Hekwagters en oop hekke

  • 1

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan [email protected].

I Vooraf

Die seminaar “Poolshoogte” is in wese ’n debat oor kanonisering en die problematiek róndom hierdie komplekse proses. Die sogenaamde "hauteur du pôle" ...

Harold Bloom se kanonieke teks The Western Canon is waarskynlik ’n goeie beginpunt om hierdie gesprek mee te open. Bloom skryf oor goeie letterkunde en oor die kritiek wat al gebruik is om ’n skrywer soos Shakespeare te reduseer tot die "social energies" van die Engelse Renaissance (1994:3).

Bloom konsentreer op die estetiese aspek van literêre tekste, die sogenaamde literary, soos hy dit tipeer. Hierdie gesiene kritikus fokus uiteraard op die artefak of die reeds gepubliseerde teks.

Kanonisering gebeur egter reeds voor publikasie. ’n Manuskrip word deur anonieme keurders gelees en ’n redakteur van ’n uitgewershuis besluit of dit gepubliseer sal word al dan nie. Hierna word dit gereklameer, geresenseer en gelees. Reeds die naam van die uitgewershuis vorm deel van die kanoniseringsproses. ’n Gesiene uitgewershuis versus ’n selfpublikasie of kleiner uitgewershuis speel eweneens ’n rol in die resepsie van die teks. Die begrip "hekwagters" is al gebruik om hierdie komplekse proses van keuring/afkeuring te beskryf. Ook waar die boek geresenseer word, en deur wie, bepaal die status van die teks. Bekronings en die voorskryfmark is ’n verdere proses wat die boek se lot bepaal. Bloemlesings – byvoorbeeld die aantal tekste wat van ’n skrywer opgeneem word – dui ook op ’n vérdere proses van kanonisering. Net soos ’n profiel in Perspektief en profiel – onder redakteurskap van HP van Coller – die skrywer as belangrik binne die kanon vestig.

Kanonisering impliseer ook dekanonisering en herkanonisering. ’n Skrywer kan tydelik verdwyn uit die kanon weens plagiaat (soos die geval DPM Botes) en weer terugkeer in ’n nuwe uitgawe van ’n bloemlesing deur ’n ander samesteller of bloemleser. Herkanonisering gebeur onder andere wanneer ’n buitekeurder ’n ander blik het op die kanon en stilgemaakte of verdwene stemme terugbring, soos Gerrit Komrij in sy idiosinkratiese bloemlesing met onder andere Elizabeth M du Toit gedoen het.


II Van oop kaarte na poskaarte

En dis juis die heftige polemieke rondom beide Komrij en Brink se verseboeke waarop daar in hierdie bydrae gefokus sal word. Komrij as buitelandse digter en kritikus gee sy interpretasie van die kanon en Brink as binnelandse kritikus en samesteller neem die aflosstokkie van DJ Opperman oor.

So open Brink sy Opperman-gedenklesing in 2001:

Rondom die samestelling van Groot verseboek 2000 het daar ’n nogal heftige polemiek ontstaan wat veral gefokus was op die vraag of so ’n uitgawe in diens van kanonvorming sou staan, en of so iets in ons huidige boeiende tydsgewrig wenslik of onwenslik was. Dit het onder meer die vraag gestel waar so ’n bloemlesing hom (of miskien haar) sou of kon opstel tussen wat gesien is as die pole van die kanon (die monolitiese lees van ’n “Great Tradition”) en die haelgeweer, oftewel ’n min of meer lukrake losbrand in die bondel (http://www.oulitnet.co.za/seminaar/10brink.asp, 5 Junie 2014 besoek).

So begin Britz sy polemiek:

Vir Afrikaanse letterkundiges is Gerrit Komrij se Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte vandag ’n onontbeerlike boek. ’n Professionele letterkundige moet hierdie bloemlesing besit en ken om sy werk te kan doen. Dit is net so onmisbaar op sy boekrak as André P Brink se Groot verseboek 2000.

