
Alle karakters is fiktief en enige ooreenkomste met die werklikheid is bloot toevallig.
...
Die eertydse bellettristiese Hertzogprys het hulle roterende kriteria van drama, prosa en poësie verander na die Hertogprys vir krimi’s, romanses en selfhelpboeke.
...
Dit is die jaar 2030.
Die boekbedryf van ouds, soos ons dit geken het, bestaan nie meer nie. In kort: Die boek, die hardekopie, die artefak wat lesers eens so graag wou vashou, bevoel, beruik en beblaai, het uitgesterf en reliekstatus verwerf. Dit het alles begin nadat ’n eertydse skrywer se essay oor die toename in boekbeïnvloeders op ’n ou en waardige poësiewebwerf verskyn het. Die woedende beïnvloeders, hulle volgelinge en uitgewers het soos een man hierdie skryfster op die sosiale media gestorm. Hulle credo was duidelik: Hulle is keelvol vir literêre kritici; daardie klomp elitistiese suurknolle se dae is getel en die boekbeïnvloeders sou in die toekoms die nuwe gesag wees in die sukkelende boekbedryf in SA. Die swak en oningeligte leeskultuur van Jan Alleman het met mening en met ’n gedreunsang geresoneer, ’n rewolusie wat herinner het aan die kleinboere wat die Bastille met pikke en grawe bestorm het, en ’n distopiese literêre landskap agtergelaat het.
It was the best of times, it was the worst of times, it was the age of wisdom, it was the age of foolishness, it was the epoch of belief, it was the epoch of incredulity, it was the season of light, it was the season of darkness, it was the spring of hope, it was the winter of despair. Die studieveld Letterkunde, ook Literêre Teorie of Literatuurwetenskap genoem, is aan universiteite uitgefaseer en is vervang met ’n nuwe veld: Digitale Inhoudskepping. Letterkundiges het hul nut en relevansie verloor in die aangesig van duisende boekbeïnvloeders; akademiese departemente was nie meer volhoubaar nie en hulle subsidie-inkomste kon nie meer hulle koste dra nie. Universiteite moes hulle nuwe curricula blitsvinnig aanpas om die tsunami van woedende boekbeïnvloeders en die nuwe leserskorps te akkommodeer en studievelde soos Digitale Ontwerp en Digitale Beïnvloeding het ontstaan. Net soos daar ’n BA- en MA-graad in Inheemse Kennis (omgangstaal: Sangomakunde) aan Wits-Universiteit ingestel is, het daar ’n BA-graad in Digitale Inhoudskepping, ’n MA-graad in Skeppende Inhoudskepping en ’n PhD-graad in Toegepaste Inhoudskepping ontstaan. En soos in die geval van dekolonisering, het die tydvak van deliterarisering aangebreek.
Literêre Teorie is finaal nek-omgedraai en o wee vir dié wat enige iets oor dié uitgestorwe en ongewilde studieveld te sê gehad het! Afrikaans, en haar vertakkinge van weleer, het verdwyn. Net Universiteit Stellenbosch het nog verbete probeer om die taal te red en Afrikaaps 101 is as keusevak ingestel. Standaardafrikaans het finaal teruggekeer na haar kombuistaalstatus. Hierdie transformasie in die eertydse taal en lettere het uiteraard talle akademici werkloos gelaat – gelukkig kon die oorgrote meerderheid aftree, want hulle was al jarig. Die vryskut-literêre resensente het in swak beligte koffiewinkels gesit en hulle wonde gelek, terwyl hulle stug hulle bitter koffie drink. Die bekende genrefiksieresensent Samuel Cohen het ’n suksesvolle praktyk in Stellenbosch geopen as traumaberader vir mense wat op die digitale media geboelie word.
Die grootste lewende Afrikaanse digter Baden Badenhorst het vanaf sy woonstelbalkon in Parys gestaar en gedink: Laat hulle almal in hulle mouroir invlieg.
...
Daar was later méér boekbeïnvloeders as skrywers of lesers in die digitale inhoudskeppingsbedryf.
...
Ook die leksikograwe was opeens werkloos en om te oorleef, moes hulle aanpas en die nuwe sosio- en taaldialekte van die digitale inhoudskeppers opskryf in ’n aanlyn woordeboek wat “Digi-taal” geheet het. Die tradisionele boekredakteurs by koerante is vervang met digitale inhoudsredakteurs (om nie aanstoot aan die boeklesers te gee nie); tog was daar literêre strydrosse wat tot die bitter einde vir die behoud van literêre kritiek en die hardekopieboek geveg het, soos die veelbekroonde filosoof, digter, skrywer en kritikus Jean-Paul Cronjé. Ook die bekende skrywerspaar Esmaralda Ingram en Gavin Nagtegaal het hulle stemme by die Boekstryders gevoeg, maar helaas. Die Brave New World van digitale inhoudskepping het onstuitbaar die nuwe epog binnegelei.
