Hekwagters stem my ongemaklik. Snedige aan- en opmerkings en venynige naamnoemery is nie nodig in wat veronderstel is om ’n ruimte te wees waar mense meer verlig en met groter empatie en intelligensie met mekaar omgaan nie.
Dalk beskou ek boekruimtes in ’n onnodig rooskleurige lig, maar ek het nog altyd meer van boekmense verwag as van ander. Ek gebruik die woord “boekmens” spesifiek inklusief – skrywers, lesers, akademici wat hulle met boeke bemoei, studente wat leer oor en van boeke, influencers, joernaliste, uitgewers, bemarkers, boekwinkeleienaars, feesbeplanners, die hele toetie. Die gemene deler in hierdie groep uiteenlopende karakters is, of behoort te wees, ’n liefde vir boeke en lees. Selfs boekdiewe is lief vir lees. Maar sodra dit kom by die bespreking van ons gedeelde geliefde, waai die hare, want elkeen probeer sy of haar uitsluitlike reg om dit te mag doen, afdwing.
.......
Dalk beskou ek boekruimtes in ’n onnodig rooskleurige lig, maar ek het nog altyd meer van boekmense verwag as van ander.
.......
Crito het verlede jaar aan die woord “snotjantietie” prominensie verleen; hierdie jaar doen Nini Bennett-Moll dit waarskynlik met “uitflertsing”. Albei het dit oor wie boeke mag resenseer. Bennett-Moll verwys na “gekwalifiseerde letterkundiges” as die aangewese persone om letterkundige kritiek te lewer. Dis nie duidelik watter kwalifikasie nodig is nie. Is ’n honneursgraad in Afrikaans voldoende, of kan jy jouself ’n letterkundige noem eers as jy ’n PhD agter jou naam het? Wat die kwalifikasie ook al mag wees, die leser van derduisende boeke wat nie een of ander universiteitsgraad het nie, is, lyk dit my, nie bevoeg nie.
Eerder as om óók hier in die kryt te spring oor wie wat mag doen, wil ek eerder fokus op ’n speler wat verlore raak in die losgemaal: die leser. Sonder lesers is ons almal maar verlore. Skrywers skryf verniet; uitgewers hoef nie boeke uit te gee nie; resensente en influencers sit op hul hande, want die verbruiker oor wie dit gaan, word vergeet.
........
Eerder as om óók hier in die kryt te spring oor wie wat mag doen, wil ek eerder fokus op ’n speler wat verlore raak in die losgemaal: die leser.
........
Alle resensies, lesersindrukke, BookTok-inhoud en blogs is bemarking. Die akademiese resensie is dalk in meer tegniese taal verpak, terwyl die lesersindruk met groot entoesiasme ’n boek of skrywer se lof besing. Maar hoekom doen hulle dit? Die doel met elke enkele geskrif oor ’n boek of ’n skrywer is om die boek of die skrywer aan ’n breër gehoor bekend te stel. Selfs negatiewe besprekings vestig aandag op ’n teks. (Ek gebruik vir die res van hierdie artikel die woord “bespreking” vir resensies, lesersindrukke, blogs, vlogs, BookTok-plasings, ens.) En elke bespreking word geplaas met die hoop dat dit iemand sal prikkel om die boek te koop. Dis bemarking.
Lesers as verbruikers hou die boekbedryf aan die lewe. Daar word groot gewag gemaak van die literêre waarde van literatuur wat die kanon verbreed, wat oor ’n eeu nog genoem en bespreek sal word. Wat niemand noem nie, wat skynbaar selde oorweeg word, is dat die grootse literatuur selde megaverkopers is. Krimi’s en Romanzas verkoop en maak geld vir die uitgewers (en die skrywers). Daai geld wat deur die genreboeke gegenereer word, stel die uitgewers in staat om die literêre meesterstukke, wat meesal teen ’n verlies gedruk word, uit te gee. Uitgewers weet dit, anders sou hulle hulle nie na nie-akademici wend vir boekbesprekings nie.
Die vraag is eenvoudig: Hoeveel boeke verkoop as gevolg van ’n akademiese bespreking? En watter boeke word as waardig geag om ’n akademiese bespreking te regverdig? Beslis nie die gewilde literatuur nie.
........
Die vraag is eenvoudig: Hoeveel boeke verkoop as gevolg van ’n akademiese bespreking? En watter boeke word as waardig geag om ’n akademiese bespreking te regverdig?
........
Oor die afgelope aantal jare het die besprekings wat in koerante en tydskrifte verskyn, dramaties afgeneem. Skrywers is gelukkig as hulle een bespreking in ’n koerant ontvang. En wee hulle as daai enkele bespreking negatief is.