Vir gewone liefhebbers van die Afrikaanse poësie is Komrij se bloemlesing met sy byna 1 200 bladsye ’n tamaai skatkis vol leesgenot. Die boek is uiters interessant en verkwiklik. Saam met Brink se versameling bied dit aan poësielesers ’n verruklike verskeidenheid Afrikaanse gedigte. (http://www.oulitnet.co.za/neerlandi/09komrij.asp, 5 Junie 2014 besoek)

Beide bloemlesings is gestriem deur kritiek van sowel letterkundiges as digters.

En beide reaksies verraai veel van die dikwels versweë beginsels wat kanonisering bepaal. (Die volledige reaksies van hierdie twee kritici word volledig weergegee en het op LitNet verskyn.) Bloom verwys na die School of Resentment wat teen klassieke tekste of tekste-met-estetiese-status skryf en fokus op die politiek of sosiale dinamiek wat tekste produseer.

In sy oorbekende inleiding tot Groot verseboek (1951) skryf Opperman dat hy die "mooiste" wil saamvat, maar terselfdertyd ook die "ontwikkeling" van ons poësie wil weergee. Die klem is dus op die estetiese, maar terselfdertyd verklaar hy ook dat die historiese en strewe na verteenwoordiging nagevolg is.

Die samesteller speel dus oop kaarte met sy leser.

Tussen 1951 en 2000 het daar egter veel verander. Onder andere het die literêre sisteem beweeg van ’n modernistiese na ’n postmodernistiese bedryf. Die impak van postkolonialisme, die opkoms van swart en gay digters, die impak van feminisme (van die "vroulike aanvulling tot dertig" tot Lady Anne met haar ovulasie-kaart), die invloed van die praatvers (parlando), eksperimentele gedigte – onder andere geboekstaaf in Poskaarte, die voortdurende intertekstuele spel, die Versindaba, en so meer, problematiseer die idee van die "mooiste" en "mees verteenwoordigende" gedig. Die postmodernistiese gedig is diskursief, dikwels anti-esteties, gerig op debunking en spotpraat. Dit ontmasker die gedig as leuenspraak of bedrogspul. En die terugpraat met die ouer digters gebeur dikwels op ’n sardoniese, spottende wyse wat die konvensionele idee van wat ’n "gedig" is, uitdaag en dekonstrueer. Boonop vorm vertalings van bekende tekste deel van ’n nuwe proses van herkanoniserig. Trouens, met die verskyning van die bloemlesing Die gewildste Afrikaanse gedigte het daar ook by my vrae ontstaan of die leser van die Afrikaanse digkuns – wat die 100 bestes moes aantoon via ’n sms-stem in By – enigsins van nuwe tendense kennis geneem het. Hieroor het ek op my blog Woorde wat weeg geskryf. (http://joanhambidge.blogspot.com/2013/02/die-gewildste-afrikaanse-gedigte-2012.html, 5 Junie 2014 besoek)


III ’n Elegie vir die kanon?

Harold Bloom

Bloom fokus op 26 skrywers wat volgens hom as outoriteite binne die leterkunde beskou kan word. Hy fokus – soos Opperman – op "aesthetic value" en "to ask what makes the author and the works canonical" (1994:3). Sy estetiese maatstaf is "strangeness" (die Russiese Formaliste se ostranenie dus): van Die Heilige Komedie tot Endgame. Vir Bloom is die School of Resentment se poging om die kanon te kritiseer ingegee deur ’n siening dat die teks sosiale verandering kan teweegbring. Hy beweer verder: "Pragmatically, the 'expansion of the Canon' has meant the destruction of the Canon, ..." (1994:7). Hy wys tereg daarop dat dit al hoe moeiliker raak om met stelligheid uit te wys wie die beste prosa of poësie skryf; dit word in sy woorde ’n "complex destiny".

En inderdaad neem estetiese kritiek ons terug na die outonomie van die verbeeldingryke teks en soos hy dit so klinkend stel: "the sovereignty of the solitary soul, the reader not as a person in society but as the deep self, our ultimate inwardness" (1994:11).


