SALA-toekennings 2021: ’n onderhoud met Jean Meiring

  • 2

Jean Meiring: foto verskaf

Jean Meiring praat met Izak de Vries, Naomi Meyer en Melt Myburgh oor sy SALA-toekenning verlede jaar.

Jean, jy is in November 2021 deur SALA bekroon vir jou literêre joernalistiek. Baie geluk met die groot toekenning. A regsgeleerde weet jy dat Themis, die vrou wat die skaalbakke dra, geblinddoek moet wees sodat sy haar oordeel regverdig kan vel. Dink jy hierdie objektiwiteitsbeginsel is ook van toepassing op die Afrikaanse boekebedryf wanneer literêre joernalistiek gepleeg word?

.......
Dat dit van toepassing is, dat dit geld, is gewis. Of dit egter in die praktyk gerealiseer word, is ’n ander saak. Natuurlik het elke mens sy of haar eie voorkeure, as dit by kos kom, by flieks, by boeke. Maar solank die resensent daardie voorkeure stip in die oog hou en selfs, waar nodig, verklaar, behoort sake te vlot.
.........

Dat dit van toepassing is, dat dit geld, is gewis. Of dit egter in die praktyk gerealiseer word, is ’n ander saak. Natuurlik het elke mens sy of haar eie voorkeure, as dit by kos kom, by flieks, by boeke. Maar solank die resensent daardie voorkeure stip in die oog hou en selfs, waar nodig, verklaar, behoort sake te vlot. Maar elke mens het ook, Rumsfelderig, vooroordele waarvan hy of sy dalk minder bewus is, of dalk volledig onbewus.

Dan is die Afrikaanse literêre dampkring boonop nog ook piepklein. Mense ken mekaar – goed. Soos Afrikaans-departemente ook nog tragieserwys kwyn, word dit al hoe meer die geval. ’n Mens moet dus baie versigtig wees. Van vriende van my sal ek niks resenseer nie. Selfs as dit by kennisse kom, is dit ’n moeilike saak. Ook as ek ’n besonder verdoemende resensie van iemand se werk geskrywe het – wat maar min gebeur – sal ek nie sommer weer iets deur hulle onder die loep neem nie.

.........
Dan is die Afrikaanse literêre dampkring boonop nog ook piepklein. Mense ken mekaar – goed. Soos Afrikaans-departemente ook nog tragieserwys kwyn, word dit al hoe meer die geval. ’n Mens moet dus baie versigtig wees. Van vriende van my sal ek niks resenseer nie.
..........

Maar soos ek nou terugdink, is my sterkste geloofsbriewe wat hierdie kwessie betref, seker my drie resensies van Steve Hofmeyr se Sluiper-reeks. Ek vind Hofmeyr se politiek agterlik en senutergend, maar ek het sy drie poesboekies, soos ek hulle op ’n kol genoem het, baie, baie slim gevind. Al stem ek glad nie met sy politiek saam nie, kon ek nie anders as om sy boeke na waarde te skat nie. Ek het wel in daardie tydsgreep met ’n vriend ’n debat hieroor gehad; hy het gemeen ek kan nie en mag nie en moet nie aan Hofmeyr die Laakbare suurstof verleen nie. (Hier doen ek dit weer!) My antwoord? Ek resenseer die boek en die boek is goed. Maar kompleks is die saak gewis.

Ek merk op dat minder ervare resensente, wanneer hulle ’n boek bespreek wat jy as resensent reeds onder hande gehad het, hul oordeel aanpas om nie uit pas met jou aanvanklike taksering van daardie boek te wees nie. Het jy ’n boodskap vir sulke resensente?

Sjoe! Dit het ek nog nie agtergekom of gehoor nie. As dit wel die geval is, is dit baie jammer. My mening is maar net my mening. Veral in ’n wêreld waar daar al hoe minder resensies – veral in Afrikaans en oor Afrikaanse tekste – verskyn, meen ek dís ’n ongelukkige toedrag van sake. Ek wens werklik dat daar meer jong resensente na vore tree. Ek besef dis nogal ’n intimiderende omgewing. Jy tree soos Daniël in ’n happende leeukuil as jy jou met enige mate van oortuiging oor ander se skeppende werk uitspreek. Maar solank jy noukeurig lees en eerlik en onverskrokke skryf, is daar geen rede hoekom jy as jong aspirantresensent nie heelhuids daarvan sal afkom nie.

