“
Ek voer nie vetes nie – sonder ’n skuilnaam sou ek voortdurend binne die sosialemediakultuur gesidetrack word om myself (die mens agter Crito) te moet verdedig terwyl ek sou verkies om te fokus op die gehalte van boeke, ’n groeiende leserspubliek en ’n peloton of drie knap resensente wat die barometer is van die intellektuele diskoers oor boeke.
”
Agtergrond van onderstaande onderhoud
’n Resensie van Hans Pienaar se Kaap het onlangs op LitNet verskyn:
Crito, LitNet se resensent van boekresensies, het op hierdie resensie reageer:
Ilse de Korte reageer daarna op Crito se artikel:
Daar is al dikwels bespiegel oor wie Crito, LitNet se anonieme resensent van resensente, is. Sommige mense meen selfs dat Crito ’n versamelnaam vir ’n kartel is, met ander woorde meerdere mense wat om die beurt bydra. Ander voer aan dat hulle weens veranderinge in Crito se taalgebruik kon sien wanneer ’n nuwe Crito by ’n voorganger oorneem.
Onlangs het Crito sterk onder skoot gekom weens haar skerp reaksie op die werk van boekbeïnvloeders, met ander woorde influencer-boekwurms wat gratis boeke van uitgewers ontvang, resensies daaroor skryf, en die resensies dan gratis aan LitNet en ander publikasies aanbied. LitNet het Crito krities gekonfronteer met die vrae wat volg.
Crito, laat ons jou ’n bietjie afkam. Hoekom resenseer jy resensies van agter ’n skuilnaam? Is dit nie die gedrag van ’n lafaard nie?
Crito het in November 2008 die eerste keer aangemeld vir diens aan die boekekultuur – onder ’n skuilnaam. Hoekom ’n skuilnaam gebruik? Beslis nie om dieselfde redes wat Mark Twain, Lewis Carroll, George Orwell, Paul French, Lemony Snicket, Dr Seuss, George Eliot, Richard Bachman, Robert Galbriath, Waare Afrikaander, Klaas Waarzegger, Oom Lokomotief, KAR Bonade, Marie Linde, AP Niehaus, Linda Joubert, Magriet Smalberger, Arnold Benadi, Leo Bekker en Koos Kombuis dit gebruik het nie. Ek gebruik Crito doodgewoon om myself te beskerm.
...........
Ek gebruik Crito doodgewoon om myself te beskerm.
..............
Dis dikwels nodig om mense wat ek goed ken, oor die vingers te tik. Ek onthou altyd ’n gesprek wat ek met my vriend Johann Johl gehad het oor die verguising wat sy kollega Rika Cilliers van André P Brink moes verduur toe haar bundel o.a. Debora in 1977 verskyn het. Die resensie was die aaklige uitvloeisel van ’n vete tussen Brink en Merwe Scholtz, wat die bundel geesdriftig gepromoveer het. (Scholtz was die man wat Kennis van die aand se verbod deur die Publikasieraad geloods het.) Ek wou van hom weet hoekom niemand nog ooit daaroor geskryf het nie. Sy antwoord was dat tensy ’n mens dit van agter ’n skuilnaam doen, dit loopbaanselfmoord sou wees vir enigiemand om die magtige Brink en Scholtz daaroor te konfronteer.
Die twee persone by wie ek wil aansluit, is Kees Konyn en LI Bertyn. Konyn se polemiese stukke het in die veertigerjare in die tydskrif Trek verskyn. Sy identiteit het eers na die sluiting van die tydskrif uitgelek – hy was Jan Greshoff, die Nederlander wat ten nouste betrokke was by die redaksionele versorging van Standpunte, en Fred le Roux, eerste redakteur van Sarie, en later hoogleraar in drama aan die Universiteit Stellenbosch.
LI Bertyn se identiteit is nooit bekendgemaak nie. Sy rubrieke het tussen September 1980 en Desember 1983 in Beeld verskyn, en is later ook deur Die Burger afgedruk. Die rubrieke het by aktuele gebeurtenisse aangesluit, maar altyd in samehang met gebeure in en om Afrikaanse kultuur. Volgens die anonieme skrywer(s) is LI Bertyn se enigste berou oor die rubrieke die feit dat hulle by nabetragting so vriendelik klink.
Konyn en Bertyn was helaas nie in die laat sewentigs aktief nie, maar hulle sou die ideale mense gewees het om die sluier te lig oor die geval van o.a. Debora, was Johann se gevoel. Toe Crito na my kant toe kom, was daar nie eens in my gemoed ’n probleem met die gebruik van ’n skuilnaam nie. Laat mense gerus dink dis lafhartigheid; vir my is dit prakties en realisties. Ek wil nie soos Scholtz en Brink vetes besleg nie. Ek wil hê resensente moet ’n ingeligte, kritiese leserspubliek bevorder. Ek voer nie vetes nie – sonder ’n skuilnaam sou ek voortdurend binne die sosialemediakultuur gesidetrack word om myself (die mens agter Crito) te moet verdedig terwyl ek sou verkies om te fokus op die gehalte van boeke, ’n groeiende leserspubliek en ’n peloton of drie knap resensente wat die barometer is van die intellektuele diskoers oor boeke.
Waarom resensies kritiseer? Hoe sien jy jou rol binne die boekbedryf?
Pieter Fourie (die dramaturg) het in die laat tagtigs hier in Pretoria in ’n simposium oor die Afrikaanse teater vertel hoe WEG Louw se toneelresensies in Die Burger ’n goeie maatstaf was om te volg. As Louw van iets gehou het, kon jy seker wees net die proffies op Stellenbosch sou daarvan hou en die publiek sal wegbly; as Louw nie van iets gehou het nie, kon jy weet jy gaan vol sale hê. Op ’n omgekeerde manier is dit vir my die ideaal met boekresensies. ’n Mens soek iemand wie se mening jy altyd kan vertrou. Jy soek iemand wat ’n gevormde skryfstyl het en die aard en eise van die joernalistieke medium verstaan. Crito se job is om die resensente hul skryfstyle te help vorm, om die boekjoernalis en die denker te versoen.