IV ’n Profesie oor die kanon?

In sy nawoord stel Bloom ’n lys op wat hy as ’n profesie beskou in ’n tyd van chaos. Volgens sy lys sal oa digters soos Anthony Hecht, Donald Justice, WS Merwin, James Wright, Galway Kinnell, Philip Levine, Irving Feldman, Donald Hall, Alvin Feinman, Richard Howard, John Hollander, Gary Snyder, Charles Simic, Mark Strand, Jay Wright, Howard Moss, Alfred Corn en Rita Dove oorleef. En in hierdie nawoord erken Bloom dus by implikasie dat die Kanon met ’n hoofletter verander het in die kanon met ’n kleinletter. En dit is net ’n keuse uit sy Amerikaanse lys.

Geen samesteller, antoloog of bloemleser kan dus die impak van moderne literêre teorie negeer nie. Bloom se voormalige student Camille Paglia kanoniseer eweneens in haar Break, blow, burn (2005). Die subtitel stel dit onomwonde: "Camille Paglia reads forty-three of the world's best poems." Sy herkanoniseer dus klassieke tekste soos sonnet 73 en 29 van Shakespeare, John Donne, George Herbert, Andrew Marvell, William Blake, William Wordsworth, Shelley, Coleridge, Walt Whitman, Emily Dickinson, Yeats, Wallace Stevens, onder andere.

Net kortliks hoeveel sy van klassieke digters plaas: Shakespeare (3 gedigte), Donne (3 gedigte), Herbert (3 gedigte) Blake (2 gedigte), Wordsworth (2 gedigte), Emily Dickinson (3 gedigte), Yeats (2 gedigte), Stevens (2 gedigte), waarmee sy haar voorkeur vir die gevestigde, klassieke teks bely. Haar lesings van gedigte is gebaseer op stiplees en sy polemiseer teen die "morass of misreadings or overreadings" (2005:ix) wat volgens haar poststrukturalistiese teorie kenmerk. Sy beweer ook dan dat "poetic language has become stale and derivative" (xi). Sy is afwysend teenoor gedigte wat voorgedra word en volgens haar kompleksiteit mis. Vir haar is ’n gedig "goed" as dit as artefak kan bly staan teen die tradisie neffens ander goeie gedigte. Vir haar is dit die gedig op papier wat bly lewe – die sogenaamde visuele kontrak (xii).

En hoe definieer sy wat ’n goeie gedig is? In haar eie woorde: "A good poem is is iridescent and incandescent, catching the light at unexpected angles and illuminating human universals (...)." Poësie is, soos filosofie, ’n kontemplatief, maar anders as filosofie, manipuleer die digkuns op ’n subliminale manier die liggaam en sensoriese ervarings. En verder: "The concentrated attention demanded by by poetry is close to meditation."

Paglia benader die digkuns antirasionalisties. Sy beklemtoon dat die lees van die digkuns op ’n ander vlak lê: "Commentary on poetry is a kind of divination, resembling the practice of oracles, sibyls, augurs and intepreters of dreams" (xiv).


V Die kanon of haelgeweer?

As ’n mentor en begeleier van jong digters in kreatiewe werkswinkels het ek die afgelope paar jaar ’n handvol jong digters gehad wat onder my werk: Carina Stander, Fourie Botha, Martina Klopper, Aniel Botha, Hennie Nortjé, Karen Kuhn, om enkele debutante uit te sonder. Daar het ook ’n paar studente in die Nuwe stemme-reeks gedebuteer. In hierdie lesings beklemtoon die mentor altyd die belangrikheid van die kanon en dat jy alleen binne ’n bepaalde tradisie kan publiseer, indien jy daardie tradisie ken. Opperman se rooi verseboek en Brink se blou verseboek is verpligte leesstof. Studente moet ook die bloemlesings van agter na voor lees. Hierna histories en chronologies benader ten einde gesprekke en intertekste raak te lees. Die goeie gedig is inderdaad die gedig wat die "toets van die tyd" deurstaan. "Winternag" of "Vroegherfs" – dit is gedigte wat inderdaad – soos Paglia argumenteer – ’n universele taal praat.

