...
Hierdie debat is broodnodig in die tegnologiese era, veral vir groei in die boekebedryf. Ek ondersteun dus die skrywe, al stem ek uiteraard nie saam nie.
...
Ek dink die digter en akademikus Nini Bennett-Moll was moerse braaf om haar mening “Wanneer bemarking paradeer as literêre kritiek” op Versindaba te plaas. Veral, soos sy self noem, nadat Crito min of meer ’n jaar gelede deurgeloop het toe hy/sy in ’n blog op LitNet na die sogenaamde boekbeïnvloeders as “snotjantieties” verwys het.
Die algemene gevoel is dat elke tweede “resensent” op die sosiale media ’n mening het oor boeke, met die geïmpliseerde kritiek dat boekbeïnvloeders die rol van literêre kritici uitdaag en marginaliseer.
Die grootste gedeelte van bogenoemde stelling is woord vir woord uit Bennett-Moll se blog oorgeskryf, sodat ek haar nie verkeerd aanhaal nie. Dit is ook nie haar eie woorde nie, maar ’n kitsopsomming van Crito se mening ’n jaar gelede. Bennett-Moll se bloginskrywing onderstreep wel hierdie stelling en op ’n manier kan die hele bloginskrywing in hierdie enkele gedagte saamgevat word. Dit kom amper daarop neer dat mense sonder die nodige letterkundige grade nie ’n mening mag neerpen nie.
Hierdie debat is broodnodig in die tegnologiese era, veral vir groei in die boekebedryf. Ek ondersteun dus die skrywe, al stem ek uiteraard nie saam nie.
Ek hoop eerlikwaar dat Bennett-Moll nie onder enige persoonlike aanvalle gaan deurloop nie en dat niemand êrens iemand se karakter gaan aanval nie. Ons argumenteer immers oor ’n standpunt, nie oor ’n persoon nie.
As ek nalaat om êrens iemand se graad te vermeld, is dit uit onkunde en nie uit arrogansie of ontkenning van die prestasie nie.
Die genre kies die resensent
Net die feit dat die gesprek op die tafel geplaas is, daag boekebladredakteurs van beide Beeld en Rapport se gesag uit. Nie een van die twee sou hulle naam of hulle blad gekoppel het aan snotjantieties nie. Die feit dat hulle van resensente sonder grade gebruik maak, bewys dat hulle wel waarde heg aan die snotjantieties se mening binne ’n bepaalde genre. Dieselfde vir LitNet se betaalde resensies.
Nie Jo Prins, Johan van Zyl, Izak de Vries of Naomi Meyer sal my nader vir die nuutste digbundel nie. Ook nie vir Eben Venter of Etienne van Heerden se nuutste literêre skeppings nie. En natuurlik sal ek nie my ongeskoolde hand daarvoor opsteek nie. Dit is juis omdat ek bewus is dat ek ’n leek op daardie gebiede is (ander ook) dat ek vir Alwyn Roux genader het om vir ons radiostasie ’n digkuns-podcast saam te stel. Net soos in die koerant en op sosiale media verdien die lesers die beste.
Ek sou uiteraard nie omgegee het as Jean Meiring of Crito se gunstelingresensent Johann Kriegler gereeld krimi’s resenseer nie. Solank hulle dit nie so tegnies verwoord dat hul resensie my van die boek afskrik nie.
Byvoorbeeld: Al is ek nie ’n letterkundige nie, het ek ook ’n heilige respek vir Joan Hambidge. Toe ek hoor sy het ’n speurverhaal, Stasies, geskryf, was ek in die sewende hemel. Maar nadat ek Willie Burger se ongelooflike resensie op my Netwerk24-app gelees het, het ek Stasies heel onder op my leesrak geplaas. Teen die einde van die jaar gaan ek dit moontlik ongelees aan ’n ouetehuis skenk. As iemand met minder tegniese terme Hambidge se boek geresenseer het, sou ek dit sonder twyfel gelees het.
...
Het jy al Alwyn Roux of Charl-Pierre Naude se opinie oor Tom Dreyer se digbundel Nou in infrarooi gelees? Dit klink soos ’n liefdesbrief aan die digter!
...
Ek wonder ook wat sou gebeur het as meer snotjantieties haar boek op sosiale media bemark het? Sou ek dit nie dan tog gelees het nie? Ten spyte van Burger se resensie. Dit is jammer, want in my hart weet ek ek mis uit op ’n juweel, maar as die resensie so tegnies is, dink net hoe gaan ek met die boek sukkel.
