Ongevraagd

  • 1

Hier voor my op die groot piengpongtafel lê uitgesprei ’n legkaart van Rembrandt se Nagwag. Presies 3 000 stukke, waarvan ek nog net sowat ’n vyfde ’n plek kon laat vind. Dis my ekwivalent van Linus se kombersie.

Waar begin mens hierdie wanhoopskreet?

Miskien by my Afrikaans-dosent aan Tuks jare gelede. Liewe Lina Spies. Ons paaie het gekruis in haar teeperiode, so welsprekend gevier in haar digbundel oor daardie dae, Van sjofar tot sjalom. Een van my mooiste herinneringe is aan ’n Saterdagmiddag toe sy ’n groepie van ons studente onthaal het, en op ’n dare vir ons ietsie gesing het.

Sy had so ’n luidende stem.

Sy sal my seker nie meer onthou nie. Ek ontvang uit Stellenbosch protes oor my opmerking ’n ruk gelede dat Lina ’n CD moet opneem. Dit blyk dat sy onwel is, en my skerts nie tydig nie. Op die kruispunt van onbetaamlikheid en waarheid.

Die lewe haal die luimigheid in.

Verlede naweek stap ek in so ’n Saterdagmarkplek rond en kom af op ’n kêreltjie wat boeke verkoop teen pryse wat Bargain Books sal laat dink die Götterdämmerung is hier. Ek bedoel, sal jy Hans bars die bioborrel ’n mis gee as jy dit vir R20 kan kry? Of Karel Schoeman se Rekonstruksie vir R30?

“Waar kom jy aan die boeke?” Ek het darem geglimlag terwyl ek vra.

Sy ma het gesê hy kan hulle maar verkoop vir sakgeld, dis haar boeke.

“Goedige fawk,” was al wat ek kon sê.

Ja, sê hy, die publishers stuur dit vir haar, en so nou en dan skryf sy ’n krit daaroor.

Ek is nie een wat ’n bargain laat verbygaan nie. Swaar gedra aan elke kant, R400 se boeke.

Tuis het ek hulle opgestapel in my man se kuierkamer. En begin worry. Hoe kom ’n mens agter die swaai van hierdie storie?

Ek het ’n paar oproepe gemaak. Ken darem ook mos ’n paar informante.

Ek is tot in my Skechers geskok. Dis ’n lelike storie, mense.

Ons lewe in die era van sosiale media. As Snotjantietie op Facebook of Twitter ietsie oor die boek blerts, dan dra dit net soveel gewig as ’n resensie in ’n koerant of tydskrif of op LitNet. Hierdie resensies hoef nie deur die publikasie aangevra te word nie; mens skryf net en bied dit aan. Soms gee dit vir die redakteur van die betrokke boekewerf ’n oplossing vir ’n lastige situasie.

Daarom stuur uitgewers hope en hope boeke gratis aan sogenaamde beïnvloeders. Want hulle weet sommige van die mense is ordentlik genoeg om oor die boeke te skryf, en wie kyk nou ’n gegewe perd in die bek? Die oes aan positiewe resensies van geskenkboeke is groot.

’n Mens hoef nie Faf de Klerk te wees om te weet dat die kritiese vlakke baie naby aan die pitch gaan wees nie.

Die probleem is nou net dat wanneer Jean Meiring die tyd en energie afstaan om ’n boek behoorlik te resenseer, daardie resensie met dieselfde gesag by die koerantleser aankom as ’n resensie deur Snotjantietie. Sou Jean Meiring gelukkig wees om te sien dat ’n resensie waaraan hy meer as ’n week gewerk het, skouers skuur op die blad met Snotjantietie se brutale ophemeling, een laatmiddag geskryf, van ’n middelmatige krimi?

Deur die jare was daar ’n klompie resensente wat reuse was, of steeds is. Hul gesag onbetwis. Jy kan maar sê hulle was brands, só universeel was die aanvaarding van hul bona fides: André Brink, Jean Meiring, Hilda Grobler, Henriëtte Roos, Ernst Lindenberg, Gunther Pakendorf, Thys Human, Willie Burger, Johan Smuts, Louise Viljoen, Helize van Vuuren, Charl-Pierre Naudé, Hein Viljoen, Neil Cochran, Marius Crouse. Dan is daar ook Joan Hambidge en Jonathan Amid, ietwat wisselvallig, maar getrou aan hul smaak en insig.

Die koekie verkrummel wanneer jy nou teenoor sulke name dié van die Snotjantieties wil plaas. Die voorstedelike opslurper van boeke wat maar te graag ’n ongevraagde mening neerpen en aan koerante stuur, en daarna al die boeke aan seuna gee om Saterdagoggend te gaan verkoop vir kwaaigeld.