.............
Crito se job is om die resensente hul skryfstyle te help vorm, om die boekjoernalis en die denker te versoen.
..............
Nou sal mense vra hoekom dit nou juis Crito moet wees wat dit doen – hoe kan enigiemand hom/haar dit aanmatig? My reaksie is tweedelig (buiten nou dat enigeen van hulle welkom is om dit by my oor te neem). Vir eers dink ek dit is nodig omdat die algemene peil van resensies gedaal het tot ’n kommerwekkende vlak van middelmatigheid. Harald Pakendorf het altyd vir ons gesê jy moet jou eerste paragraaf maak tel. Daarna moet jy die feite regkry, en dan, as dit hoegenaamd nodig is, moet jy saamvat. Hoeveel resensies vind ’n mens nie deesdae sonder ’n inleiding wat jou aandag onmiddellik vasgryp nie. Wat bestaan uit ’n précis van die inhoud, dan die noem van ’n kleinigheidjie wat die resensent gehinder het en dan ’n slot waarin die resensent die heuningkwas aanwend. (Sou dit nie wonderlik gewees het as Ilse de Korte haar argument teen Hans Pienaar se Kaap enduit geargumenteer het nie?) Tweedens is ek hiperbewus van die element van voorspelbaarheid en die oppermag van die claque van juigers. Ek het ’n ruk terug ’n onderhoud gelees wat jare gelede met Kenneth Tynan gevoer is oor sy resensies. Hy is gevra hoekom hy nooit al die spelers in ’n opvoering noem nie. Want hy skryf net oor diegene wat presteer, was sy antwoord. As hy iemand se naam nie noem nie, dan weet hulle dadelik hoekom nie. Vir my is dit waar Afrikaanse boekresensies vandag is – té veel van hulle verdien geen reaksie nie.
Nou vra mens jou af of die Afrikaanse boekekultuur só ’n stand van sake kan bekostig. Elke resensie behoort ’n swaaiende stert van kommentaar onderaan uit te lok. Maar nou? Nada. Dáárom is Crito nodig.
Lees jy die boeke waarvan jy die resensente van die boeke kritiseer?
Boekresensies is vir my leiding. Ek het hulle nodig om te besluit wat ek gaan lees. Soms gebeur dit dat ek reeds iets gelees het, wat vir my ’n problematiese situasie skep. Wat moet mens doen as die resensie op baie sterk bene staan, maar jy kom agter die resensent het sekere dinge nie raakgesien nie? Of jy stem hoegenaamd nie saam met die resensent nie? Dan kom jy maar terug na die gedagte dat jy fokus op die gehalte van die resensie wat jy moet bespreek, en afhangende van hoe sterk ek voel die resensent se verwarring was, sal ek my reaksie op die boek gee.
Het die resensiekunde in die afgelope dekades ’n verandering ondergaan en is dit wat jou ongemaklik maak?
Ja, dit het agteruitgegaan. Ek was te jonk om Brink se termyn as Rapport se enigste boekresensent te ervaar, maar ek het die bundeling daarvan gelees en dit is verstommend hoe ’n hoë peil hy gehandhaaf het. Maar LI Bertyn het gesê Brink was die meester van die akuutaksent, en maak nie saak of hy Barthes en Jauss byhaal nie, elke keer wat hy iets opdis, is dit dieselfde koek. (Dít, in ’t korte, is my voetnoot ook aan Joan Hambidge en Jonathan Amid. Aktiveer Mies van der Rohe, mense!) ’n Oorvloed van resensente is verkieslik bo net een stem. In die jare negentig en vroeë 2000’s het die Afrikaanse boek dit werklik goed getref: Beeld, Die Burger, Oosterlig en Volksblad, Die Transvaler (tot 1993), Rapport, Insig, De Kat, Afrikaans Stereo en later RSG het almal boekbesprekings gehad. Resensente is meestal uit die geledere van akademiese instellings gewerf. Die resensente was sterk mededingend en ek onthou dat Nasionale Pers selfs in ’n stadium ’n Boekjoernalis van die Jaar-toekenning gemaak het. Nugter alleen weet wat daarvan geword het; mens weet wel dat koerante soos Die Transvaler gevou het, en dat Insig ook later gesneuwel het. De Kat het sy fokus verskuif en mens het nie juis daar gaan soek vir resensies nie. Die negentigs was die bloeityd van die boekresensent, maar met die digitale era in volle swang het Media24 op ’n dag die boekeblaaie van sy dagblaaie saamgevoeg, en dit is waar ons vandag is: Netwerk24 en Rapport wat resensies dra; RSG wat een program per week aan boeke wy; LitNet wat onafhanklik is en die wyds moontlike dekking aan die Afrikaanse boekkultuur gee. Ek moet ook noem dat Huisgenoot se beknopte boekresensies altyd vir my op buitengewoon hoë peil was, maar noudat my kinders groot is, kry ek dit nie meer te lese nie.
Die dinges is net dat met só min uitlaatkleppe dit bitter moeilik is vir enigiemand om genoeg ondervinding op te doen van resenseer. Hoe vestig jy jou naam as toonaangewende resensent? Dit is waar ek voel Crito ’n bydrae kan lewer, deur te reageer op resensies, die resensente se hare deurmekaar te krap, heel liefderyk. Crito kan hulle nie leer skryf nie, maar Crito kan hulle help om meer krities te dink oor hul eie insigte, hul formulerings, hul retoriese aanslag. Dit is nou die tyd, met die jonger geslag wie se selfone aan hul hande vasgegroei het, om met die verbeeldingryke aanwending van kritiese denke ’n nuwe geslag lesers te werf.