Om ’n jong student te leer dig, beteken dat jy – al is dit net onbewustelik – die kanon se belangrikheid verstaan. Jy moet eers die kanon ken voordat jy dit kan ont-ken.

Dit is uiteindelik so dat die opkoms van skryfskole ook binne die nuwe demokratiese bestel binne die Afrikaanse letterkunde beslag gekry het. Die UK se Kreatiewe Skryfskool is om en by 1994 amptelik van stapel gestuur, met JM Coetzee, Peter Horn en André P Brink met ’n voorlegging aan die fakulteit. Etienne van Heerden was die eerste aanbieder van kreatiewe werkswinkels van Afrikaanse prosa in Suid-Afrika: eers aan Rhodes en toe aan die UK.

Stephen Watson, Etienne van Heerden en ek self het kreatiewe skryfwerk, met ’n akademiese en kreatiewe module, gevestig soos dit tans daar uitsien. (En tans is Imraan Coovadia die direkteur. Van Heerden en Coovadia behartig die prosakomponent en ek die digkuns in sowel Afrikaans as Engels.) Vele van die prosaskrywers het pryse gewen en selfs oorsee naam gemaak. Waarskynlik is Lauren Beukes die grootste suksesverhaal in die prosakursus aan die UK.

Voorgeskrewe tekste bly "golden oldies" waarin tegnieke en vorme aan bod kom. Tekste soos Ottone M Riccio se The intimate art of poetry en Grové se Woord en wonder word steeds voorgeskryf. Behalwe die bekende Afrikaanse verseboeke is die Norton Anthology ook verpligte leesstof, nes weeklikse toesending van webblaaie wat op die digkuns spesialiseer, soos onder andere Poetry Org.


VI Mentor en student

DJ Opperman

Paglia het haar doktorale studie onder Bloom voltooi en in die inleiding verduidelik sy waarom hy sou optree as haar mentor: hy kon haar belangstelling in mitologie en interkulturele verwysings begryp en haar dus begelei om Sexual personae te voltooi.

My respek vir Afrikaans se mees gedugte kanoniseerder, Opperman, is bekend. Nie alleen eer ek sy werk as digter en kritikus nie, maar as jong deelnemer aan sy letterkundige laboratorium aan die Universiteit Stellenbosch in 1977 het ek die belangrikheid van die kanon besef. Opperman had geen geduld met jong studente wat nie ouer digters kon respekteer nie. Kanonisering en die proses van herkanonisering is uiteraard gekoppel aan ’n tradisie; dit is nie ’n lukrake, versameling van tekste nie. Selfs die opstel teen die tradisie en ’n versameling van postmodernistiese gedigte erken die impak van die kanon. Net soos daar nog lank gedebatteer kan word oor die verhouding tussen die kanonieke en apokriewe boeke in Die Bybel, sal daar eweneens meningsverskille tussen die tradisie en die teenstanders van die tradisie bestaan.


VII Iteratief/duratief

Wanneer die leser dus terugkeer na Etienne Britz se apologia pro domo vir Komrij ontken hy die belang van so ’n debat. Lesers kon tereg vra: Wat is ’n bloemlesing? En waarom word mindere gedigte of digters vereer met meer gedigte as in Groot verseboek? Is die blik-van-buite net so "gesaghebbend" as die blik-van-binne? Is dit hierom dan nie ironies nie dat die laaste uitgawe van Groot verseboek in ’n blik verpak is? Brink sien eweneens die komplekse gesprek tussen die kanon en die geskiedenis raak in sy lesing:

Om saam te vat: dit wil voorkom, minstens voorlopig, asof die meeste literature ’n neiging tot die saamstel van naasteby “gesaghebbende” bloemlesings vertoon wanneer daar ’n spesifieke behoefte ontstaan om die nasionale identiteit te definieer – des te meer wanneer daardie identiteit onder die een of ander vorm van druk (intern of ekstern) verkeer.