Die eerste paar maande van 2024 was onstuimig, om die minste te sê. Die eertydse bellettristiese Hertzogprys het hulle roterende kriteria van drama, prosa en poësie verander na die Hertogprys vir krimi’s, romanses en selfhelpboeke. (Die naam “Hertzog” in die prys het in tandem met die oordrewe gees van woke-heid aanstoot gegee en die prys sou voortaan bekendstaan as die “Hertogprys”.) Die laaste groot romansier wat hierdie gesogte, maar obsolete bekroning “Hertzogprys” ontvang het, was Eksteen van den Heever vir sy roman Geraamte.
Daar is selfs die Modise-prys vir die boekbeïnvloeder wat die meeste boeke geskandeer het, ingestel. En dan moet ons nie die Lekkerleesprys vir debuutboekbeïnvloeders vergeet nie: Dié prys word toegeken aan ’n beginnerbeïnvloeder wat op gerekende wyse ’n nuwe lesersindruk in slegs 20 woorde kan saamflerts. Die eerste wenner van hierdie prys was Gretchen Benadé.
In 2025 het Afrikaans se eeufeesviering aangebreek – ’n droewige tyd gegewe die feit dat die taal se letterkunde bloot ’n literêre testament geword het.
Woke-heid het bisarre afmetings begin aanneem en die drukkoker van die oeroue debat oor literêre kritiek het oorgekook. Die verskraling van literêre resensies was al vir jare vóór die debakel ’n bron van kommer. Boekredakteurs soos Jon Koning het al minder koerantspasie vir resensies gehad – met die gevolg dat lekkerlees-resensies van verstrooiingslektuur voorkeur geniet het. Koerantresensies het soos die lesersindrukke van boekbeïnvloeders begin uitsien en die (langer) literêre resensies, wat op webwerwe verskyn het, is deur bitter min gelees. Die beswaarde boekbeïnvloeders en hulle gevolg was siek en sat vir skrywers en digters wat moes deurloop onder literêre resensies en het hulle eie niche begin. Hulle het sélf resensies aanlyn gepubliseer en vyfstergraderings van nuwe boeke gedoen. En die literêre utopie het helaas! aangebreek. Alle – met die klem op álle – boeke wat verskyn het, was goed. Vergesel van vyfstergraderings met al die desimale tussen-in. Die meeste van die boeke het egter 5 uit 5 gekry. Maar o wee, ek lees nou die dag van ’n selfhelpboek wat 4,4 uit 5 gekry het, hoe onredelik! Absoluut skreiend! Dit was amper so erg soos die nimlike skrywer Martina Kleynbaardt se besware dat daar vuilspel betrokke was in ’n vorige resensie van haar werk.
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap, Kuns en Boekbeïnvloeding was volgende. Nou, met die gelyktydige gebeure dáárdie dae is dit moeilik om die kousale gang van alles hier weer te gee, liewe leser. Alles het oombliklik gelyktydig gebeur, maar ek doen my bes. Everything everywhere all at once!
In daardie onstuimige tydperk het ook die laaste van die outydse digbundels verskyn: Tim Geyer se Eendag in ultraviolet en Didi Slipons se opspraakwekkende erotiese bundel Skootrekenaar. Slipons het, sover verneem kon word, weggebreek en ’n blokketting- en netwerkdigter in Kanada geword. (Rare, ongetekende kopieë van Geyer se briljante laaste bundel is ná verskeie oplae op die dark web te koop aangebied.)
Die drie baanbrekende boekbeïnvloeders was die legendariese trio: Tristia Hoogenhout, Marie-Lize Viljee en Hermaans Fouché (wat bekendheid verwerf het met sy blitsverkoper Onbeskryflike tirade). Want dié beïnvloeders was ’n talentvolle klomp. Hulle het, naas die neergrif van gloeiende resensies, ook gejodel en oor eienaardige talente beskik soos om te paradeer en te flerts. Laasgenoemde het gelei tot inflertsing en uitflertsing, beide kunsvorme wat intussen met groot omsigtigheid verfyn is. ’n Inflertsing is ’n outydse literêre inskatting van ’n werk – behalwe dat die inflertsing binne die konteks van boekbeïnvloeding in slegs drie sekondes geskied. ’n Uitflertsing is ietwat langer en het dikwels netjies in gelid geparadeer. Daar was baie spin-offs van die woord flerts wat hierdie beïnvloeders met trots omarm het en ’n nuwe webwerf “Flertsindaba” het tot stand gekom.
Alhoewel boekbeïnvloeders bekend was vir hulle juigkommando’s (dit beteken om laer te trek en te jubel rondom ’n pas verskene boek), het hierdie juigkommando’s sélf ook ’n kunsvorm in eie reg geword. ’n Juigkommando, soos ons dit vandag verstaan, ontstaan wanneer die boekbeïnvloeders se gevolg in ’n spreekkoor harmonieus hulle lofbetuiginge uiter.
Op laerskool reeds is leerders afgerig vir die Eisteddfod en geleer om te paradeer, te flerts en te jodel en daar is nuwe aanmoedigingspryse vir die jeug ingestel.
