Weet net dít: Dit is ’n vreemde vorm van hel om elke Sondagoggend die Rapport oop te slaan en daar eenkant waar die boekresensies skuil, niks te vind waaroor ek ’n paar bons mots met julle kan deel nie. Dan, ’n dag later, blaai ek na Beeld se boekebladsy, en ek raak skoon miopies van die groot boekomslag en al die wyshede wat ek lees oor Engelse boeke en digbundels en die beste nuwe krimi van alle tye.
Have a heart – julle kan nie verwag dat ’n vrou se geduld soos ’n underwire vir ’n skraal lyf sal wees en vir ewig sal hou nie.
Die éminence gris van die resensiekunde trek ’n Boetman. Non-binary, nuh? Ek gaan die fawk weet nie myself Susvrou noem nie. Kan julle julle indink hoe ek moet voel? Moeg gewag vir die paar uitdagende resensies of die sesmaandelikse gepleng van Joan Hambidge. My brein voel soos ’n Hotpoint-wasmasjien wat ’n ekstra siklus loop om skoon en rein gedagtes met julle te deel. Dis nie gesond nie. Ek was laas as Drawwertjie skoon en rein. Ek kan nie aanhou voorgee dat Crito nooit moer trek of selde besef dat sommige resensente nooit die vreugde van die kats sal verstaan nie.
Ek kan nie meer nie, korporaal. Die boekeblaaie is boring.
Gedagtig aan literatore se wydse belangstellings en skunnige behoefte aan venting het ek besluit dat Crito se visie terstond meer katoliek word. Kroonwild, pappie. Ek hou my swepies byderhand vir die resensies. Wat ek nog sal lees. Dis onvermydelik. Ek is so gerat.
En die moratorium op Huppelkind is opgehef.
Maar dis nou so uniek warm hier in Pretoria dat selfs die skadu van Loftus ’n contradictio in terminis is. Môre, as dit gereën het, voel ek dalk anders, maar ek sal nie my belofte verbreek nie.
So aanvaar dit nou maar. En as ek op jul tone trap, het ek net een vraag: Wat soek die goed dáár?
Sake wat die aandag trek. Vir eers die Letterkundekommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Mense wat al diep spore getrap het in die geskiedenis van catering. Jaarliks die Aula só volgepak oom Flip Smith se hare het spontaan weer begin groei van vreugde. En ou uitasem dr Geldenhuys! ’n Regte groover.
Hulle het nou ’n nuwe kommissie aangestel, in die nadraai van Hennie van Coller se bedanking. Kom ons bêre daai stukkie geskiedenis nou maar. Hy was altyd vir my só ’n flambojante mensch, dit moes maar vir hom moeilik gewees het daar in Bloemfontein.
Die nuwe voorsitter is Willie Burger. Ek wens ek kon hom vashou en troos, maar nou is ek ’n getroude ene en wil nie nou al ontmasker word nie.
Hy word bygestaan deur Marni Bonthuys, Marius Crous, Thys Human, Valda Jansen, Amanda Marais, Hein Viljoen, Andries Visagie en Bettina Wyngaard.
Kyk mooi na daai lys. Ek het al oor die meeste van hulle geskryf deur die jare en jy kan maar praat van “vormende invloed”. À la Joanie Frequent Flyer en Funky Jacques D. Die versoeking is groot om, in die trant van Spike Milligan, ’n boek te skryf met die titel Die Lit.Kom en my aandeel in hul sukses. Ek kan dink dat hulle baie hard gaan werk om veral die Hertzogprys sig sy verlore aansien te laat herwin. Net solank die prysaand-catering op dieselfde hoë standaard bly.
Ek’s veral bly dat Bettina Wyngaard, my gunsteling- sosiale kommentator, in hul geledere is. As jy haar skrywes en laaste boek gelees het, sal jy weet sy sê haar sê baie reguit en gereeld. In die Kaap, hoor ek, is daar mense wat dink die toekoms van die Lit.Kom is met haar in die geledere nou gestabiliseer en veilig. Willie se waarskynlike opvolger oor drie jaar. Sê hulle.
Ek hoop net Bettina hou so baie van Angie Oeh se songs as die jong geslag potensiële lesers. Dáái sal nou vir jou ’n Hertzogprys wees!
Gelukkig is Willie baie skrander vir ’n man. Daarom is dit verblydend dat die kommissie se reglement hersien is om die stagnasietendens hok te slaan. Stagnasie is hul forté tot nog toe. Toe, wees nou eerlik: Die kykNET-Rapport-pryse het lankal by die SAAWK se skrywerspryse verbygegaan. Stof in die gesig. Willie sê volgens Netwerk24 dat boeke wat al bekroon is, wel die moeite werd is om te lees.
O nè? Wanneer laas het jy Henriette Grové se Die kêrel van die Pêrel in ’n boekwinkel gesien? En dis maar net een van baie Hertzogpryswenners wat jy nêrens meer in die hande kan kry nie.
Sure, dis nie die Letterkundekommissie se skuld dat boeke uit druk raak nie. Dis karma se skuld. Tannie Grové is so cool soos skyfskiet by die Time Square Casino. Die groot horlosie het aangestap en die kultuurskat waarvoor die SAAWK deur die jare so hard gewerk het, is so flou soos Willie le Roux se laaste pass na enige speler langs hom.