Dit verander nie Stasies in ’n swak boek nie, maar gooi net Hambidge se speurverhaal buite my leesvoorkeur. Ek lees nou wel nie groot literêre meesterstukke nie, maar ontspanningsromans (lees: krimi’s) verskaf my steeds genot en help my ontsnap. Wat meer wil ek van ’n boek hê?
Die platform
Kerneels Breytenbach haal die kykNET-Rapport-pryswenner Elmari Rautenbach in sy mening “Hoe om ’n boekresensie te skryf” aan: “Die eerste ding wat ’n boekresensent moet vasstel wanneer sy/hy genader word om ’n resensie te skryf, is vir wie sy/hy skryf.”
’n Resensie in Tydskrif vir Letterkunde en op LitNet trek nie dieselfde gehoor as Goodreads of Facebook nie. Vir eersgenoemde twee publikasies stem ek sonder twyfel vir ’n gesaghebbende resensent, maar op Goodreads? Regtig? Daar wil ek net een van twee dinge weet, ja of nee. En ’n kitsgevoel van jou leesgenot. Dieselfde op Facebook en ander sosiale media-platforms.
Met die genoemde letterkundeplatforms stem ek vir Bennett-Moll se dokterteorie. Maar as die dokter Afrika besoek en nie die tradisionele dokter se teenwoordigheid/invloed herken nie, beteken sy/haar graad niks, want die mense gaan altyd luister na hul tradisionele dokter. So ook met snotjantieties op sosiale media.
Snotjantieties
Dit bring my by die tweede punt. Maar eerstens, kom ons kry dit uit die weg, want nie een van die snotjantieties wat ek ken, is enigsins gepla oor die titel “resensent” nie. Onderaan kan net sowel boekwurm of snotjantietie staan, solank ontspanningsroman-lesers weet ek dra my hart in die resensie oor. Kom ons skrap dit eerder. Lesersindruk.
My eerste vraag op Bennett-Moll se genoemde stelling is: Hoekom mag gewone lesers nie op sosiale media ’n mening oor boeke hê nie? Wie het bepaal dat slegs mense met ten minste ’n meesters- of doktorsgraad ’n waardevolle bydrae in die boekbedryf mag lewer? Hoekom? En om hemelsnaam, waarom voel julle enigsins bedreig? Enige aap kan die verskil tussen ’n Jean Meiring-woordkuns en ’n Stefaans Coetzee-snotjantietiespoegsel raaklees.
Ek het al ’n paar keer skrywers bemark terwyl ek in Bargain Books rondsnuffel en elke keer is dit vir my lekker as ’n leser vir Sidney Gilroy of Marie Lotz ontdek. Hoekom sal ek dit nie op sosiale media ook doen nie?
(Nota hier in die middel van nêrens. Soos ek deur die land toer, haal ek gereeld van my gunstelingskrywers se boeke uit die rak en sit dit met hul voorblad na voor terug op die rak. Om lesers se aandag te trek.)
Ek wil ook net byvoeg dat Bennett-Moll self ook boeke op sosiale media bemark. Sy gaan nou wel nie so oorboord soos ek nie. (Jip, ek voldoen aan al die sondes wat sy uitwys, van die herplaas van bestaande literêre of ander boeknuus tot bemarking. Sonder die string hutsmerke.)
Sodra Bennett-Moll ’n skakel of ’n print screen oor ’n resensie wat sy geskryf het op Facebook plaas, bemark sy ook die boek, want sy vestig haar volgelinge se aandag daarop. Sy plaas dit mos nie om haar eie beul te blaas nie. Dit is op die ou einde tog die hart van hoekom ons resensies skryf, ons bemark boeke. Dalk nie doelbewus nie, maar ons almal doen. Selfs al gee ’n literêre kritikus ’n geloofwaardige mening, sê hy/sy indirek hoekom die leser die boek moet hoog ag en lees. Jy kan dit noem net wat jy wil, dit is bemarking.
Het jy al Alwyn Roux of Charl-Pierre Naude se opinie oor Tom Dreyer se digbundel Nou in infrarooi gelees? Dit klink soos ’n liefdesbrief aan die digter! Ek het dieselfde liefdesbriewe neergepen met Ivoor/Dolos (Jaco Wolmarans) en Buit (Dibi Breytenbach), alhoewel ek myself nie so mooi soos hulle kon verwoord nie.
