<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan poolshoogte@litnet.co.za.
1
Jean-Paul Sartre het vir sy geslag na die Tweede Wêreldoorlog die term littérature engagée gegee wat in verskillende literature nawerking gehad het, byvoorbeeld iltiz?m in Arabies en commitment in Engels. Skrywers soos André P Brink het in die 1960’s en 1970’s betrokkenheid ’n modewoord gemaak en sy romans het die literêre aangesig van Afrikaanse betrokkenheid geword. Elders het skrywers soos Cze?aw Mi?osz en Vaclav Havel in Oos-Europa, Ghassan Kanafani en Mahmoed Darwish in Palestina, Nicolás Guillén en Alejo Carpentier in Kuba, Rubén Dario en Ernesto Cardenal in Guatemala, Chinua Achebe en Wole Soyinka in Nigerië en Ng?g? wa Thiongo in Kenia die morele vaandeldraers van die middel-20ste eeu geword.
Jean-Paul Sartre |
André P Brink |
Breyten Breytenbach |
Ook in Suid-Afrika het ’n bellettrie-skryftradisie posgevat waarin betrokkenheid ’n kodewoord vir die sosiale verantwoordelikheid van die skrywer geword het. Dink onder meer aan Brink, Breyten Breytenbach, Nadine Gordimer, Don Mattera, James Matthews, Jan Rabie, Mongane Wally Serote, Sipho Sepamla, Miriam Tladi ... Dié skrywers het die gewelddadigheid, die ekonomiese uitsluiting en verarming, die sosiale ordening en die onderontwikkeling van mensepotensiaal wat apartheid onderlê het, ondersoek en beskryf en aan sosiale verandering meegewerk. Hulle het letterkundige betekenis aan hul verdediging van menslike waardes gegee, en in die geval van Breytenbach het sosiale betrokkenheid verreikende persoonlike gevolge gehad.
Die gevolge van besetting in Oos-Europa en Palestina, anti- en nakoloniale spanning in Kenia en Nigerië en interne verdrukking in Guatemala, Kuba en Suid-Afrika het die historiese omstandighede geskep waarop hierdie skrywers gereageer het. Politieke en revolusionêre betrokkenheid het voorveronderstel dat die skrywers hul skryfwerk gebruik het om wantoestande, magsmisbruik en immoraliteit in hul streke bloot te lê, vir lering, vir verandering te agiteer en nuwe geïdealiseerde toekomste te verbeel. Betrokkenheid en lering in die literatuur is nie ’n onlangse verskynsel nie. Die antieke Grieke het verwag dat teater en poësie op hulle tyd en omstandighede moes reageer. Aan die begin van die 20ste eeu het die vermaarde Amerikaanse intellektueel WEB du Bois selfs geskryf dat hy min trek het aan literatuur wat nie sosiaal betrokke is nie.
Sartre se littérature engagée het ingegaan teen ’n Europese bourgeois tradisie wat literatuur en kuns as outonome, estetiese en vormlike skeppings voorop gestel het. Vir hom moes woorde tot aksie en fundamentele verandering lei, die skrywer moes téén onwetendheid en verontskuldiging inskryf, en vír vryheid. Vir die vernaamste feministiese skrywers van ons tyd het die debat oor estetika, vorm en betrokkenheid neerslag gekry in die óópskryf van lyflikheid, die wese van vroulikheid, en meegewerk aan die verandering van houdings oor die plek van vroue in ons samelewings. “Betrokkenheid” het meestal die kortbegrip vir opposisionele politieke stryde – meestal stryde om nasionale onafhanklikheid, om menslike waardes, menslikheid, vryheid en gelykheid – geword. In die anti- en postkoloniale tradisies in Afrika, Asië en Latyns-Amerika is nasionale stryde gevoer wat in die literatuur en kunste neerslag gevind het. Ander sosiale stryde in die laat 20ste eeu het die klem op identiteit –kulturele, nasionale en genderidentiteit – laat val.
