Die afgelope klompie jare is ons so gemoeid met ’n debat oor die toekoms van die gedrukte media – dat ons ’n broodnodige debat oor die kwaliteit van joernaliste heeltemal agterweë gelaat het.
Ek weet die kwyning van veral die gedrukte media – die tradisionele koerante en tydskrifte soos ons dit ken, maar ook uitsaaijoernalistiek (veral TV-joernalistiek) – kan nie net toegeskryf word aan die gebrek aan ’n historiese sintuig en ’n leesgebrek by sommige joernaliste of aspirantjoernaliste nie, maar ook aan ’n hele rits ander faktore.
Die fenomenale opkoms van nuwe tegnologie, veral die internet en sosiale media, het ’n skadu gegooi oor die toekoms van veral die gedrukte media. Die leesgewoontes van mense, veral die jonger geslag, het ’n dramatiese negatiewe uitwerking op die voortbestaan van koerante en tydskrifte.
Die gebrek aan nuwe sakemodelle wat die lewe van veral koerante en tydskrifte moet verleng, speel ook ’n rol.
Ton Vosloo, voormalige voorsitter van Naspers, merk tereg in sy boek Oor grense (Jonathan Ball, 2018) op dat dié nuwe era ’n sekere verjonging van die nuuskantoor met hom meebring wat koerantmense van ’n vorige era bekommerd maak oor die kontinuïteit van deskundige joernalistiek. Dié nuwe era het die verkope van die gedrukte media drasties verminder.
........
Ton Vosloo benadruk dat koerante nog altyd die plek is waar jy intelligente gesprek gaan vind. Nie op TV of op die internet nie.
........
Hy skryf: “Vryheid van [’n] effektiewe meninguiting binne ’n demokrasie is op die spel wanneer ’n mens oor die afskaling of selfs die afskaffing van koerante en ander gedrukte media praat.”
Ek stem volmondig saam met Vosloo, maar hoe word die probleem aangepak? Ek dink die kernprobleem gaan oor die gehalte van die mense wat as joernaliste aangestel word of opgelei word.
In die onlangse verlede het George Claassen en Lizette Rabe, beide voormalige hoofde van die nagraadse departement van joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch, verskeie artikels geskryf waarin hulle die gebrek aan algemene kennis onder voornemende joernalistiekstudente uitwys as ’n groot bron van kommer.
........
Ek dink die kernprobleem gaan oor die gehalte van die mense wat as joernaliste aangestel word of opgelei word.
........
Guy Berger, voormalige hoof van die joernalistiekskool aan die Rhodes-universiteit, het ook al soortgelyke artikels geskryf.
Peter Bruce, rubriekskrywer van die Sunday Times en ’n voormalige redakteur van beide Business Day en die Financial Mail, beskryf die algemene swak gehalte onder joernaliste as “dumbing down along with the state”.
In sy rubriek met die opskrif “Media is dumbing down along with the state” (Sunday Times, 12 November 2023) skryf hy oor die gebrek aan spesialisjoernaliste in nuuskantore. Hierbo beskryf Vosloo dit as die “verjonging van die nuuskantoor”.
........
Peter Bruce beskryf die algemene swak gehalte onder joernaliste as ’n “dumbing down along with the state”.
Ton Vosloo beskryf dit as die “verjonging van die nuuskantoor”.
........
Bruce gebruik ’n artikel van die veteraanjoernalis Erika Gibson, nou ’n vryskut, in die Financial Mail “about the state of our air defences” om te illustreer watter waarde senior- of spesialisjoernaliste tot kwaliteit joernalistiek en die geloofwaardigheid van die joernalistiekberoep in die algemeen kan bydra.
“What struck me most was that I am confident to repeat her story here. Gibson knows what she is talking about. She is a specialist in these matters, and her article reminded me just how short on expertise our journalism is in South Africa. It is a clear danger to our democracy,” skryf Bruce.
In ’n uitstekende artikel op Sondag 12 November 2023 in beide Rapport (“Sy gaste smul, jy hoes halfmiljoen”) en City Press (“Ramaphosa’s R600k. Gravy Plane”) wys Gibson haar binne-kennis oor verdedigingsake en haar netwerk van kontakte binne dié industrie. Sy skryf genuanseerd oor hoe pres Cyril Ramaphosa en sy bemanning smul aan peperduur kos op die presidensiële straler Inkwazi.
Die vraag wat onwillekeurig by my opkom, is hoekom ’n joernalis soos Gibson (wat voorheen by Rapport gewerk het) as ’n vryskut moet werk, terwyl daar reeds ’n gebrek aan kennis, diepte en ervaring in nuuskantore is? Sy mag miskien al afgetree wees, maar daar is baie ervare joernaliste daarbuite as vryskutte wat in nuuskantore behoort om nuuskantore se aansien te red. Of om hul reeds verlore aansien te herwin.