Miskien moet die Lit.Kom sommer om mee te begin ’n bumper edition van die Hertzogprys vir 2023 beplan. Soos in bekroon almal wat weens politiek en persoonlike vetes in die verlede die prys misgeloop het, sommer one shot saam.
Daarna het julle ’n skoon lei. Luister maar na Angie Oeh, en as dit sokkel, probeer vir Les Javan, of, nog beter, die middelgenerasie se eie Lina Spies, die minsame Karen Zoid. Maar iets gaan julle moet doen om die kinders van hul selfone te laat opkyk.
Terwyl ek aan street cred dink: Breyten Breytenbach het baie jare gelede heelwat daarvan gekry met sy Mondmusiek-CD. En ek hoor Lina Spies kan baie mooi sing. As mens haar hoor, sou jy sweer dis Anneli van Rooyen. Wat van ’n CD, iets soos Lina sing Spies? Haar talryke uitgewers moet koppe bymekaar sit en iets gedoen kry voor sy die woorde vergeet.
Ook in die nuus is Etienne van Heerden se Veldsoirée op Cradock. ’n Kaapse vriend stuur vir my ’n artikel wat Christi van der Westhuizen in Die Burger daaroor geskryf het. Dis ’n skande is dat hulle my nie genooi het nie, want ek is só mét alles wat sy vertel. Simpatico.
Sy roer verskeie sake aan, maar die een wat my onmiddellik aan die dink gesit het, handel oor die onderwerp wat die afgelope klompie jaar telkens in gesprekke oor die wêreldletterkunde na vore gekom het: appropriation.
Om dit op sy heel eenvoudigste te verduidelik: ’n Skrywer durf hom (of haar) nie aanmatig om die lewens te verbeel en voor te stel van mense buite sy (of haar) sosiale, nasionale of kulturele plasing nie.
Nou oukei, hokaai. Gaan lees maar wat Van der Westhuizen daaroor sê, en hoe sy Damon Galgut weeg en ietwat lig vind. Dis ’n skitterende artikel.
Maar tussen ons moet ons eerlik wees oor die volslae waansin wat sy ontmasker. As mens dié anti-anneksasie-foefie sluk, sê jy ja vir twee nagmerries. Die eerste is dat skrywers nie meer hul verbeeldings mag gebruik soos selfs Salomo dit al geleer doen het nie. Die ander is dat jy rassisme en genderisme voorstaan. Wit skryf oor wit, swart oor swart; mans mag net die manlike ervaring as uitgangspunt gebruik, vrouens weer net hul eie ervarings. Wit mag nie dink hoe dit moet wees om ’n swart lewe te hê nie, mans kan nie die vrouelewe annekseer en hom verbeel hoe dit is nie. En andersom.
Dit is uiterste konsekwensies, maar ons is nie vreemd daaraan nie, nuh? Ons grootste vrees is nie meer dat ons in die hel gaan beland nie, maar dat iemand sal aanstoot neem aan ons normatiewe misbruik van die hel. Aanstoot is die laaste ding wat ons wil gee.
Dit is dan ook hoekom ek opgewonde is oor die Jacob Zuma-gang se voorneme om ’n rolprent oor sy lewe te maak. Ek het vir hulle ’n voorstel. Spaar julself baie moeite en harde werk. Kry vir Leon van Nierop om die draaiboek te skryf en die regie waar te neem.
Van Nierop sal, heeltemal teen die tendense in sy eie oeuvre in, die biopic ’n effens homoërotiese inslag kan gee, maar sal dit kan teenwerk en alle beskuldigings oor appropriation kan afweer deur Hannon in die rol van Duduzane Zuma te cast, en Carl Niehaus alle ander rolle te laat speel. Dit sal ’n tour de force afgee – maar is dit nie hoe ons Niehaus ken nie? ’n Kragtoer in murg en gebeente.
Ten laaste is daar die allerwonderlike nuus dat Steve Stofsuier, bekend as Neil Diamond se grootste aanhanger onder diegene wat gelukkig genoeg is om hom waarlik te ken, aanstaande jaar in April sy liefde vir Diamond se musiek ten volle gaan uitleef met ’n konsert in die amfiteater by die Voortrekkermonument. Begelei deur ’n simfonie-orkes.
Ek weet dat daar baie mense is wat heeltemal verkeerdelik nie van Steve hou nie. Maar in my boekies is hy oukei. Want ek weet dat Neil Diamond sy tweede grootste liefde is. Ons taal, Afrikaans, dít is sy eerste liefde.
Hy dig in Afrikaans, hy skryf in Afrikaans, hy veg vir Afrikaans se taalregte, en ek is seker hy is ook ’n minnaar in Afrikaans.
Daarom glo ek, in die grond van my hart, dat hy ons op 29 April 2023 gaan verras deur Neil Diamond se liedjies op Afrikaans te sing. Dit gaan ’n aand der aande wees.
Sekerlik is dit ’n reuse-uitdaging om goeters soos “Porcupine pie” en “Gitchy goomy” ’n Afrikaanse metrum te laat vind, maar aan die ander kant is dit voor die hand liggend dat “Canta libre” gemaklik op ons ore sal val as “Moemfies in balans”.
Ek is nou maar eenmaal ’n Steve Stofsuier-chick.
Kommentaar
Kort-kort kon ek lekker giggel. Dankie, Crito.
Lekker gelees. Net een vraag: Hoekom is dit net Rapport en NW24/Beeld? Hoekom nie Vrye Weekblad se (uitstekende) boekeblaaie ook nie?