In die verlede het die debat oor betrokkenheid gewoed rondom die gebruik van kuns, hoë kuns en bellettrie, vir politieke en sosiale agitasie, met ekstreme standpunte daarvoor en daarteen. Vandag wil dit voorkom of die verset teen modernisme, die gelykstellende impulse en pluralisme van postmodernisme tot gevolg het dat die absolute teenstellings tussen kuns en politiek, kunswerk en kommoditeit met minder stelligheid gemaak word. Die grense tussen die unieke estetiese produk en populêre literatuur is eweneens aan’t vervaag en van die skerpste sosiale kritiek kom vandag in populêre kunsvorme voor.
Die einde van die jare negentig het saamgeval met verskeie dramatiese veranderinge in die wêreld: die val van die Berlynse muur, die globalisering van handel, die reuse-spronge in tegnologiese ontwikkeling, die skepping en demokratisering van openbare telekommunikasie, en in Suider-Afrika: die onafhanklikheid van Namibië en die einde van apartheid. In die afgelope paar dekades is sosiale vraagstukke toenemend geïnternasionaliseer. Die opkoms van internasionale burgerlike bewegings het gesorg dat sosiale bewustheid op meer as net die identiteitstryde van die vorige eeu fokus. Die interafhanklikheid van mens en natuur het van die belangrikste kwelpunte van ons tydsgewrig geword. Daar is groter bewustheid van klimaatsverandering en die vrae na die plek van verantwoordelike handeling in die wêreld word op die internasionale agenda geplaas. Die opkoms van neoliberalisme het vrae laat ontstaan oor die groter wordende gaping tussen rykes en armes, transnasionale rykdom en armoede dwarsdeur die wêreld, en in die loop van die eerste dekade van die 21ste eeu sien ons die opkoms van internasionale militante Islam.
2
Elsa Joubert |
Antjie Krog |
Die betrokke Afrikaanse skrywers van die 1960’s en later het hul sosiale verantwoordelikheid gewoonlik vertolk in terme van ’n skerp anti-apartheids- en antimilitaristiese ingesteldheid in hulle rebellie teen Afrikanernasionalisme. In die mees uitstaande voorbeelde van daardie tradisie is tekste geskep wat nie net ’n verrotte stelsel blootgelê het nie, maar ook die aandrang op fundamentele sosiale verandering dwingend gemaak het. Dink aan Brink se ’n Droë wit seisoen of John Miles se Kroniek uit die doofpot, en niemand kan die uitwerking van Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena op die kollektiewe psige van denkende Afrikanerlesers onderskat nie. In uitsonderlike gevalle het Afrikaanse skrywers aansluiting by ’n breë Suid-Afrikaansheid gesoek, wat die skepping van ’n oorkoepelende nasionale identiteit, ’n “oop” samelewing geskoei op vryheid, gelykheid en “nierassigheid” behels het. Uit die voor-1994-era is Breytenbach en Brink die uitstaande voorbeelde van Afrikaanse skrywers wat ’n omvattender Suid-Afrikaansheid kon verbeel, terwyl skrywers soos onder meer Koos Prinsloo, Welma Odendaal en Antjie Krog die grense van Afrikaner etniese identiteit getoets het.
Gedurende die terminale krisis van apartheid in die tagtigerjare, en veral in aanloop tot die demokratiese oorgang van 1994, het Afrikanerkultuurmeningsvormers met beklemming ’n diskoers van oorlewing geherformuleer. Die diskoers het waarskynlik sy oorsprong in die ontstaansmites van Afrikaneridentiteit, Van Wyk Louw se “voorbestaan in geregtigheid”, maar ook in die angste vir moontlike toekomstige vergelding van ’n swart meerderheidsregering. Onderliggend hieraan is die durende eenvoudige teenstelling tussen setlaars en inheemse mense, tussen koloniste en gekoloniseerdes, tussen wit en swart mense, tussen oënskynlik onversoenbare “kulture” en “nasionalismes”. Die hoop vir die na-1994-era – my hoop, maar ook dié van talle ander – was die aktiewe skepping van ’n óóp Afrikaanse kultuur- en denkwêreld wat bydra tot ’n omvattende Suid-Afrikaansheid, ’n Afrikaanse letterkunde wat sy karakter as ’n etniese letterkunde sou oorstyg.