........
Tradisioneel het die joernalistiek nie gegaan oor akademiese opleiding nie, maar dit was ’n leefstyl. Ook het dit veel eerder gegaan oor die houding, gewoontes en kwaliteite van die individue.
........
Ek dink joernalistiek is in ’n krisis omdat redakteurs en mediabestuurders te veel fokus op die kwalifikasies van voornemende joernaliste en by watter universiteite hulle gestudeer het.
Tradisioneel het die joernalistiek nie gegaan oor akademiese opleiding nie, maar dit was ’n leefstyl. Ook het dit veel eerder gegaan oor die houding, gewoontes en kwaliteite van die individue.
Daar moet teruggekeer word na die kernkwaliteite wat voornemende joernaliste moet hê alvorens hulle aangestel word. Dit is ’n breë algemene kennis, nuuskierigheid, liefde vir lees en goeie skryf- en taalvaardigheid, asook kritiese ontledings- en denkvermoëns. Dié kwaliteite kan ’n graad of diploma nie koop nie.
........
Ons gebroke demokrasie en verlore drome in Suid-Afrika het dringend vaardige en onafhanklike joernaliste nodig om ons politieke bewindhebbers verantwoordelik te hou en sodoende ons grondwetlike demokrasie te beskerm.
........
Die ander probleem onder veral TV-joernaliste in Suid-Afrika is hul sin vir politieke korrektheid. Van die joernaliste beweeg te naby aan die politieke bewindhebbers. Hulle boet dus hul politieke onafhanklikheid in en maak hul skuldig aan huigelary en politieke korrektheid.
Dit is vir dié redes dat ek TV-nuus in Suid-Afrika soos die pes vermy. Sommige joernaliste en aanbieders se politieke korrektheid, onbelesenheid en ’n gebrek aan ’n historiese sintuig irriteer die blou waks uit my uit.
Ons gebroke demokrasie en verlore drome in Suid-Afrika het dringend vaardige en onafhanklike joernaliste nodig om ons politieke bewindhebbers verantwoordelik te hou en sodoende ons grondwetlike demokrasie te beskerm.
Kommentaar
Joernaliste werk gewoonlik vir maatskappye. Maatskappye is winsbejag. Maatskappye se doel is nie om mense in te lig en geletterdheid te bevorder nie, hulle is daar vir die geld. Vir die ewige honger aandeelhouers. Of die joernaliste werk vir "organisasies" soos die SABC/SAUK, wat deur die regering se koffers gefinansier word, en gevolglik napraters van die regering moet wees.
Goeie joernaliste kan darem nog hulle eie media ontwikkel, en die wêreld instuur op sosiale netwerke en youtube, hoewel daar te min wins in is om hulle operasionele kostes en salarisse daarmee te dek, so word dit 'n liefdestaak. Maar die joernalistiek is eintlik maar die minste van ons kopsere in Suid-Afrika. Ons het nie 'n funksionerende mediese sisteem nie. En die regering se beleide gaan dit wat oor is, ook binnekort verwoes. Daar is reeds nie genoeg verpleegkundiges of dokters nie. Van die skole hoef mens nie eens te praat nie. Na wat berig word is 81% van graad 4 leerders in Suid-Afrika nie in staat om met begrip te lees nie. Vir wie gaan die joernaliste artikels skryf as niemand dit kan lees nie? Die skole is in chaos en daar natuurlik is ook 'n krisis daar ten opsigte van onderwysersgetalle. Weens die regering se striemende sakewetgewing, tesame met die inploffing van basiese dienste sowel as die misdaad, waaronder geweldmisaad en die moordsyfer wat bly styg, gaan werkloosheid aanhou toeneem en is die uiteinde nogal redelik voorspelbaar. Voeg daarby ook die infrastruktuur wat verkrummel. Paaie. Brûe. Hawens. Geboue. Noem maar op. En ook die vlug van kennis en kapitaal. Ons is reeds agter 'n aantal Afrikalande, en ons regering is op koers om ons te neem tot by een van die armstes in Afrika. Dit is alles natuurlik weens Jan van Riebeeck en apartheid.
Good article. Accurate. Many years ago when I was a young reporter in Cape Town, newspapers actually preferred non-graduates to sign up. No preconceived notions, and young minds that could be properly schooled in a craft. The basics of the craft mattered. Who, what, where, when, how, why - the basic questions to be answered in any story and compressed in the first three paragraphs. No personal opinions or conjecture by the reporter whatsoever. Readers simply wanted the bald facts. After years of being a reporter, you eventually earned your spurs and were promoted to being a journalist with licence to interpret the story. That world has all but evaporated today and journalism has become a bit of a free for all - difficult to know what's real and what's not!