
Foto: Matthew Henry op Unsplash
1.
Met die onlangse aflewering van die Johann Rossouw-gespreksreeks was die skrywer en digter Fanie de Villiers ’n gas met die bekendstelling van sy digbundel Erf en elders. Rossouw het die gesprek heel komies begin met ’n voorlesing uit Kontrei, De Villiers se debuutroman:
Ek praat nie meer met die eienaar van die hond wat snags aanhoudend sonder rede kef nie. Hy het hom afgevee aan my toe ek my probleem verduidelik het, en die beleefde brief wat ek in sy posbus gelaat het was ’n mors van etiket, papier, ink en alfabet. Die polisie en die stadsraad is magteloos, hulle sê hul wag vir nuwe wetgewing om deurgevoer te word voor hulle regulasies kan afdwing. Ek hou van honde, maar fokweet, sommige mense laat hulle sogenaamde troeteldiere in pestilensies ontaard. Laas nag teen halfdrie het ek nog niks geslaap nie. Ek het genoeg gehad van daai hond en opgestaan, die nodigste klere aangetrek en die blik loop haal. (Iemand het gesê ’n blik pilchards trek lelik gif in die son. ’n Week gelede het ek die blik oopgesny en in die buitekamer se sonnige vensterbank laat staan, nadat ek ’n bietjie groen onkruiddoder bygevoeg het om die proses aan te help.)
Ek staan met die blik op die sypaadjie voor die drie-meter-hoë muur. Die hond weet van my, al sien hy my nie. Hy krap teen die muur en blaf. Ek wil nie die hele blik oor die muur gooi nie; die skerp geluid wanneer dit land, kan die eienaar wakker maak (hoewel hy hom waarskynlik so klankdig snork dat hy sy hond se geblaf vlak by sy vensterbank nie eens hoor nie). My plan is om die blik goed vas te vat en boontoe te ruk, sodat die skooltjie vrot vissies grasieus oor die muur kan duik en voor die brak te lande kom, en ek die leë blik met my vingerafdrukke daarop elders kan gaan wegsmyt. Ek het die laaste klompie nagte, terwyl die geblaf my uit die slaap hou, reeds in stadige aksie in my verbeelding gesien hoe die sardyne, wat in sous op hulle sterte staan, die ronde blik verlaat soos missiele wat op ’n vyandelike gebied gelanseer word, byna geruisloos.
Na links en na regs is die straat donker en stil. Ek doen dit. Met die aksie waarmee ’n tennisspeler ’n bal die lug ingooi voor hy afslaan, net vinniger, ruk my regterarm die blik boontoe. Maar die spul pilchards spat skeef teen die muur vas en val in stukke voor my grond toe. Demmit, vir ’n gladde lansering het die warm week in die oop blik te veel van die sous laat verdamp. Met ’n klip skraap ek gou die klewerige hopie van die sypaadjie af in die blik terug en skiet dit weer boontoe. Soos ’n siek kluit trek die gemaalde vis bo-oor die muur. Ek hoor dit tjortserig op die sementblad in die erf land. Die hond blaf nie meer nie, ek hoor hom snuif-snuif. Ek draf op my tone die drie erfbreedtes terug huis toe. Ek druk die blik in ’n plastieksak en gooi dit in die vullisdrom. What a mission. Terug in die bed, begin my hartklop bedaar. Hoe lank gaan dit vat voor die gif begin werk?
En toe tref ’n verskriklike stank my. Van waar? Ek ruik, en ja, my vingers is die oorsprong. Ek loop was my hande met seep en water en klim weer in die bed. Hopelik kan ek nou ’n bietjie slaap inkry; oor vier ure gaan die wekker lui. Maar steeds is die stank met my. Ek ruik aan my vingers. Ek wil dit nie glo nie, maar die klank van die vrot pilchards moes my besmet het toe ek die vis in die blik teruggekrap het, en dit kleef kwaaier as gom. Weer eens gaan was ek, hierdie keer met warmer water en meer seep. Steeds is die vrot visreuk met my. Gelukkig slaap Lungi vannag langsaan in Jomo se kamer. Ek trek sokkies oor my hande. Ek trek die kombers tot teen my keel en hou my hande onder die kombers sodat geen lug tussen neus en hande moet vloei nie. Ek is steeds vaagweg bewus van die reuk, maar nou moet ek slaap. En skielik begin die hond straatop weer blaf, erger as vroeër vannag. Jissus, dis nie fair nie.