Van die ouwêreldse erfenismedia het net die radio oorgebly – die eens gedrukte koerante het eers kanonvoer geword voor dit verdwyn het en met digitale nuusinhoud vervang is. Die uitgewersbedryf, wat op ’n stadium boeke (die harde kopie) gepubliseer het, het eweneens gevou. Kuberkrakers het by die dag toegeneem en kon feitlik alle boeke in PDF-formaat omskakel en oplaai op webwerwe, waar dit teen ’n geringe subskripsie bekombaar was. Niemand kon die stroom kuberkroeks keer nie.
Daar was nie meer wins te maak uit boeke nie, maar die gevaarligte vir die doodskoot vir uitgewers het jare gelede reeds begin flikker. Byna alles wat daar te lese was, was gratis. Die Berlynse Verklaring oor vrye toegang tot wetenskapkennis is mettertyd uitgebrei om alle boeke tot Open Access te verklaar.
Dit het gegaan soos in die dae van daardie operasangeres Florence Foster Jenkins, die vrotste operasangeres ooit, wie se kakofonie aangeprys is as hemelse sang. Jenkins was ’n stinkryk en vrygewige patronaat van die kunste en kunstenaars het haar geld nodig gehad. Daarom het selfs die grootste musiekkritici vir haar vertel watse wonderlike sangeres sy was. Alles infame leuens, natuurlik. Die juigkommando’s en rasieleiers het in Carnegie Hall gefluit, gejuig en voete gestamp toe Jenkins soos ’n African Grey-papegaai Koningin van die nag geskrei het. Alle resensente is omgekoop om goeie resensies oor die vertoning te skryf. Almal, behalwe vir één: Earl Wilson van New York Post, wat die moed gehad het om berig te doen oor die skokkende swak vertoning. Klik gerus hier.
Te midde van hierdie tuimeltreinsituasie het dit uitgelek dat een van die Crito’s (daardie gewese resensieresensent op LitNet) die bekende predikantsvrou Elna Kritvinger van Pretoria was. Oor die kartel van Crito’s is daar verder net bespiegel en die enigma is, soos die betekenis van die woord WOKNAKWYF, nooit onthul nie. Fluistertonge is dit eens dat een van die Crito’s verdwyn en na bewering sy naam effens gewysig het en ’n bestaan gemaak het as resensent van pornografiese webwerwe. Ek kan net dink die voormalige Crito moes ’n ball van ’n tyd gehad het!
Die doodsnikke van die boekbedryf, voor alles vervang is met digitale inhoudskepping, was ’n nare affêre. Frankel Klassen van Strelitzia Boekhuis het in sakeredding gegaan. Die beste uitgewersbemarker Romana Vogel het ’n pos as digitale inhoudskeppingshoof elders aanvaar. Drakensberg Uitgewers het probeer oorleef deur dooie, gekanoniseerde digters se werk uit te gee (’n edel idee, maar taktiese fout). Maar hoede af vir Phambili Uitgewers onder leiding van André Naudé wat verbete voortgebeur en tot die bitter einde bly veg het vir poësie. So ook Granaat Publikasies, onder leiding van die bekroonde digter en vertaler Dawid Human en sy vrou Magdaleen Marais. Ongelukkig het sommige klein randuitgewers soos Kwêvoël Boeke gesneuwel. Máár, soos die uitgewers verdwyn het, het ekwilibrium weer ingetree en het daar nuwe uitgewers verskyn. Solidariteit het toegetree tot die stryd en SOLjantieties Uitgewers en Uitflerts Uitgewers het oornag, soos paddastoele, opgeskiet.
Een of twee van die sinkende uitgewers is gered deur boekbeïnvloeders wat aandele in die maatskappye gekoop het en hierdie mense het ryk geword, terwyl skrywers en uitgewers verder verarm het. Net soos daar eens ’n literêre hiërargie van kritici was, AG Vink of Jean Heiberg op die apeks, het daar ’n nuwe hiërargie van beïnvloeders gevorm. Dit was die goue era van leesgenot. Die boeke wat verskyn het, was só goed daar was nie ’n noodsaak vir kritici nie. Die meeste eertydse skrywers het terstond hulle Facebook-profiele omgeskakel na digitale inhoudskeppers (met ’n gevolg van duisende) en BookTok het eindelik ’n gewildheidskompetisie geword. Die beïnvloeders was, soos daardie supermodel Minki van der Westhuizen, tot die tande toe ge-tag en beplak met handelsmerke. Nuwe horlosies, grimering, klere... Die indirekte produkpromosies het deel uitgemaak van beïnvloeders se blitsvideo’s oor nuwe boeke. Alles – almal – uiters positief.
Die mees gesaghebbende eertydse literêre kritikus prof Jean Heiberg het intussen haar niche as filmkritikus gevind. Met die stroom minireekse en films het Heiberg dag en nag geresenseer en soms ’n verrassende kameevertoning in ’n Afrikaanse film gemaak as ’n outydse literêre kritikus wat waarskuwend oor haar leesbril loer. (Heiberg was ’n legende in die ou letterkundige bedeling of “ivoortoring”, soos dit vandag bekend staan.) Maar ’n kritikus bly maar ’n kritikus en sy het ’n onverwagse koers ingeslaan – sy het die feminisme agtergelaat ten gunste van die ontluikende studieveld oor die gemarginaliseerde rol van die man in die digitale wêreld.
