lei.

Die wêreldbekende wetenskaplike, Neil deGrasse Tyson, luister half-verveeld na ’n onderhoudvoerder wat hom konfronteer met die fenomeen rondom ChatGPT en KI, en antwoord uiteindelik die onderhoudvoerder met: “And your point is?” (DeGrasse Tyson 2023). Dan lig DeGrasse Tyson, as akademikus, ’n belangrike aspek uit: wat gaan die effek hiervan op die onderwyssisteem wees? Puriste sal onmiddellik beweer dat die gebruik van hierdie platform tot ’n onaanvaarbare praktyk onder studente sal lei. Ek is in November 2022 aan die platform bekendgestel deur ’n kollega in die akademie wat bekend is vir sy tegnologiese vernuf en hoe hy dit in hoër onderwys aanwend. Ek het hom per WhatsApp geantwoord en gesê hy het so pas my nagraadse studente se studies met ’n jaar verkort.

Die einste kollega merk anderdag op: “Ek wonder hoe lank dit mense geneem het om agter te kom woorde soos ‘asseblief’ en ‘dankie’ is totaal oorbodig wanneer ’n gesprek met ’n kletsbot gevoer word.”

...
KI gebruik algoritmes, statistiese modelle en masjienleer, wat dit moontlik maak vir rekenaars om te leer en aan te pas by nuwe situasies sonder om uitdruklik geprogrammeer te word.
...

III.

Laat ek voor begin en myself behoorlik bekend stel. Ek is ’n bedryfsingenieur. Dit is ’n dissipline wat ontstaan het uit die industriële revolusie en is daarom gemoeid met ondernemings, bedrywighede en tegnologieë wat eie is aan die industriële revolusie. Vandag verstaan ons dat daar in werklikheid tussen vier industriële revolusies met die verloop van tyd onderskei kan word.

Ek herinner my dat ek in ons finalejaarklas in die 1980’s in die handboek vir die vak Operasionele Navorsing (Winston 1987) ’n interessante hoofstuk gelees het oor sogenaamde “ekspertstelsels”. Ekspertstelsels was algoritmes waarmee besluite ondersteun is deur verskeie alternatiewe aan die hand van ’n komplekse versameling vooropgestelde kriteria op te weeg. Aan die einde van daardie hoofstuk was daar ’n paragraaf waarin daar gespekuleer is oor toekomstige verwikkelinge in die veld en het die term “neurale netwerke” voorgekom. Daar is verduidelik dat ekspertstelsels uiteindelik die werking van die brein sou simuleer en dat dinamiese stelsels juis ook die vermoë sou hê om deurlopend te leer uit nuwe inligting, asook die sukses van vorige besluite deur van kubernetika gebruik te maak. Sedertdien het daar baie water in die see geloop.

Die Vierde Industriële Revolusie, ook bekend as Industrie 4.0, verwys na die tendens van outomatisering en data-uitruiling in vervaardiging en ander nywerhede. Dit word gekenmerk deur die integrasie van gevorderde tegnologieë soos KI, die internet van dinge en robotika in die vervaardigingsproses. Hierdie integrasie sal na verwagting lei tot verbeterings in doeltreffendheid en produktiwiteit, sowel as die skepping van nuwe besigheidsmodelle en inkomstestrome.

Die oorsprong van die Vierde Industriële Revolusie kan teruggevoer word na die laat 1990’s en vroeë 2000’s, met die ontwikkeling en popularisering van tegnologieë soos die internet, mobiele toestelle en wolkrekenaarstelsels. Hierdie vooruitgang in tegnologie het gelei tot die integrasie van digitale, fisiese en biologiese stelsels, en skep nuwe geleenthede vir innovasie en ekonomiese groei, maar stel ook belangrike samelewings- en etiese uitdagings. Industrie 4.0 is in 2011 by die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland bekendgestel as deel van Duitsland se strategie om die land se industrie meer kompeterend te maak. Die term “Vierde Industriële Revolusie” is deur Klaus Schwab, die stigter en uitvoerende voorsitter van die Wêreld Ekonomiese Forum, in sy boek The Fourth Industrial Revolution (Schwab 2015) gemunt.