Die Afrikaanse gesprek oor nasionale identiteit het sedertdien vereng tot etniese en kulturele identiteit, veral vergestalt in die Afrikaanse kunsfeesbedryf, wat iemand – ek dink dit is Rebecca Davies in haar boek oor Afrikaners na 1994 – “ethnic nesting” noem,1 waar hierdie kunsfeeste dien as ruimtes van koestering van ’n kulturele eie, metafories afgesper van die nasionale. Die gesprek oor Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde in nasionale verband het vasgeval in nostalgie, distopie en liminaliteit. Ek herinner my aan die slot van Hermann Giliomee se geskiedenis van die Afrikaner as “imagined community”, The Afrikaners: A Biography of a People, waar hy byna elegies skryf oor die hoogte- en laagtepunte van ’n volk wat nou leierloos is, en te midde van die stroping van die ou vertroude wêreld nostalgies hulle liefde vir hul taal en grond behou.
Die afgelope dekade of wat was daar ’n opbloei van nostalgiese romans en kortverhaalbundels oor die Suid-Afrikaanse Oorlog (Anglo-Boereoorlog) en selfs die meer onlangse “antikommunitiese” grensoorloog. Veral wat laasgenoemde betref, het Deon Opperman teater van nostalgie en trotse verledes (en nostalgie as kommersiële sukses) geskep. In die beste van dié subgenre, soos Sonja Loots se Sirkusboere, word die vertelling meer as nostalgie, maar ontbloting van ’n tyd en sy mense. Die gewildste vorm van openbare nostalgie is dié van Dana Snyman, waar Afrikaner kulturele hoogbloei met oordaad van bekendheid geskep word met herkenbare vervloë figure en dinge: dominees en politici, tantes en ooms, kerkbasaars en vergaderings, boerekos en groot karre. Die populariteit berus hoofsaaklik op die herkenbaarheid en onskuld van die vertellings wat meestal refleksief eindig met onthullende kinkels of toegeneentheid jeens uitgestotenes. Nostalgie berus op selektiewe en gesaniteerde herinnering wat lei tot daadloosheid en abortiewe pogings tot verset soos Bok van Blerk se vergete boeregeneraal.
En dan is daar die tema van distopie wat in menige Afrikaanse roman en kortverhaal na die politieke wending van 1994 voorkom en waarvan Eben Venter se Horrelpoot die uitstaande voorbeeld is. Die roman adem ’n uitsigloosheid en ’n antihumanisme, sprekend van verlies sonder enige redding of vernuwing. Sulke romans mag sosiale kritiek lewer, of soos in die geval van nostalgiese geskrifte koestering van vervloënheid oproep, maar is dit hoegenaamd “betrokke” in die Sartreaanse sin van die woord waarmee onder meer fundamentele verandering, aktivisme en ’n stryd teen onvryheid bedoel word? Word hierdie vorme van sosiale kritiek nie eerder reaksionêre koestering van ’n verbygegane verlede – “so wás dit” – nie?
Wat die liminale betref, is daar aanduidings in die Afrikaanse letterkunde dat politieke assosiasie vir talle skrywers onaantreklik is. Hulle kan hulle nie verbind tot die nostalgie van ’n nasionalistiese verlede nie, nog minder vind hulle aansluiting by die neo-Afrikanernasionaliste (waarvan Dan Roodt en Steve Hofmeyr die kultuurvaandeldraers is), en hulle vind nie hulle heil in “ethnic nesting” nie. Hulle verkeer in ’n niemandsland, ’n tussenin stadium, ’n liminale bestaan, want hulle vind ook nie aansluiting by die nuwe nie. Die Suid-Afrika ná 1994 ervaar hulle as vervreemdend. Iets van hierdie liminale sien ek in Willem Anker se drama Skrapnel, waar sy figure geen assosiasie met ’n apartheidsverlede wil hê nie en eerder opgaan in ’n geglobaliseerde bestaan. ’n Ander uitdrukking van liminaliteit is oordrewe verestetisering, “an aesthetic turn” na aanleiding van Fredric Jameson se interpretasie van postmodernisme as die “logika van laat kapitalisme”. By die lees van tekste van Ingrid Winterbach en sommige van dié van Marlene van Niekerk, veral Die sneeuslaper, het ek gewonder of dié nie juis voorbeelde van hierdie estetiese wending is nie: politieke en sosiale liminaliteit wat in estetiese produksie skuilgaan.