Wopko Jensma

Hy neem dan ook politieke verse op wat nie binne Opperman se gehalte-eis die paal kon haal nie en Wopko Jensma – waarskynlik weens sy gedigte in sowel Afrikaans as Engels – word nou ook gekanoniseer deur Brink. Hier word dus ’n wyer – en dalk postmodernistiese – benadering gevolg as in die ou "barometer van gehalte". Marais se "Lied van Suid-Afrika" staan ook nou opgeteken.

Soos Brink dit klinkend stel in die Opperman-gedenklesing:

Gelukkig het daar oor die afgelope jare ook ’n nuwe gees in Afrikaans vaardig geword wat onvermydelik moes uitloop op ’n herwaardering – en ’n herverbeelding – van die kanon-begrip sélf. Die groot sosiopolitieke grondverskuiwing kon nie anders as om ’n drif tot selfvernuwing en herdefiniëring gaande te maak nie. Natuurlik was en is daar Afrikaners wat hulle steeds in die eerste plaas laat aanvuur deur vrees: die beheptheid met “Donker, donker middernag,/ Nader sluip die Zoeloemag ...” Die ironie is dat diesulkes vergeet dat daar in verhelderende oomblikke selfs in die poësie van ’n Jan Celliers, ’n Totius, ’n DF Malherbe al blyke was van ’n besef van ’n ander kant, of ’n ander manier van kyk. In Celliers se “Inboorlinge” praat die swart man: “Kyk die os-wa -/ lange ry;/ oemlong kom,/ sal altyd bly,/ neem die land,/ sal nooit weer gee ...” In Malherbe se “Vir Vryheid” is daar ’n besef dat die witman wat hom hier kom vestig het, nie maar net loflike dinge saamgebring het nie, maar dat daar in sy geledere ook uitskot was en “wat sleg is” hier aangedra het.

Want dit het immers altyd te make met ’n blikhoek, met ’n "point of view". En solank as wat die antalogis sy of haar kaarte op die tafel sit, kan ’n mens immers in ’n post-postmodernistiese tydvak weet dat daar steeds iets "is" soos ’n klassieke teks. En ’n klassieke teks aktiveer ook ’n wederwoord.

Emily Dickinson het immers opgemerk:

If I read a book and it makes my whole body so cold no fire can warm me I know that is poetry. If I feel physically as if the top of my head were taken off, I know that is poetry. These are the only ways I know it. Is there any other way? (http://www.emilydickinsonmuseum.org/read_poem, 5 Junie 2014 besoek)

En twee herkanoniserings van my:

Gebed om die gebeentes

O digterlike vaders wat woon in bloemlesings,
gepasticheer, geparodieer, gepersiflage u naam,
laat ons u nogmaals lees in ander vorme
soos in die oorspronklike, nes in die afskynsels;
gee ons vandag ons inspirasie,
vergeef ons die blatante plundering
en misdoen in die skoene van die ou grotes.
Laat kom ons nie in versoeking,
met ’n sekel of simbaal
of papegaai-eggo’s,
want u bly die grootste én die sterkste
al is kuns so boos so boos,
u het ’n Eiendoms Onbeperk,
u is gesteenbok en gepoolsee,
u is die suiwerste wiskunde,
’n volledige, finale allotroop.

Vir ewig en ewig, amen
vir ewig en ewig, amen.

Vroegherfs

Die jaar word ryp in wrede ontnugtering
in woede wat verkil, en bitter idees
wat daglank deur my nuwe minagting
uitgespoel word; alle idees word reëls,
tot selfs die slustes; en die eerste beelde val
so stilweg in my donker depressiewe drome uit
sodat die dendriete in my brein al
teen elke ligte môre ooreis, ópspruit.
O muses, laat hierdie dae nooit verbygaan:
laat alles val wat poësie of stilte verbreek
of cliché is, en vér was van die pyn:
laat ryp word, muses, laat jul verwoesting nimmer taan,
vir ewig, tot al my demone afgebreek
word in relevante, tydgebonde skyn.

