Op hol met Nini Bennett-Moll se heerlike artikel op Versindaba

  • 7

Met die stof van Frankryk van my Campers afgeskud en my Burberry-jas wat ek by ’n tweedehandse plekkie in Londres gekoop het, styf vasgemaak, is ek besig om te flaneer. In Engeland “doen” jy nie “camino” nie. O nee. Jy slaat die oeroue wandelroetes. Ek had selfs ’n dag in Koos se ongelooflike tuin by Newt naby Castle Carey.

Al die vredigheid, tog woel dit in my gedagtes. Op hol met Nini Bennett-Moll se heerlike artikel op Versindaba. “Wanneer bemarking paradeer as literêre kritiek.” Ek het julle mos gesê! 

Maar aan die ander kant is dit alte heerlik om ’n slag te vergeet van die afgryse wat in Gaza aan die gang is. Dis al waarvan ons hier sien en lees.

Lesend aan Nini (verskoon my die familiariteit, maar ek is só op dieselfde golflengte as sy dat ek omtrent my wederhelf se snorkery met haar kan bespreek) vind ek dat my gedagtes met aaklige gewaarwordinge dwarrel. Gloede word ergernis.

Nie omdat sy na my verwys nie; eerder oor die deel van die groter prentjie wat nog nie sigbaar is nie. Ek kan verstaan dat daar ontsteltenis is oor die geboelie op Facebook, en die algemene vlak van kritiek/insig in die bydraes van boekbeïnvloeders. Ek het nog al die jare onderskei tussen resensies deur literêre kritici en besprekings deur beïnvloeders. Soos Nini sê, dis net semantiek.

............
Ek het nog al die jare onderskei tussen resensies deur literêre kritici en besprekings deur beïnvloeders. Soos Nini sê, dis net semantiek. Ek het waardering vir albei, mits dit goed geskryf is en my as resensieleser stimuleer. Die probleem met die beïnvloeders is dat as mens hulle glo, daar geen enkele swak boek gepubliseer word nie.
............

Ek het waardering vir albei, mits dit goed geskryf is en my as resensieleser stimuleer. Die probleem met die beïnvloeders is dat as mens hulle glo, daar geen enkele swak boek gepubliseer word nie. Ek het ’n hele klompie vriende wat, in Marlies Taljaard se onvergeetlike woorde, die kanon skeeftrek (dis nou die beoordelaars van boekpryse vir diegene van julle wat nie die kommentaar onderaan Nini se artikel op Versindaba gelees het nie), en hulle het al almal by my gekla oor die skedelskommel wat hulle tref wanneer hulle patetiese inskrywings lees en dan gaan kyk wat die koerantresensente daarvan gesê het.

Maar terwyl ek so loop en mediteer, dwaal my gedagtes ook na die lelike aanval deur Herman Lategan op Jonathan Amid na aanleiding van Nini se artikel. ’n Paar gedagtes daaroor:

  • Soos altyd is daar ironie aan die aanval verbonde. Lategan sowel as Amid is aktief op Facebook omdat hulle hul brands aldaar bou, hul beelde poets, en hul vriende op hoogte hou met hul aktiwiteite. Ek boer nie daar nie, maar wanneer ek gesig wys, is dit gewoonlik om op datum te kom met Amid. Ja, ek weet hy was kwaad omdat ek hom Huppelkind genoem het, en daarin skuil natuurlik verdere ironie. Maar ek ag hom hoog, en vir my slaan sy akademiese agtergrond genoegsaam deur om sy resensies gesag te gee.
  • Die dinge wat Lategan van Amid gesê het, het ek tweedehands moes verneem. Lategan het sy Facebook-rekening gedeaktiveer. Ek hoop dit is uit skaamte – ek het nooit gedink dat hy verder sou kon daal as sy skandalige aanval op Gillian Schutte in 2020 nie, maar hy het.
  • Dis betekenisvol dat Lategan nie by Nini se artikel op die Versindaba-webtuiste gereageer het nie. Joan Hambidge het jare gelede ’n slag verwys na “juigkommando’s”, en dis vir my die regte woord om die veilige hawe van Lategan-vriende op Facebook te beskryf. Maak nie saak wat hy sê of skryf nie, daar sal gejuig word wanneer hy sy orakeluitsprake op Facebook maak.
  • So oukei, Jonathan Amid het ook sy eie juigkommando. Hulle het hul in die algemeen goed gedra na hierdie jongste fulminasie van hardegat Herman.
  • Is ek onnodig snedig oor Lategan? Ek dink nie so nie. Ek het verlede jaar een van die bekendstellings bygewoon van sy magnum opus. Ek het my kop in skaamte laat hang oor sy smetterige taalgebruik, so in die openbaar. Hy sal moontlik dink ek is soos sy oom Braam se vrou, maar laat hom maar so dink. Ek het ál daardie woorde wat hy gebruik om sy gehore te skok al in graad agt gebruik en gou agtergekom hoe uiters vervelig hulle kan wees. Ek het ook gevoel dat hy sy uitvaart by Rapport hanteer het soos ’n seuntjie agter die stuur van ’n bumper car; en ek het ’n spesmaas dat dit nie lank sal wees voordat hy Max du Preez se hare deurmekaarkrap nie.
  • Ek voel ook dat Jonathan Amid moet ophou om wenend in die Facebook-straat af te hardloop elke keer wanneer iemand hom kritiseer. Resensent. Toffie. Lek.

In die nadraai van die skermutseling het Nini se eggenoot ’n interessante opsomming (ook op Facebook) gemaak. Ek haal hom aan:

“My gevolgtrekkings is dus:

  1. Dat daar ’n hele paar mense is wat koerantresensies lewer wat nou erken dat hulle nie daarvoor gekwalifiseer is nie.
  2. Dit is veral ontspanningsfiksie wat die probleemarea blyk te wees. Elite-literatuur soos poësie, drama en literêre romans word nie beïnvloed nie.
  3. Die bemarkingsargument wat Nini aanvoer word nie ontken nie, trouens dit word luidkeels erken. Ek verstaan dit. Maar dan moet hierdie uitflertsings nie as literêre kritiek (resensies) paradeer nie.”

Mens kan hom net gelyk gee – maar hy noem nie die verskraling wat daar wel in die geledere van die kundiges was nie. Mens kan aan die een kant daarop wys dat Jonathan Amid die mees produktiewe resensent is wat daar in baie jare was. Ek vermoed dit is presies wat Herman Lategan so irriteer. Maar die vinger moet nie na Amid gewys word nie. Hy het ’n gaping gesien en dit geneem. Is daar enige ander mense wat hul toespits op dieselfde terrein?

.........
Maar die vinger moet nie na Amid gewys word nie. Hy het ’n gaping gesien en dit geneem. Is daar enige ander mense wat hul toespits op dieselfde terrein?
.............

Die redakteurs van die boekeblaaie kon groter variasie in resensente nagestreef het. Anastasia de Vries was in ’n stadium redakteur van Rapport se boekeblad – hoekom het sy nie ná sy akademie toe is, ’n gereelde resensent geword nie? Louise Viljoen se resensies is sonder uitsondering op ’n besonder hoë peil, maar hoekom sien ons nie gereeld die name van Hein Willemse, Marni Bonthuys, Thys Human, Willie Burger, Marius Crous, Dewald Koen, Christi van der Westhuizen, Neil Cochrane en so vele meer van die akademici nie? Elke keer as Bonthuys iets resenseer, sit ek regop. Ek sou wat wou gee om Hein Willemse se mening oor publikasies in Kaaps te kon lees.

Só kan mens voortgaan. Uiteindelik (loop ek vanoggend en dink op die Three Saints Way naby Launceston in Cornwall) sal ons ook die groot beweging na onkunde in Suid-Afrika moet verreken.