.............
Dit is nou die tyd, met die jonger geslag wie se selfone aan hul hande vasgegroei het, om met die verbeeldingryke aanwending van kritiese denke ’n nuwe geslag lesers te werf.
..............
Anders sal die boekekultuur die pad loop van die Afrikaanse feeste, met ou omies en tannies by die boeklokaal, en almal onder veertig by die biertent of besig om by te hou met TikTok, die mees vlietend moontlike vorm van oppervlakkigheid.
Van verandering gepraat: In die verlede is dikwels gekla oor die akademiese geneuk in resensies. Vandag is daar Afrikaans-departemente aan universiteite waar sommige van die dosente nooit resensies skryf nie. Ek vind dit onbegryplik. Besef hulle nie dit is een van die beste maniere om toekomstige studente te werf nie? Bring terug die akademici!
Kom ons kyk na sogenaamde influencers. Mense aan wie uitgewers deesdae ’n boek gratis stuur met die versoek om die boek iewers te probeer resenseer of op sosiale media daaroor te skryf. Als binne die konteks van vandag se aktiewe sosiale media. Voorheen het sosiale media nie bestaan nie. Is dit nie slim van die boek se uitgewer om die boek in lesers se hande te plaas en dan vriendelik te versoek dat hulle daaroor skryf nie? Wat is nou juis oneties daaraan? Neem jy uitgewers dit kwalik? Indien wel, waarom? Is jy nie ’n ou fossiel wat net nie kan aanvaar dat dinge verander het nie, ook jou bedryf?
All is fair in love and war, nè? Ek neem uitgewers glad nie kwalik dat hulle dit doen nie. Enige strategie om die publiek se aandag na ’n boek te trek sal deug. Die enigste probleem wat ek daarmee het, is die reukie van payola wat daaraan hang. Die verskil is net dat daar nie omkoopgeld betaal word aan die koerant om die dekking te gee nie. Dit is die “resensent” wat betaal word met ’n gratis boek – en hy bespaar die paar honderd rand wat die boek hom sou gekos het. Sou hy die boek gelees het as hy dit nie verniet gekry het nie? Wie weet.
Ek herhaal graag my woorde uit my blog van ’n paar weke gelede:
Die probleem is nou net dat wanneer Jean Meiring die tyd en energie opsysit om ’n boek behoorlik te resenseer, daardie resensie met dieselfde gesag by die koerantleser aankom as ’n resensie deur Snotjantietie.
Deur die jare was daar ’n klompie resensente van wie ek hul gesag as onbetwis aanvaar het. Jy kan maar sê hulle was brands, só universeel was die aanvaarding van hul bona fides: André Brink, Hilda Grobler, Henriëtte Roos, Ernst Lindenberg, Gunther Pakendorf, Thys Human, Willie Burger, Johan Smuts, Louise Viljoen, Helize van Vuuren, Charl-Pierre Naudé, Hein Viljoen, Neil Cochrane, Marius Crouse. Dan is daar ook Joan Hambidge en Jonathan Amid, albei wisselvallig, maar ek weet hulle het ’n gevolg van lesers.
Die koekie verkrummel wanneer jy nou teenoor sulke name dié van Snotjantietie wil plaas. Die voorstedelike opslurper van boeke wat maar te graag ’n ongevraagde mening neerpen en aan koerante stuur, en daarna al die boeke aan seuna gee om Saterdagoggend te gaan verkoop vir sakgeld.
Waaroor dit hier gaan, is die gesag wat ’n resensent en sy resensie kry die oomblik wanneer dit in ’n koerant soos Beeld of Rapport of op LitNet gepubliseer word. As die publikasie nie aandui dat die resensie ongevraag ingestuur is en nie deur die publikasie gewerf is nie, soos LitNet wel doen, dan kry daardie resensie dieselfde soort gesag as dié van deurwinterde resensente soos Jean Meiring, Louise Viljoen en so meer.
As mens dit in gedagte hou, kan jy wel vra hoe eties dit is om ’n niksvermoedende koerantleser met sulke resensies onder die indruk te bring dat hulle met ’n kennersmening te make het.
............
As mens dit in gedagte hou, kan jy wel vra hoe eties dit is om ’n niksvermoedende koerantleser met sulke resensies onder die indruk te bring dat hulle met ’n kennersmening te make het.
..............
Hoe hanteer die redakteurs van die boekeblaaie ’n gevestigde, bekende resensent wat ’n resensie oor ’n boek aanbied, en dis ’n uiters negatiewe resensie? Dit is sekerlik ook ’n moontlike neweproduk van hierdie stelsel. Dan kan die getroffe outeur nog hoop op ’n herstel van die balans by een van die twee ander boekeblaaie, maar dit sal ook nie noodwendig ’n resensent met ’n pedigree wees nie.
Maar die sogenaamde influencers speel sekerlik ’n groter rol elders, by Goodreads ens. Ek loer nou al jare lank daar in, toon in die water as ’t ware, en ek begryp die uitgewers se motivering. Uit hul oogpunt is die ontsporing dáár baie min, eintlik seldsaam, maar komaan, al die veld is vrolik, al die voëltjies sing. Is daar dan niemand oor wat kan intellektueel moer pluk nie?
Is die plaas van lesersindrukke op LitNet (of enige ander ruimte) nie demokratisering van die boekgesprek nie? Is dit nie juis positief dat bedrywige lesers na vore kom as meningsvormers nie, met hul opinies wat dan verskyn naas ’n erkende meesterresensent wat gewoonlik "amptelik" opdrag gegee word om oor ’n boek te skryf Is jy nie te elitisties en meerderwaardig nie?