Handboeke vir die studentemark het só duur geword, die digitalisering van alle boeke is met ope arms verwelkom. Bedags het mens studente op kampusse sien loop met hulle swartspieëls – kindles, tablette en dan natuurlik Amazon wat ’n bekostigbare spognuwe Tingle uitgebring het waarop ’n mens teks kan lees. Dit was inderdaad ’n heerlike tyd vir enige skrywer om te publiseer en hier moet ek mooi besin oor die lastige semantiek. Publiseer het eerder “digitaliseer” geword, aangesien boeke eers geleidelik in hardekopievorm uitgefaseer is, toe in e-formaat getaan het voor álle kennis op ’n kosmiese digitale databasis vasgelê is. Die boekbeïnvloeders kon nie voorbly om hulle indrukke, flertse en ander vinjette te skryf nie en het hulle uiteindelik gewend na kunsmatige intelligensie.
Die tradisionele ou digbundel, daardie ou artefak waarin soveel bloedsweet en trane gegaan het maar wat ’n swak verkoper was, het vinnig uitgesterf. Die leeskultuur onder Afrikaanses het van poësie gehou, maar nié die literêre soort nie. Nee, Facebook-digters het sedert 2011 begin met ’n nuwe spesie verse wat herinner aan populistiese groetekaarte en goue sonsondergange in die skemer. Ook die gekanoniseerde digters het nie meer uitgewers gehad nie en het begin selfpubliseer. ’n Gedrukte digbundel was soos om ’n handgemaakte houtmeubelstuk van ’n skrynwerker op ’n vlooimark te koop. Of om iets kosbaar waarop hand made verskyn, te koester. Hierdie arme digters het dan ’n paar selfpublikasies onder hulle handvol lesers versprei. Maar omdat literêre kritiek uitgesterf het, was daar geen kwaliteitsversekering nie en was almal, uiteraard, groot digters. Die Groot Verseboek/e het langs die ou Statebybel hulle plekke as Afrikana-relieke ingeneem. Boeke, maar veral digbundels, het uiteindelik soos die aankoop en versamel van ouskool vinyls geword. En om met ’n pen en papier jou diepste emosies te pen en dit ’n “gedig” te noem, was net so belaglik soos om ’n dier teen ’n grotmuur te teken. Selfpubliseerders het later van tyd hulle besighede gesluit, want die digitale oormag het hulle publikasies irrelevant gemaak.
Maar weer eens het daar ekwilibrium gekom, en weliswaar ’n ironiese een: Facebook het ’n opsie verskaf waar ’n gebruiker ’n héle digbundel kon oplaai! Die nuwe balk het gepryk langs die foto-/video-opsie op Facebook en uiteindelik het die massas die magiese benaming “digter” volledig vir hulself opgeëis en toegeëien, en die boekbeïnvloeders wat ’n monopolie op die digitale woordlandskap bekom het, kon nie voorbly om vinnig genoeg hulle kriptiese lofsange en vyfstergraderings op hierdie digitale diguitinge te plak nie. Poësie was, helaas, nie meer ’n elite-aktiwiteit nie – daar was min mense wat nié digters geword het nie. Die oplaaifunksie op Facebook was besonder verbruikersvriendelik. Jy kon ’n omslag en lettertipes van ’n menu af kies en die profielfoto’s van die boekbeïnvloeders (die stempels van goedkeuring) het hierdie digitale digprojekte (sjoe, weer die probleem van semantiek, liewe leser!) afgerond. Die gewildste omslagontwerp was ’n lugfoto van Tafelberg met meeue op die voorgrond en ouwêreldse kalligrafie as lettertipe. Die beste van alles was natuurlik dat, met die hulp van kunsmatige intelligensie, jou gedigte outomaties en onmiddellik in al die wêreldtale vertaal en beskikbaar was.
Met die enorme hoeveelheid digitale boeke wat beskikbaar was, is daar intussen eksklusiewe boekbeïnvloedingstaalbotte ontwikkel om die oorwerkte beïnvloeders by te staan in hulle blits-assesserings van nuwe werk. Só kon ’n beïnvloeder 90–120 boeke per maand deurflerts, terwyl die immer gulsige verbruikerskultuur nóg en nóg bly eis het.
Daar was later méér boekbeïnvloeders as skrywers of lesers in die digitale inhoudskeppingsbedryf.
