Oor kritiek

  • 8

Resensies en resensente het die afgelope paar dekades byna net so deel van boekmaak geword as die proses om die boek te skryf. En in die hande van die regte resensent is ʼn resensie alchemies – deels wetenskap, deels tegniek, deels kuns.

Dit beteken nie alle resensies moet positief wees nie. Reg benader kan selfs ʼn negatiewe resensie ʼn leerproses vir skrywer en leser wees. Maar soms vergeet ons wat die doel van ʼn resensie is. Dis nie om te wys hoe slim die resensent is nie. Dis nie om die skrywer op sy/haar plek te sit nie. Dis nie om deel van ʼn akademiese gesprek te wees nie. Dit gaan nie om ’n magstryd tussen skrywer en resensent, of tussen uitgewerye of verskillende publikasies nie. Of al meer, om ʼn magstryd tussen resensente nie.

Die doel van ʼn resensie is om voornemende lesers in te lig oor ʼn boek. Wat is die tema? In watter genre val die teks? Watter lesers sal geïnteresseerd wees in die teks? Hoekom sal dit die leser prikkel? Is dit die moeite werd om die boek aan te skaf?

Die fokus van die resensie behoort te alle tye die teks wees. Beslis behoort die resensie nie oor die resensent te gaan nie. Juis daarom vind ek die tendens die afgelope ruk, om resensente aan te val oor hul resensies, onrusbarend. Natuurlik sal mense verskil oor die gevolgtrekkings waartoe ʼn resensent kom. Resensies, vir soveel as wat dit veronderstel is om objektief te wees, is dit nie. Die resensent se subjektiewe mening gaan iewers deurskemer. Dis daarom dat een resensent ʼn teks sal ophemel, terwyl ʼn ander resensent dink dis swak geskryf. Mense verskil. Resensente verskil. In ʼn ideale wêreld sal elke teks minstens drie of vier resensies ontvang. Dan kan daar met redelike ewewigtigheid besin word oor die waarde van die teks.

Ons leef egter nie in ʼn ideale wêreld nie. Die meeste koerante se boekeblad is beperk tot een resensie per boek. Vir skrywers kan dit rampspoedig wees as daai enkele resensie negatief is. Dit kan die verskil maak tussen ʼn boek wat verkoop en een wat sink.

Dis ʼn ongeskrewe reël dat ʼn skrywer nie ʼn resensent aanvat oor ʼn resensie nie. Natuurlik gebeur dit soms dat die resensent duidelik nie ʼn teks gelees het nie, en dan is dit nodig dat regstellings gemaak word.

Wat egter deesdae gebeur, is dat een resensent ʼn ander resensent aanval oor ʼn resensie.

Dis ongesond. Dis onprofessioneel. Wanneer dit oor die kultus van die resensent se persoonlikheid gaan en nie meer oor die teks nie, is dit altyd die boek wat daaronder ly. Indien ʼn resensent verskil met die gevolgtrekking waartoe ʼn ander resensent kom, dan is dit tog sekerlik sy/haar reg om ʼn resensie uit te bring wat tot ʼn ander gevolgtrekking kom.

Die persoon wat onder die skuilnaam Crito skryf, het die kuns van venynige, bitsige sluipaanvalle op resensente, verskuil agter ʼn dun lagie intellektuele glans, skynbaar tot roeping verhef. Bitter min mense weet wie Crito is, en selfs of dit ʼn enkeling of groep persone is. Die literêre gemeenskap (en ek gebruik die term in die breedste moontlike sin) is só klein dat dit onmoontlik is dat Crito nie sommige van die mense wat hy/sy afkraak en verneder, persoonlik ken nie. Dis natuurlik die gerief van ʼn skuilnaam – jy hoef nie verantwoordelikheid te aanvaar vir die venyn wat jy versprei nie. Jy kan in die openbaar vriendelik wees en in die privaatheid en donkerte van jou rekenaarskerm jou gif versprei.

Dis ook die hoogste vorm van lafhartigheid.

