’n Snotjantietie met ’n pan in die hand

  • 11

...
Beteken dit Crito wil sulke resensies sien oor boeke waarin die skrywers – en die resensente – wroeg soos ’n sestiger wat deur die strate van Parys stap met ’n sigaret in die hand? Of oor die twee of drie literêre werke wat die uitgewers deesdae bereid is om uit te gee, of sommer oor die nuutste krimi of liefdesverhaal?
...

Mens moet seker nou maar die hele insident met Crito en die snotjantieties in die bed sit en ’n kombers daaroor trek, want daar is dalk reeds genoeg gesê. Tog is dit juis Crito se antwoord (in Crito antwoord kritici) wat my nou so bietjie te warm onder die kraag kry om nog onder ’n kombers ook te lê.

Crito probeer verduidelik dat Crito (onder andere gemene goed) onder ’n skuilnaam skryf om homself/haarself/hulleself te beskerm. Dankie ook, ek neem kennis dat Melody ook ’n skuilnaam is. Kom ons los nou maar die hy/sy/hulle, en sê sommer hy. Ja, ek dink Crito is ’n hy.

So Crito moet homself beskerm. Omdat hy mense wat hy ken soms oor die vingers moet tik. Mos.

As mens dit aanvanklik lees, dink jy ja, dit maak seker sin. Dan begin jy dink oor die hele verontskuldiging, en jy begin van die goed onthou wat Crito oor die jare gesê  het. Die mense in wie se karakters hy ingeklim het, die byname wat links en regs uitgedeel word, die klappe en steke en kneusings wat hy toegedien het. Dis hier waar ek begin dink het, oukei, en wie beskerm die resensente teen Crito?

Ek dink die behoefte om homself te beskerm is bietjie soos ’n man wat sy vrou al jare mishandel, en as sy hom uiteindelik met ’n pan oor die kop moer, wil hy ’n beskermingsbevel teen haar kry.

Dan gaan Crito aan en praat baie oor hoe resensies en boekbemarking in die laaste jare verander het, en hoe hy terughunker na die regte egte resensente en akademiese resensies van vervloë. Julle weet, daardie akademiese resensies wat oor ernstige letterkundige werke geskryf was in ’n tyd toe daar min ontspanningslektuur in Afrikaans was. Beteken dit Crito wil sulke resensies sien oor boeke waarin die skrywers – en die resensente – wroeg soos ’n sestiger wat deur die strate van Parys stap met ’n sigaret in die hand? Of oor die twee of drie literêre werke wat die uitgewers deesdae bereid is om uit te gee, of sommer oor die nuutste krimi of liefdesverhaal? Ek vra, want dis nie heeltemal duidelik nie. Aanvanklik het dit geklink of Crito reken die influencers is maar dommerig en daarom skryf hulle sulke dom resensies.

Want sien, ons moes wag vir ’n tweede berig van Crito, voor hy, onder druk van skrywers soos Sidney Gilroy, besluit het om dan nou maar te kom sê die snotjantieties is nie so sleg as wat hy aanvanklik gesê het nie. Want ons verstaan verkeerd. Ons verstaan altyd verkeerd as Crito gemeen raak. Dis satire. Dis Crito se manier om die dom snotjantieties op te voed en te help en om hul styl te ontwikkel. En dan kondig hy sommer aan dat hy die woord snotjantieties nou te ruste lê. Soos iemand wat in ’n kamer poep en buite gaan wag dat die reuk weggaan.

Sien, ek sou nou gedink het dis heeltemal oukei om resensies oor ontspanningslektuur ’n meer algemene aanslag te gee. Vir die vier en veertig mense wat Afrikaans magtig is en dit lees. Ek stem saam dat jou eerste paragraaf belangrik is, want dit is inderdaad soms al wat mense lees. Meer nog, daar is mense wat bloot na aanleiding van ’n foto van ’n nuwe boek van hul gunstelingskrywer besluit om die boek te koop. Want dis die wêreld waarin ons nou leef, of boomers soos Crito nou daarvan hou of nie. So jy kan hunker soos jy wil na die ou resensente, dit gaan nie die wêreld verander nie. Om akademies te skryf gaan nie maak dat mense akademies begin lees nie.

Daarmee sê ek nie dat die meer akademiese tipe resensie nie ’n plek het nie, natuurlik het dit. Maar wat dalk nie meer ’n plek het nie, is Crito se gemene streep. Ons is mos nou woke, en ja, oor die aanvaarbare vlak van woke-heid kan ons ook vir ure debatteer, maar op die einde leef ons in ’n wêreld wat ’n kleiner toleransie het vir gemeenheid. Waarin pappie nie meer die plak kan inlê en sê dis om jou skryfstyl te ontwikkel en jou ’n beter resensent te maak nie. Dis nie meer so maklik en so eenvoudig nie. Pappie kan ons maar opvoed en beter maak, ek persoonlik sou dit enige tyd waardeer en graag daaruit leer, maar nie meer met ’n TOD-liniaal oor die hand nie. Daar is ander maniere wat beter resultate kan hê.