Ek resenseer nie elke boek wat ek lees nie (dit verg te veel leestyd), maar kies doelbewus boeke wat ek geniet het. Ek weet dat ek, Anschen en Jonathan Amid oor dieselfde boek hewige kritiek uitgespreek het, so nie al ons resensies is lofpsalms nie. Amid val uiteraard nie soos ek in die snotjantietie-kategorie nie, maar omdat ek self skryf en weet dat smaak verskil, het ek besluit om voortaan net indrukke te skryf oor boeke wat ek geniet. Dit beteken uiteraard nie dat ’n boek swak is wanneer ek geen indruk skryf nie. Soos Bennett-Moll tereg noem, ek doen dit as ’n stokperdjie. Die finansiële vergoeding is nie die lees-/familietyd werd nie. Ek word gedryf deur die bemarkingselement waarop Bennett-Moll deels die klem lê.
Vraag: Hoekom sou Jean Meiring ewe skielik tyd opsy stoot om ’n kragtige mening neer te pen indien hy nie die boek wil bemark nie? Al skryf hy dit nie in soveel woorde nie. Of al dra hy dit meer digterlik oor. Selfs al pen hy ’n negatiewe resensie neer, gebruik hy sy bemarkingsnaam (en ons weet hy het invloed!) om lesers te oortuig om nie die boek te koop nie.
Onthou ook: Boeke is ’n brood en ’n melk minder in my huis. So ook met die meeste lesers. Voordat ek dus ’n boek koop, wil ek weet wat Jan Alleman van die boek dink. Iemand wat ’n paar krimi’s per jaar lees, sodat hy/sy ’n geldige mening kan lewer waarna ek wil luister.
Daarom volg ek juis mense soos Anschen Conradie van #uitdieperdsebek en Trisa Hugo/Analize Viljoen van Boekemakranka. Daar is ander ook, maar kom ons staan by hulle.
Die feit dat ek oor die jare vir hulle lief geword het, is juis weens ons liefde vir boeke. Die insae wat hulle in my menswees het. Ek het in Trisa se gastehuis seun geword en weggestap met ’n droom om in haar voetspore te volg. Alles wat ek vandag in die boekbedryf doen, het ek by haar geleer. En waar ek tekortskiet is dit my eie onvermoë om vinniger te groei.
Ek kan enige een van hulle enige tyd WhatsApp en vra wat hulle van ’n boek dink. Ek vertrou hulle oordeel. Thys Human of my gunstelingkortverhaalskrywer Frederick F Botha kom nie eens in my gedagtes op nie. Tensy ek ’n kortverhaalbundel wil koop, dan lees ek eerste wat hulle dink. Ek het ook nie ’n letterkundige verduideliking nodig gehad om vir my te sê dat Kirby van der Merwe se boek Eugene ’n meesterstuk is nie – ek kon dit raaklees. Ek het egter nog nooit in my lewe van Van der Merwe gehoor nie en was dit nie dat Anschen se Facebook-plasing my aandag daarop gevestig het nie, was ek vandag in leeservaring armer.
My insiens (en dit is bloot net omdat ek ’n snotjantietie is) is sosiale media die perfekte platform vir ons ongeleerde lesers om nuwe skrywers te ontdek. Hoeveel gewone lesers ontdek nuwe skrywers op LitNet? Was dit nie vir Roux se vermelding van Tydskrif vir Letterkunde nie, het ek nie eens van hul bestaan geweet nie, so ons gaan beslis nie daar kyk nie.
...
My vriend Oupa Coetzee is ’n begaafde fotograaf. Hy’t my geleer dat die like-knoppie op Facebook nie sy waarde as fotograaf bepaal nie.
...
Ek wil net byvoeg dat ek selde sien dat iemand met ’n graad spanningsfiksie resenseer. Dalk in die geval van Deon Meyer, maar wat van Bettina Wyngaard en Erla Diedericks?
Ek sal in elk geval veel eerder wil lees wat Anschen of Francois Bekker oor die nuutste krimi te sê het, as enige persoon met ’n graad.
Lewer iemand soos Joan Hambidge wel kommentaar oor ’n boek in my leesgenre, soos in die geval van Quintus van der Merwe se Om te lewe, om te sterwe, plaas ek die boek hoog op my leeslys. Ek het nie ’n keuse nie. Ek is besig om dood te gaan en het nie genoeg tyd om alle boeke te lees nie, dus wil ek die beste eerste lees.