As jy Crito van November 2008 af gaan lees, sal jy sien hoe gereeld daar gepleit word vir meer plekke waar boekliefhebbers gesaghebbende resensies kan gaan lees. Ek onthou dat een van die boekeblaaie selfs in ’n stadium twee menings oor een boek gewerf het, die een in die koerant geplaas het en op die webwerf die twee naas mekaar sou stel. As ek dit nie mis het nie, was Elmari Rautenbach die dryfkrag agter daardie poging. Maar die koerante plaas al geruime tyd net een bespreking per titel. ’n Skrywer kan dus hoop op drie substansiële resensies (Boeke24, Rapport, LitNet) en as hy of sy werklik gelukkig is, sal Ilse Salzwedel ’n bondige resensie van die boek op RSG uitgesaai kry.
As LitNet nou meerdere besprekings (een gewerf en talrykes ongewerf) van ’n titel publiseer, dans ek op die eettafel en hef die hosannas aan. Jy noem dit demokratisering, ek noem dit skrywers se wildste drome wat bewaarheid word. Dis ’n wenstuasie na alle kante toe.
As hierdie benadering beteken dat meer mense hul resensiespiere fiks hou, is dit te verwelkom. As dit beteken dat meer universiteitsdosente aktief raak as resensente, sal dit nog beter wees.
Ek is realisties, nie elitisties of meerderwaardig nie. Ek weet dat Boeke24 en Rapport nie die ruimte het om ongewerfde resensies naas dié deur die sogenaamde erkende meesterresensente te plaas nie. Dit sal een of die ander wees. Is dit dan elitisties om te hoop dat elke boek deur die erkende meesterresensente geresenseer sal word? Miskien moet jy die skrywers vra om hulle hieroor uit te spreek.
Kom ons kyk na die jonger generasie potensiële boekkopers. Kyk, dit is een ding om ’n "amptelike" resensie op LitNet, of in Rapport of Media24 se koerante of webruimtes, of Vrye Weekblad te kry, maar wie lees dit? ’n Enkele inskrywing van ’n hip jong #bookstagram-skepper bereik waarskynlik meer mense as al die formele platforms saam, nie waar nie? Of is dit ’n skaamtelose oordrywing? Is dit verkeerd van Suid-Afrikaanse maatskappye om dieselfde tegnieke as enorme oorsese uitgewerye te gebruik om lesers te bereik? Moet mens nie maar swig voor die nuwe gewoontes nie?
Ek is al ’n Luddiet genoem, en dit hinder my nie. Sedert ek my Facebook-blad tot sluimering gedwing het en vir Twitter totsiens gesê het, het ek baie meer tyd vir lees. Die maklikste manier om my benadering tot die hip jong #bookstagram-skeppers te verduidelik, is dat ek hulle nou geniet wanneer iemand anders my daarvan vertel; nes die geval was met almal wat in die Trump-jare en die aanloop tot die laaste verkiesing so gereeld hul moves op sosiale media gemaak het. Maar uiteindelik was destyds die enigste persoon wat met totale gesag die politiek van die dag aan my kon verduidelik, die historikus Heather Cox Richardson met haar daaglikse lang nuusbrief.
As ons boekekultuur só ’n persoon kan oplewer wat sy/haar hip reaksie op ’n gesaghebbende peil kan lewer, dan het ons ’n hele nuwe paradigma, en sal ek dit met ope arms verwelkom. En spoedig met trane in die oë staan wanneer die aankondiging kom dat die koerante hul boekeblaaie sluit.
Jy noem beïnvloeders “snotjantieties”, dus slaan jy hul bydrae tot die boekebedryf nie hoog aan nie. Maar dié verskynsel sal tog nooit verdwyn nie, sal dit? Die kultuur van beïnvloeders is reeds te sterk gevestig, nie waar nie?
Ek gee toe dat die benaming snotjantietie neerhalend klink; ek het gesoek vir ’n lekker Afrikaanse woord vir pedestrian, en toe onthou ek wat ’n ou Gokkie-boyf van my die eerstejaars by daardie onderwyskollege genoem het. (En nee, die verhouding was van korte duur.) Maar ek dink ek sal daardie naam nou maar bêre.
Ons het hier bo gepraat van verandering. Ek moes eens voor ’n groep MBA-studente praat oor die verskuiwing van New Criticism na postmodernisme na cancel culture. My uitgangspunt was dat ’n mens jou altyd die ondenkbare moet probeer indink, en dan sal die mees onwaarskynlike situasie bes moontlik onverwags realiseer. Daar was ’n tyd, I kid you not, toe ’n Britse toekomskundige voorspel het dat die CD-Rom uiteindelik boeke sal vervang. Maar toe sit Steve Jobs ’n rekenaar in sy selfoon, en almal vergeet van hul Nokia-bakstene.
So, gaan universiteite überhaupt staande bly? Natuurlik; daar is op die internet altyd plek vir universiteite. Sê maar solank totsiens aan die konsep van uitgebreide fisiese kampusse. Hulle het gelag, maar dis toe waaragtig waarheen ons beweeg, post-Covid al hoe vinniger.
So, wat is die ergste wat mens jou kan indink van boeke, boekresensies en die heerskare beïnvloeders? Geen koerante en boeke op papier nie, geen boekeblaaie, geen resensente wat uitvoerig hul reaksie op boeke gee nie. Influencers by die tonne, almal paraat om jou binne die bestek van enkele minute ’n TikTok-lesing oor ’n boek te gee. Wat praat ek? ’n Minilesing. En almal van hulle lyk soos Bobby en sy suster wat kan eiers kook, uitgevat en kerngesond. Mens kan nie ’n influencer wees as jy nie gesig het daarvoor nie. Net onse Jonathan gaan die sprong na die toekoms kan maak. Jammer julle ander ouens!