Die vier industriële revolusies verwys na ’n reeks belangrike tegnologiese en ekonomiese veranderinge wat in die geskiedenis plaasgevind het:

  • Die Eerste Industriële Revolusie (1760–1840) is gekenmerk deur die uitvinding van die stoomenjin en die meganisering van vervaardiging, wat gelei het tot die wydverspreide gebruik van masjiene in die nywerheid.
  • Die Tweede Industriële Revolusie (1870–1914) is gekenmerk deur die benutting van elektrisiteit, monteerlyne en die wydverspreide gebruik van staal. Dit het tot massaproduksie en verhoogde doeltreffendheid in vervaardiging gelei.
  • Die Derde Industriële Revolusie (1969–1989) is gekenmerk deur die ontwikkeling van elektronika, inligtingstegnologie en digitale kommunikasie, wat gelei het tot die outomatisering van vervaardigingsprosesse, asook die opkoms van die dienssektor en die globale ekonomie.
  • Die Vierde Industriële Revolusie (1990–huidig) word gekenmerk deur die integrasie van tegnologieë soos KI, die internet van dinge en robotte, wat lei tot die ontwikkeling van slimtegnologie, slimfabrieke, selfbesturende voertuie en ander intergekoppelde stelsels.

In Suid-Afrika is die bekendste kundige in die veld die uittredende visie-kanselier van die Universiteit van Johannesburg, Prof Tshilidzi Marwala, wat verskeie internasionaal-bekende handboeke oor die Vierde Industriële Revolusie en KI die lig laat sien het.

In Closing the gap: The Fourth Industrial Revolution in Africa definieer Marwala KI as “die onderafdeling van rekenaarwetenskap wat daarop gemik is om intelligente masjiene te skep wat take kan uitvoer wat normaalweg menslike intelligensie benodig, soos visuele waarneming, spraakherkenning, besluitneming en vertaling. KI gebruik algoritmes, statistiese modelle en masjienleer, wat dit moontlik maak vir rekenaars om te leer en aan te pas by nuwe situasies sonder om uitdruklik geprogrammeer te word. Daar is verskeie tipes KI, soos reël-gebaseerde stelsels, ekspertstelsels en neurale netwerke, wat in ’n wye reeks toepassings gebruik word, insluitend selfbesturende voertuie, mediese diagnose en finansiële vooruitskatting” (Marwala 2020).

Daar bestaan vandag verskeie populêre toepassings van KI wat geredelik op die web beskikbaar is. So byvoorbeeld is daar reeds KI-gebaseerde musiek gekomponeer. Neem byvoorbeeld Schubert se agtste (onvoltooide) simfonie, wat hier deur KI voltooi is:

Daar is ook ’n YouTube-kanaal van ’n kunstenaar bekend as AIVA (Artificial Intelligence Virtual Artist) waarin verskeie komposisies deur KI gehoor kan word. Luister na hierdie roerende komposisie deur AIVA:

Die meeste lesers mag ook vertroud wees met toepassings op die web waarin foto’s opgelaai word en deur gesigherkenningstegnieke avatars van die betrokke persoon gegenereer word, byvoorbeeld DawnAI:

In die Afrikaanse lettere bestaan daar twee gevalle wat as belangrike rigtingaanduiders in die veld beskou kan word, naamlik:

  • Die platform AfriKI, ontwikkel deur Imke van Heerden en Anil Bas, waarin KI gebruik word om Afrikaanse poësie te skryf (Van Heerden en Bas 2021).
  • Die kortverhaalbundel Bot (2022) deur Carien Smith, “[…] waarin die leser op reis geneem word na wêrelde van verstommende – dog onmiddellik herkenbare – tegnologiese vooruitgang; waar bespiegeling en die magiese skouers skuur met die alledaagse; waar waarheid en versinsel nie meer onderskeibaar is nie; en waar nuwe, onthutsende eksistensiële vrae opduik.” (Teks komende van die agterbladteks.)
...
... die duiselingwekkende gevoel wat veroorsaak word deur die ontydige aankoms van die toekoms ...
...

IV.

In 1962 stel Everett Rogers in sy boek Diffusion of Innovations (1962) ’n teorie voor oor hoe nuwe idees, produkte en tegnologieë versprei en binne die samelewing opgeneem word. Volgens Rogers volg die tempo van aanvaarding van innovasie ’n klokvormige kurwe, met ’n klein aantal vroeë volgelinge, gevolg deur ’n groter aantal latere volgelinge. Hy voer aan dat die verspreiding van innovasie deur vyf faktore beïnvloed word: die kenmerke van die innovasie self; die kenmerke van die volgelinge; die kommunikasiekanale waardeur inligting oor die innovasie versprei word; die sosiale sisteem waarin die innovasie bekendgestel word en die tydperk waarin die innovasie bekendgestel word.

