Om tot ’n STAND te kom. Gesprekke rondom die voortbestaan van die uitvoerende kunste in Suid-Afrika

  • 0

In Suid-Afrika is die teater-en-dans-gemeenskap nie ’n groot groep mense nie. Die industrie is klein en dikwels word kunstenaars en kunstefeeste as ’n “lekker ontsnapping van die alledaagse lewe” beskou, iets wat nie noodwendig as noodsaaklik bestempel hoef te word nie. Tog is dit ook dié klein groepie mense wat elke jaar diep binne-in hulself delf om iets oor menswees en ons samelewing te ontdek. Dit is dié groepie mense wat dikwels ure aan ’n vlietende oomblik kan spandeer omdat hulle verstaan dat daardie oomblik iets vir die siel of vir die verstand kan beteken; wat ’n fiksheid en kuns rondom hul tegniek ontwikkel; ’n groep mense wat sal bly vrae vra, al laat dit ’n gehoor, of die regering, ongemaklik voel. Met die Covid-regulasies het vele dansers, teatermakers, skrywers en feeste stil geword. Die platforms waarop daar vir soveel jare staatgemaak is, het ewe skielik ’n hindernis in die gesig gestaar en daar is besef dat duisende kunstenaars, soos duisende Suid-Afrikaners, sonder inkomste sit. Nog meer, die infrastruktuur, of gebrek daaraan, is binne die sektor bevraagteken en opnuut bevestig.

Dit is uit dié realiteit dat die STAND (Sustaining Theatre and Dance) Stigting geskep is, ’n onafhanklike en niewinsgewende organisasie wat gedurende die grendeltydperk deur verskeie individue binne die teater-en-dans-sektor gestig is. Een van hul eerste projekte was die loods van die Take-a-STAND-dialoë (in samewerking met die Toyota US Woordfees op Stellenbosch), ’n naweek van gesprekke tussen professionele teatermakers, dansers en kunstenaars wat verskeie vrae en kwessies binne die sektor benader het. Die gesprekke het beide in persoon en aanlyn plaasgevind en verskeie vrae is aan kunstenaars gestel, insluitende vrae oor waarom daar (nog steeds) teater gemaak word; dekolonialisering binne teater en dans; wat ’n gehoor wil hê en of kunstenaars hulle wel daaraan moet steur; jong teatermakers en hul drome vir die toekoms; en of die regering teater en dans moet befonds. Dit is vrae wat nog vóór die grendeltyd binne kunstenaars se monde gelê het, maar wat al hoe meer dringend antwoorde nodig het. Vrae wat kompleks, uitdagend en relevant is.

Die kern van die naweek was die idee van die groep mense self. Wie is die kunstenaars? Wie is teatermakers en dansers binne Suid-Afrika? Hoe bestaan ons? Hoe vorm ons ’n deel van die politiek en sisteem? Hoe volhoubaar is ons? Wat bied ons werklik aan die samelewing? Soos Gregory Maqoma in sy openingstoespraak, “Theatre for whom? Dance for what? Towards a rationale for theatre and dance in our contemporary world”, gesê het:

So who are we? The we is in me, is in all of us. The we is the manifestation of an ideology of self with clarity, perhaps with complications in understanding why the “we” becomes political in our attempt to make theatre. With political consciousness we become aware of who we are and some knowledge of self and place creates a possibility for a discourse.

Wat uit Maqoma se sessie so duidelik geword het, is dat vele kunstenaars self nie antwoorde het vir hoekom hul dans of teater skep nie, dat die logika daarvan self moeilik is om te begryp, maar dat dit uit ’n plek binne hulself kom wat uiting aan bestaan en menswees wil gee – móét gee.

Gregory Maqoma (Foto: Jeremeo le Cordeur)

Dat dit ’n manier is van sin maak van die wêreld om ons en dat ons nie moet onderskat hoeveel waarde dit binne ’n samelewing dra nie. Dat dit die kunste is wat oomblikke van plesier kan skep, oomblikke van identiteit en protes. Dat dit die kunste is wat aan die samelewing ruimte gee om terug te kyk, of raak te sien, of te ween. Dat dit die kunste is wat uiteindelik ’n gedagte vasvang en ’n geskiedenis op sigself opteken. Dit klink na ’n vae gesprek, een wat nie meriete binne ’n krisistydperk dra nie, en tog het die laaste jaar dit al hoe duideliker gemaak dat ons geestesgesondheid net so swaar kry soos ons fisieke gesondheid. Maqoma som self die oomblik so op:

When I reflect and try to make meaning in my attempt to find reason to dance, to find words to describe the movement aesthetic my body exudes, the only word I can come up with is “architecture”: the landscape that continues to evolve and change, closely related to the earth and affected by its deteriorating nature, a collection of identities, acknowledging the many centuries of social and political heritage. Every performance creates new transitional entry and exit points. Every performance becomes a memory, and when the lights go off and the curtain falls, a new history is written.

Dus is dit juis nou die tyd dat kunstenaars na hulself toe terugdraai. Nie net as individue nie, maar as ’n gemeenskap wat binne ’n groter samelewing bestaan.

Die naweek was ’n oomblik waar vele ongemaklike gesprekke gevoer is, maar nietemin noodsaaklike gesprekke. Gesprekke wat die toekoms van dans en teater in Suid-Afrika gaan bepaal. Iets wat dalk nie nou as noodsaaklik beskou word nie, maar wat dalk binne die volgende vyf jaar vir ons al hoe duideliker gaan word.

Lees ook:

Take-a-STAND-dialoë: ’n Pleidooi vir verandering

Persvrystelling: Teatermakers en dansers neem STANDpunt in | Press release: Theatremakers and dancers Take-a-STAND

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top