Maar wag, jy kan nog na LitNet se resensies gaan kyk op hul YouTok-kanaal, asook die klompie intrepreneurs wat hul eie subscription-kanale het op YouTok. Wil jy nou meer, wie sou ooit gedink het dat mens soveel geld kan maak uit resensies? Die uitgewerye bestaan nie meer nie, maar die verpakkers van manuskripte floreer. Die beïnvloeders het so wragtag die uitgewers oorleef.
Droom of drogbeeld?
Komaan, dink mooi. Om jongmense te bereik moet uitgewers op ruimtes soos TikTok of Instagram wees. Goeie en indringende debatte oor boeke vind ook daagliks op Lekkerleesboekrak plaas. Is dit verkeerd om boeke aan mense beskikbaar te stel in ruil vir hulle opinies op ruimtes waar hulle gelees word?
Hierdie deel van die problematiek is veel meer kompleks as net ’n teenwoordigheid op TikTok of Instagram. Jy moet kyk na die integrasie van boeke en leeskultuur op laerskoolvlak. As jy weet dat skoliere eerder op hul selfone gier as boeke lees, TikTok verkies bo die geskrewe woord, dan is die gebruik van influencers en gratis boeke by die dosyne eintlik ’n té maklike manier om die saak te probeer red. Maklike kortpaaie het ongelukkig die manier om doodloopstrate te word.
.............
Mens moet eerder vra hoe jy vir eers geletterdheid in ons land met al sy tale gaan bevorder, en daarna moet jy kyk wat die groot uitgewers met die diep sakke doen om die voortbestaan van hul uitgewerye te verseker deur betrokke te raak by die land se behoefte aan ’n groter mate van geletterdheid.
.............
Mens moet eerder vra hoe jy vir eers geletterdheid in ons land met al sy tale gaan bevorder, en daarna moet jy kyk wat die groot uitgewers met die diep sakke doen om die voortbestaan van hul uitgewerye te verseker deur betrokke te raak by die land se behoefte aan ’n groter mate van geletterdheid. Wat doen hulle om onderwysers te help oplei en bemagtig om die literêre avontuur vir hul leerlinge te ontsluit? Afrikaans is nie die enigste taal in ons land wat met hierdie probleem worstel nie.
Vir my in my klein hoekie gaan dit oor die behoud van die kritiese gesprek oor boeke. Ek was ingeskakel by Lekkerleesboekrak, en ek hou van dit wat hulle doen. Jy het my nog nie sien snetter oor hul aktiwiteite nie. My gripe is met die sogenaamde beïnvloeders wat meen dat daar geen swakhede in gepubliseerde boeke te vind is nie, wat selde ’n oorspronklike siening van ’n boek kan lewer, maar wat om die dood toe nie argumenterend kan analiseer nie.
Ek het die afgelope naweek gaan kyk na die ongewerfde lesersindrukke wat op LitNet se webwerf verskyn het die afgelope maande. As ek Jo Prins was, of Johan van Zyl, dan sou ek dit ook doen en ’n paar van hulle aankeer vir die koerante. Hulle sal maklik kan sien wie. Die talent is daar. En steeds bly my versugting dat die swyende akademici ook ’n slag hierdie roete sal volg.
Jy deel graag dwarsklappe na Facebook-inskrywings uit. Is dit nie ironies nie, aangesien jou dwarsklappe uitgedeel word in die rigting van Facebook-influencers. Erken dus maar: Jy hou sosiale media dop en is dus ook ’n verbruiker van snotjantieties se onderlinge gesprekke, nie waar nie?
Ag nee wat, ek het my Facebook-profiel nou reeds ’n rukkie terug laat sluimer. Facebook is ’n soort Hotel California-situasie. Vir my was die behandeling wat Pieter Stoffberg gekry het oor sy roman Tenk die laaste strooi. En ek het dit al hoe moeiliker gevind om saans ’n wyntjie en ’n worsie te geniet saam met vriende en vriendinne, die wêreld se probleme te debatteer en op te los, dik stukke oor boeke te gesels, en die volgende dag sien ek wat hulle oor Crito spu op Facebook. Mense is maar kuddediere, en Facebook gee aan elkeen die geleentheid om mense te leer ken soos hulle geleer ken wil wees. Dit beduiwel jou sosiale lewe. Ek sal liewer anoniem bly, my vriendekring behou, en Facebook oorlaat aan diegene wat graag ’n openbare profiel wil bou. Ironies genoeg hoor ek baie gou as daar dinge op Facebook gebeur. Mense kan hulself net nie keer nie. Ek het ’n paar vertrouelinge wat vir my screengrabs stuur, die liewe Melody (skuilnaam) onder andere. Ek reageer nie op alles nie, dis onnodig. Maar iets soos Ilse de Korte se resensie van Kaap kon ek nie ignoreer nie. Laat ek dit pront sê: Ek het die grootste bewondering vir haar en die hele span wat Afrikamasutra geskep het, en was stom verbaas dat sy nie met haar Kaap-resensie besef het dat as mens so ’n unieke aanloop het soos sy gehad het, sy die argumentering moes deurgevoer het nie. Jonathan Amid se reaksie was vir my absoluut korrek, maar hy het immers ook ’n sterk akademiese agtergrond.
Om terug te keer na jou vraag: Ek is nie aktief op die sosiale media nie, maar elke Karla het sy Bill Haydon, nè?
Voed ons tog maar op oor – in die breë – die rol van sosiale media in hierdie nuwe wêreld waarin jy tog ook moet lewe. Ons hoor graag wat die insigte is.