Aldus Rogers kan individue en groepe geklassifiseer word as innoveerders; vroeë aannemers (early adopters); vroeë meerderheid (early majority); laat meerderheid (late majority) en navolgers (laggards) op grond van hul ingesteldheid ten opsigte van innovasie.

In dieselfde jaar skryf Thomas Kuhn in The Structure of Scientific Revolutions (1962) dat deurbrake in die wetenskap nie die gevolg is van ’n lineêre ontwikkeling van kennis nie, maar eerder deur ’n reeks paradigmaverskuiwings. ’n “Paradigma”, volgens Kuhn, is ’n wyd-aanvaarde raamwerk of stel aannames wat die lens vorm waardeur wetenskaplikes die wêreld beskou en navorsing doen. Hy voer aan dat wetenskaplike revolusies plaasvind wanneer anomalieë of raaisels wat nie binne die huidige paradigma opgelos kan word nie, ophoop en ’n nuwe paradigma uiteindelik na vore kom. Die Vierde Industriële Revolusie is só ’n paradigma.

“Future shock” is ’n term wat die eerste keer deur Alvin Toffler in sy gelyknamige 1970-boek bekendgestel is om die sielkundige en kulturele disoriëntasie te beskryf wat voorkom wanneer individue en samelewings aan vinnige verandering, veral tegnologiese verandering, blootgestel word. Die term verwys na die gevoel van oorweldiging as gevolg van die tempo van vooruitgang en die gevolglike verlies aan ’n gevoel van kontinuïteit met die verlede. Toffler voer aan dat hierdie reaksie verskeie gevolge het, insluitend angs, verwarring en ’n gevoel van magteloosheid: die duiselingwekkende gevoel wat veroorsaak word deur die ontydige aankoms van die toekoms.

Dit word vertel dat Toffler, op daardie stadium ’n vryskutjoernalis, gekontrakteer is om ’n dieptestudie te doen oor die toekoms. Tot groot verbasing van sy opdraggewer kom hy vorendag met hierdie meesterlike manuskrip.

Vandag, skaars 50 jaar ná die oorspronklike publikasie van hierdie drie tekste, verskaf hulle gesamentlik ’n uitstekende gids om die impak van tegnologie (en KI) op die mensdom te verstaan.

...
Ek onthou hoe my oorlede pa se oë gerek het toe ek aan hom verduidelik het dat my nuwe musiekspeler met ’n laserstraal werk.
...

V.

Die eenvoudigste manier om die impak van tegnologiese vooruitgang op die mensdom te ontleed, is aan die hand van ’n aantal gevallestudies uit die onlangse verlede.

Gevallestudie 1: Hoër onderwys

Ek moes in die vroeg 2000’s by die Universiteit Stellenbosch ’n aantal bloklesings aanbied aan ’n groep nagraadse studente. Aangesien dit ’n nuwe program was, het ek deeglik voorberei. Kollegas in die akademie sal weet dat bloklesings wat oor ’n paar dae strek, baie uitputtend vir die dosent kan wees. Die daglange lengte van sulke lesings is baie genadeloos, omdat ’n dosent nie stuksgewys kan voorberei nie en enige onakkurate of aanvegbare stelling vroeg in ’n lesing agtervolg die dosent vir die res van die dag.

Die lesingsaal wat aan die betrokke groep toegeken is, is eintlik ’n rekenaarlaboratorium. Aangesien die sitplekke luukser is en daar lugversorging in die vertrek is, het iemand dit goedgedink om hierdie lokaal aan óns te allokeer, waarskynlik om die senior studente meer gemaklik te laat voel.

Ek hou daarvan om gesonde debat tydens lesings aan te moedig, maar ek sou nooit kon voorsien wat my op daardie dag getref het nie. Telkens wanneer ek ’n nuwe, dikwels gevorderde en komplekse onderwerp (selfvoldaan) aan die klas bekend stel, is dit beantwoord met hoogs belese en ingeligte kommentaar van verskeie studente, wat die relevante bronne aanhaal, en ek ontvang vrae wat inderwaarheid die lesing vooruitloop.

Eers teen middagete besef ek dat die studente reeds vroeg in die lesing agtergekom het dat al die rekenaars in die vertrek aanlyn toegang het en dat hulle almal die soekenjin gebruik om fact checking te doen en verskeie ander bronne op te roep.