Het ons die afgelope twintig jaar daarin geslaag om ’n óóp Afrikaanse kultuur- en denkwêreld te skep wat bou aan wat wyle Jakes Gerwel idealisties “’n soomlose Afrikaanse gemeenskap” genoem het? Die dominante (openbare) uitdrukkings van Afrikaanse letterkunde en kulturele praktyke bly dié van Afrikaners, en die stemme van die swart Afrikaanssprekende meerderheid (die niewit mense) bly gemarginaliseerd – in die media, die letterkunde en kulturele praktyke. Relatief min skrywers uit hierdie agtergronde het in die afgelope twee dekades hul toetrede tot die Afrikaanse letterkunde gemaak, en hul afwesigheid beteken dat op die lange duur hul inherente belang by Afrikaanse letterkunde kleiner en kleiner raak. Maar dit terloops. In die beste werk, soos Kirby van der Merwe se Klapperhaar slaap nie stil nie of Bettina Wyngaardt se Vuilspel, word ingeskryf téén ou sosiale opvattinge en openbaar die skrywers ’n onafhanklikheid van denke en is hulle bereid om onbekende weë te bewandel. ’n Ander vorm van die debat het dit oor outentisiteit, waarvan die poësie van Loit Sôls en Nathan Trantraal, en veral laasgenoemde se aggressiewe verdediging van Kaaps, voorbeelde is. Bertolt Brecht, Nicolás Guillén en Langston Hughes kon in van hul beste werk die folkloristiese as ’n stem van verandering laat praat, sodat daar min twyfel oor die onderliggende militantheid van hul skryfwerk kon wees. In die geval van Sôls en Trantraal wonder ek of dié poësie draers is van “’n stem wat anders praat” en of dit nie eerder andersheid as vertoon word nie: die spreekwoordelike Blackface al dansende voor die meester en meesteresse?
Die Afrikaanse skrywer wat betrokkenheid as ’n eksistensiële belewing ervaar en die konsekwensies daarvan met pynlike eerlikheid deurworstel, is Antjie Krog. Haar outobiografiese drieluik Country of my Skull, Change of Tongue en Begging to be Black is per definisie nie onverbonde nie. In hierdie tekste is daar aflegging van die verlede en aangrypende pogings om intellektueel en vraend sin te maak van die huidige. Dit stel Krog in staat om oor die grensdrade van die verlede te klim. Die implikasies van haar intellektuele vraagstelling is ook verreikend, want vrae oor die opneembaarheid van Afrikaans as deel van ’n breër nasionale diskoers, die skepping van hibriede identiteite – Homi Bhabha se “derde ruimtes” – waar die posisies van die verlede afgelê word, ter wille van die ontwikkeling van nuwe gedeelde ruimtes, is pertinente vrae wat vandag se betrokke skrywer in Suid-Afrika behoort te vra.
3
Alhoewel hierdie opstel in hoofsaak oor betrokkenheid as uiting in nasionale politieke verband handel, is dit sinvol om aan teken dat bewustheid van die gevolge van neoliberalisme, globalisering en toenemende klimaatsverandering dwingend is. In die jongste werk van Johann Lodewyk Marais en Etienne van Heerden sien ons reeds die spore van ’n natuurbewustheid wat menslike bestaan koppel aan verantwoordelike naasbestaan met die natuur. In die afsienbare toekoms sal dit nie slegs terreine van ekologiese belang wees nie, maar grondig die aard van menslike waardes en ons bestaan uitdaag. Dit is in hierdie sin dat littérature engagée ander betekenisse as die sosiaal-politieke sal kry.
1 Ek maak vir hierdie en ander verwysings in die bydrae op my geheue staat, omdat dit tydens ’n buitelandse besoek geskryf is waar ek nie toegang tot ’n (Suid-)Afrikaanse boekery en die internet gehad het nie.