Maak dit saak wie Crito is? Nie regtig nie. Enigeen wat sy/haar persoonlikheid belangriker as die teks ag, het nie boeke se beste belange op die hart nie, maak nie saak hoeveel hulle tot die teendeel probeer beweer nie.

Hierdie afgelope week het Crito weer ʼn resensent aangeval. Dis ʼn medeskrywer, iemand wat ek eintlik net van Facebook ken, maar van  wie ek weet dat sy nie ʼn venynige been in haar liggaam het nie. Sy het seergemaak gevoel, omdat sy nie die aanval verwag het nie. Met reg ook.

My advies aan haar was, en ek herhaal dit hier: Moenie jou steur aan kritiek van mense na wie toe jy nie sal gaan vir advies nie.

Wat ek nie gesê het nie, en eintlik moes gesê het, is die volgende: Moenie jou steur aan kritiek van lafaards wat agter ʼn rekenaarskerm skuil nie. As iemand nie die moed van hul oortuiging het om onder hul eie naam ʼn mening te opper nie, dan is hulle nie jou respek of jou tyd werd nie. Moet jou nie steur aan die rugstekery van ʼn lafaard nie.

En moet veral nie jou liefde vir boeke verloor nie.

Crito reageer op Bettina Wyngaard

  • 8

Kommentaar

  • Avatar
    Annelize van Rooyen

    Die resensent word geresenseer. Wie gaan die resensent van die resensent van die resensent van die ... resenseer?

  • Avatar
    Francois Verster

    Vir wat dit werd mag wees, ek stem saam Bettina. Ek het ook eenkeer onder - waarskynlik die vorige een - deurgeloop en toe, omdat hy/sy nie eens die resensie wat ek (oor Dan Sleigh se Afstande in die destydse Rapport Boekeblad) vir/in die koerant geskryf het gelees nie, maar die kopie daarvan op die uitgewer se blad. En toe smalend gese die utgewer moet tog maar vir my laat weet dat 'n resensent die uitgewer en prys moet noem. Dit was egter genoem, in aparte blokkies langs die teks in die koerant! Soos jy noem, vat die skrywer nie gewoonlik die resensent aan nie (sommige het my al gebel en aangevat nadat ek hulle werk geresenseer het, maar ek het self nog nie as skrywer so iets gedoen nie). Maar Crito se onregverdige - en lui - aanslag op my as resensent was darem te dik vir 'n daalder, en ek het op Litnet as volg reageer: "Kritikaster, my aster, jou gat my skat" (want die vermoede was dat dit daardie tyd 'n dame was). Wie dit ook al nou mag wees verhoog egter nie die standaarde nie.

  • Ek sukkel om te sien waar Crito nasty was. Behalwe die gebruik van die woord irriterend wat ongelukkig in die meeste gevalle waar is van die hagiografiese stukkies "resensies" wat mens deesdae in die plaaslike media lees. Wat jou dan oortuig om 300 rand op 'n boek te spandeer net om geld en tyd te mors.

  • "Moenie jou steur aan kritiek van mense na wie toe jy nie sal gaan vir advies nie."

    Dankie vir hierdie uitstekende advies, en 'n nugter, weldeurdagte stuk.

  • Avatar
    Marietjie le Roux

    Met ander woorde:
    Steur jou net aan die kritiek van hulle wat vir jou sê wat jy wil hoor.....

  • Die vraag is egter: hoe gemaak met kritiek op 'n resensie wat deur die koerantsub so drasties gesnoei is dat jy kwalik jou oorspronklike resensie herken? Is die kritiek op jou resensie dan steeds geldig?

  • Selfs 'n Beeld koerantsub kan nie soveel skade aanrig dat die trant of essensie van 'n resensie verlore gaan nie. Nie sommer nie en nie gereeld nie. Indien spasie 'n probleem is word die volle vollengte weergawe in elk geval op die webtuiste geplaas. Indien daar foute of weglatings was sal die geredigeerde en korrekte weergawe gou op die webwerf verskyn. Tensy nie die resensent OF redaksie eens agterkom daar was fout nie (wat wel gereeld gebeur) Ook - ek twyfel of Crito sy/haar resensie van resensies streng op die papier-weergawe loslaat.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top