Ek dink ek het al hier bo in daardie rigting gepraat. In Suid-Afrika word die invloed van die digitale era nog ’n bietjie beduiwel deur die wrede groot gaping tussen die welvarendes en die angswekkende armoede van so baie mense. Dit sal interessant wees om te sien hoe lank ons demokrasie hou. Ek het moed – jy weet dit het die Nasionale Party twaalf jaar geneem voordat hul totalitêre rok erg begin uithang het ná Sharpeville, en ’n paar jaar later het hulle met die Sowjet-sidestep van publikasiebeheer en sensuur begin. Die ANC het nog nie met sulke dinge gekom nie, maar mens moet altyd daarop bedag wees. Sensuur is ’n bliksem – en die cancel culture is maar net een van die aangesigte daarvan.
Die groot vrae van die oomblik is of Elon Musk sy belofte gaan nakom en die bots op Twitter gaan tem, of die TikTok-generasie nie reeds vir Facebook afgesweer het nie, en gaan daar enige groot nuwe gier posvat op die vooraand van die volgende Amerikaanse presidentsverkiesing en die naderende ekonomiese depressie. Wat word van die Russiese diepweb, en waarheen steier die internet in China …?
Your guess is as good as mine.
Is jy die enigste Crito wat bestaan? Daar is en was sekerlik in geen boekbedryf ter wêreld iemand soos jy nie?
Noudat jy dit noem ... ek dink Crito is ’n unieke konstruk. Ek weet daar was in die jare toet in tydskrifte soos Publishers Weekly en The Bookseller pogings om ’n round-up te maak van die belangrikste kritiese reaksies op die groot nuwe boeke, maar hierdie weblog wat op LitNet ontwikkel het, is van so ’n aard dat dit ’n taamlik eiesoortige gesprek binne die boekekultuur geword het. Ek vermoed die skeppers van Kees Konyn en LI Bertyn het met dieselfde probleme as ek geworstel; as ek dit heeltemal van nuuts af aan moes ontwerp het, sou dit seker ’n element van Stet en van die ou Boekewêreld-bylaag van Beeld se Jakob Regop-rubriek gehad het. Maar die oer-Crito het ’n ander soort benadering gehad as wat ek nou volg. In my lewensfeer is daar ’n vervloeiing van die akademie, joernalistiek, reklamewese en ’n amper vergete flirtasie met die uitgewerswese. En ek vind dat my geduld met knoeiwerk al minder word. Daarom dat ek die blog laat uitkring in alle rigtings; of dit volhoubaar is, weet ek nie. Ek is net hinderlik bewus daarvan dat die werklik topgehalte-resensies minder word. My kinders sê dis nie die resensente se skuld nie, maar die skrywers s’n.
..............
En ek vind dat my geduld met knoeiwerk al minder word. Daarom dat ek die blog laat uitkring in alle rigtings; of dit volhoubaar is, weet ek nie. Ek is net hinderlik bewus daarvan dat die werklik topgehalte-resensies minder word. My kinders sê dis nie die resensente se skuld nie, maar die skrywers s’n.
................
Wat is vir jou ’n ideale resensie, Crito? Kan jy dit eens en vir altyd uitstippel?
Die kontekstuele oorwegings wat ek in gedagte hou, is waar die resensie gepubliseer word, wie die teikengehoor is, watse soort boek bespreek word, hoe die outeur se oeuvre tot op datum verloop het, en hoe die resensent hierdie dinge verdiskonteer het.
As oudjoernalis weet ek dat mens jou lesers verloor as die opskrif en inleidingsparagraaf hulle nie nuuskierig genoeg maak om aan te hou lees nie. Daarna kyk ek na die argumentering wat die eindevaluering moet ondersteun. Die opsomming van die verhaal is dikwels ’n enorme irritasie; dis asof mense wil bewys hulle het die hele boek gelees.
Ek stel eerder belang in die manier waarop die resensent sy saak stel, my nuuskierigheid behou en in die proses ook sy eie persoonlikheid laat blyk. As dit blyk dat die resensent besonderse insigte in die boek gehad het en my daardeur anders laat dink oor sake, en nie net oor die boek onder bespreking nie, dan beweeg mens in die rigting waar jy gewone lof toeswaai tot toejuiging laat groei.
...............
Ek stel eerder belang in die manier waarop die resensent sy saak stel, my nuuskierigheid behou en in die proses ook sy eie persoonlikheid laat blyk. As dit blyk dat die resensent besonderse insigte in die boek gehad het en my daardeur anders laat dink oor sake, en nie net oor die boek onder bespreking nie, dan beweeg mens in die rigting waar jy gewone lof toeswaai tot toejuiging laat groei.
..................
Om terug te keer na die onlangse geval van Ilse de Korte en Kaap: Hoeveel van haar kritiese persoonlikheid straal nie uit daardie resensie nie! En kyk net hoe betrokke sy geraak het by die boek, hoe sy intens daarop gereageer het. En dan dink sy dat sy nou genoeg gesê het, terwyl sy behoort te wees dat sy nou in ’n stoeisituasie is. Sy het haar teenstander in ’n Volle Nelson beet, nou moet sy net blitsig vervat en die teenstaander se skof en skouers op die mat kry. Maar nee, sy los nie daai Volle Nelson nie; sy kyk na die skeidsregter en dink dis nou genoeg.
Maak resensies hoegenaamd saak?
Natuurlik! In sy diepste wese is die mens nuuskierig om te weet wat ander mense oor sport, kunswerke en menslike skeppings dink – al is dit om agterna met hulle te verskil daaroor. Dis hoekom koerante briewekolomme het, en graag resensies oor vermaak en kuns publiseer, en gal braak oor die siekte wat ons rugby en krieket onder lede het. Want dit is die dinge wat mense wil lees.
