Take-a-STAND-dialoë: ’n Pleidooi vir verandering

  • 0

Die Sustaining Theatre and Dance (STAND) Stigting het die afgelope naweek, 19–21 Februarie, ’n reeks paneelgesprekke in samewerking met die Toyota US Woordfees op Stellenbosch gehou. Paneelbesprekings vir die Take-a-STAND-dialoë was verteenwoordigend van ’n wye en diverse verskeidenheid stemme uit die dans- en teaterbedrywe, wat ’n spektrum van ondervinding en perspektiewe ingesluit het.

Dié reeks gesprekke het teen die agtergrond van die onlangse twiet van die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, plaasgevind. In die twiet hou Mthethwa voor dat Suid-Afrikaanse teater springlewendig en gesond is en tans ’n verskeidenheid van inheemse drama en dans “etc” aanbied (die twiet is op 15 Januarie 2021 geplaas, maar ondertussen verwyder). Daarteenoor staan die ontnugterende waarheid dat die buitengewone omstandighede wat weens die pandemieregulasies meegebring is, die kreatiewe bedryf die tweede hardste van alle bedrywe getref het (Mike van Graan, “Should theatre and dance be funded by the state given the other challenges in our society?”, Take-a-STAND-dialoë, Stellenbosch, 21 Februarie 2021).

Mthethwa het ondertussen in die openbaar om verskoning gevra vir sy onsensitiewe opmerking. Dit het nietemin opnuut ontevredenheid aangewakker oor dié ministerie se gebrek aan begrip vir die toestand van die kreatiewe bedryf en onder die hutsmerk #NathiMustGo lewe geskenk aan ’n nasionale petisie wat vra dat minister Mthethwa van sy pos verwyder word.

Alhoewel die kreatiewe bedryf voor die Covid-regulasies gesorg het vir byna 7% van werksgeleenthede in Suid-Afrika (Mark Heywood, “Budget 2021: Why we need to fully fund the culture economy”, Daily Maverick, 23 Februarie 2021), het die bogenoemde petisie slegs 2 000 handtekeninge ingesamel. Bygesê, baie van hierdie handtekeninge was dié van grootkoppe in die bedryf, maar sou ’n minister wat aanvoer dat teater springlewendig en gesond is wanneer dit in werklikheid ook in ’n spreekwoordelike Covid-saal op ’n lewensondersteuningstelsel aan die lewe gehou word, die gravitas van hierdie versameling van handtekeninge kon begryp? ’n Mens sou verskeie redes kon voorhou hoekom daar so min handtekeninge ingesamel is. Die individue in hierdie industrie word onder andere stereotipies herken aan hul gebrekkige administratiewe vaardighede en baie het dit dalk tot te laat uitgestel of nagelaat om die nuus aan ander te versprei. Ismail Mohammed, voormalige uitvoerende hoof van die Markteater en direkteur van die Nasionale Kunstefees, voer verder aan dat politieke inmengery die stilswye van sommige tot gevolg het (Ismail Mohammed, “What about us? The hopes and dreams of industry ‘elders’”, Take-a-STAND-dialoë, Stellenbosch, 20 Februarie).

Mens moet ook oorweging skenk aan die moontlikheid dat baie nie die moeite gedoen het nie, want “Wat sal dit tog help?” Dieselfde industrie wat meer as een miljoen werksgeleenthede skep, het in die 2020/2021 nasionale begroting (wat voor Covid opgestel is) slegs R1 295 miljard uit die totale begroting van R1,95 triljoen ontvang – minder as ’n skamele 0,1%. Voeg hierby ’n minister van wie mens sou kon aanvoer dat hy heeltemal uit voeling is met die ware stand van sake, en ’n aanlyn petisie om hom te verwyder in ’n poging om verandering mee te bring, voel moontlik futiel. Alhoewel infrastruktuurprobleme in Suid-Afrikaanse staatsdepartemente nie uniek aan die Departement van Sport, Kuns en Kultuur is nie, is dit tog belangrik om ondersoek in te stel na die groter kreatiewe impak hiervan op diegene in die bedryf en die werk wat hulle skep. 

Jefferson Tshabalala, die 2020 Standard Bank Young Artist Toekenning-wenner, voer aan dat staatshulpbronne (hier verwys hy na repetisielokale in die staatsteaters, sowel as na staatsbefondsing) wonderlik is wanneer jy reeds ’n gevestigde kunstenaar is, maar verstrengelend kan wees wanneer dieselfde staatsinstellings ’n jong kunstenaar se weg tot toegang is (Jefferson Tshabalala, “Why we (still) make theatre: Producers/writers/directors speak”, Take-a-STAND-dialoë, 20 Februarie). Tshabalala praat uit sy ondervinding van beide kante van hierdie argument. Die behoefte aan infrastrukturele ondersteuning en toegang tot hulpbronne is veral deur jong paneellede en deelnemers uitgespreek. Dit was deurlopend duidelik dat baie bydraers geïsoleerd en blootgestel voel. Dit is natuurlik die waarheid dat kunstenaars dikwels as randfigure in die samelewing staan, wat hulle daardeur ook in staat stel om ’n spieël op te hou na die binnekring. In Suid-Afrika beweeg ons egter tans in ’n gevaarlike terrein waar kunstenaars nie nét die buitewyke bewoon nie, maar die gevaar loop om oor die rand gestoot te word.