En steeds het die digitalisering meedoënloos voortgestoomroller. ’n Nuwe stromingsdiens Potify het kletsbotte beskikbaar gestel waarop skrywers se werk as luisterboeke gelees en omgeskakel is. Teen dié tyd het sosiale media-gebruikers die aandagspan van ’n goudvis gehad en was die lees van enige digitale inhoud – hoe kort ook al – harde werk. Net soos CD’s, video’s en e-boeke geleidelik verdwyn het, het nuwe tegnologie hul verskyning gemaak. Enige skrywer kon sy of haar inhoud gratis op Potify oplaai en teen ’n geringe subskripsie kon lesers toegang tot alle digitale luister-inhoud bekom. Natuurlik – soos mens kon voorspel – het die beïnvloeders met hulle glansryke profiele hulle leeslyste beskikbaar gestel op Potify en kommissie daarvoor ontvang. Hierdie mense was die rykste in die digitale inhoudskeppingsbedryf. Dit het gelei tot ’n verdere ontploffing in die beïnvloedersbedryf. Die gewildste beïnvloeders was dié wat hulle uitflertsings vir hulle luistergevolg gejodel het.
En toe ontstaan daar ’n nuwe krisis: Kunsmatige intelligensie se enigmatiese black box het begin om ’n klomp botbeïnvloedersprofiele op willekeurige wyse te skep en geleidelik die menslike beïnvloeders uit die mark begin druk. Dit was bykans onmoontlik om tussen kunsmatige intelligensie en mense te onderskei en uiteraard het hierdie botprofiele baie vinniger en meer effektief geflerts as wat die menslike brein kon droom om te doen. Teen hierdie tyd was alle digitale inhoudskepping die produk van óf mens en masjien óf die werk van kunsmatige intelligensie alleen, want die skeppende digitale inhoud van ’n mens-alleen was skaars. Hierdie inhoudsbotte het uiteindelik deel van die sosiologie van die dag geword. “Regte” outydse skrywers van vlees en bloed soos Karel Schoeman, Elisabeth Eybers en NP van Wyk Louw is met mitologiese status bejeën.
Die argaïese en eens trotse FAK (Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge) se naam het verander na FOK (Federasie van Ou Kultuurvereniginge). Die FOK wou privaat-kuratorskap oor die munisipale biblioteke, wat uiteindelik irrelevant geraak het, bekom, maar kon ongelukkig net ’n paar red. Hierdie oorblywende biblioteke het museums geword. Die voormalige uitgewer Frankel Klassen het ’n nuwe loopbaan as hoofkurator van een van hierdie museums, die Merensky Argief, begin. Derduisende boeke is teen uitskotprys verkoop of het op Cash Crusaders se rakke geland, maar helaas... Daar is hope en hope boeke verbrand (wat uiteraard handig te pas gekom het as brandstof tydens die sloerende beurtkragkrisis).
Ja, dit was tragies. Oupas vertel aan hulle kleinkinders van die biblioteke van lank gelede, van die vismotte en stof in die boeke wat jy uitgeneem het en wat gestempel is met sulke pers ink. En koerante! Daardie groot, logge bladsye wat jy met armlengtes moes omblaai. Ja, dáárdie dae was daar nog resensente wat kritiese resensies geskryf het. Kan jy glo mense was op ’n kol so onbeskof! Kyk nou net hoe ver het die mensdom intussen gevorder...
Die hele rewolusie het in 2023 begin nadat daardie skryfster Mimi Barrett-Henn ’n artikel oor literêre kritici en boekbeïnvloeders op die destydse webwerf Versindaba gepubliseer het. Hulle sê haar wederhelf het moedig in die voorste virtuele linies teen die oormag boekbeïnvloeders geveg, maar toe ek die ou prof Heanert Henn bereik vir kommentaar, het hy geantwoord dat hy ’n ingenieur is en absoluut níks daarmee te doen gehad het nie.
Lees ook:
Bekgeveg oor resensies: Aardbewing in ’n miershoop of tydige waarskuwing?
Op hol met Nini Bennett-Moll se heerlike artikel op Versindaba
Willie Burger oor boekresensies, beïnvloeders en die boekebedryf


Kommentaar
Ek moes vluglees. Is daar iets soos homilie?
Omdat Afrikaans toe gelukkig dood is, is daar herinneringe, soos Johan Myburg se Narreskip:
I
In Tam gesprekke aan tafel - dié wat bly repeteer,
wat aan niks 'n duit gaan verander nie, oor verval,
die postkolonie en standaarde wat finaal duik -
waarby selfs by die liter wyn g'n positiewe rol
gaan speel om die geteem te tem nie, is 'n nar
aan tafel 'n aanwins, een wat oppervlakkig
'n gesprek kan heg met kwink en kluitjie
of minstens samehang deur al die onsin kan vleg.
II
Wie kan praat en wie moet swyg;
wie het en wie kry die mirtetwyg?
Nini, dis nie waar nie, want my ChatGPT-gedigte oor die goeie ou dae van “Regte” outydse skrywers van vlees en bloed" teen slegs 0.05 USD soos Avatars afgelaai verkoop in 2030 steeds soos pannekoek by 'n Kerkbasaar in die ou dae.