2.
Soos mense en hulle troeteldiere toenemend na hoëdigtheidbehuising soos meenthuiskomplekse trek, raak die lastige geblaf van honde al meer van ’n probleem. In woongebiede is dit insgelyks so: Huiseienaars skaf honde, groot en klein, aan om huis en haard te bewaak. Wenke word uitgeruil om honde se oordadige geblaf tot aanvaarbare vlakke te verminder. Die probleem is net: Jy kan nie regtig ’n wakker waghond muilband teen die einste sekuriteitsfunksie waarvoor jy hom in die eerste plek aanhou nie. Om die huis en erf te beskerm, is ’n instink.
.......
[J]y kan jou hond binnenshuis hou – maar ’n groot waghond se funksie is dalk juis om die erf te bewaak. Die rumoerige kleiner nagblaffertjies mag maar knus iewers op ’n bed opgekrul lê en slaap.
.......
Jy kan toesien dat jou hond meer speelgoed, of groot murgbene, het om aan te kou. Oefening, soos stap of balspeletjies, kan help vir hiperaktiwiteit en om jou woef rustiger te hou. Daar is honde-eienaars wat hulle vierpotige vriende hondeskool toe stuur om die nodige dissipline te leer en nié so knaend te blaf nie. Of jy kan jou hond binnenshuis hou – maar ’n groot waghond se funksie is dalk juis om die erf te bewaak. Die rumoerige kleiner nagblaffertjies mag maar knus iewers op ’n bed opgekrul lê en slaap.
Dan is daar Pavlov se teorie. Indien jou hond opgewonde raak wanneer die voordeurklokkie lui, kan jy hom leer om met sy gunstelingspeelding naby die deur te sit en hom met ’n klein, smaaklike happie beloon as hy nie blaf wanneer die voordeur oopgaan nie. Skynbaar verg dié metode toewyding, maar dis die moeite werd.
Skeidingsangs is waarskynlik die rede waarom so baie honde onbedaard aan die blaf gaan. Hierdie brakke is nie stout of verveeld nie; hulle het bloot ’n gedragsafwyking wat met medikasie behandel kan word. O, dan is daar die honde wat iets verskrikliks blaf, gebore uit aandagsoekende gedrag – hulle blaf meesal in die teenwoordigheid van mense om onmiddellike aandag te kry. Die beste raad is weer eens om die hond se swye met lekkernye of speelgoed te beloon. Drastiese maatreëls vir lastige honde wat nie kan ophou lawaai nie, is antiblafkrae, sitronella of die verwydering van die hond se stembande. Soms kan ’n hond met stembande wat verwyder is, steeds blaf ... maar nou klink die arme dier soos ’n growler in ’n death metal band. Nee, dit sal nie deug nie.
En dan is daar honde wat onopleibaar is, die delinquents waaraan daar geen salf te smeer is nie. Of eerder: Daar is geen salf aan hulle eienaars te smeer nie. Ek onthou een so ‘n buurhond baie goed; dit was iewers in so ‘n benouend klein, moderne klinkermeenthuiskompleks in Pretoria-Oos.
3.
Die waansin is nooit ver nie. So het my peetma, Jeanne Goosen, altyd gesê.
Inderdaad.
Dis sonde met die bure. Nee, veel erger, Langenhoven. Ek voel die woede in my opstoot soos ’n dreigende halsmisdaad. Dis die bure se hond (hulle staalhekkie skuins voor my kamervenster, net geskei deur ’n stegie). Hy blaf en bláf en bláháf dwarsdeur die 24-uur-siklus, want hy slaap buite. Die man en vrou wat daar woon, gee nie ’n snars om nie. Of hulle slaap hulle roes af van die vorige aand se gedrink. Die hond blaf vir niks; hy blaf bloot verveeld agter sy eie blaf aan. Mens weet mos wanneer ’n hond vir gevaar blaf.
