Veralgemenings het die manier om die gemoed te laat skif. Toe ek Dinsdag in Beeld lees dat dit ’n Liebenberg is wat die sekuriteit betaal het vir Zuma se siviele saak teen Billy Downer en Karyn Maughan, het ek dadelik gedink hy operate onder ’n skuilnaam. Ek ken nie sulke Liebenbergs nie.
Maar my negativisme het gou gewyk toe ek ’n bietjie begin nadink oor die saak en besef dat dit Louis Liebenberg se volste reg is om sy geld te belê in die rykste provinsie in die land, KwaZulu-Natal. Om Zuma te sponsor is een van die rypste geleenthede wat ’n sakeman nog raakgesien het.
Om Zuma finansiële sekuriteit te gee, is die ekwivalent van rolle en rolle onsigbare lap aankoop vir al die keiser se toekomstige outfits. Soveel rolle lap, om die waarheid te sê, dat nie eens Transnet genoeg rolling stock het om dit van Durban se hawe na Nkandla te vervoer nie. ’n Sakeman en die politieke middelman kan elk ’n fris meevallertjie verdien met daai trippie, ’n paar miljoen vir elke trok vol niks.
Dis net ’n kwessie van prioriteite al in die rondte.
Eerste prioriteit in Afrikanergeledere op die oomblik skyn feesvier te wees. Keer my of ek soek na my Dina. Binne twee weke het die lesende, toneelkykende, musiekluisterende skares na Aardklop, Vryfees en die Woordfees op Potchefstroom, Bloemfontein en Stellenbosch opgeruk. Laasgenoemde is nog aan die gang terwyl ek hier peins.
Smaak my juig en diep dankbaarheid is die ding wat ons die beste doen. Goue sterretjies vir die organiseerders. Drie feeste in twee weke gegroepeer! Duidelik was die FAK en ATKV nie op die reëlingskomitees nie.
Maar die onvoorsiene voordeel is dat mens net na die naaste fees aan jou kon reis. Want petrol, want aandagafleibaarheid. Dit is só ’n beslommernis as die feeste maande uitmekaar is en mens moet jouself in skuld dompel om by alles uit te kom.
Maar dit getuig ook van visie. Laat daar nie gesê word dat ons niks by ons regering leer nie. Die saamgroepering het binne- en buitelandse implikasies.
Afrikaanses in Australasië, Kanada en Europa kan nou makliker vir twee weke na SA zirts en hul prioriteite weer reg kry.
Terwyl julle hier is, sal dit julle, o uitgeweke siele van die diaspora, ook gerusstel om te weet daar is nog baie dokters wat opgelei is aan die Universiteit Stellenbosch wat straks hul voorganger-US-alumni na Australasië, Kanada en Europa sal volg.
Hoe durf ek só iets sê? QED, maats. Die US se Tygerbergkampus is besig om baie tyd en aandag en uiteindelik geld af te staan aan hul politieke posisionering vis-à-vis ’n granietklip waarop daar tans net ’n Afrikaanse aanhaling van N.P. van Wyk Louw pryk.
Medies en graniet? Net aan die US, china.
Ek lees van die gekwelde gemoed van hul dekaan, Elmi Muller, en kan sommer sien dat daar weer op kenmerkend deeglike US-manier wyd en diep gekonsulteer is en dat die uiteindelike besluit met die nodige gravitas geneem is. Die klip durf nie net Afrikaans praat nie; die tale moet uit die klip verlos word.
Die hele gedoente is natuurlik in enige taal ’n skande. Kan hulle nie daardie tyd en geld spandeer aan die behoorlike opleiding van hul mediese studente nie? Welke studente in hul Zuma-jaar hul gaaie gaan afskrik (omdat niemand op die Tygerbergkampus hulle voorberei het op die afgryse van plaaslike staatshospitale nie) en dan van vooraf gaan moet swot vir hul toelatingseksamens om as mediese praktisyns te kan werk in enige ander land, net nie Suid-Afrika nie?
Soos julle kan agterkom, voel ek baie visioenêr. Dis miskien omdat ek hierdie week begin het met die lees van ’n Afrikaanse resensie wat só goed is dat ek gevul word met weemoed oor die Afrikaners van die diaspora wat té dikwels die hooggang van ons intellekktuele vlyt mis net omdat hulle nie na aan die vuur sit nie.
Daardie resensie is dié van Joan Hambidge, ’n genoot van die Universiteit van Kaapstad, oor Wium van Zyl se Afrikaanse vertaling van Saskia de Coster se roman Nagouers. Van Zyl was voor sy aftrede verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, maar is nes Joan Hambidge ’n produk van Stellenbosch. As oud-RAUkie en -Tukkie is dit vir my ’n swaar pil om te sluk.
Van Zyl het ingesien dat De Coster se roman eenvoudig Afrikaans móét praat. Ek vermoed dis omdat dit handel oor niebiologiese ouerskap. In ’n tydperk waarin die getal Afrikaners in Suid-Afrika al hoe minder word, openbaar dit moontlik die antwoord op ons probleem. En die brontaal, Vlaams, is een van Afrikaans se moeders, nè? Die sirkel word voltooi.
Nou sal daar sinici wees, en die gebruiklike bende Hambidge-bashers, wat haar resensie sal lees en dadelik sal vra warrefawk het twee Belgiese vroue wat ’n gay Kanadees kry om spermskenker te wees überhaupt met die breë Afrikaanse psige en sy schmerz uit te waai? Hoe inklusief is dít?
As jy só dink, het ek nie hoop vir jou nie. Jou leesversperring is jy self. Gaan lala maar.