Word skoliere nog genoegsaam op skool voorberei om nie net verstrooiingslektuur te lees nie, maar ook meer ingewikkelde, literêre romans en poësie? Wat is die situasie by universiteite? Wie is die volgende Louise Viljoen? Gaan Jean Meiring weer terugkeer? Is koerante en tydskrifte nog die teelaarde vir kreatiewe skryfwerk? Is universiteitstudente in staat om langer argumente te voer as wat X toelaat? Sou hulle ’n eenvoudige begripstoets uit circa 1990 kon baasraak?

Daar is nog ’n ander scenario ook. Dít is dat mense eerder die beïnvloeders se jodelry sal lees as die oorwoë menings van behoorlike resensente – omdat hulle aandagspan nie langer is as ’n TikTok-blertsie nie, of omdat hulle sukkel om Koerantafrikaans behoorlik te snap. Ja, wat doen mens as niemand aandag gee aan die bemarkers se parade nie?

Ek laat dit maar daar. Julle weet wat die antwoorde is.

Lees ook:

Hekwagters en oop hekke

Oor boekresensies, lesersindrukke, uitgewers en skrywers

SALA-toekennings 2021: ’n onderhoud met Jean Meiring

Wie mag resensies/lesersindrukke skryf?

Hoe om ’n boekresensie te skryf

’n Moeilike geboorte en skielike grootword: Suid-Afrikaanse misdaadfiksie

Oor sosiale betrokkenheid

  • 7

Kommentaar

  • Mart-Marie Uys

    Bravo aan Crito se gebalanseerde mening. Nini Bennett-Moll se essay op Versindaba was inderdaad heerlik. Nini en Crito, bly werk tog maar met onverdrote ywer aan die selfaangestelde Facebook boekbeïnvloeders se heropvoeding asseblief. Dis tot almal se voordeel.

  • Prof Melodie Labuschaigne

    Inderdaad, Mart-Marie Uys. Jy neem die woorde uit my mond! Bennet-Moll het 'n baie belangrike kwessie opgehaal en eensklaps klap almal se tonge. Welgedaan, Nini!

  • My jinne Crito, ek het juis gewonder of dit jy is wat ek op die moltrein gesien het in Londen.

    Faceboek, tsk. Die plek is erger as 'n sinode. Dis soos familie in die tronk, jy wil nie eintlik daar gaan kuier nie, maar jy gaan loer maar gereeld weer in. Ek kry eintlik skaam dat ek ook nog op Faceboek is. Dit krioel van advertensies en Amerikaanse gemors daar. Al wat my daar hou is al die interessanthede en die goeie inligting.

    En TikTok! Wat 'n aangesig is Afrikaner-TikTok nie om te aanskou nie! Dis steeds sinode maar nou op steriods en elke ander soort van draks, reguit uit die put van die hel. Mens se mond hang oop oor alles wat daar aangaan.

    Ek hoop almal relax nou bietjie, skop die skoene uit, maak 'n lekker koppie tee, en trek 'n lekker boek nader so oor die feesseisoen.

    Beste wense vir 2024.

  • Herman Lategan

    Baie dankie vir hierdie skrywe, ek verwelkom altyd enige vorm van publisiteit, goed of sleg, omdat dit die verkope van albei my onlangse boeke ʼn verdere hupstoot gee.

    Ek is nie op Facebook om myself te bemark nie, ek is daar om pret te hê en moeilikheid te maak. Ek het geen “brand” om te bemark nie. Ek stel ook geensins in ʼn goeie reputasie belang nie (liewer ʼn slegte een), my fokus is op my volgende artikel en of ek dit so goed moontlik kan skryf. Dit is wat my wakker hou, nie hoe my “brand” lyk nie.