Dis waar die besprekers wat nie met die nodige akademiese kwalifikasies spog nie, van onskatbare waarde is. Hulle skyn die lig op tekste wat dalk nie in aanmerking sou kom vir die Booker of die Nobelprys vir literatuur nie, maar wat tog ook lekker leesgenot is. Hulle stel tekste bekend wat dalk nooit andersins onder lesers se aandag sou kom nie, bloot omdat daar so min spasie vir besprekings is. Maak dit saak of die bespreking op iemand se Facebook-muur of TikTok is, eerder as agter ’n betaalmuur?
Die harde waarheid is, vir elke leser wat Prophet song (die wenner van die Booker-prys) gaan lees, is daar een duisend wat eerder die nuutste Shades of Grey gaan lees.
Ek het met my tweede boek, Vuilspel, ’n uiters negatiewe bespreking ontvang. Die resensent, iemand wat Bennett-Moll as gekwalifiseerd sou beskou, vermoed ek, het tot die gevolgtrekking gekom dat lesers nie hulle geld moet mors om die boek te koop nie en dat ek liefs my met iets anders moet besig hou, want skryf is bo my vuurmaakplek. Natuurlik nie die presiese woorde nie, maar dis waarop dit neerkom. Tien jaar later is die teks nog in druk en ses verdere boeke van my het verskyn. Wat sou gebeur het as dit die enigste bespreking van my boek was?
........
Hetsy snotjantietie wat uitflerts of gekwalifiseerde letterkundige, almal werk saam om boeke te bevorder.
.......
My slotsom: Die boekehuis is ’n huis met baie kamers. Daar is plek vir almal, en ons, skrywers, het elke stukkie aandag wat op ons werk gevestig word, nodig om te oorleef. Hetsy snotjantietie wat uitflerts of gekwalifiseerde letterkundige, almal werk saam om boeke te bevorder.
In plaas van daaroor te baklei, maak eerder vrede en fokus op boeke, asseblief?
Lees ook:
Kommentaar
Ek hou my maar uit daai faaight. Dit herinner my aan die groot Faceboek-digters-faaight van so iets van 'n dekade of dalk al meer gelede. Daardie jare was daar ook 'n groepie beswaarde en bedroefde hekwagtertipes wat protes aangeteken het. As ek reg onthou was die hele drama selfs een aand op die SAUK se Afrikaanse nuus om 7. Dit was 'n groot polemiek. En wat het toe intussen gebeur met die Faceboek-digters? Hulle het eenvoudig voortgegaan om te maak net wat hulle wil. Hulle skryf oral op die net. Veral ook op Instagram. Hulle publiseer hulle eie boeke. Daar is uitgewers wat spesifiek vir hulle cater. Die hele stryd teen die Faceboek-digter was futiel.
Maar ek wil graag eintlik net sê dat ek dit met jou eens is. Dit sou interessant gewees het as ek 'n venster in die toekoms in kon kry, presies 100 jaar die toekoms in, om te kon sien of enige iemand teen daai tyd nog Afrikaans lees. Ek is nie besonder optimisties nie. Want 'n taal het skole en universiteite nodig, en Afrikaans se skole verdwyn en die proses gaan versnel met die BELA-wet. En ook is Afrikaans die taal van apartheid, en, en, en. 'n Taal met baie vyande. Die hegenomie van Engels sluk ons taal in. Ek dink nie Afrikaans het so 'n rooskleurige toekoms nie. Dit skeel my min. Ek praat nie Afrikaans omdat ek in die hoop leef dat Afrikaans net so lank soos homo sapien sapien sal bestaan nie. Tale kom en gaan. Mense kom en gaan. Spesies kom en gaan. Mens lewe 80 jaar as jy gelukkig is en dan is dit als verby. Taal en kultuur is daar om te geniet. Dis nie 'n mens se werk om jou taal, kultuur of selfs jou godsdiens te "red" nie. Ek praat Afrikaans eenvoudig omdat ek dit liefhet. Dis my ouers se huistaal gewees en die taal waarmee ek grootgemaak is.
Oor kwalifikasies wil ek my amper nie eens uitlaat nie. Behalwe om te sê dat ek groot waardering vir die akademie het. Ek hou van akademici se perspektiewe op boeke, maar ewe veel hou ek van mense buite die akademie. Daar is soveel wonderlike insigte wat mens kan kry by sogenaamde "ongeletterde mense". In die wetenskap van geskiedskrywing word daar verwys na "organiese intellektuele". En hulle is dikwels gesogte sprekers by konferensies. Daar is inderdaad plek vir baie stemme. Daar is ek dit met jou 100 % eens. Dit is nie in my boek eens oop vir enige debat nie. Almal verdien 'n plekkie in die Afrikaanse son.