Nou, met die koms van die hond, is daar dieselfde tyd ’n nuwe opsigter verkies. ’n Afgetrede dame wat haar joppie baie ernstig opneem. ’n Oorywerige burokraat wat aanhoudend WhatsApps vir die residents in haar WhatsApp-groepie stuur. Met ’n gebarste waterpyp sal sy byvoorbeeld drie boodskappe stuur wat kreun onder al die gulhartige emoji’s. “Mooi daggie” is deel van haar elkedagleksikon. Ons is al ’n lekker nagrus toegewens, en ek wag nou net vir die “Lekker slapies”. Probleem is ongelukkig dat hierdie dame glad nie weet hoe om konflik te hanteer nie – en nog minder mense. As jy kla of iets haar nie aanstaan nie, dan blok sy jou summier op die WhatsApp-groep. So, ná drie van my klagtes (na haar persoonlike selfoonnommer) oor die hond se geblaffery het sy my ook verwyder van die binnekring se Sanhedrin. (Dink sy dis ’n crèche?) Mind you, daar’s baie mense vóór my ook geblok, en die dame se groepsinstellings is so gestel dat niemand op die WhatsApp-groep kan kommentaar lewer nie. Nét sý, die admin, die insecure introvert-despoot. En ek dag ’n opsigter is veronderstel om na álle inwoners se griewe te luister? Teen die spoed wat sy aangaan met haar geblokkery, gaan daar later niemand oorbly nie en gaan sy net met haarself praat oor gebarste pype en stukkende elektriese hekke.
Maar terug na die hond. Ek is dus magteloos in my stryd teen die geblaf. My jong buurman (ek skat ’n student) vlie so drie keer per dag by sy huis uit en dwarrel soos ’n stofduiwel in die gang af, BHANG!, dat die staalhek hik in sy kosyn. ’n Halfuur stilte. Maar nee wat, die skuldiges daarbinne steur hulle aan niks en die geblaf gaan net voort. A luta continua!
........
Hond se kind se geblaf slaan juis ’n senuwee in my brein raak en ontplof teen my skedeldak dat ek wil huil van die sensoriese pyn. Ek moet skryf en het stilte nodig. Ek is obsessief-besitlik oor my stilte as ek konsentreer en dan is dit ál wat saak maak.
.........
Iewers het ek die plot verloor en kliphard geskree dat ek dink die hond blaf so baie omdat hy verwaarloos is en dat ek summier die DBV gaan kontak. Toe was dit (weer) ’n halfuur stil. (Was ta toe in die huis, waar hy hoort? Want dit is ’n klein hondjie, ’n pavementspecial X foksterriër-kruis.) Ek is geseën (gestraf) met ’n hipersensitiewe gehoor, veral vir botone. Hond se kind se geblaf slaan juis ’n senuwee in my brein raak en ontplof teen my skedeldak dat ek wil huil van die sensoriese pyn. Ek moet skryf en het stilte nodig. Ek is obsessief-besitlik oor my stilte as ek konsentreer en dan is dit ál wat saak maak. Skryf. Second best luister ek musiek om die geblaf te verdoof, maar ek het al rowe op my ore van die baie oorfone opsit, en boonop dring die botone déúr enige musiek. Ten einde raad het ek my musieksmaak verander: Wagner se “Ride of the Valkyries” moes noodgedwonge plek maak vir Metallica en Iron Maiden, en dit was nie lank nie of ek het as nuutbekeerde metalhead geïdentifiseer.
Toe besluit ek: As die jong buurman se klap teen die hek ’n halfuur se stilte waarborg, dan gaan ek begin klipgooi om my misnoeë te kenne te gee. Die onsensitiewe dôners verstaan duidelik net die wet van die oerwoud. Die probleem is net, ek moet my arm déúr die diefwering wring en skuins, amper om ’n draai, gooi om die hek te tref. Nee wat. Ek het geen ball sense nie en die klippie tref net-net die onderste deel van die hek. Pieng. En in die proses stamp ek my skouer teen die diefwering, nerf-af.
Die res van die dag het ek met ’n pot perdesalf en pynstillers gesulk; en die volgende oggend my blou skouer in die spieël bejammer.