Sjoe, dit was bôring om te lees. 🥱
Nini, jou onderrok hang nie net uit nie, dit sleep op die vloer. Ek kan nie glo dat LitNet hierdie publiseer nie. In my lewe het ek nog nie sulke kinderagtige optrede van 'n opgevoede, geleerde persoon gesien nie.
Ai, ja, dit is onafwendbaar dat Afrikaans op die lange duur nie sal oorleef nie. Dit is nie weens boekbeïnvloeders nie. Ander tale het ook boekbeïnvloeders. Engels het vreeslik baie sulke mense. Veel meer as ons ou klein taaltjie. TikTok krioel van hulle. Die agteruitgang van Afrikaans aan universiteite is hoofsaaklik weens sosio-politieke redes. Die universiteit se strategiese beplanners merk eenvoudig op 'n dag op dat die Afrikaanse klasse nie meer veel studente lok nie. Dit is die logiese resultaat van die krimpende aantal Afrikaanse skole. Eers word die Afrikaanse department se personeel dan verminder. Dan word die Afrikaans saamgevoeg met 'n ander departement of twee, drie (soos wat by kovsies gebeur het, waar ek eens Afrikaans studeer het). Dit het gebeur voor Facebook en TikTok nog ontstaan het. En uiteindelik verdwyn Afrikaans soos wat by sommige plekke reeds gebeur het. Dit gaan waarskynlik vinnig versnel weens die nuwe BELA-wet, want politici sal voortaan skole se taalbeleide bepaal, en nie meer skole se beheerrade nie. En die politici se voorkeur is Engels. Die hele staatsdiens is na 1994 verengels. Die patroon is dat die skool eers dubbelmedium word, en dan later enkelmedium Engels.
Dit is nie 'n slegte idee dat Kaaps aan universiteite begin doseer word nie. Veral noudat daar 'n woordeboek vir Kaaps ontwikkel word en die bybel in Kaaps vertaal word. Kaaps word onderdruk deur gestandariseerde Afrikaans, en begin al meer op eie bene te staan. Die einde van apartheid het Afrikaans se posisie van bevoorregting tot 'n einde gebring, maar ook wel sommige wonderlike nuwe deure vir die taal oopgemaak. Waaronder 'n meer prominente rol vir Kaaps.
Miskien sal iets van die ou "standaard" weergawe van Afrikaans nog eendag bietjie voortleef by Akademia. Tyd sal leer.
Ek het nog nooit lekker verstaan hoe 'n naam soos dié van generaal Hertzog oorleef het in die vorm van 'n letterkundeprys nie. Daar is veel om daarin te lees egter. Hetzog se bydrae tot die behoud van Afrikaans, was deurslaggewend. Maar vir die meeste inwoners van ons land is hy geen held nie, en veel eerder 'n "white supremacist". Toeval?
Daar is en bly 'n reusebehoefte aan biblioteke. Met die ontwikkeling van e-boeke is daar al meer as 'n dekade gelede gewaarsku dat biblioteke en boekwinkels gaan verdwyn. Dit het toe nooit gebeur nie. Waar gegoede mense maklik toegang het tot elektroniese toestelle, is arm lede van die gemeenskap, wat net so behoefte aan inligting het as rykes, van biblioteke afhanklik. Skole begin weer besef dat biblioteke vir jongmense leer hoe om basiese navorsing te kan doen. Maar daar is 'n hele rits uitdagings. Die land is bankrot en probeer orals besnoei. Staatsdepartemente word tot in die grond in bestuur. In sommige gevalle word nuwe biblioteke in arm gebiede gebou, maar weens burokratiese rompslomp staan dit vir jare gesluit. Poste word nie gevul nie. Daar was op 'n stadium ook 'n tekort aan opgeleide biblioteekarisse. Want wie stuur hulle kinders waarsitie toe om te gaan studeer vir so iets, as boeke tog gaan verdwyn weens tegnologie? Die regering het toe wel met groot moeite mense opgelei, mens kan darem per korrespondensie ook inligtingkunde studeer (as jy kans sien vir deesdae se Unisa bygesê. As mens die koerante kan glo, word dinge word daar ook op 'n bepaalde manier gedoen wat ooreenstem met die regering se algemene soort van bestuur). Politici het darem dikwels 'n gerieflike verskoning om op terug te val: it was never properly costed...sal jy hoor. En vergeet ook nie die rol van misdaad nie. Sommige biblioteke sluit gewoon weens misdaad. Biblioteke is maklike teikens vir gewelddadige en gewapende misdadigers wat personeel van beursies, selfone ens. beroof. En die polisie kan niks doen aan die misdaad nie.
Sommige biblioteke val onder die provinsies. Ander onder die munisipaliteite. Nodeloos om te sê, is meeste munisipaliteite in Suid-Afrika se finansies verby beroerd.
Ek voel baie ambivalent oor die FAK. Hulle doen wel baie mooi dinge vir taal en kultuur. Maar ek is bevrees dié tyd van die jaar is die FAK gans te besig om die herdenking van die Gelofte van 1838 te reël om enigsins op munisipale biblioteke te kan fokus (loer gerus op hulle blaaie vir 16 Desember se beplande aktiwiteite). Die gelaertrekkery sit ook glad nie te lekker met my nie. Maar ons wat buite die laer sit, sal maar moet buk voor die keiser. En die keiser praat Engels. Hy is 'n "thee" en 'n "thou", nie "jy" en 'n "jou" nie.