Iemand het iewers ook genoem oor die rol van boekklubs. Die boekklubs het net so 'n groot impak, en wie weet, dalk selfs meer so as resensente. Ek meen, as jou vriend by die boekklub vir jou sê lees Snotjan of Snotmarie se boek, dis 'n great boek, dan gaan jy nie omgee wie wat waar oor die boek geskryf het nie. Jy gaan dit lees want jou vriend(e) het persoonlik die boek vir jou aanbeveel.
Daar is wel een aspek van die onlangse oor-en-weer-betoog wat seker tog bietjie dinkwerk regverdig. En wat 'n titsel kommer wek. Dit is die mense wat gratis boeke ontvang van uitgewers, of nog erger, skynbaar selfs deur uitgewers betaal word om oor daardie boeke te skryf (die res van ons suffer om ons boeke te bekostig, en doen dit nogtans met 'n glimlag). Ons praat nie hier van mense wat teen 'n fooitjie (gewoonlik ook maar kleingeld) gevra word om hulle eerlike opinies oor boeke neer te pen nie vir koerante of ander media nie. Dit gaan oor mense wie se objektiwiteit dalk so bietjie moontlik in gedrang mag wees. Dáár lê miskien 'n bietjie van 'n krapperigheid. Maar dan ontstaan die vraag: hoe en deur wie word so iets gepolisieer? Wie gaan wat daaraan kan doen?
Elke leser moet maar uiteindelik self die insig bly slyp om krities met enige boekbespreking of resensie om te gaan. (En hopelik nie net met boeke nie. Sommer met alles in die lewe!) Mense het maar altyd motiewe. Daar is idees in boeke wat hulle graag wil bevorder. Daar is dalk skrywers wie se werk hulle graag wil bevorder. In die verdagste scenario is daar dalk 'n uitgewer wie se verkope hulle probeer bevorder en vergoed word deur dieselfde uitgewer.
Maar ek kan nie sien hoe enige selfaangestelde polisie ooit veel sukses sal he daarmee om die (generiese) verdagte, resensent of Booktokker in sy of haar spore te stuit nie.
Vir my help 'n resensie om 'n boek te 'voel' en te 'ruik', dis wat ek doen wanneer ek 'n boek in die boekwinkel in my hande hou. Dis nou nie juis rasioneel nie, maar tog. Resensente behoort eerlik en ewewigtig te wees sonder om af te kraak. Ek raak altyd opgewonde oor 'n nuwe boek.
Dankie vir jou helder insigte, Barend. Dit is baie waar wat jy sê oor die toekoms van Afrikaans, veral die hoër funksies van die taal. Ek weet nie of Afrikaans as onderrigtaal die jaar 2125 gaan haal nie. So 2025 se eeufeesvieringe gaan dalk die eerste en die laaste wees. Maar dit is 'n gesprek vir 'n ander keer.
Ek dink LitNet moet dit ernstig oorweeg om 'n aanlyn meningspeiling van stapel te stuur met 'n eenvoudige vraag: Beïnvloed 'n resensie of lesersindruk jou besluit om 'n spesifieke Afrikaanse boek te koop? Ek sal baie graag die uitkoms van so 'n meningspeiling wil sien.
Ons hoop maar vir die beste. Solank ons skrywers nog skryf, lesers Afrikaanse boeke koop (en nie onwettige elektroniese kopieë versprei nie) en 'n leeskultuur in skole gekweek word, is daar nog hoop.
Barend, ek vra sommer namens almal wat ooit resensiekopieë van 'n boek of boeke ontvang het. Stel ons voor aan daardie uitgewers wat sal betaal vir 'n mening. Jo, hoe lekker sou dit nou wees? Verdagmakery van resensente en uitgewers op hierdie manier is nie cool nie, hoor? (Ek hoor jy sê skynbaar, en ek weet wie/waar die gerug vandaan kom. Not cool, people!)
Hierdie debat ontwikkel in die regte koers, of rigting. Almal lewer goeie insette vanuit elkeen se ervaringsveld.
Barend: 'n uitgewer kan aan enige persoon wat 'n groter platvorm het en wat weet waarvan hulle praat 'n gratis boek (defnitief sonder betaling. Absoluut NIE teen betaling nie anders soek ons moeilikheid) gee. Die uitkoms of mening sal deur so 'n persoon bepaal word: goed of nie goed nie. Elke persoon met integriteit sal haar/sy mening objektief gee. Uitgewers en die boekbedryf en lesers het dit nodig.