Laat ek byvoeg: Ek lees nooit iemand anders se resensie oor ’n boek wat ek gevra is om te resenseer nie. Soos ek hier sit, is daar twee boeke wat ek nog moet resenseer waaroor daar onlangs resensies deur uitmuntende resensente verskyn het. Ek is net te bang dat ek deur enigiets wat hulle gesê het, beïnvloed word, hoe subtiel ook al.

Jy het self al ’n niefiksieboek vir Penguin Random House saamgestel. Hoe verskil jou benadering wanneer jy as resensent fiksie- en niefiksietitels onder hande neem? Die lesersmark vir dié onderskeie genres verskil tog wel; in watter mate beïnvloed dit die manier waarop jy resensies aanpak?

Dis ’n interessante vraag. Ek’t nog nooit stip hieroor nagedink nie. In ’n sin neem ’n mens elke boek op sy eie meriete in jou hande op, wat die genre of tipe daarvan ook is. Maar noudat julle my aandag hierop rig en ek dit ’n bietjie bedink, sou ek sê dat ek beslis in ’n niefiksieboek ferm, hegte argumentering en konsekwentheid soek. Dis sekerlik onvermydelik dat my regsopleiding en daaglikse beoefening van die reg ’n sterk impak hierop moet hê.

Maar dít sypel ook in my lees van fiksie in. Ek sien baie gou selfs setfoute en dit maak my so effe mallerig. ’n Mens – dink ek dikwels – moet sekerlik kan verwag dat tekste netjieser word namate die tegnologiese hulpmiddels tot uitgewers se beskikking soveel meer gesofistikeerd geraak het. Maar helaas is dit nie die geval nie. In fiksie dryf slordighede in die plot of intrige my ook gou die mure uit.

(Bygesê, toe ek ’n boek oor die Grondwet geredigeer het, het ek geleer hoe maklik foute kan inglip!)

In ’n sin blyk dit dus ek lees beide fiksie en niefiksie nogal eenders. Beide gaan tog oor die vertel van ’n storie. Ten spyte van die gebreke in die niefiksieboek Op soek na Saartjie, oor Sarah Goldblatt en Langenhoven, het ek dit een aand enduit, in die kooi toegenestel, gelees gewoon omdat dit – by die eerste lees – so ’n storiematig suksesvolle niefiksieboek is.

Trouens, ek speel met ’n pedagogiese idee (ek is baie betrokke by die oplei van pupil-advokate) dat alle regstekste wat advokate opstel en alle voordragte wat hulle in die hof lewer, in die finale instansie oor storievertel gaan. Hoe meer jy jou as advokaat aan die oeroue beginsels van sterk storievertel hou, hoe meer oorredend sal jy waarskynlik wees.

Hoe voel jy daaroor dat "gewone lesers" wat geen opleiding in resensiekunde het nie, resensies skryf wat dikwels wyd op die internet en selfs in Afrikaanse dagblaaie verskyn? Is daar ’n kantelpunt waar dié verskynsel gevare vir iets soos literêre kanonisering inhou?

Hierdie is ook ’n interessante vraag.

Natuurlik is daar ’n deel van ’n mens wat effe ontstig is hieroor; ook omdat sulke meelopers en inkommers en skavuite – my tong is in my kies – ’n mens se hardverworwe posisie as “gerekende resensent” bedreig. Die leesvolk moet vir mý luister, nie vir Sannie-in-die-Duiwehok nie. Maar dís natuurlik volslae nonsens. Met die demokratisering wat die internet teweeg gebring het, is dit tog onvermydelik dat meer stemme sal opgaan en dat daar ’n vervaging sal wees van die skeidsmure tussen die gesalfde media en die res. Solank ’n mening op versigtige lees- en skryfwerk berus, is dit goed dat dit uitgespreek word. Boonop is die grootste gevaar wat Afrikaanse boeke in die gesig staar, dat hulle nie meer gelees word nie. Dis vir my ’n veel dreigender gevaar as dat kanoniseringspatrone in hulle kanon gaan.