Kommentaar
Ek deel heimlik Hein Willemse se versugting na 'n Afrikaanse literatuur wat werk maak met die soek na aaneenskakeling met 'n nuwe Suid-Afrikaanse gemeenskap , maar ek vermoed dis 'n mistasting. 'n Paar vrae: is die term betrokkenheid nie anachronisties nie? Tweedens: die belangrikste skryfwerk in Afrikaans is nie nostalgies - is dit nie darem een aanduiding van sosio-literêre vernuwing nie? Derdens: is distopie gelyk te stel aan die misère van bestaan in 'n niemandsland? Vgl. die distopiese in Lauren Beukes se Zoo City. Vierdens: hou die vrystelling van nuwe temas en skryfwyses nie meer belofte vir kulturele vernuwing en vir die ontwikkeling van nuwe identitiete en alliansies in nie? Een van Hein se voorbeelde is Die Sneeuslaper. Dis vir my 'n uitgrawe van die estetiese in extremis in verhouding met sosiale omgewings en die figure wat die estetiese verteenwoordig lyk maar taamlik afgerem (agtergeblewe/uitgestoot/misluk). Dit verbind 'n Europese estetiese kultuur met 'n Suid-Afrikaanse(die professor in kreatiewe skryfwerk bv) Dis allesbehalwe "toeganklik" maar wel myns insiens ter sake dalk juis omdat die oopstelling en vraagstelling daarin deur Wes-Europa loop. Dit lyk nie vir my na 'n terugtrek in die estetiese nie.
Eerstens dankie aan prof Willemse vir sy bydrae. Ek het dit met interesse maar ook met verwondering gelees. Laasgenoemde omdat ook hier weer duidelik 'n neiging herkenbaar is om hedendaagse Afrikaanse skrywers te kategoriseer wél-in-die-goeie-boekies en nié-in-die-goeie-boekies van sosiale of politieke betrokkenheid in ons trouens hoogs gekontesteerde samelewing waar die term betrokkenheid op sigself al 'n lastig definieerbare term is (wie is betrokke? en betrokke by wat of wie? hoe? waarom en met watter motief?). Vir my is dit interessant vanuit welke posisie 'n literêre kommentaar op die werk van skrywers geformuleer word. Is dit vanuit politieke oortuigings, byvoorbeeld, of vanuit werklike besorgdheid oor die stand van die litérature engagée van ons Afrikaanse skrywers? Gaan dit oor die kuns-estetiese waardering van die werk van hierdie skrywers, en indien wel, vanuit welke optiek? En wat is die kritikus se referensiekader wanneer hy uitlatinge oor skrywers maak? Wat is sy inhoudelike argumente? Wat is die funksie en die doel van die uitlatings? Hoewel ek waardering het vir enkele uitsprake van prof Willemse, vind ek sy uitlatings oor die werk van Ingrid Winterbach, Willem Anker en Marlene van Niekerk erg onkundig en ondeurdag en - om eerlik te wees - ongegrond en nie-inhoudelik. Mens kry die gevoel dat die kritikus envoudig nie die tekste goed lees van hierdie skrywers nie. Daarby wil ek die werk van Van Niekerk uitsonder as JUIS betrokke en kommentaar lewerend op politieke, ekonomiese, sosiale en estetiese toestande in ons land, maar ook in die samelewing as geheel. Het prof Willemse byvoorbeeld ook die gedig aan Minister Motshekga "Mud School" van Van Niekerk gelees? Of 'n aantal van haar gedigte in die nuwe bundel Kaar, wat na my mening 'n hoë graad van politieke en sosiale gevoeligheid toon? Wat is prof Willemse se siening of definisie van "betrokkenheid" in hierdie konteks? Dit was opvallend grafstil na pubikasie van die Mud School-gedig in die Mail & Guardian. Waar was al die ander "betrokke" skrywers en digters en literêre kritici om daardie deelname aan 'n geweldig belangrike onderwerp naamlik die falende opvoedkundige sisteem in Suid-Afrika, te ondersteun?
Ek sien uit na verklaringe of antwoorde op bogenoemde vrae van hierdie minstens betrokke leser!