
Prent: Mohamed Hassan op Pixabay
Die storm wat opnuut losgebars het oor die skryf van resensies het die afgelope week behoorlik opslae gemaak.
Resensente, lesers en uitgewers het uit alle oorde van hulle laat hoor. In ’n vuurwarm debat waar daar dikwels by mekaar verbygepraat is, het professore, doktore, gewone kokkedore en selfs die snotjantieties aan die bekgeveg deelgeneem.
Die vonk in die kruitvat wat die jongste debat ontketen het, was ’n akademiese artikel op Versindaba se webwerf deur die letterkundige en skrywer Nini Bennett-Moll.
Die artikel, met die opskrif “Wanneer bemarking paradeer as literêre kritiek”, het behoorlik die tonge los gehad.
Vir sommige is dit ’n aardbewing in ’n miershoop en vir ander ’n tydige waarskuwing dat Afrikaanse boeke “door die holen getrokken word”.
“Dit was ’n nes skerpioene wat Nini onwetend ontbloot het toe sy hierdie klip omrol. Nou gons dit behoorlik oraloor op Facebook en lesers, beïnvloeders, skrywers en literêre kritici voer met mening debat oor die verskynsel,” het haar man, Mellet Moll, wat self ’n letterkundige is, op Facebook geskryf.
Netwerk24 se boekredakteur, Jo Prins, meen die hele bekgeveg oor resensies is eintlik ’n aardbewing in ’n miershoop. Hy verwelkom egter die gesprek oor boeke en die taksering daarvan. “Die debat oor hoe boeke benader word, het maar ’n sikliese aard. Elke paar jaar klits verskeie mense mekaar op in ’n dun sousie … but the show must go on. In kort: Enige debat oor boeke is beter as die alternatief.”
Trisa Hugo, wat skrywer, resensent sowel as boekbeïnvloeder is, sê sy was effens oorbluf deur die artikel. Haar eerste gevoel was dat dit ’n klap in die gesig is vir ’n hele klomp individue, maar ook vir uitgewers en die boekeredakteurs van koerante.
As die artikel Hugo effens oorbluf het, dan het die reaksie op sosiale media die skrywer van die artikel totaal uit die veld geslaan. Bennett-Moll sê die kwetsende aanvalle op haar en haar man Mellet se karakters is verstommend, veral omdat hulle albei bloot gesonde leespraktyk wil bevorder.
Sy ontken ten sterkste dat sy gesuggereer het dat daar nie plek vir boekbeïnvloeders is nie. “Inteendeel. In die slotparagraaf bepleit ek die moontlikheid dat daar ruimte vir almal in die literêre landskap/boekbedryf mog wees.”
Dat daar ruimte vir beide letterkundige resensies en lesersindrukke is, is die meeste mense dit eens. Dit is die vraag wie bevoeg is om resensies te skryf en die aard daarvan wat die afgelope week die toetsborde oortyd laat werk het.
..........
Dat daar ruimte vir beide letterkundige resensies en lesersindrukke is, is die meeste mense dit eens. Dit is die vraag wie bevoeg is om resensies te skryf en die aard daarvan wat die afgelope week die toetsborde oortyd laat werk het.
............
Soos dikwels op sosiale media die geval is, het hierdie gesprek ook sy laagtepunte gehad waar die man gespeel is pleks van die bal. Soms vanuit ’n meerderwaardige hoogte en ander kere uit pure moedswilligheid.
Anchen Conradie is ’n bekende kommentator in die boekewêreld en verkies om na haarself as ’n “skrywende leser” te verwys eerder as ’n “beïnvloeder” of ’n bemarker van boeke. Sy sê sy het Bennett-Moll se artikel insiggewend gevind.
“Soos met enige debat is daar ongelukkig die neiging tot persoonlike aanvalle. Dis wat hier ook gebeur het. Dan vlieg rede by die deur uit en emosies neem oor. Dis jammer,” sê Conradie.
Hoewel Hugo van mening is dat die artikel nie genoeg ruimte laat vir die groot rol wat sosiale media in ’n veranderde boekbedryf kan speel nie, het sy ook groot bewondering vir Bennett-Moll. “Ek is al baie jare ’n leser van Versindaba en het groot bewondering vir Nini Bennett-Moll se werk,” sê sy.