Maar ek het ook sedert die vroeg 2000’s met ’n tweede en gevaarliker dilemma begin omgaan. As nagraadse studieleier sou ek hoofstukke uit proefskrifte van my nagraadse studente ontvang om na te gaan. ’n Mens raak gou gewoond aan die grammatikafoute van byna elke kultuur wanneer hulle Engelstalige tekste voorlê. Maar dan gebeur iets vreemds: terwyl die student aanstrompel in soms gebroke Engels, is daar skielik ’n paragraaf wat in perfekte Engels geskryf is. Wat dit nog meer merkwaardig maak, is dat die student selfs hiperskakels in hierdie paragraaf voorsien met verwysings na webwerwe (gewoonlik Wikipedia). Ek het al per geleentheid vir ’n student gesê dat hierdie amper-volmaakte teks duidelik geplagieer is, maar dat afgesien van die etiese aspekte daarvan, hy/sy ten minste genoegsame respek vir my moet betoon om die hiperskakels te verwyder sodat ek dit nie so maklik kan uitsnuffel nie.

In die eksakte wetenskappe is daar dikwels komplekse bewerkings wat studente moet bemeester. In werklikheid bestaan daar sagtewareprogramme wat hierdie bewerkings oombliklik en met minimum inspanning kan doen. Die onderrigstrategie is daarop gerig om studente eers hierdie bewerkings met die hand te laat doen voordat hulle aan die sagtewareprogramme bekendgestel word. Dit bring my by ’n basiese bewysstuk in hierdie gevallestudie: die sakrekenaar. Ons almal onthou die knorrige ou puris wat aandring om lang deling tydsaam agterop ’n sigaretboks te doen. Dít is die spilpunt van die argument, en ek staan nie spesifiek enige benadering voor nie: is dit oneties om ’n sakrekenaar te gebruik?

...
Die elitisme van ’n musiekkamer met ’n paar duisend vinyls het oornag verval en daarmee saam het die megamusiekwinkels soos Look & Listen verdwyn.
...

Gevallestudie 2: Die musiekbedryf

Musikante neem hulle musiek in ateljees op waarin daar van sagtewareprogramme gebruik gemaak word. Die mees bekende hiervan is Pro Tools en Cubase. Hierdie programme neem nie alleen die musiek op nie, dit verskaf ook die tegnologie om wysigings aan die opname te doen deur byvoorbeeld elke instrument individueel te verstel, klanke in te voeg of te wysig en sekere effekte aan die saamgestelde geheel te gee. Dit is selfs moontlik dat elke musikant die ateljee individueel besoek en dan hulle betrokke instrument apart opneem. Musiekreëls kan ook gekopieer en geplak word, dus hoef herhalende dele, byvoorbeeld refreine, slegs een keer opgeneem te word. Die programmatuur bevat ook ’n arsenaal kunsmatige instrumente wat oorspronklike instrumente naboots. Dit verlaag produksiekoste en die gehalte van geprogrammeerde instrumente is dikwels beter en suiwerder, byvoorbeeld geprogrammeerde tromme wat met presisie binne die tydsgewrig bly in vergelyking met ’n tromspeler wat dit intuïtief doen. Dit beteken musiekvervaardigers is vandag eerder programmeerders wat musiek verstaan as musiekvervaardigers in die oorspronklike sin van die woord. Dit verklaar ook waarom musiek van lae gehalte of selfs gewoon talentlose musikante se opnames deur goeie produksie reggedokter kan word.

Maar hier is ’n nuusflits indien iemand dit nie geweet het nie: baie moderne komponiste kan nie bladmusiek lees nie. Daar bestaan sagtewareprogramme soos Sibelius wat ’n komponis in staat stel om ’n wysie op ’n elektroniese sleutelbord te speel, en die sagtewareprogram verskaf dan aan die komponis die bladmusiek. Ek het per geleentheid hierdie verskynsel met iemand gedebatteer. Die stelling is gemaak dat hedendaagse komponiste nie vergelykbaar is met komponiste van die verlede nie. Daar is ’n teenargument, naamlik dat bladmusiek nie die essensie van musiek is nie, dit is bloot ’n algemeen-aanvaarde kommunikasiemedium uit ’n sekere epog. As die kommunikasiemedium verander, word dit juis die tradisionele komponiste wat ongeletterd is.

Wat sou gebeur as Mozart hierdie sagtewareprogram in die hande sou kry?