Soos Hambidge sê, hierdie spesifieke kwessie is iets wat al in haar kenniskring reperkussies gehad het. Let op haar mooi woord: kenniskring. Dis die digter wat hier woorde kies. As sy gesê het, “vriendekring”, dan sou dit geïmpliseer het dat van haar persoonlike vriende al sulke niebiologiese ouers geword het. Maar “kenniskring” bou ’n afstand in – dis net mense van wie sy gehoor het, ongetwyfeld via via. (Ek’s versot op die beeld van die digter as eensame figuur, stil-waarnemend, maar dis nie nou ter sprake nie.)
Ek bewonder die manier waarop Hambidge speel met humor, moedswil en selfspot. Kyk na hierdie paragraaf: “Karl se ma is die spreekwoordelike stok in die wiel en op ’n besoek aan haar op die eiland Portes (aan die Kanadese weskus), word al die spanning tussen die moderne wêreld en ’n verstokte hippie-gemeenskap uitgewerk. Ook is hier Indiane. ’n Teksboekvoorbeeld vir Claude Lévi-Strauss en antropoloë. Die Klahoose word hier ingewerk wat verdere dinamiek in die teks wakker maak.”
Wat doen sy hier? Vir eers is daar die “spreekwoordelike stok in die wiel”. Net baie ou Afrikaners (60 en boontoe) sal nog gereeld praat van ’n stok in die wiel. Hulle is die mense wat nog sal onthou van waens wat wiele met houtspeke gehad het – wat die houer van die stok kwaai kon seermaak as hy die stok tussen die speke insteek terwyl die wiel draai en hy/sy/dé vergeet om die stok te los.
So, sy gooi die Samsung-en-iPhone-geslag met ’n mistifikasie, maar ek neem aan hulle sal perdalks kan aflei dat Karl se ma nie daarvan gaan hou dat hy sy saad in Belge se rigting saai nie maar dat sy big time tweede gaan kom.
Laasgenoemde suggereer Hambidge met die opmerking oor die spanning tussen die moderne wêreld (die Belgiese vroue en Karl die Kanadees) en ’n verstokte hippiegemeenskap (Karl se ma en haar geesgenote?). Let op die eggo in “verstokte” – ’n konseptuele klank-brander! Let ook op die ingeboude ironiese suggestie – is die hippies nie mense van die sestigs wat geglo het in love the one you’re with en vrye liefde nie?
En dan kom die wonderlike oomblik waarin Hambidge vir al haar kletsbekakkers die tong uitsteek (ek wou sê sy gooi ’n toffie, maar ek weet nie of dié uitdrukking verder suid as Erasmia bekend is nie): “’n Teksboekvoorbeeld vir Claude Lévi-Strauss en antropoloë.”
O, die listigheid, die skerpste humor! Almal weet Claude Lévi-Strauss is al in 2009 oorlede, so daar is geen kans dat hy dankbaar gaan wees om hierdie voorbeeld toegedeel te kry nie. En die antropoloë? Ek vermoed hier ’n baie slim binnegrap – Hambidge ken die mense by UCT se Humanities-fakulteit, en moontlik gaan dit hier oor die hoogleraars in antropologie se kennis van Afrikaans. Maar ek raai net.
Wat ek wel amper seker weet, is dat Hambidge hier hekel met diegene wat altyd biets oor haar resensiestyl, waarin sy dikwels verwysingsvelde betrek met die woord “aktiveer”. As sy hierdie opmerking in ’n resensie oor ’n digbundel gemaak het, sou dit “Hiermee aktiveer sy Claude Lévi-Strauss en die antropologie” gewees het.
So sou ek kon voortgaan en die hele resensie analiseer. Soos ’n Hambidge-gedig lei dit mens deur talle lae van betekenis en interpretasie. Sy dompel ’n bietjie vir Roland Barthes op ’n plek by die diep kant in, maar wie kan haar daarvoor verkwalik? Sy het dan pas in die vorige paragraaf een van die groot smoelneukers van die Afrikaanse resepsiologie gelewer: “En raai hoekom is die seuntjie se naam Saul?”
Daai een het my oor ’n honderd se lekkerkry gegee. Dis obviously nie ’n retoriese vraag nie. Mens kan nie anders as om wyds te wonder nie: Koning Saul van Israel? Saul Goodman van Breaking Bad en Better Call Saul? Händel se oratorio Saul? Die Saul-figuur in Marvel-strokiesprente? Die apostel Paulus voor sy bekering?
Kyk, as Hambidge diep gaan, dan raak jy intiem bewus van jou tekortkominge as logiese negativis.
Die kroon, as ek dit só mag noem, is die terloopse “Die roman sit vol pragtige prosa” naby aan die einde. Die oomblik wat sy dit sê, besef jy dat sy nie ’n enkele keer uit die roman uit voorbeelde aangehaal het om ’n mens te begogel met die tekstuur van die skryfwerk nie. Wat sy doen, is om jou geen ander keuse te laat as om die boek te gaan koop en self te sien hoe pragtig die prosa is nie. Dis ’n soort challenge, op dieselfde vlak as om oor ’n ANC-kongres te skryf en nooit die ritme-metode te noem nie.
Joan Hambidge het my al baie geïrriteer met haar resensies, maar ’n mens moet jou respekte betoon. Al was sy nooit ’n Tukkie nie. Maar ek kan jou guarantee sy sou daai klip gelos het net soos dit is.
Kommentaar
Joan Hambidge het 'n MA behaal onder Elize Botha oor die Ek-verteller in die belydenisroman in 1982. Aan UP.
Dis wel 'n Tukkie by verstek.
En Saul soos in Saul Bellow (dalk)? En al is teoretici dood, bly hul werk lewe.