As kind het ek self ook nog die gelofte herdenk. Daardie jare het ek selfs nog aan die Here geglo.
Briljant, Nini! Hierdie is die rubriek van die jaar. Waar nomineer ek jou?
Om te gaap.
Satire is 'n tegniek wat humor, ironie, oordrywing of parodie gebruik om sosiale verskynsels te beskryf ten einde die aandag te vestig op tekortkominge in die gemeenskap. Dit word gevind in verskeie kunsvorme, insluitend letterkunde, drama, film, musiek en visuele kunste. Lees byvoorbeeld die tekste van Brecht.
Wanneer dit misverstaan word, of nie herken word nie, gebeur dit gewoonlik as gevolg van verskeie redes: lesers verstaan nie die kunsvorm en die genuanseerde en geskakeerde aard daarvan nie; hulle mag dalk nie die groter konteks ken nie; hulle mag subjektief en emosioneel teenoor die (soms snyende) ironisering en humor staan; of hulle mag 'n bevestigingsvooroordeel teenoor die inhoud hê.
'n Belangrike benadering tot die oorkoming hiervan, is om die net so wyd as moontlik te span, maw om dit duidelik te maak dat daar nie een spesifieke persoon of groep geteiken word nie. Hierdie skrywer gaan selfs verder en parodieer selfs haarself.
Miskien is die problematiek wat hier op speelse wyse as toekomsfiksie aangebied word, die verskynsel dat middelmatigheid die nuwe normaal in ons sosialisering van die lettere geword het, en dat mense te lui is om hulle kennis te verbreed en verkies om eerder hulle intuïsie te volg wanneer hulle 'n geskrewe teks wat hulle ongemaklik laat, inskat.
Boonop word die dwarslat vir poësie al hoër geskuif, maar die dwarslat vir middelmootliteratuur asook die inskatting daarvan, word toenemend laer gestel.
Uitstekende skryfwerk en diepgaande besinning. Nini Bennett-Moll staan die skoene van legendes soos NP van Wyk Louw en Breyten Breytenbach op 'n bewonderenswaardige wyse vol. Ek hoop sy skryf baie meer vir LitNet.
Die skrywer munt 'n belangrike nuwe term in die Afrikaanse literêre gesprek: "deliterarisering".
Lae hou om na die boek as 'n "blitsverkoper" te verwys. Dis so ver uit dat die konsep ironie agt minute sal vat om daar te kom. Dit gesê ... "Onbeskryflike tirade" is by alle ongure boekwinkels en sommige van die fatsoenliker kroeë in Voortrekkerweg te kry.
Dankie vir die uitstekende skrywe. Ek het dit geniet en lekker in my mou gelag.
Ongelukkig is dit nou maar wat met Afrikaans vorentoe gaan gebeur. Dis onafwendbaar en moeilik om enige party te blameer.
I asked myself the same question. Very disappointed in LitNet allowing this belittling of other people.
My bure (hier op die plaas) is tans nie tuis nie en in hul afwesigheid pas ek huis (en diere) op. Terwyl ek rustig met die keffertjies draadlangs slenter en bekommerd nadink oor wat se versnaperinge nog in die yskas te plunder is, skiet die woord 'juigkommando' my gedagtestroom binne. Juigkomdo sal seker ewe aanvaarbaar wees.
Omdat ek in die dae van bevoorregting buite Verwoerdburg grootgeword het, kon ek kies tussen weermag en polisiemag. Eers later het die polisie die publiek (hase) begin dien. Cele is 'n dienaar. Ek was baie bevoorreg om 'n lening by Volkskas(?) te gehad het wat ek volgens ooreenkoms moes afbetaal. (Eendag tydens wyn vat het my pa sy vriend valslik meegedeel dat hy vir my studies betaal het, wat ek onmiddellik en darem sonder teenkanting as onsin afgemaak het.)
Omdat ek helaas polieste toe is, is ek beter vertroud met die woord 'peleton' as 'kommando'. Ná polisiekollege in Pretoria moes ek ook 'n Tos-kursus (taktiese oorlewing & skarebeheer) buite Groblersdal bywoon, waar ons selfs in penetrasie (huis) onderrig is; niks oor die literêre "wetenskappe" nie.
Anyway, die woord 'kommando' dra aldus my HAT die bloedrooi aura van 'n gewapende mag, of gevegseenheid wat klopjagte uitvoer, óf die EFF, en daarom is "juigkommando" dalk effens van 'n contradictio in terminis, soos 'n menslike oorlog. Die peleton kan hom eweneens met dieselfde dinge ophou en dit bring 'n mens ongelukkig terug by die gedagte dat die woord "juigkommando" ondeurdag deur 'n smaakmaker(y) verbrou is.