........
Met die demokratisering wat die internet teweeg gebring het, is dit tog onvermydelik dat meer stemme sal opgaan en dat daar ’n vervaging sal wees van die skeidsmure tussen die gesalfde media en die res.
........

Trouens, ek moet my daaraan herinner dat ek ook ’n meeloper en inkommer is. My eie opleiding is maar lees. So, ek tel maar my woorde.

Maar ek wonder tog wat die geniale digter Peter Blum (1925–1990) oor sulke resensente sou kwytraak. Lees maar weer sy heerlik bitsige briewe aan sy skrywersvriende wat John Kannemeyer met behulp van ’n honneursklas op Stellenbosch geredigeer het en wat Petrovna Metelerkamp se Hemel & See Boeke-uitgewery die lig laat sien het, as Briewe van Peter Blum

Jy was nog ’n kind in die era toe André P Brink in Rapport ’n stewige greep op die valbyl as boekresensent gehad het. Brink se resensies is wyd deur die publiek gelees, al het nie almal die hogere inhoud oor literêre teorie in sy stukke noodwendig verstaan nie. Wat is jou indruk oor Brink se "goue era" as Rapport-resensent, en is daar dinge wat hy gedoen het waarteen jy as resensent vandag waak?

Ten eerste moet ek sê dat selfs nie my blink ego so groot is dat ek ’n vergelyking tussen Brink en myself ernstig kan opneem nie. Wat sy foute ook al was, Brink was ’n reus, ’n uiters produktiewe literêre reus wat sy hand aan als gewaag het, en met baie daarvan uitmuntend geslaag het. (Ek herinner my aan die opmerking wat die Demokrate se visepresidentskandidaat senator Lloyd Bentsen in 1988 in ’n TV-debat aan die Republikeine se ewekniesenator Dan Quayle toegewerp het: “Senator, you’re no Jack Kennedy.”)

As ek my wel moet uitspreek, sou ek sê die grootste probleem met die Brink-era was dat hy so ’n oorheersende stem was, ten spyte van die feit dat veel meer resensies toe verskyn het van Afrikaanse boeke as wat die geval vandag is. Hoe hy met sy wydbelesenheid – oor tye en tale heen – die leesvolk ter plaatse opgevoed het, was iets verstommends en durends.

Vandag weet ek daar is te min stemme wat ’n klein verhogie oorheers. Daarom dat dit jammer is om te hoor wat julle my netnou vertel het: dat ek soms, deur te praat, ander stemme verwring of verstil.

Jy het heelwat te sê oor juigbrigades, ook in ’n artikel waar jy oor teater geskryf het. Mense is te vinnig aan die prys, en aan die toejuig. Wat is jou gedagtes in hierdie dae waartydens die kunste swaar kry, terwyl skrywers ure en ure alleen swoeg om ’n skepping tot stand te bring? Wat is die rol van die resensent?

Ek het inderwaarheid, as student op Oxford, my tande as resensent in die teater geslyp. Ek’t self daar baie toneel gespeel en twee stukke geregisseer, en terselfdertyd my hand aan resensies begin waag in die studentemedia.

Dus was ek uit die staanspoor alte bewus van hoe afbrekend en geestesknakkend ’n onverantwoordelike resensie kan wees. Ek onthou goed hoe ons as spelers die resensies in- en afgewag het. Veral in die Daily Information, ’n groot nuusblad wat elke weeksdag in ’n ander kleur uitgebring is, in elke kollege se ingangsportaal hanggemaak is en telkens ’n teaterresensie bevat het. Hot off the press.

........
En ek onthou juis hoe lekker dit was om ’n intelligente reaksie te kry al was dit nie altyd heuningrig vleiend nie. Jy is raakgesien en dit wat jy help skep het, is ernstig en krities opgeneem. Hoe wonderlik was dit nie!
..........