Daar was meermale by paneellede, en selfs by die gehoorlede wat tot die gesprek bygedra het, ’n kwesbaarheid te bemerk. Die beeld van ’n gewonde dier wat in ’n hoek vasgevang is, het by my opgekom. Dit was ook opmerklik dat baie bydraes ’n verdedigende ondertoon gehad het. Dit laat die gevaar ontstaan dat hierdie verdedigende oriëntasie die posisionerende ondertoon van kreatiewe werkskepping in Suid-Afrika word. ’n Mens sou kon waag om te sê dat praktisyns uitgebrand, bitter, kwaad en ontnugterd is. In ’n gesprek met ’n fokus op die industriegevestigdes (die “elders”) voer Jacqueline Singer, aktrise en voormalige dosent aan die Universiteit van Kaapstad, eenvoudig aan: “We are in quite a state” (“What about us? The hopes and dreams of industry ‘elders’”, Take-a-STAND-dialoë). 

Wat egter tematies ewe sterk na vore gekom het gedurende die paneelgesprekke, is hoe die teatrale ’n integrale deel vorm van ons Suid-Afrikaanse identiteit. Die lewe word deurlopend, in al ons diverse kulture, deur storievertelling genavigeer. Dié ingeworteldheid van storievertelling, die heling wat dit al in ons nasie teweeg gebring het en die integrale rol wat die teatrale in ons alledaagse lewe vorm (dink maar aan die lofdigters voor ’n parlementêre opening / rugbywedstryd, of selfs die daaglikse optrede van die taxi-“gaatjie”), is in die kwaliteit van ons kreatiewe uitset te merk. Dit is juis hierdie gegewe wat sorg dat ons kulturele ekonomie beslis nie teen ’n afslag op die internasionale markplek handel nie. Hoekom dan wel in die plaaslike mark?

Die antwoord op die vraag is nóg eenvoudig, nóg noodwendig as ’n enkele geheel beskikbaar en sal moontlik nog jare neem om volledig te konseptualiseer en implementeer. Indien ooit. Die kombinasie van bedenklike infrastruktuur en ’n gemeenskap wat toenemend minder ondersteuning bied aan die plaaslike kreatiewe bedryf, hou egter ’n onmiddellike bestaansbedreiging in vir diegene wat deel vorm van hierdie ekonomie. Dit is nie my mening dat dit maklik behoort te wees om kuns te maak nie, maar die vraag bly of dit vir teatermakers bedreigend moet wees. Hoe kry ons dit reg dat ons kunstenaars minder in ’n hoek gedruk voel? Dat hulle nie uit ’n verdedigende plek in ’n poging tot oorlewing moet werk maak nie?

Die volgende praktiese punte is onder andere voorgehou as maniere waarop daar vir die kreatiewe industrie verligting gebring kan word:

  • staats- en privaatbefondste gehoorontwikkeling by onder andere laerskoolleerders
  • verbetering in befondsingstrukture aan beide die kante van voorsiening (finansiële ondersteuning aan skeppers in die kreatiewe industrie) en behoefte (deur byvoorbeeld die subsidiëring van teatertoegang vir behoeftiges)
  • die ontknoping van groot staatsteaters wat slegs in die hoofstede bestaan en die verspreiding van daardie fondse oor ’n wyer geografiese net om toegang en ontwikkeling oor die hele land te ondersteun.

Of dié voorstelle haalbaar is in die huidige politieke klimaat, bly ’n vraag. Verder vereis die uitvoering van hierdie praktiese punte ’n intellektuele skuif by ons gemeenskapsleiers in hulle oriëntasie teenoor die kreatiewe industrie. Laasgenoemde is waar die grootste uitdaging lê. Wat egter uit die Take-a-STAND-dialoë na vore gekom het, is dat die kreatiewe industrie van Suid-Afrika nou die behoefte het en smeek om verandering as ’n voorvereiste vir voortbestaan.

Lees ook:

Om tot ’n STAND te kom. Gesprekke rondom die voortbestaan van die uitvoerende kunste in Suid-Afrika

Persvrystelling: Teatermakers en dansers neem STANDpunt in | Press release: Theatremakers and dancers Take-a-STAND

Lees ook op Voertaal:

Sustaining Theatre and Dance (STAND)

The minister of congratulations and condolences pressured to resign

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top