Uitdagings
Ek dink wel dat snotjantieties (ek hou regtig van die naam) literêre kritici moet uitdaag.
En hier is my eerste uitdaging: As jy nie wil hê ’n snotjantietie moet ’n mening oor die nuutste ontspanningsromans lewer nie, wil ons jóú resensie in Beeld en/of Rapport sien. In gewone taal sonder al die fênsie letterkundige terme. Moenie my probeer beïndruk met hoe hoog geleerd jy is nie, vertel my hoekom ek R320 aan die boek moet spandeer terwyl ek ’n brood en melk kon koop. Die meeste van ons lesers lees vir plesier en nie om te ontleed nie.
My tweede uitdaging: Ontspanningsromans verdien ’n regmatige plek op die tafel as dit by die groot literêre pryse kom en indien daar in letterkundige sirkels gevoel word dat krimi’s nie literêre waarde het nie, maak die speelveld gelyk en gebruik julle literêre mag om die standaard te lig.
My derde uitdaging: In plaas daarvan om ’n mening te skryf waarin ons bydrae misken word, help ons groei.
Tot voor die debat oor Crito op sosiale media ’n jaar gelede het ek nog nooit van hom/haar gehoor nie. Ek het nie eens geweet daar is iemand wat onder ’n skuilnaam ander mense se werke kritiseer nie. Maar ek het verlede Desember, sover as my data dit toegelaat het, teruggegaan en al sy/haar plasings gelees. Aantekeninge gemaak. Ek het daarna elke indruk wat ek nog geskryf het, herskryf. Geoefen om beter te wees as gister. Ek gaan dieselfde hierdie Desember doen.
Ek is nou wel ’n snotjantietie, maar kyk waar het ek begin en kyk hoe het ek op my eie gegroei. Ek is nie bang om te leer nie en werk hard. Ek skryf maklik vier tot vyf uur aan een indruk. Soms ’n paar dae.
Bemagtiging
Alhoewel dit mag voel of ek die bloginskrywing kritiseer, verwelkom ek dit.
Ek sou graag wou sien, indien die standaard van resensies gedaal het, dat Crito of die skrywer van hierdie blog ’n hand bysit en ywerige snotjantieties help om te groei. Hoekom bied die literêre kritici (Crito inkluis) nie ’n paar aanlyn kursusse aan om ons snotjantieties te help slyp nie?
Ons wil nie julle werk oorneem nie. Ons wil net ons invloed gebruik om ons gunstelingboeke te help bemark.
Iets om oor na te dink
My vriend Oupa Coetzee is ’n begaafde fotograaf. Hy’t my geleer dat die like-knoppie op Facebook nie sy waarde as fotograaf bepaal nie. Net so sal geen ware literêre skrywer bedreig voel as lesers wat vir ontspanning lees, sy poësie ’n ster minder gee as ’n ontspanningsfiksie nie. Sy waarde word tog bepaal deur die groot jaarlikse literêre pryse en nie ’n snotjantietie se vier-ster nie.
Ten slotte
Ek is ten gunste van Nini Bennett-Moll se bloginskrywing. Hoe meer ons hieroor praat, hoe meer word snotjantieties se waarde erken. Baie uitgewers verstaan die krag van ’n ywerige leser. Dit is tyd dat literêre kritici ons omhels. Jan Publiek is slim genoeg om die verskil te sien in egte literêre kritiek (ons verstaan dit meestal nie) en ’n aanbeveling oor ’n goeie boek.
Dit is beurtkrag, so ek gaan dit nie nou opsoek nie, maar David Morrell (google hom, asseblief, nie net as akademikus nie, maar ook wat hy as skrywer met die International Thriller Writers regkry) het gesê dit is lankal nie meer die inhoud wat saak maak nie, maar die bemarking.
Kommentaar
Ek is in die onbenydenswaardige posisie dat ek die spelers weerskante van die net in hierdie wedstryd goed ken, of mee kennisse is, maar wil graag 'n hou speel sonder om die spreekwoordelike snotjantietietennisbal te word.
As 'n niefiksieskrywer van slegs een boek, is ek seker nie akademies opgewasse genoeg om die span te haal nie, maar ek wil graag nietemin my bal slaan sonder om oor die grenslyn te trap!
Ek dink werklik met al die heen en weer gemoker op die baan, en aangesien ek meeste spelers ken wat speel, moét ek sê dat hierdie brief van Stefaans werklik die kishou slaan! Absoluut die spyker oppie kop moker!
Dis game set and match vir Stefaans!