Toe besluit ek op my BB-gun. Ja, óm die skuins draai sal ek darem kan skiet, as ek dan nie sekuur kan klipgooi nie. Ek het my fake gun met die plastiekpellets oorgehaal soos Dirty Harry en gekorrel, my krom bolyf teen die diefwering. Pong. Zero effek. Maar in die proses het my stukkende skouer wéér die koue staal getref – einafok, leer ek dan nooit? – en het ek die gun moedeloos langs my voete laat val. Dis ’n gevaarlike ding om in jou hand te hê, want dit lyk eg. Van pure moedeloosheid het ek net teen die diefwering bly leun-lê, my gesig skeefgetrek teen ’n tralie. My skouer het geklop en ek het gebid dat my jong buurman weer soos Batman in die gang sal afsweef ... want ek maak nie my hande vuil nie. Dis hoekom ek nie uitstorm en teen die hek gaan hamer nie; en ek wil om die dood nie in die gangetjie opgemerk word nie. Nog minder wil ek met die buffel wat daar bly en bedags sy vrou so verskree, gaan praat. Nee, ek operate anders.
........
Die hele kompleks se honde het begin blaf, diejirreweet hulle het hulself in ’n staat van delirium ingeblaf.
........
Dit is toe wat my meesterplan begin vorm aanneem. ’n Dag tevore het ek begin om die geblaf te record met my selfoon. Ek het ’n draagbare Bluetooth speaker op die grond voor die vensterbank neergesit en gewag tot die hond weer blaf. Whôwhôwhôwhô, het dit begin; toe draai ek die recording vir ’n paar sekondes op maksimum volume en gooi die vensters wawyd oop. Die hele kompleks se honde het begin blaf, diejirreweet hulle het hulself in ’n staat van delirium ingeblaf.
Stilte, en wéér die recording. Die brakke van Turffontein het nou ballistic geraak; die speaker het eintlik getril van opwinding. If you can’ t beat them, join them. Dikwels is die enigste exit uit ’n situasie om chaos te skep. Die geblaf hou nooit meer op nie en laat die inwoners kla; ja, laat hulle kla. Ek staan soos ’n regisseur terug en betrag my drama. Net jammer ek kan nie die nuwe reëls rakende honde in die kompleks volg nie, want ek is mos nie meer welkom op die opsigter se groepie nie.
A luta continua!
Lees ook:


Kommentaar
Briljant geskryf, Nini, ek kon dit voor my geestesoog sien afspeel! Ek identifiseer - as eienaar van honde en ook as skrywer wat nie kan funksioneer sonder stilte nie. Lanklaas só lekker gelag.
Nini, al my simpatie. Dit mag dalk 'n komiese skets wees(?), maar dis werklik 'n ernstige probleem. Ek het gedink dis net ek wat letterlik pyn ervaar as honde blaf, motordeure toegeklap word (hoekom smyt mense hulle motors se deure so toe?), maar toe my een kleindogter een keer vra "oupa wat is dit?" en ek het eers 'n paar minute later besef sy het 'n verbygaande vliegtuig se enjins gehoor lank voordat die ander mense dit kon hoor - want ek het dit gehoor. Toe het ek besef hier is iets oorge-erf. Ek het nooit besef ek en sy beide aan erge hyperacusis ly nie. Dis hoekom ek 'n advokaat hof toe gesleep het oor sy twee blaffende honde gevaartes, verwaarloos en alleen as sg waghonde wat letterlik tot 3, 4 uur lank elke nag onophoudelik geblaf het. Log gehou van die aantal kere wat ek wetstoepassing sonder sukses gebel het. Saak gewen en daardie honde is verwyder, koste na eienaar verwys. Hyperacusis is 'n pynlike sensitiwiteit vir veral harde klanke soos messegoed, borde, koppies en pierings wat teen mekaar kap. As my vrou met skottelgoed werskaf, vlug ek. Dis onuitstaanbaar. Dis geen grap nie en ek wil nie eens dink waartoe mense gedryf kan word deur sulke honde nie. - hondeliefhebber, maar hater van harde klanke en onge-ergde honde eienaars.
Dit is werklik jammer dat die probleem van blaffende honde as komies afgemaak word en nie eintlik reaksie vanaf honde-eienaars gekry het nie. Ekself word omring deur 10 honde en is reeds vertel dat ekself die "probleem" moet oplos!
Net vir die interessantheid en vir moontlike toekomstige gebruik, verwys ek na die volgende tydskrif-artikel van 'n "kenner":
Johan Scott. A dog's bark sometimes equals its bite for purposes of delictual liability, in Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 2024, no 1, pp. 134-149.
Onthou tog net: "A person who acts as his own attorney, has a fool for a client".