    Ek het nie my Facebook-blad gedeaktiveer nie, it is alive and kicking. My kommentaar oor Amid is verwyder. Nee, ek het niks om voor skaam te wees nie. Die Gillian Schutte fracas het sy eie konteks. Dit het drie jaar terug plaasgevind en was oor die selfdood van ʼn hawelose man in Seepunt. Die gesprek met haar het ontspoor. As jy na die hele thread gaan kyk, van destyds, sal jy heeltemal anders daaroor dink. Soos gewoonlik is jy vaag met jou feite en as jy aanhou daarmee sal ek my prokureur moet vra om jou stellings terug te trek, anders sien ons mekaar in die hof.

    Ek het geen juigkommando op Facebook nie. Daarvoor het ek ʼn gans te skerp “sabre-rattling tongue”. Facebook is nie my veilige hawe nie, ek het baie vriende in die “regte lewe”, wat al dekades lank vir my ʼn veilige hawe bied.

    My outobiografie was geen magnum opus nie, dit het geen literêre meriete nie, dit is bloot ʼn storie wat feitelik oorvertel is. It is hardly a magnum opus. Sarcastic much?

    Jy het jou kop in skaamte laat hand oor my smetterige taalgebruik by ʼn boekpraatjie? Jy hou van dié woord. Ek is bly jy praat daaroor, because shame dies on exposure. Jy was vry om uit te loop. Ek praat soos ek praat, ek sensureer my geswets nie voor enige gehoor nie. Ek gee nie ʼn duit om of dit pueriel is nie, omdat ek nie ʼn duit omgee vir ʼn “brand” of ʼn reputasie nie. As die gehore geskok is oor vloekwoorde dan is hulle by die verkeerde praatjie. Of dit hulle verveel of nie, dit skeel my nie. Ek gaan wragtig nie ʼn vals beeld van myself voorhou nie. Soos die tannies by die KKNK wat dit gereeld doen, kan hulle uitstap.

    Ek het by Rapport vir ʼn dekade uitgehou, so ek sal nie maklik met Max uitval nie. My geraas was geregverdig omdat hulle my gereeld laat betaal het, of op vreemde tye wat op vreemde datums gebaseer was. Die voltydse werkers by Rapport kry hul salarisse op die 25ste. Hoekom moet vryskutte aan die agterspeen suig en hoekom moet ons hoed in die hand staan? Ek was nooit laat met enige van my bydraes vir hulle nie, ek het pryse vir hulle gewen en twee bundels van my rubrieke is onderskeidelik deur Jonathan Ball en Penguin uitgegee. Dit is tog goed wat tot hulle “brand extention” bygedra het? Moes ek stilletjies verdwyn, ten spyte van die feit dat ek soos ʼn hond deur Media24 behandel is? Hoekom ek so lank uitgehou het, was as gevolg van lojaliteit, die geld was sakgeld, so min was dit. Maar dit was mý sakgeld, waarvoor ek hard gewerk het. Het jy al ʼn rubriek vir tien jaar geskryf? Dit is oorweldigend. The buck stops with the boss.

    Terloops, iemand het genoem ná my sogenaamde tirades ek nooit weer werk sal kry by Media24 nie. Mooi so, ek wil dit ook nie hê nie. Daardie persoon wat dit gesê het, het ook genoem Vrye Weekblad gaan vou dan het ek geen werk nie. LOL. Ek twyfel of hulle gaan vou, maar niemand het ʼn kristalbal nie.

    Ek het vir 20 jaar net vir die Engelse pers gewerk, hier en oorsee. My wêreld bestaan nie net uit die “soet binnekring” van die Afrikaners by Media24 nie, glo my. Ek skryf reeds weer in Engels en geniet die vryheid en oop denke by Vrye Weekblad.

    Ek moes nooit tien jaar terug vir Rapport begin skryf het nie, ek het dit op uitnodiging gedoen. Op daardie stadium het ek net in Engels geskryf omdat Media24 versmorend was en ek geen aanklank by hulle gevind het nie. Dit was soos met Jacob Zuma, tien vermorste jare by mense wat ʼn lugleegte en borrel werk.