En ek onthou juis hoe lekker dit was om ’n intelligente reaksie te kry al was dit nie altyd heuningrig vleiend nie. Jy is raakgesien en dit wat jy help skep het, is ernstig en krities opgeneem. Hoe wonderlik was dit nie!

Maar hier in Suid-Afrika het ons nie ’n sterk kritiese gesprek rondom die kunste nie. Dis jammer. Teatergangers sal maklik afgeskrik word deur ’n gemengde resensie. Dikwels maak só ’n resensie my juis lus om iets te gaan sien (of te lees), juis omdat teatergaan en lees stigtende prosesse is. Elke kunservaring kan tog nie oorstelpend wees nie. Kunsgebruikers sou dan in ’n orgiastiese maalkolk beland, wat ook sekerlik nie goed is nie.

..........
Elke kunservaring kan tog nie oorstelpend wees nie. Kunsgebruikers sou dan in ’n orgiastiese maalkolk beland, wat ook sekerlik nie goed is nie.
.........

En ja, die gebrek aan ’n kritiese milieu beteken dat kunstenaars soms vir resensente fyngevoelig kan voorkom. Maar ’n mens verstaan dis hulle brood en botter. Veral in die huidige postpandemie tydsgewrig, waar kunstenaars uit ’n uitmergelende tyd kom, kan ek hierdie “fyngevoeligheid” selfs beter verstaan.

In kort, self neem ek my resensiewerk baie ernstig op. Ek bestee baie tyd daaraan. Ek weet dit gaan om iemand anders se geestesproduk. Maar ’n boek is natuurlik ook duur, en lesers is nie miljoenêrs nie.

En, laastens, wat toejuiging betref – wat ek in die dwingelandystuk wat ek vir LitNet geskrywe het, aangeraak het – is ek altyd so kwaad as teatergehore ongekwalifiseerd en asof ’n knoppie gedruk is, opspring (want op mens se agterbene kom is die grootste eer vir kunstenaars!). Maar die gejuig duur dan vir net ’n ommesientjie voort. Ek was in November verlede jaar bevoorreg om in die Zürich-operahuis Verdi se Il Trovatore te kon sien. Hoe daardie gehoor darem kon aanhou en aanhou – wel later staande. By nabaat was dít op sigsélf ’n stuk teater – ’n heerlike tweespraak tussen waarderende gehoor en spelers.

Jy het jou al uitgespreek oor ’n figuur soos Crito op LitNet se blogs. Mense praat met minagting oor Crito, of hulle beskinder vir Crito op die sosiale media, of hulle word kwaad of voel gevlei deur Crito. Maar maak Crito saak? Wie is Crito vir jou, simbolies gesproke?

Crito is ’n goeie en nodige stem. Ek kan dit juis skroomloos sê omdat Crito my werk onlangs by twee geleenthede gekritiseer het. Ek weet natuurlik ek is voorheen al heelwat heuning om die kwas gesmeer.

Hoekom dink ek so? Resensente is nie almal altyd ewe goed nie. Sekere resensies wat oor en in Afrikaans verskyn, is soms – nie baie nie, maar soms – aan die swakkerige kant. Resensente het baie mag en dis reg dat ook hulle werk krities onder die loep geneem word.

Die feit dat Crito anoniem skryf – waarvoor daar baie stemme opgaan – is wat my betref ’n nodige ondeug juis omdat die Afrikaanse letterekring so klein is en omdat daar soveel vriendskappe is en soveel tone is wat geneties geneig is om rooi en eelterig betrap te word.

Trouens, die anonieme kritikaster is in baie tale en letterkundes bekend. Ook in die reg. Dink maar aan Sergeant at the Bar en Professor Balthazar. (Ek is onlangs deur ’n oudappèlregter gevra of ek laasgenoemde is; ek’t ontwykend geantwoord.)

.........
Trouens, die anonieme kritikaster is in baie tale en letterkundes bekend. Ook in die reg. Dink maar aan Sergeant at the Bar en Professor Balthazar. (Ek is onlangs deur ’n oudappèlregter gevra of ek laasgenoemde is; ek’t ontwykend geantwoord.)
..........