Dankie, Dewald. Ek is intussen so bietjie aangespreek oor hierdie eerste en enkele stukkie kommentaar van my ten opsigte van die gesprek. Die feit dat daar ontevredenheid bestaan, en dit sonder dat ek enige iemand se naam genoem het, verbaas my so bietjie, maar dit dui ook aan watse sensitiewe wesens die skrywers is. Dit ontmoedig 'n mens egter ook eintlik om in die toekoms weer 'n opinie te lug. Duidelik het ek vergeet van Lemmer (die Deon Meyer karakter) se eerste wet - moenie betrokke raak nie. Die essensie van hierdie debat, lyk dit my, is wie wat mag sê en wie nie. En ek vind die hele saak eintlik so bietjie onverkwiklik. En dis eintlik diplomaties gestel.
Miskien moet ek byvoeg. My opmerking was werlik maar so in die algemeen. Alle mense is immers gekompromiteer tot meerdere of mindere mate. Niemand kan tog 100% objektief wees nie. Ek gewis ook nie. Mens het jou eie agtergrond en invloede wat 'n invloed uitoefen op jou oordeel. Ek skryf ook graag iets oor boeke wat ek lees en ontvang so by geleentheid 'n gratis boek. Maar kan nie oor elke boek wat ek lees iets skryf nie. Sommige boeke lees mens en jy het geen opinie nie. Of jy besef jy weet te min. Jare gelede het ek heelwat boeke gratis gekry by boekeredakteurs van akademiese joernale. Omdat dit Engels was, en ek in Engels daaroor moes skryf, maar ook omdat ek nie meer langer vir akademiese joernale wou skryf nie (vir bepaalde redes) het ek toe opgehou. My keuse van leesstof is ook subjektief. Ek kies grotendeels boeke wat ek vermoed ek sal geniet. Veral omdat ek self betaal. Al wat ek maar probeer sê is dat die onus op die leser berus om goeie oordeel te ontwikkel en te besluit wat hulle glo en wat nie. Dit kan nie gepoliseer word nie.
Bettina, met baie respek, en ek het baie respek vir jou: jy noem 'n aantal feite en persepsies waarvan die meeste mense in die literêre sisteem in hoofsaak mee sou saamstem. Ek vind dit insiggewend dat verskeie kommentators na dieselfde feitestel kyk en dan tot uiteenlopende gevolgtrekkings kom, maw na alles gaan dit uiteindelik tog om oortuigings en persoonlike voorkeur. Die demokratisering van literêre gesag.
Wat ek egter meer kommerwekkend vind, is wanneer iemand reageer, maar duidelik 'n onderliggende agenda het en daarom 'n vooroordeel of botsende belang het. Dit is goeie pratkyk om sulke belange te verklaar alvorens 'n mens jou invloed wil laat geld in 'n geprek soos hierdie. Die kommentaar wat ek in die groter gesprek raakgelees het wat moontlik tot so 'n situasie mog lei, kan myns insiens in twee groepe verdeel word:
1. Lede van die publiek wat nie werklik belangstel waarom die literêre sisteem gaan nie en gewoon die kortste en eenvoudigste boekoorsigte lees. Hierdie verskynsel is nie bloot simptomaties van 'n samelewing wat in opstand kom teen die tradisie van die letterkunde nie, dit is ook simptomaties van die vervlakking van so 'n samelewing. Goeie literêre oordeel lig in, voed op en dien as kwaliteitversekeringsmeganisme.
2. Skrywers wat iewers in hulle loopbane 'n bloutjie geloop het met 'n minder gunstige resensie en daarom 'n byltjie te slyp het met literêre kritici.
Therein lies the rub.
Jy noem in jou tweedelaaste paragraaf 'n stel wat jy afgetrap het met 'n minder gunstige resensie, en ekstrapoleer dan jou geval ter stawing van jou argument. Dit diskrediteer myns insiens verskeie geldige argumente wat jy sou stel omdat dit jou in 'n bevooroordeelde posisie plaas.
Barend, nee! Dis glad nie nodig om so te reageer nie. Jou opinie tel, en jy moet dit gee! Omdat ek jou lankal "ken" en jou opinies oor boeke hoog ag, het ek dit eers privaat met jou probeer oplos, deur jou te vertel wat die agtergrond is. Ek weet presies wie wat waar gesê het, wat aanleiding gegee het tot so 'n wanpersepsie wat uitgewers en mense wat resensiekopieë kry, in 'n swak lig plaas. Ter wille van die groter bedryf, is openbare moddergeveggies regtig iets om te vermy en ek sou graag eerder met jou wou gesels daaroor. Jy het gekies om my poging tot gesprek te lees, maar te ignoreer. Nou hoe anders moet mens 'n wanpersepsie regstel?