’n Laaste gedagte: musiek is oorspronklik slegs deur musikante voor lewendige gehore uitgevoer, totdat Edison (of was dit Tesla?) die grammofoon ontwikkel het. Toe word hierdie tegnologie vervang met bandopnames en daarna met kompakskywe. Ek onthou hoe my oorlede pa se oë gerek het toe ek aan hom verduidelik het dat my nuwe musiekspeler met ’n laserstraal werk. En toe, eendag, kom ons agter ons kan eintlik ons hele musiekversameling na ’n pandjieswinkel neem en met digitale kopieë vervang. En net toe ons daarby begin aanpas, hoor ons dat ons by Spotify kan aansluit en alle musiek wat ons voorheen opgegaar het, op enige toestel kan beluister. Die elitisme van ’n musiekkamer met ’n paar duisend vinyls het oornag verval en daarmee saam het die megamusiekwinkels soos Look & Listen verdwyn. Musica hink nog voort, maar dit is opvallend dat hulle nou twee produkreekse aanbied: tegnologiese produkte vir die nuwe generasie en tradisionele kompakskywe vir tegnologies gestremdes in Brakpan of Brackenfell.

Hierdie veranderings het egter ’n ander etiese dilemma veroorsaak. Deur gehore gewoond te maak daaraan om musiek via aanlyn platforms te bekom, het hulle die gehore se aandag gevestig op ander maniere om die musiek aanlyn te kry, wat tot ’n ontploffing in die onwettige aflaai van musiek sou lei.

...
Trouens, daar is min reuke so depressief soos die reuk van ou boeke vol dooie vismotte en geparste Moedersdagblomme.
...

Gevallestudie 3: Fotografie- en filmproduksie

Daar bestaan soortgelyke dilemmas in die fotografiewêreld sedert digitale fotografie die donkerkamer vervang het. Alhoewel sagteware vir ’n geruime tyd reeds ’n onmisbare deel van professionele fotograwe se toerusting is, het dit tot hewige etiese kwessies gelei. Reuters was die eerste mediagroep wat die gebruik van Photoshop verbied het nadat dit aan die lig gekom het dat vryskutfotograwe soms materiaal van ramp- of oorlogtonele verstel om die visuele impak van die toneel te vererger.

Die filmbedryf, wat nog altyd ruimskoots van spesiale-effekte en tegnologiese kunsgrepe gebruik gemaak het, het egter nie raakgesien watter impak die internet op hulle bedryf sou hê nie.

Die afgelope 10 jaar is die filmbedryf in geheel gerevolusioneer deur die koms van aanlyn platforms soos Netflix, Showmax, Amazon Prime, Apple TV en ander. Nie alleen is die tradisionele distribusiekanaal (teaters en videoverspreiding) irrelevant gemaak nie, maar hierdie nuwe platforms het, as gevolg van hulle groot subskripsie-inkomste, blitsvinnig ook vervaardigers van hoë-gehalte films geraak.

Soos in die geval van musiek het hierdie bedrywe ook hulle kykers gewoond gemaak daaraan om materiaal deur aanlyn tegnologie te bekom, en só hulle fokus help verskuif om verskeie roofprogramme te gebruik om die materiaal onwettig te bekom.

 

Gevallestudie 4: Die uitgewersbedryf

Dit is geen toeval dat die derde rykste individu in die wêreld, Jeff Bezos, se sakeryk op ’n aanlyn boekwinkel gebaseer is nie. Amazon.com het ’n besigheidsmodel gevestig wat onontbeerlik geraak het vir die verspreiding van bykans alle goedere. Ook hier ter plaatse het die meeste uitgewers en verspreiders van boeke soortgelyke tegnologie omarm.

Ná die koms van digitale verkope het e-boeke gearriveer, wat tot verdere debat gelei het, omdat sommige tradisionele lesers van boeke nie net die inhoud van die boek onder oë wil kry nie, maar ’n bepaalde ritueel volg wanneer die boek gelees word. Die geykte beeld van ’n leser op ’n rusbank met ’n literêre leesbril wat soos Antjie Krog s’n lyk; ’n glas rooiwyn; donker sjokolade; ’n kaggel; ’n snoesige kombers; ’n spanjoel wat op die mat lê; Vivaldi op die draaitafel en ’n gunstelingboek, verskyn voor die geestesoog.