    Ek is ook nie geïrriteerd dat Amid so produktief is nie. Die boekeredakteurs kan gerus meer uiteenlopende resensente gebruik, dit was my eintlike punt.

    Dus, ek wou net ʼn paar feite regstel. (Effe verkort - LitNet-redaksie)

  • Oor literatuurwetenskap! die (i) critique (kritikus) se tegniese inslag; (ii) resensent (leek) se resensie, en dan (iii) enetjie wat glad nie kan lees nie (net lesers wil beïndruk met 'n lesersindruk ‒ uit eie beweging gestuur).
    I
    “Onlangs het ek toevallig op fragmentariese wyse insae gehad in werk van mense wat vandag skynbaar gevestigde skrywers is in Afrikaans en erkende produsente van Letterkunde, en vir mý was dit geen bemoedigende ervaring nie. Ek het kortstondig kontak gehad met mense wat op literêre vlak professioneel dadig is, wat teen betaling manuskripte regsien of keur, literêre oordele vel en skryfkursusse aanbied, en ek het begin wonder met hoeveel gesag hulle hul beslissings neem en pontifikale oordele vel, en met watter reg.
    'n Gewriemel van mense met menings en stemme, maar geeneen met gesag nie, en ek treur steeds oor Van Wyk Louw.”
    [Slot Van Die Dag ‒ Karel Schoeman, 2017, p.49]

    II
    “In die konteks van die samehorigheid wat die Afrikaners in elk geval tot baie onlangs nog gekenmerk het, is dit skynbaar moeilik vir lede van die literêre establishment om te glo dat ek my wérklik en eerlik nie as 'een van ons' beskou nie, en dit trouens ook nie wil wees nie, en die feit dat ek doelgerig vir my 'n eie ruimte afgebaken en die integriteit daarvan bewaar het, kan die maklikste as affektasie of aanstellery afgemaak word, 'n doelbewuste poging om ánders te wees en interesant te lyk.
    Ek is oud, onaanpasbaar, onvergenoeg, nie meer in voeling nie, nie meer ontvanklik nie, en ek wil dit trouens ook nie wees nie. Ek het boeke geskryf in Afrikaans, niks meer nie, en ek voel my by die Afrikaanse letterkunde en sy voortbrengsels minder betrokke as by bepaalde landskappe waarvoor ek geneentheid voel. Ek is dankbaar teenoor die uitgewers wat steeds bereid was om my werk uit te gee, rendabel of nie, en die formele erkenning wat dit van tyd tot tyd geniet, word na behore waardeer, die oordele interesseer en raak my lankal nie meer nie. Dit moet dus by gebrek aan alternatief dien as my literêre testament. Ek behou 'n rekalsitrante gees tot die einde van my lewe, letterlik op pad na die dood.
    Báie het in Suid-Afrika verander; maar ook nie álles nie. Soms vra iemand met wie ek 'n gesprek gevoer het skielik heel onskuldig of naïef of ek dan nooit getroud was nie, en kan my antwoord kennelik nooit verwerk nie. Ek het geleer om nie verder op die onderwerp in te gaan nie, want afgesien nog van die feit dat dit om persoonlike sake gaan, kan mens die onskuld, naïwiteit of onkunde van 'n leeftyd nie in 'n enkele gesprek oorkom nie; maar hoe, moet ek agterna soms wonder, kan 'n gemeenskap wat in breë trekke nog so naïef of onskuldig is ooit 'n volwasse letterkunde ontwikkel?
    Maar begrip is één ding. Verdráágsaamheid is natuurlik 'n heeltemal ánder kwessie."
    [Karel Schoeman – Slot van die dag]

  • Herman Lategan

    Inderdaad. Bestuur seker 'n gastehuis op 'n plattelandse dorpie. En wil graag rubrieke skryf.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top