Wat kan ’n mens daaraan doen? Ek neem nie die uitgewers kwalik dat hulle maniere soek om allernodige reklame vir hul publikasies te maak nie. My agting vir die mense van Rapport Boeke, Boeke24 en LitNet se span is só diepgrondig dat ek my kan voorstel hulle het al baie nagedink oor ’n oplossing.

Hoe meer ek na Die Nagwag se stukkies staar – weet jy hoe lyk 3 000 stukkies wat inhaakplek soek? –  kan ek aan net een ding dink om te doen. Dit is dat daar by elke boekresensie wat gepubliseer word, baie prominent en duidelik gesê word of die resensie gewerf is en of dit ongevraag ingestuur is. Dis al. Ons kan mos ons gesonde verstand gebruik.

Ek steur my lankal nie meer aan enigiets op Facebook of Twitter nie – trouens, ek het my Facebook-rekening reeds gesluit met die soort innerlike gejuig wat mens net hoor wanneer Gwede Mantashe ’n nuwe energieplan uitdink.

Die laaste deel van my sieligheid gaan oor ’n spesifieke resensie: Jaco Leuvennink s’n oor TJ Strydom se Koos Bekker’s billions (Rapport Boeke). Ek het die boek, en nou die resensie, met groot afwagting gelees. Ná ’n besoek aan Bekker se Babylonstoren verlede jaar dink ek basies die man loop op water – wat nogal baie sê, want ek is nie so mal oor sy DStv nie. Maar ek wou weet wie hy is en wat sy kop maak werk. Babylonstoren is sy lewende, organiese monument; Media24, Naspers en Tencent is maar net die aanloopbaan.

Maar die hoop het beskaam, en Leuvennink, self op sy dag ’n werknemer binne Bekker se empire, doen weinig anders as om te sê dat die boek nie ’n biografie is nie en ook nie ’n geskiedenis van Naspers nie. (Leuvennink se resensie is allesbehalwe swak, maar dit dra die brandmerk van soveel oud-Naspersers, naamlik uitermatige versigtigheid wanneer daar oor Koos Bekker gepraat word.)

Bekker wou nie bekkig raak oor homself nie. Sy vriende was met stomheid geslaan. Maar ek, die leser met sterre in my oë wat by my swaer gesien het hoe lyk die kos-hampers wat mens by Babylonstoren kan kry, ek wil weet waar het al hierdie styl uitgebroei. Heidelberg? Watse kern-insidente het in sy skooljare, en later op universiteit, sy denke help vorm?

Ek weet hy was hoofseun van die Hoër Volkskool, Heidelberg. TJ Strydom het die skool se jaarboek van Bekker se matriekjaar geraadpleeg – maar waar was die gesprekke met sy oorlewende skoolmaats, die mense wat sou kon vertel hoe die man se denke gevorm is? En universiteitsmaats? Of is hulle almal gedooi of deur ’n Bekkeriaanse omertà getroffe?

Dit gaan my Magaliesbergse verstand te bowe hoe iemand wat Tencent geïdentifiseer het as ’n beleggingsmoontlikheid, en die insig gehad het om Huisgenoot (die boegbeeld van Afrikaanse celeb-kultuur) aan die gang te hou terwyl tydskrifte die een na die ander toemaak, asook om kykNET met sy proliferasie van glanspersoonlikhede te laat groei, besluit het hy bly self onsigbaar en dit toe reggekry het om buite Strydom se bereik te bly. Al 3 000 stukkies van hom.

Jaco Leuvennink se resensie gaan gebuk onder die opskrif “Koos Bekker: die man wat met duiwels dans”. Klink vir my dit moes eerder “Koos Bekker, die skadubokser” gewees het.

Ek brand van nuuskierigheid om te sien wie anders hul hande aan resensies oor hierdie boek gaan waag.

Nou ja, hier sit ek nou en legkaart bou. Ek beplan om volgende jaar na Engeland te reis en te gaan kyk hoe lyk The Newt, die landgoed wat Koos Bekker en sy vrou in Somerset, Brittanje gerestoureer het. Ek het gehoor dat hy in Italië met iets soortgelyks besig is. Lank lewe Koos Bekker!

  • 1

Kommentaar

  • Ek is bewus daarvan dat die ongelooflike "ontwerp" van die Babylonstoren-tuine, interieurs en goedere-te-koop sterk deur Koos Bekker se vrou, Karen Roos, ingegee is - sy is 'n bekroonde ontwerper.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top