Elke paar jaar duik die vraag oor betrokke skrywerskap op. Behoort skrywers betrokke te wees; of anders gestel, behoort skrywers in hul skryfwerk hulle te bemoei met politiek, kwessies van sosiale geregtigheid en dies meer?
Ek is ’n week gelede by ’n boekbekendstelling ’n variasie op hierdie vraag gevra. Natuurlik kan geen mens vir ’n ander voorskryf wat hulle moet doen nie, en veral behoort kunstenaars hul kuns met vryheid te beoefen. Daar is skrywers, en sal altyd skrywers wees, wat spookasem skryf – lig, lekker en soet. Absoluut niks verkeerd daarmee nie – ek geniet dit om dit te lees, soveel soos enigiemand anders. Soms wil mens net “mindless entertainment” geniet.
Maar vir my? Hemingway, of dalk Red Smith, afhangend van watter gesaghebbende bron mens wil glo, het glo van skryf gesê: “There is nothing to it. You simply sit down at the typewriter, open your veins, and bleed.” Soms voel daai beskrywing baie akkuraat. Skryf is nie maklik nie. “Easy reading makes for hard writing,” is ’n ander baie akkurate stelling oor die skryfproses. Is dit die moeite werd om al die navorsing te doen, ure en ure daarvan, en selfs meer ure te spandeer daaraan om karakters, ruimte en ’n wêreld te skep sonder om kommentaar te lewer op die wêreld waarin ons ons bevind? Ek dink nie so nie.
Skrywers, joernaliste, digters, denkers, openbare intellektuele is baie keer die eerste linie wat deur diktators onderdruk, tot stilswye gedwing en in die tronk gegooi word. Diktators verstaan die ondermynende krag van woorde en die mag wat daarmee saamgaan.
........
Skrywers, joernaliste, digters, denkers, openbare intellektuele is baie keer die eerste linie wat deur diktators onderdruk, tot stilswye gedwing en in die tronk gegooi word.
........
’n Maklike manier om ’n bevolking in die duister te hou, is om boeke te verban, of om openbare biblioteke te sluit. Boeke het immers die mag om lesers te leer droom van iets anders as die norm waarin hulle elke dag gedompel word. Is dit dan nie die skrywer se plig om ’n spieël op te hou om te wys waar die fout in die samelewing lê en hoe dit kan verander nie? Of selfs meer basies, dat dit kan verander. Die status quo is nie vanselfsprekend onveranderlik ewigdurend nie. Al wat nodig is, is een skrywer om een gedagte in hul leser se kop te laat: Daar is ’n ander manier.
Margaret Atwood is ’n betrokke skrywer. Toe die Trump-adminsitrasie verwoesting saai onder burgerregte wat almal gemeen het gevestigde reg is, is Atwood se boek The handmaid’s tale as profeties beskou. Nee, was haar reaksie, niks in die boek is profeties nie, sy het bloot gebeure beskryf wat al iewers in die wêreld gebeur het, natuurlik onder die mantel van fiksie. Enigeen wat aandag skenk aan wat om hulle aan die gebeur is, kan “profeties” skryf.
........
Waar trek ons die streep? Baie skrywers wonder nou of hulle kan skryf sonder om die pandemie in hul verhaal in te bring. Is dit nie ook betrokke nie? Of is dit net politieke uitsprake en die uitwys van sosiale ongeregtigheid wat betrokke is?
........
Waar trek ons die streep? Baie skrywers wonder nou of hulle kan skryf sonder om die pandemie in hul verhaal in te bring. Is dit nie ook betrokke nie? Of is dit net politieke uitsprake en die uitwys van sosiale ongeregtigheid wat betrokke is?
Dan is daar die ander kant, dié wat glo dat grootse literatuur juis nie polities mag wees nie. Ocean Vuong stel dit in sy On earth we’re briefly gorgeous so mooi: “They will tell you that great writing ‘breaks free’ from the political, thereby ‘transcending’ the barriers of difference, uniting people towards universal truths. They’ll say this is achieved through craft above all. Let’s see how it’s made, they’ll say – as if how something is assembled is alien to the impulse that created it. As if the first chair was hammered into existence without considering the human form.”
Behoort skrywers stil te bly as hulle ongeregtigheid opmerk, of aan die ontvangkant daarvan is? Kan kuns die wêreld waarin ons lewe, ignoreer en steeds outentiek wees?
........
Behoort skrywers stil te bly as hulle ongeregtigheid opmerk, of aan die ontvangkant daarvan is? Kan kuns die wêreld waarin ons lewe, ignoreer en steeds outentiek wees?
........
Dis nie die vraag wat ek my afvra wanneer ek skryf nie. Veel eerder dit: Hoekom sou ek die wêreld waarin ek lewe, ignoreer? Hoekom nié die kans gebruik om dalk ’n saadjie by een leser te plant dat daar ’n ander manier is nie? Of dalk, om by ’n ander leser die gedagte te laat dat hulle nie alleen is nie, dat hulle ervaring ook deur ander gedeel word.
Dit kan ’n lewe red.
En waar ons nou in ’n wêreld lewe waarin korrupsie, armoede en misdaad hoogty vier, waar ons dalk met dolle vaart op die Derde Wêreldoorlog afstorm, het ons almal nodig om alternatiewe te bedink en empatie te hê.
Dit kan vele lewens red as ons maar net die empatie wat ons teenoor fiktiewe karakters het, kan oordra na regtige mense in die regtige lewe.
Soms lyk dit of dit te veel gevra is. Maar soms moet ons die oproep om te doen en nie net toe te kyk nie, ’n oproep van heelparty skrywers as ons maar net aandag skenk, gehoorsaam.
Dit kan lewens red, dalk selfs jou eie.
Lees ook:
’n Gebrek aan kwaliteit joernaliste is ’n gevaar vir ons demokrasie