Maar laat ek teruggaan na waar ek begin het: As Crito my kritiseer, leer ek. Ek leer ook uit ander resensente se werk, omdat daar ’n stewige strydorde uitstekende resensente in Afrikaans is, van wie baie beter is as ek.

Simbolies gesproke? Crito versinnebeeld die kritiese stem wat grotendeels in Afrikaans ontbreek. Dat hy/sy anoniem is, is kommentaar op ons, nie op Crito nie.

........
Simbolies gesproke? Crito versinnebeeld die kritiese stem wat grotendeels in Afrikaans ontbreek. Dat hy/sy anoniem is, is kommentaar op ons, nie op Crito nie.
.........

Wat is die belangrikste dinge wat ’n boekresensie behoort weer te gee? En is ’n boekresensie gerig aan die lesers van die koerant/webwerf, of ook aan die skrywer en uitgewer?

’n Resensie moet die essensie van die boek ter sprake op ’n tantaliserende wyse weergee. Daar moet genoeg verklap word dat die boek enigsins lewend opdoem voor die geestesoog van die koerantleser wat dit nog nie gelees het nie. Maar die gang van die verhaal en die ontknoping moet versluier bly. Gou besef die resensent hoeveel om te verklap.

Dus: breedweg waaroor die boek gaan; die karakters; die see van onstuimigheid waarin die karakters gewerp word. Dan: opmerkinge oor die geslaagheid van voorgaande, dalk die een en ander oor vertelswyse, toon, taal, edm.

En, ja, ’n resensie is ook aan die skrywer en uitgewer gerig.

.........
En, ja, ’n resensie is ook aan die skrywer en uitgewer gerig.
...........

Wanneer ek werklik krities is – en daar’s diegene nou met skerpgemaakte messe – is dit omdat ek dink dat die skrywer en uitgewer van beter moes geweet het. Hulle’t die mickey geneem, by wyse van Engelse spreke, en gedink hulle gaan met ’n slap pappery wegkom: Benewens plesierigheid is Afrikaners mos bekend om hul vergewensgesindheid (van die eie!).

Maar gewoonlik is ek veel eerder geneig tot saghartigheid en simpatie. Ek weet om ’n boek te skrywe is ’n lydenstog.

Jy is elke dag besig met regsake. ’n Ander vermaarde literêre resensent het jou al in die verlede gekapittel oor ’n oordeel in ’n resensie waarmee sy nie saamstem nie, en dan voorgestel dat die skoenmaker hom eerder by sy (regs)lees moet hou. Waarom skryf jy ook boekresensies?

Ek skrywe boekresensies omdat ek al van kleintyd af gaande is oor boeke. Omdat ek dink dat ’n gesonde leeskultuur uiters belangrik is.

Omdat dit ’n lekker ontsnapping is uit regsake. Omdat die essaykuns my dus ’n uitlaatklep bied.

Toe ek ’n student op Cambridge was, en baie arm boonop, het ek begin resenseer – vir Rachelle Greeff en Sonja Loots by Rapport en soms by die dagblaaie – omdat dit ’n wettige manier was om ’n boek gratis in die hande te kry. Ek’t een Britse somer vir twee weke lank ’n silent retreat by Pluscarden-abdy buite Elgin in Skotland bygewoon en die heeltyd boeke in Afrikaans geresenseer. As my geheue nie met my parte speel nie, is van die boeke uit Londen daarheen gepos (Royal Mail!). Ek meen dit was gerieflik vir die Afrikaanse boekeblaaie om iemand te hê om in Engeland buitelandse boeke te resenseer.

En die debat met Joan Hambidge – julle is darem sku en skugter om haar naam nie te noem nie – was lewendig. Komies genoeg was dit in ’n tyd toe ons beide op die raad van die Universiteit Stellenbosch gesit het. Ek onthou van die sarsies is, heel toevallig, rondom raadsvergaderings afgevuur. Maar enige debat, selfs al toets dit die grense van robuustheid, is gesond. Al het ek breedweg nie met Joan saamgestem nie (die nosie van ’n skoenmaker wat hom (haar?) by sy (haar?) lees hou, is tog in vandag se gewrig, waar mense tegelyk baie baantjies pleeg, uitgedien), wil ek allermins aan die hand doen dat sy nie sekere geldige punte geopper het nie.