Kom ons kom by boekeredakteurs se rol wanneer dit kom by die aanwys van resensente. Help ’n bietjie met ’n resep, as daar een is. Wie is die ideale resensent van ’n boek? Is dit noodwendig die ideale leser van die boek (met ander woorde ’n resensent wat al uit vorige resensies laat blyk het dat hy of sy van daardie soort boek hou)? Of is dit noodwendig die ideale kritiese leser van die boek (iemand wat bekend is daarvoor dat hulle só ’n soort boek sal afkam/kritiseer)?
Dis eintlik iets wat ek vir jou moet vra! Hoe verlang ek nou na Aletta Pakendorf – sy het die kuns verstaan.
As jy kyk na wie Jo Prins en Johan van Zyl deesdae kry om resensies te skryf, kan mens aflei dat hulle moeite doen om die regte kenner vir elke titel uit te nooi. Maar hulle het te make met baie struikelblokke, as ek só na hulle luister. (Ek weet hierdie opmerking gaan hulle gooi, maar ja maats, hierdie is ’n anderste Crito.) Mense wat weke broei op ’n resensie en dan niks lewer nie. Of broei, en wanneer dit al amper vergete is, laat weet hulle kan nie meer resenseer nie. Dan is daar ook vetes tussen skrywers en resensente, en resensente wat bang is vir reperkussies op Facebook.
Die ideale resensent? Uiteraard help dit as iemand reeds voorheen met insig oor ’n skrywer se werk geskryf het, positief of negatief. Vir my is genrespesialisasie belangriker. En ek dink as ’n boekeredakteur ’n resensent kies omdat hy weet die resensent sal die boek afkam, dan moet die boekeredakteur liewer oorstap na die sportredaksie.
Ek soek eintlik ’n ideale boekeredakteur, wat die insig het om te weet wat goeie skryfwerk is en wat nie – en hier bedoel ek die skryfwerk verbonde aan ’n resensie. Prins en Van Zyl is albei baie knap.
Wie was die groot Afrikaanse resensente in die verlede? En hoekom? En komaan, Crito, wees eerlik.
Laat ek myself aanhaal: “Deur die jare was daar ’n klompie resensente van wie ek hul gesag as onbetwis aanvaar het. Jy kan maar sê hulle was brands, só universeel was die aanvaarding van hul bona fides: André Brink, Hilda Grobler, Henriëtte Roos, Ernst Lindenberg, Gunther Pakendorf, Thys Human, Willie Burger, Johan Smuts, Louise Viljoen, Helize van Vuuren, Charl-Pierre Naudé, Hein Viljoen, Neil Cochrane, Marius Crouse.”
Hoekom? Hulle was gesaghebbend, genrespesialiste, en onverskrokke in hul eerlikheid. Sommige van hulle resenseer steeds, al is dit sporadies.
En tans?
Jean Meiring, Annelise Erasmus, Johann Kriegler, Dewald Koen, Fransjohan Pretorius, Andries Visagie, Sonja Loots, Joan Hambidge, Jonathan Amid. Valda Jansen toon baie belofte; sy is duidelik nog besig om haar kritiese stem te vind. Maar sy moet net meermale resenseer.
Wat is ’n gesonde boekemark? Een waar boekresensies boeke aanhou slyp tot die ewig ontwykende Groot Roman ontstaan? Is kwaliteit dus die hoogste maatstaf? Of dui ’n gesonde boekmark eerder op een waar boeke verkóóp, sodat nuwe boeke kan verskyn wat kan betaal vir daardie literêre skrywers wat ure en ure lank skryf met die hoop om die Groot Roman geskrywe te kan kry? Gee asseblief jou eie definisie hiervan, van die ideale boekmark/boekbedryf.
In for a penny …. ’n Gesonde boekmark is een met ’n verskeidenheid boekwinkels, ’n groeiende leserstal (en aankopers) uit die ouderdomsgroep 20–50, ’n groot verskeidenheid mededingende uitgewers, ’n woelige leeskringkultuur onder die boekliefhebbers, en ’n resensentekorps wat krities dog interessant insiggewende resensies oor boeke skryf.
Jy verwys in jou kritiek wel daarna dat LitNet ’n ooglopende verskil maak tussen die plaas van lesersindrukke, wat uit eie oorweging voorgelê word, en "amptelike" resensies, wat deur LitNet aangevra en waarvoor betaal word. Is dit nie ’n billike praktyk nie?
Dit is die heel beste en billikste praktyk onder die huidige omstandighede.
Sal jou afwysende houding teenoor “nie-amptelike” (soms genoem "gewone") lesers se bydraes die gesprek nie juis verder polariseer nie?
Ek sal verheug wees as my opmerkings ’n gesprek aan die gang gesit het.
Kom ons wees reguit: Dink jy regtig jou siening sal mense laat ophou lees aan Lekkerleesboekrak, Goodreads, The Good Book Appreciation Society? Of hulle laat verbyhou by ruimtes soos Boekemakranka?
Ek was self ingeskakel by Goodreads, Lekkerleesboekrak en Boekemakranka, maar ontbeer laasgenoemde twee sedert ek op Facebook sluimer. Goodreads is ’n ander storie. Ek glo nie mense sal ophou om die drie te besoek nie; trouens, ek dink dit mag dalk soos WEG Louw se resensies in die ou dae mense soontoe laat stroom. Mense soek nuus oor nuwe boeke; formele resensies is gemik op mense wat nie net wil kennis neem nie, maar ook wil saamgesels oor boeke.
Ten slotte, van ons kant af: Is daar iets wat jy vir iemand wil sê wat iets oor ’n boek wil en kan skryf maar nou jou opinie oor sy/haar resensie vrees? Stel tog daardie sensitiewe siele gerus. Rig jy nie dalk skade aan die bedryf aan nie?