Crito sê self: Elke resensie behoort ’n swaaiende stert van kommentaar onderaan uit te lok. Maar nou? Nada. Dáárom is Crito nodig.

Ja, maar moet die swaaiende stert van kommentaar oor die resensie gaan of oor Crito se nuutste pakslae vir die resensent? Of die snotjantietie dan, wat heel onwaardig is om enigsins ’n mening te hê.

Dalk is dit tyd dat Crito minder vuishoue uitdeel, of maar begin koes vir die panne. O nee wag, hy beskerm homself reeds daarteen.

Lees ook:

Crito antwoord kritici

  • 11

Kommentaar

  • Ek waardeer 'n eerlike objektiewe resensie om my te beskerm teen 200 rand plus minumum op 'n boek te mors wat ek te skaam sou wees om self te skryf. Daar is te veel prysende hagiografie wat mens mislei om jou tyd en geld op'n boek te mors as jy eerder iets ordentliks kan lees (selfs in die beach-read genre).

  • Analize, so n bek kort jêm. As mens bereid is om uit te deel, moet mens maar vat wat kom. Vir my lyk dit of 'n anonieme status die mens soms n gevoel van onaantasbaarheid gee. Of dalk ;n gevoel van avontuur en van geheimsinnigheid: iets soos "Kyk net hoe lekker krap ek mense se gemoedere deurmekaar en laat ek hul soos wurms wriemel met my beledigings en niemand weet dis ek nie". 'n Soort literêre Swart Kat. Of dalk assosieer hy/sy met die skrywertjie in The Bridgertons. Maar in werklikheid lyk dit vir my na literêre boeliegedrag. Niemand onder ons Afrikaanssprekendes is so slim dat hy of sy beter weet as die ander 43 nie. Niemand is so slim dat hy/sy nie nodig het om sy/haar woorde te tel nie.

  • Boekflooi (met opset)

    Goed gestel, Annelize. Ek sal maar 'n trotse Snotjantieties wees. Crito het 'n probleem met die eintlike lesers en kopers van boeke wat die ervaring van die boek weergee. Duidelik word hulle menings nie verwelkom nie. Hulle moet net bekhou en lees. Ek dink Crito is 'n vrou. Sy noem haarself chika in een van haar betoë, en praat van warmgloede. Sy was ook 'n joernalis. Maar praat van fassisme. Sy is duidelik middeljarig, of amper daar, vind ouer mans bespotlik en onaanvaarbaar (hulle is verby hulle expiry date wat die relevansie van hulle idees of dan resensies aanbetref) en pleit vir beheer oor resensies. Sy noem dié fassisme "kwaliteitsbeheer". Vryheid van spraak (en ja selfs denke) behoort verdoem te word. Los dit vir slegs "akademici" en "gekwalifiseerde resensente". Trek laer, my "woke" volk. Apartheid 2.0: die gepeupel moet hulle bekke hou. Hagiografieryheid van spraak is vir die uitverkorenes. Satire of te nie.

    Projeksie spreek boekdele. Die pot kan nie die ketel verwyt nie. Crito het ook 'n vervaldatum. Dit wys. En presies waar kom Crito se reg vandaan om resensieskrywers, en dan die nuwe golf "influencers" te wil skool? Klink erg fassisties, volgens my opinie.

    Andersins is die gebruik van 'n skuilnaam verstaanbaar. Die "cancel"-kultuur is nogal erg in hierdie spesifieke Afrikaanse laer ook. Die man word gespeel, nie die bal nie. Om die persoon aan te val is makliker as om die boodskap te behandel. Dis ook maar 'n vorm van lafhartigheid.

    Ek het geen begeerte om my gesin, familie, of besigheid, of enige iemand ander verwant aan my te laat deurloop onder my menings of opinies in die openbaar nie. Daarom "skuil" ek ook maar agter 'n wegkruipnaam. Die mafia is gou om iemand se huis te bestorm en af te brand as die persoon se idees nie welkom is nie. Fassisme in 'n ander vorm.

    Wie is skynheilig genoeg om te ontken dat die ou Bybelse waarheid "Die sondes van die vaders word besoek aan die kinders", nog steeds van toepassing is nie?

    Crito is eintlik irrelevant.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top