Bygesê: Ons is vandag op baie goeie voet en gesels graag.

Dalk wil julle hê ek moet omstrede wees – om wéér vir Sonja Verbeek tot ’n relletjie uit te tart? Maar dan, ai, sou dit nie met Peter Blum as teenstander kon wees nie? Ek berei solank die berge springmielies voor.

Maar, wanneer ek klaar is met die vier boeke wat tans op my lessenaar op resensering wag, hou ek vir eers op resenseer. Ek’t genoeg my mening gelug. (En ’n ligte gejuig gaan in sekere donker hoeke op.)

En ek werk self sedert verlede jaar in die een geval, en vroeg vanjaar in die ander, aan meer as een boek tegelyk.

My broek bewe al vir die resensies!

Jy het ook ’n grondige kennis van die teater. ’n Liefde ook. Van waar kom dit?

Op laerskool het Rita Maas se dramaskool elke Donderdag uit die Kaap in skooltyd kom dramaklasse gee. Op hoërskool, weer, was dit die Logan- en Montagu-toneelfeeste en die ATKV-skoletoneelfees. En om op Stellenbosch te kon grootword had die gevolg dat daar heelwat teater in die omte was. Dis moeilik om nie op die teater verlief te raak nie.

Ek is baie bevoorreg om tans op die raad van die Sustaining Theatre and Dance (STAND) Foundation te dien, waar ek ’n klein rol probeer speel ter bestendiging van die uitvoerende kunste in ons land.

Die sosiale media maak dit deesdae moontlik om as enkeling enorm baie volgelinge te versamel. Só kry ’n "gewone" gebruiker soms ewe veel lugtyd as wanneer jy formeel ’n stuk sou lewer vir publikasie. Sien jy dit as ’n bedreiging vir standaarde, of demokratisering van die kunste? Of iets van albei?

Soos ek vroeër gese het, dink ek in die finale instansie is hierdie nuwe tendens wat Afrikaans betref breedweg iets goeds. Solank dit mense kry om Afrikaanse boeke te lees en ander Afrikaanse kultuurgoedere te koop en te geniet.

Natuurlik is dit minder goed as só ’n stem net ’n klakkelose voorsêer word.

Maar om teen sosiale media te stry is ’n betreklik futiele onderneming. Terwyl jy kla, dy TikTok net by die derduisende uit.

In vergange se dae was literêre joernalistiek in Afrikaans beperk tot die boekeblaaie van die onderskeie, en vele, dagblaaie en later natuurlik Rapport. Tydskrifte soos De Kat en Insig was ook moedig in hulle pogings. Vandag lyk die toneel anders. Ons dagblaaie het gekwyn. Tydskrifte sukkel. Maar die web is polsend van die lewe. LitNet is nou al 22 jaar aan die gang, en vele meer ruimtes het bygekom. Voertaal, Die Vrye Weekblad, Ons klyntji, Maroela Media en kleiner ondernemings, soos Boekemankranka, bied ’n groot en gevarieerde keuse aan die leser. Hoe voel jy oor die aanbod op die onderskeie ruimtes? Beter as in die verlede, of nie?

Dis jammer dat daar nie drie resensies is van die meeste Afrikaanse boeke wat verskyn nie – een in elke dagblad. Ek weet dis wensdenkery en dat die skip waarskynlik al lankal uit die hawe uit is.

Maar dít sou die hoofstroomgesprek soveel sterker maak. Die enigste manier waarop so iets vermag sou kon word, is deur die steun van byvoorbeeld die Hiemstra-trust (hoe yl sou die Afrikaanse gedagtewêreld nie sonder daardie Maecenas wees nie!) of die Suid-Afrikaanse Akademie. As iemand met ’n septer in die hand hier lees …

Maar, ja, waar die internetmatige publikasies, soos LitNet – ek resenseer ook soms hier – en Maroela Media werklik erns daarvan maak om stewige resensies te plaas, vul dit iets van die leemte. PEN Afrikaans se maandelikse byeenhark van die Afrikaanse boekstukke is baie nuttig. Dalk kan die platform waarop dit verskyn, met behulp van ’n geldskieter meer permanent en toeganklik gemaak word. 

