Teaterliefhebbers in Johannesburg byeen om kunstenaars te ondersteun

  • 0

Teaterliefhebbers in Johannesburg het op 10 Februarie 2022 by Jean Meiring se huis bymekaargekom om ondersteuning aan die STAND (Sustaining Theatre and Dance Foundation) te gee. By dié geleentheid het die dramaturg Mike van Graan, een van STAND se direkteure, ’n toespraak gelewer waarin hy die verwoestende impak van Covid-19-inperkingsmaatreëls op die teaterbedryf belig het.

Jean Meiring en Mike van Graan

Nhlanhla Shabangu, wat onlangs by AFDA afgestudeer het, en Khutjo Green het uittreksels uit twee nuwe stukke deur Van Graan vertolk: The new abnormal en Country duty. Shabangu se skreeusnaakse “stand-up commentary” het die pandemie as vertrekpunt gebruik vir satiriese kommentaar oor wat deesdae in Suid-Afrika aangaan. Khutjo Green het ’n aangrypende vertolking gelewer van ’n fluitjieblaser wat korrupsie aan die kaak stel.

Nhlanhla Shabangu en Khutjo Green

Jean Meiring, gasheer van die geleentheid en bekend as topresensent en ondersteuner van die kunste, is die afgelope ses maande as direksielid by STAND betrokke. “Ek is al lank baie behep met die kunste, waaronder veral ook die teater. Ek dink dis juis in die huidige tydsgewrig uiters belangrik om uit ander oorde ondersteuning aan die uitvoerende kunste te probeer gee,” sê hy.

“Diegene van ons vir wie die pandemie professioneel gesproke nie katastrofaal was nie, het ’n plig om ander op die een of ander manier by te staan. Dis vir my ’n voorreg om vir STAND te dien. Wil ons verlief daarmee neem dat teaters sluit en dat akteurs en dansers om den brode en uit nood hul rug op hul kuns en op ons, hul gehore, keer? Wil ons verlief daarmee neem dan die ligte finaal uitgaan?

“Natuurlik nie!”

In sy toespraak het Mike van Graan daarop gewys dat beroepe in dans en die teater nie “van die huis af” beoefen kan word nie. Die sluiting van teaters, tesame met die kansellasie van verskeie kunstefeeste, het die afgelope twee jaar eksistensiële druk op dié kunsvorme geplaas. Die opheffing van internasionale toere het verder ook ’n belangrike voedingsaar vir die bedryf afgesny. “Dié manier om inkomste in die buiteland te verdien, is verban en produksies is gekanselleer, werknemers het die virus opgedoen, en inkomste het op massiewe skaal in die slag gebly.”

Sake is verder bemoeilik deurdat die regering se befondsing van die kunste-industrie lamgelê is deur drakoniese burokrasie en grootskaalse wanbestuur. Omdat die meeste kunstenaars as onafhanklike kontrakteurs werk en hulle brood van produksie tot produksie verdien, kwalifiseer hulle nie vir uitbetalings deur die Werkloosheidsversekeringsfonds nie.

Volgens Van Graan was die verskuiwing van produksies na aanlyn platforms ook nie suksesvol nie, met die uitsondering van enkele kunstenaars, hoofsaaklik as gevolg van ’n gebrek aan kundigheid en gebrekkige produksiegehalte. “Die aanlyn produksies bring ’n selfs groter bestaansbedreiging vir die teater, omdat kunstenaars nou vir kameras speel, sonder die teenwoordigheid van en interaksie met regte mense in die gehoor.”

STAND is op 1 September 2020 binne hierdie konteks in die lewe geroep. “Dit was toe reeds duidelik dat niemand na teaterwerkers gaan omsien nie,” sê Van Graan. “Ons moes eenvoudig maniere vind om teater lewendig te hou, die sektor met optimisme te voed, opnuut na ons gehore te luister, en om hulle na ’n veilige teateromgewing te laat terugkeer.”

Sedertdien het die Nederlandse ambassade en BASA (Business and Arts South Africa) STAND-inisiatiewe ondersteun. Dié welkome ondersteuning was egter net ’n druppel in die emmer. STAND nooi dus lede van die publiek om die stigting met ’n bedrag van R100 per maand te ondersteun indien hulle die vermoë het. Inligting oor hoe om ’n ondersteuner te word, is hier beskikbaar.

Die volgende foto’s is deur Tendayi Dhure by die geleentheid geneem, tensy anders vermeld.

Nhlanhla Thwala en Lomusa Ncube van Pule Seshemane-privaatspyseniers

Kamogelo Mtaila en Tashwill Esterhuizen

Ilse en Liezl Sittmann

Fiona Southwood en Shani Cronje

Gaste in Jean Meiring se tuin

Stuart Scott, Thabang Makgalemele en Lunga Dlothi

Coenraad Bezuidenhout

Marlette Compion-Venter, Nasiphi Mkiva in gesprek met Elma Bartlett, Reney Warrington en Mike van Graan

Nelly en Fanie de Villiers (Kleinboer)

Andile Kunene, Lessing Msimanga en Argent Tshuma

Henque Heymans, AJ Opperman en Johan van der Merwe (Foto: Anthony Dalton)

STAND-direksielid Lesego Ramatlhare

Lungile Themba

Mike van Graan, Lesego Ramatlhare, Jean Meiring, Lakin Morgan-Baatjies en Mxolisi Masilela

Wie is STAND?

STAND is ’n onafhanklike, niewinsgewende organisasie wat kontemporêre Suid-Afrikaanse teater en dans koester, bevorder en vier.

Hoekom is STAND noodsaaklik vir teatermakers?

Die Covid-19-grendelstate het die marginalisering van die kunstebedryf, en veral die teater- en danssektore, vererger. Dié kunsvorme het reeds voor die pandemie-inperkings ’n stryd om oorlewing gevoer. STAND is ’n inisiatief uit die dans- en teatersektor self, en hule oogmerk is om effektiewe openbare befondsing vir projekte in die hand te werk. Die stigting fokus daarop om inkomstes vir teatermakers te genereer. Alle ekosisteme binne die kunste word in ag geneem: opvoeding, die skep van nuwe werk, verspreiding, verbruik en argivering. Akteurs, dansers, regisseurs, skrywers, choreograwe, ontwerpers, tegniese personeel en so meer baat direk by die projek.

Wil jy STAND ondersteun?

Klik hier.

Lees ook:

Take-a-STAND-dialoë: ’n Pleidooi vir verandering

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top