Ek probeer om nooit persoonlik te wees nie, en om eerder resensente aanwysers te gee oor hoe hulle as resensente kan groei. Dis hoe ek hoop hulle op Crito sal reageer – deur terug te keer en die stem behoorlik dik te maak. Ek het een blaps gemaak met Willie Burger waaroor ek vir ’n lang ruk baie goor gevoel het.
Dit lyk asof jy die tipe is wat wye kontakte het, waarskynlik ook in boekkringe. Wat dink jy dink uitgewerye van jou? Wat hoor jy by sulke mense of wat hoor jy tweedehands oor hul opinies oor Crito?
Ek het gereeld kontak met sommige van die uitgewers, en noudat die uitgewerstoneel hier in Pretoria ietwat vertroebel het, is daar nog meer kontak. Ek gaan daai ene nie verduidelik nie, maar hulle sal weet waarvan ek praat. Dit is vrek interessant om te hoor wat hulle dink. Ek voel soms heel gevlei wanneer hulle met my saamstem, en steek my gevoelens maar weg wanneer die gif borrel. Maar ek het ook al ’n manuskrip of twee afgekeur gekry, maar my vel is noodwendig ’n bietjie dikker as ander s’n. Jy moet onthou dat uitgewers teen geweldige odds die dinge aan die gang moet probeer hou, so ek het baie respek en liefde vir hulle en hoop dat die kere wat ek hulle kapittel oor swak redigering, hulle nie hul klere sal skeur en as oor die hoofde sal giet nie.
Dit lyk asof jy die afgelope tyd wyer begin nadink oor kultuurverskynsels eerder as om net resensies op ’n ry af te bespreek, soos wat in die verlede gebeur het. Is dit ’n nuwe rigting wat ingeslaan word?
Ons lewe in ’n demoraliserende tyd. Afrikaners is dwarsoor die wêreld versprei; die lesers van die toekoms raak minder in plaas van meer. Ons land steier ekonomies, en politieke leiers buit die nood van die armes uit om stemme te werf in plaas van om die ineenstorting van infrastruktuur op alles gebiede te herstel. Binne só ’n klimaat moet ’n mens bewus bly van die volle prentjie. Iemand moet praat oor die keiser wat nie klere aan het nie.
............
Ons lewe in ’n demoraliserende tyd. Afrikaners is dwarsoor die wêreld versprei; die lesers van die toekoms raak minder in plaas van meer. Ons land steier ekonomies, en politieke leiers buit die nood van die armes uit om stemme te werf in plaas van om die ineenstorting van infrastruktuur op alles gebiede te herstel. Binne só ’n klimaat moet ’n mens bewus bly van die volle prentjie. Iemand moet praat oor die keiser wat nie klere aan het nie.
...............
Ek het net begin voel dat ek my die luukse van die Crito-rubriek kan regverdig alleen as ek ook skryf oor die stommiteite rondom ons. LI Bertyn het gevind dat dit moeilik is om die literatuur suiwer in isolasie te takseer; ek is dit heeltemal met hom eens. Ek wil my lesers die intrinsieke waarde van boeke laat snap deur hulle te herinner aan die ongelooflike vergrype rondom ons, en die absurditeit van ons lewens.
Nou is die vloer joune. Jou laaste gedagtes?
Terwyl ek hier skryf, lê daar ’n eksemplaar van Chris Karsten se nuwe boek hier langs my. Ek het begin lees daaraan, en ek dink aan Jo Prins en Johan van Zyl. En ek weet die lewe is nie heeltemal só absurd nie. Daar is absoluut niks wat kan vergelyk met daai vars reuk van nuwe ink nie. Dis die reuk wat jou op die aarde hou, want jou gedagtes hardloop, bladsy ná bladsy, oor die jare terug.
...........
Boeke maak alles die moeite werd, en goeie resensies verduidelik vir jou hoekom.
.............
Boeke maak alles die moeite werd, en goeie resensies verduidelik vir jou hoekom.
Lees ook:
Kommentaar
Baie dankie, Crito. Ek waardeer die moeite om te verduidelik. Dit maak alles beter sin as mens nie net gif proe nie, maar 'n beker vol goed gegee word om te drink. Bitter medisyne is nie noodwendig altyd heilsaam nie, maar lekker soet hoesstroop ook nie noodwendig nie.
As redakteur van ‘n Afrikaanse akademiese vaktydskrif wil ek byvoeg dat basies elke dosent in Afrikaanse letterkunde gereelde bydraes lewer in die vorm van resensies vir Afrikaanse vaktydskrifte: Tydskrif vir Letterkunde, Stilet, TN&A, Literator - noem maar op. Hierdie resensies word deur redakteurs by spesialiste op die gebied aangevra en niemand verdien ‘n sent daarvoor nie. Resensies tel ook nie onder ons akademiese uitsette waaroor ons jaarliks aan ons universiteite moet verslag doen nie. Dit word dus gedoen uitsluitlik vir die liefde van die saak. Die meeste van hierdie resensies is "open source" en toeganklik vir enige een wat ‘n google-soektog na ‘n betrokke boek loods.
Doe zo voort, Crito en LitNet!
Vir my as buitestaanderleser is resensies baie belangrike "toerusting" om my weg te vind en te onderskei tussen die boekewêreld en die boekewoesterny. Ek lees resensies en my beïnvloeding as koper/leser vind reeds dán plaas. Sonder om 'n resensie akademies te ontleed, is daar 'n onmiddellike gevoel tydens die lees van die resensie dat ek waarde kan heg aan die resensie, of nie. Indien my gevoel oor die resensie self negatief is, lei dit tot die verdere soeke na 'n "betroubare" resensie en dan eers word 'n boek gekoop of op die rak gelos.