In ’n koerant soos The New York Times word diskoerse gevoer oor boeke. Ons sien dit ook in The New YorkerLe Mond (in haar Engelse weergawe wat ek kan verstaan as Le Mond diplomatique) sal maklik ’n volle bladsy van ’n koerant afstaan aan ’n gesprek oor boeke of ’n kunsproduksie. Wat moet ons in Afrikaans doen om diskoerse na daardie vlak te probeer bring?

Met trane wat biggel, wil ek erken ek twyfel of dit moontlik is. Dis vir my intens deprimerend. Maar, as daar werklik ’n brandende behoefte was vir hierdie tipe gesprek in Afrikaans, het Insig (en daarna Boeke-Insig) nie vergaan nie. Daar sou dan by daardie twee grafmomente ’n stem opgegaan het dat dit nie toegelaat mag word nie. Dat dít nie gebeur het nie – dat daar nie geld gevind is daarvoor nie – strek ons tot groot skande.

Dis iets vreesliks om te sê. Dalk is dit net die natuurlike eb en vloed van sake.

’n Mens is soms jaloers en selfs effens mismoedig as die aantal pryse en geleenthede vir Nederlandstalige skrywers en joernaliste met Afrikaans s’n vergelyk word. Ons het minder, maar die pryse is dikwels substansieel. Word hulle korrek aangewend? Of is daar hopeloos te veel literêre pryse vir Afrikaanse skrywers?

Nee, daar’s nie te veel nie. Ek beoordeel ook al etlike jare niefiksiepryse, en al is daar nie altyd wat my betref hope sterk aanspraakmakers nie, is die beste Afrikaanse boeke nog steeds prysenswaardig.

Afrikaanse skrywers verdien boonop so min uit boekverkope dat dit ’n goeie ding is dat die pryse – meer pleks van minder – bestaan.

Boonop skep pryse opwinding rondom boeke, wat broodnodig is.

Waarskynlik is daar, benewens pryse, ook meer skeppende projekte nodig om jong skrywers aan te moedig, op te lei en te kweek.

Daar bestaan ook ander pryse vir joernalistiek. Vodacom borg ’n prys vir ondersoekende joernalistiek, Sanlam borg die Nat Nakasa-toekennings, en die ATKV-bied hulle Veertjies in ’n groot aantal kategorieë aan, ook aan resensente. Verskeie koerantgroepe het ook interne toekennings. Is dit genoeg? Help dit?

........
Wat is ons sonder storievertellers en hul stories?
.........

Dit help, maar dis gewis nie genoeg nie.

Joernalistieke pryse verleen aan kortstondige eendagstories – uit die aard van die media se snelle gang – ’n langer lewe. Dis goed. Dit gee ook erkenning en ’n stuiwer of twee aan skrywers wat min verdien en wat dikwels baie goeie storievertellers is.

Kan daar meer gedoen word? Gewis. Skrywersresidensies, soos die Jakes Gerwel-projek, is ’n ander manier om skrywers ’n bietjie meer ruimte te gee om te gedy.

Maar vir enige projek van hierdie aard is geld natuurlik nodig, wat dikwels ontbreek. Maar, weer sê ek: Dankie tog vir die Hiemstra-trust, die Akademie en ander vername weldoeners wat die uitbring van minder-hoofstroom-boeke moontlik maak.

Wat is ons sonder storievertellers en hul stories?

Lees ook:

Press release: 16th South African Literary Awards, the 2021 winners

Sala-toekennings 2021: ’n Onderhoud met André Trantraal

Aan die Sala-bestuur: My redes waarom ek nie die poësieprys aanvaar nie

  • 2

Kommentaar

  • Klyntji-redaksie

    Hallo! Die jaarlikse gedrukte zine heet Ons Klyntji (let op die hoofletter K) en die webweergawe, waarna julle verwys, heet Klyntji (of Klyntji.com, soos dit ook geken word).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top