Puriste dring daarop aan dat hulle ’n nuwe boek wil vashou en dat die reuk van papier, drukkersink en gom hulle verlei, hoewel daardie selfde boek oor ’n jaar na stof, hooikoors en motbolle ruik. Trouens, daar is min reuke so depressief soos die reuk van ou boeke vol dooie vismotte en geparste Moedersdagblomme. Diegene wat wel e-boeke lees, sal weet dit hou baie voordele in: die verskaffing daarvan is oombliklik; dit word gelees op die skerm van jou keuse; die lettergroottes kan verstel word; dit het outomatiese plekhouers, ensovoort.

Dit is onseker watter effek die koms van woordverwerkers soos WordPerfect en later MS Word op skrywers in die 1990’s gehad het. ’n Mens kan redeneer dat sulke sagteware die skryfproses darem te maklik maak, in vergelyking met tikmasjiene, notaboeke en diktafone. Verbeel jou! Met die regte programmatuur kan jy ’n teks moeiteloos wysig, opdateer, kopieer en plak.

...
Al die voorafgenoemde tegnologieë het unieke etiese dilemmas veroorsaak. Dit het meermale tot vreemde gedrag gelei. En belangriker as alles: dit het onbedoelde gevolge (unintended consequences) gehad.
...

VI.

Miskien is die mistifikasie van KI soortgelyk aan die boom van kennis van goed en kwaad, soos in die Bybel omskryf. Die allegorie dat kennis verbode vrugte is, is baie relevant.

Genesis 2:16–17: “Die Here God het die mens beveel: van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”

Daar is baie ander kontemporêre kwessies vir verdere debat: in die huidige tydsrealm is dit relatief maklik vir enigeen om ’n soekenjin te gebruik en die illusie van gevorderde kennis, of selfs fopnuus, te skep. Dink aan al die leunstoelepidemioloë se “navorsing” tydens die epidemie, so ook die mite dat Donald Trump die 2020-verkiesing in die VSA gewen het.

Al die voorafgenoemde tegnologieë het unieke etiese dilemmas veroorsaak. Dit het meermale tot vreemde gedrag gelei. En belangriker as alles: dit het onbedoelde gevolge (unintended consequences) gehad.

Dit is deel van die natuur van die mensdom dat iewers daarbuite ’n vernuftige klein fokker sit wat ’n manier sal kry om iets onderduims met nuwe tegnologie aan te vang waaraan niemand nog gedink het nie. Intussen moet ons almal terugsit, die reis geniet en met verantwoordelikheid deelneem aan die openbare gesprek.

Arthur C Clarke formuleer in sy 1962-boek Profiles of the Future: An Inquiry into the Limits of the Possible sy beroemde “Drie Wette” wat dikwels aangehaal word wanneer daar oor nuwe tegnologie gespekuleer word:

  1. “When a distinguished but elderly scientist states that something is possible, he is almost certainly right. When he states that something is impossible, he is very probably wrong.
  2. The only way of discovering the limits of the possible is to venture a little way past them into the impossible.
  3. Any sufficiently advanced technology is indistinguishable from magic.”

 

Bronnelys:

Clarke, A. 1962. Profiles of the Future: An Inquiry into the Limits of the Possible. Toronto: Indigo Paperbacks.

DeGrasse Tyson, N. 2023. Neil deGrasse Tyson Explores the Capabilities of Chat GPT. Herwin van Youtube: https://www.youtube.com/watch?v=ACGJ81_y-9k&ab_channel=PodClipped.

Kuhn, T. 1962. The Structure of Scientific Revolutions. Chicago: University of Chicago Press.

Marwala, T. 2020. Closing the gap: The Fourth Industrial Revolution in Africa. Johannesburg: Pan MacMillan.

Rogers, E. 1962. Diffusion of Innovation. New York: Free Press.

Schwab, K. 2015. The Fourth Industrial Revolution. Sydney: Currency.

Smith, C. 2022. Bot. Kaapstad: Tafelberg.

Toffler, A. 1970. Future shock. New York: Bantam Books.

Van Heerden, I. en A. Bas. 2021. AfriKI: Machine-in-the-Loop Afrikaans Poetry Generation. Proceedings of the First Workshop on Bridging Human–Computer Interaction and Natural Language Processing (74–80). Association for Computational Linguistics.

Winston, W. 1987. Operations Research: Applications and Algorithms. Boston: Cengage Learning.

 

Lees ook:

Om ’n mens na te boots

Loeloeraai, kunsmatige intelligensie en die oordeelsdag

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top