        (Uit Die somber muse, 1990)

 

Bibliografie

Bloom, Harold. 1994. The Western Canon. Londen: MacMillan.

Brink, André P. 2001. Groot verseboek: kanon of haelgeweer? http://www.oulitnet.co.za/seminaar/10brink.asp (5 Junie 2014 besoek).

—. 2001. Groot verseboek 2000. Kaapstad: Tafelberg.

Britz, Etienne. 2001. Komrij laat ’n duisend Afrikaanse gedigte blom in Europa. http://www.oulitnet.co.za/neerlandi/09komrij.asp (5 Junie 2014 besoek).

Cixous, Hélène. 2008. White ink. Interviews on sex, text and politics. Stocksfield: Acumen.

Foster, R en L Viljoen. 1997. Poskaarte. Kaapstad: Tafelberg.

Grové, AP. 1984. Woord en wonder. Inleidende studie oor die tegnieke van die poësie. (Vierde uitgawe, agtste druk.) Pretoria: Nasou.

Hambidge, Joan. 1990. Die somber muse. Kaapstad: Jutalit.

Komrij, Gerrit. 1999. Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte. Kaapstad: Tafelberg / Human & Rousseau.

Leserskring. Die gewildste Afrikaanse gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau.

Opperman, DJ. 1951. Groot verseboek. Kaapstad: Tafelberg.

Paglia, Camille. 2005. Break, blow, burn. New York: Pantheon.

Riccio, Ottone M. 1980. The intimate art of poetry. New Jersey: Prentice-Hall, Inc.

Van Coller, HP. (red). 1998. Perspektief en profiel. Deel 1: ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Pretoria: JL van Schaik.

 


Skakels

A. Komrij laat ’n duisend Afrikaanse gedigte blom in Europa (5 Junie 2014 besoek).

B. DJ Opperman-gedenklesing 2001, Universiteit van Stellenbosch

C. Resensie van Die gewildste Afrikaanse gedigte (2012)

 

<< Gaan terug na Poolshoogte <<

Uit die LitNet-argief
Essays
Die belang van literêre toekennings binne die Afrikaanse literêre sisteem
– Francis Galloway
2014-02-19

Essays
’n Bespreking van die Afrikaanse poësienetwerk sedert 2000
– Burgert Senekal
2013-04-18

Poolshoogte
Van bromied tot kuber-ink: Die produksie- en leesproses by uitgewers
– Kerneels Breytenbach
2014-06-18
Young Voices Conference 2004
Die wetenskap van liefde, en ander maniere om te dobbel
– Nèlleke de Jager
2004-11-23
Blogs
Crito
Die Burger-lesingreeks
Nuwe stemme in die Afrikaanse letterkunde
– Louise Viljoen
2000
Briewe deur die lug
Ons is van uiteenlopenheid aanmekaargesit
– Annari van der Merwe
Resensies
Danie Marais se Al is die maan ’n misverstand: Verset teen die kanon of ’n oefening in prosa-poësie?
– Ampie Coetzee
2009-05-04
NeerlandiNet
Die Nederlandse literêre kanon onder die soeklig
– Herman Wasserman
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die meer “beskeie” opsies van ’n “buitestander”: M. Nienaber-Luitingh in die Afrikaanse literêre sisteem
– Bernard Odendaal en Hennie van Coller
2008-11-25

 

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Mike Labuschagne

    Afrikaanse Digkuns in Een Les.  Linkerhands: Die Groot Verseboek, oopgeslaan by TT Cloete, Breytenbach,       Andre Le Toit, Leopoldt en die goete. Regterhands: ‘n lat vir insig in metafore, vergelykings, alliterasies, assonansies en voetnotas van bekende literatore : trek uit die tekkies van jou verdwaalde rympies op webblaaie soos grafitti langs openbare paaie : want jy staan nou op heilige stront!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top