Nee, die woord "kommandowurm" is meer juis bv. by wie wurm jy jou in en waarom? (KI kan sekerlik 'n pastiche onpopulêre grappies opdis oor kommandowurms, maar moet ons die masjien mag gee oor die wurm?)
Ek dink nou dat ek my besonder swak uitgedruk het in die bostaande boodskap (onder die naam "Hermaans"). Maar my aanvanklike (ontevrede) reaksie het my dit in die land van satire laat probeer waag en daarby wou ek van myself 'n grap maak deur te verwys na boekverkope. Nie seker dat dit gewerk het nie.
Om die een of ander rede kwel dit my nie so erg as mense dink my pogings is tweederangs, platvloers, lafhartig, waningelig, derivatief of selfs pleinweg swak nie. Ek skryf dit gewoonlik toe aan verskille in smaak, opvoeding, filosofie, herkoms, aspirasies. Op 'n manier gedy ek op kritiek. Maar die kwessie van verkoopsyfers raak my elke keer sleg en dis soos 'n seer tand wat nie weggaan nie. Dit het my al voorheen in druk laat reageer. Ek haat die idee dat niemand die goed lees nie.
Hierdie situasie is vir my 'n ander spieël as die een waarin ek gewoonlik kyk. Miskien lê die waarde van satire net daar, in die ophou van die nuwe spieël. Selfportrette is dalk selde so akkuraat soos dié wat ander mense van jou maak.
In elk geval, dit is heilsaam om aarde toe gebring te word. En ook beteken 'n mens se persoonlike kleinlikheidjies heelwat minder as wat die enkeling mag dink in 'n wêreld met veel groter kwessies, kwessies wat ook op skrywers 'n uitwerking het.
Nou ja, dit sê ek alles in die nademaalse wete dat ek dalk veel minder "bygekom" is as wat ek myself eers wou wysmaak. Soos iemand elders gesê het, as die skoen jou pas ... 'n Ander sêding wat by my opkom, is daardie Engelse een van "eating crow", wanneer ek leer om ná 'n heftige reaksie nederiger of ten minste geduldiger te wees.
Nini het die volste reg om te skryf wat sy wil oor enigiets, insluitend ander skrywers. Ons gee ons per slot van rekening uit as semi-openbare figure en sal (en wil tog?) deur die heersende winde geraak word. Dit is goed so, en selfs belangrik. Wie weet watse drifte nog losgestu sal word deur haar aanslag en deur die reaksies daarop? Hier kry ons heelwat om oor na te dink en miskien by te skryf ook. Ek sien uit na nog heelwat uit haar pen om te lees.
Anne-Marie Taylor, jou minimalisering en koggelry van Nini Bennet-Moll se briljante rubrieke, asook jou uiters skerp persoonlike beledigings aan haar, getuig slegs van jou eie moeras van gebrekkige oordeel. Jou hoëdesibelbeledigings is slegs koglea-irriterend. Jy verskaf geen feite, geen beredeneerde analise nie. Ek moet egter toegee. Jy stel nooit teleur nie, want ons ken jou so.
Ai, Nini, jy is darem pitting jong. Dankie tog prof Mellett is daar om vir ons algar die liggie aan te skakel, anders bly mens maar in die duister.
Blinde Mol(l), die manier waarop jy pittig spel demonstreer jou haas om jouself as vars trol voor te stel.
Noudat die stof effens gaan lê het oor die gesprek, beide hier en op LitNet se Facebook-blad, kan 'n mens enkele gevolgtrekkings maak.
Eerstens: dat die sogenaamde boekbeïnvloeders, hulle meelopers en selfs enkele skrywers wat aan die debat op Facebook meegedoen het, geen benul het van die letterkunde nie. Hulle onvermoë om 'n basiese literêre vorm soos die satire te herken en in te skat sal altyd onder hierdie rubriek geargiveer lê as bewys dat hulle literêre oordeel nie vertrou kan word nie.
Tweedens: dat sommiges so obsessief was om hulself te laat geld, dat hulle uiteindelik gedaal het tot infantiele en kwetsende gedrag. Nini is verneder sonder enige substantiewe argument en daar is selfs kommentaar oor haar persona en bevoegdheid gelewer. My pogings om die satire as literêre vorm uit te wys, is as "mansplaining" en patronisering afgewys, en my geloofwaardigheid is vanuit vals profiele gediskrediteer. Uit die tropgedrag wat daarna gevolg het was dit duidelik dat dit om gewildheid gegaan het en nie om goeie oordeel of analise nie. Die onsin wat uit sommige oorde hier en veral op LitNet se Facebook-blad geplaas is, sal vir ewig getuig van hierdie onbevoegdheid.
Derdens: dat daar individue in invloedryke posisies in die letterkunde is wat kom meedoen het aan die moddergooiery en deel was van hierdie onbevoegdheid. Dit laat ernstige vraagtekens agter hulle professionele integriteit.
As die literêre kanon in die hande van mense soos hierdie is, is ons letterkunde in groot moeilikheid.
The fights are so fierce because the stakes are so low.