Ter agtergrond van onderstaande reaksie deur Crito, lees hierdie artikel:
En lees ook Crito se blog hier:
http://blogs.litnet.co.za/crito/
Ek stem met Bettina Wyngaard saam oor die doel van resensies. Crito se resensiejoernaal het tot stand gekom juis om ’n wakende oog te hou oor resensente wat nie binne daardie bane werk nie – asook om goeie resensente verder aan te moedig.
Heel interessant is haar tipering van Crito as ’n lafaard. Dit is ’n natuurlike reaksie wanneer mens met skuilnaamskrywers te doen kry. Crito is nie onbewus van die nadele verbonde aan ’n skuilnaam nie. Crito is ook pynlik bewus daarvan dat die meerderheid van die reaksies op resensies positief is, en dat daar in die loop van die kalenderjaar veel meer rede was vir “venynige bitsige sluipaanvalle op resensente” as wat Crito aangegryp het.
Dit is maar die lot van diegene wat skuil in die domein van skuilnaamlafaards. Mens maak toegewings aan die mense in jou vriendekring, want jy weet hoe sensitief hulle is. En jy probeer fatsoenlikheid handhaaf by diegene wat jy nie ken nie.
Wat, vra Crito sigself af, sou Bettina Wyngaard gedoen het as LI Bertyn uit die graf opgestaan het en haar geroskam het? Moeilik om te sê, nè? Sy het geswyg die kere toe Crito die resensente van haar romans geloof het. Toe was die skuilnaam aanvaarbaar.
Sy tree in die bres vir ’n resensent wat Crito onlangs aangespreek het. Sy wil (seker om die resensent te beskerm) nie sê wie dit is nie, en Crito is sku vir Facebook, dus kan ek nie bepaal watter een van Bettina Wyngaard se vriendinne ter sprake is nie. Ek sal maar ’n aanname moet maak, en vra hoe Bettina Wyngaard sou gevoel het as ’n resensent van haar laaste roman, Jagter, gesê het: “Jagter is ’n lekkerleesboek wat jy nie hoef te ontleed nie.” As sy nie kan insien hoe ’n groot belediging só ’n opmerking is vir haar as skrywer wat met groot moeite en intellektuele vlyt haar werk verrig het nie, dan dink ek mis sy die punt van die Crito-joernaal volledig.
’n Laaste gedagte: Ek geniet Bettina Wyngaard se geselskap net soveel as wat ek haar korswilrubrieke vir LitNet geniet. Volgende keer wat ons mekaar sien, sal ek twee keer met my regteroog knik. Dan sal sy weet.
Kommentaar
Daar is darem 'n bitter groot verskil tussen “Haar woorde vloei sonder inspanning en laat jou met die gevoel dat Noorman ’n lekkerleesboek is wat jy nie hoef te ontleed nie.” (wat ek terloops in konteks van die verdere woorde gelees het en verstaan het wat die resensent sê) en jou “Jagter is ’n lekkerleesboek wat jy nie hoef te ontleed nie.”
Bettina Wyngaard maak uitstekende, nugtere en weldeurdagte punte, in teenstelling met wat ek hierbo lees.
Dit val op dat Crito die werk van sekere resensente, asook andere se besprekings van bepaalde publikasies, gereeld ignoreer. Dit laat 'n mens wonder oor die integriteit en oordeelsvermoë van die spook genaamd Crito.
Die saak staan só, mevrou Bezuidenhout: Crito hoef nie alles onder die son te bespreek nie. As resensies vervelend is, ignoreer ek hulle. As ’n boek my nie interesseer nie, lees ek langtand aan die resensie daarvan, en soms wip my aandag vinniger as a ’n baba met brandboudjies in ’n Antjie Krog-gedig. As ’n resensie ’n swak verdoeselde herskrywing is van die uitgewer se reklamemateriaal, ignoreer ek die resensie. As die resensent geen sigbare oordeel uitspreek nie, ignoreer ek die resensie. As resensies oorhel in die rigting van rubrieke of blogs, ignoreer ek hulle. As ek die geringste spesmaas het dat ’n resensie ongevraag by die publikasie aangedra is deur die resensent, dan sal dit ’n baie goeie resensie moet wees voordat ek daaroor skryf. Sommige resensente is al langer doenig met resensies as wat Crito se joernaal aan die gang is, en hulle het waaragtig niks wyser geword in die proses nie. Laat ek byvoeg, liewe mevrou Bezuidenhout, dat ek graag verbyster word deur die resensente se gelerentheid, selfs daai een kripto-Franse omie, want ek het nog soveel om te leer.
U verweer met betrekking tot die aard en inhoud daarvan was voorspelbaar, liewe Crito, en u stukkie retoriek verklap u onbevoegdheid om orakel te speel. Boonop klink dit of u sakke vol appeltjies met sekere resensente te skil het, en lukraak gegryp het na 'n rits voorbeelde om u mening te regverdig. Is dit werklik hier van toepassing?
Gelukkig is daar talle gerespekteerde literatore en ingeligte lesers wat nie u sentimente deel nie. Bygesê, die algemene leser van 'n dag- of Sondagkoerant, en so ook van sommige webwerwe, het geen erg aan 'n uitstalkas vol literatuurteoretiese opmerkings soos wat u blykbaar bepleit nie. Daarvoor bestaan daar vakjoernale, universiteitslesings, ander akademiese ruimtes en kongresdeelnames.
Vreemd ook dat u verseg om in die (deursigtige) gewaad van Crito die geleentheid te benut om resensies oor belangrike boeke wat wyd en verantwoordelik geresenseer is by u rubriek in te sluit. Indien die outeur, die boek, die resensie (en die skrywer daarvan) u verveel of irriteer, is dit u saak. Maar wil u nie met behulp van stewige argumente u besware openbaar maak, soos in ander gevalle nie? Dien u doelbewuste en verdagte swye die oop gesprek?
En ja, soos u self sê, het Crito nog veel te leer.
Interessant dat Crito se blog van die lug af verdwyn het. Nou. Dalk wil Crito ons inlig waarom dit nodig is om mense juis nou die geleentheid te ontneem om self ingeligte gevolgtrekkings te maak?
Hallo Trisa, daar was ’n tegniese probleem met die webwerf, wat intussen reggestel is.
Seer geagte mevrou Bezuidenhout, wil u nie so vriendelik wees nie om te sê watter resensies oor boeke wat wyd en verantwoordelik geresenseer is nie by die Crito-joernaal ingesluit is nie? Dan sal Crito, ewig bereidwillig die uwe, vir u verduidelik hoekom hulle onvermeld verbygegaan het.
Bedaar, mense, en crito, doet so voort.