Volgens Bennett-Moll is dit juis die onverdraagsaamheid van diegene wat háár daarvan beskuldig, wat hoogty vier. “Ek lees toenemend dat die rol van die literêre resensent, volgens hulle, uitgedien is en dat hulle lank reeds gereed is om die sogenaamde ivoortorings tot ’n val te bring. Ek ervaar dus toenemend dat hulle nie ’ruimte vir almal’ gun nie.”
Sy meen gesonde debat word amper sonder uitsondering in die wiele gery deur kantkiesery en aanhitsery, dikwels deur mense wat nie haar artikel gelees het nie en bloot maar agter ánder kommentators, of agter hulle boekbeïnvloeders, aanpraat.
“Die artikel word gruwelik verdraai en hierdie mense se argumentvoering kom neer op ’n bevestigingsvooroordeel om hulle persoonlike agendas te dien. Trouens, dit was opvallend hoe skrywers wat byvoorbeeld ’n negatiewe resensie van ’n literêre resensent ontvang het, hierdie gesprekvoering gebruik om hulle byltjies te slyp deur hulself te skaar by die gewilde populistiese reaksie.”
...............
Die groot verskille in hierdie debat lê ooglopend by die vraag wie bevoeg is om ’n resensie te skryf, en die doel en definisie van ’n resensie.
Nog iets waaroor daar nie konsensus is nie, is die sogenaamde demokratisering van literêre kritiek op sosiale media, waar byna elke mens ’n stem het, en die gevolge daarvan op die letterkunde.
..............
Die groot verskille in hierdie debat lê ooglopend by die vraag wie bevoeg is om ’n resensie te skryf, en die doel en definisie van ’n resensie.
Nog iets waaroor daar nie konsensus is nie, is die sogenaamde demokratisering van literêre kritiek op sosiale media, waar byna elke mens ’n stem het, en die gevolge daarvan op die letterkunde.
Hugo sê sy stem volmondig met Nini Bennett-Moll saam wanneer sy sê die literêre wêreld – of eerder: boekbedryf – het onherroeplik verander.
Waar sy lynreg met Bennett-Moll verskil, is met betrekking tot die mening dat Jan Publiek die lesersindrukke of boekbekendstellings wat die boekbeïnvloeders op multimediaplatforms deel, net soos resensies gretig opslurp as egte literêre kritiek.
“Jan Publiek wat die boeke koop wat die boekbedryf aan die gang hou, slurp dit nie op as ’egte literêre kritiek’ nie. Ons as San en Jan Publiek is nie opgelei om literêre kritiek te waardeer nie; ons wil weet wat is daar aan ’n boek wat gaan maak dat ek gaan kliek op Add to Cart, of Buy with one Click. Of nie.”
Conradie gee toe dat daar ’n gevaar bestaan dat uitgewers sogenaamde beïnvloeders kan misbruik om ook minder goeie boeke te bemark om verkope te bevorder en geld te maak.
Elkeen wat boeke van uitgewers ontvang, behoort volgens haar selfondersoek te doen waarom hulle dit doen. “As dit vir gewildheid of oor gratis boeke is, kan dit inderdaad gebeur dat hulle misbruik word. Die doel moet dus nie bemarking wees nie – alhoewel dit ’n gevolg mag wees – die doel moet wees om inligting te verskaf. Ek wil graag glo dat integriteit, of die gebrek daaraan, gou sigbaar word.”
.............
Conradie gee toe dat daar ’n gevaar bestaan dat uitgewers sogenaamde beïnvloeders kan misbruik om ook minder goeie boeke te bemark om verkope te bevorder en geld te maak.
Elkeen wat boeke van uitgewers ontvang, behoort volgens haar selfondersoek te doen waarom hulle dit doen. “As dit vir gewildheid of oor gratis boeke is, kan dit inderdaad gebeur dat hulle misbruik word. Die doel moet dus nie bemarking wees nie – alhoewel dit ’n gevolg mag wees – die doel moet wees om inligting te verskaf. Ek wil graag glo dat integriteit, of die gebrek daaraan, gou sigbaar word.”
..............
In die middel van hierdie debat is die uitgewers wat om den brode spook en spartel om soveel boeke as moontlik te verkoop. Om ’n uitgewery te bedryf is immers ’n besigheid. As daar nie genoeg boeke verkoop word nie, sneuwel die besigheid.
Boekresensies in die media en boekbesprekings op die internet of kunstefeeste is feitlik al platforms wat daar bestaan om hulle produkte uit te stal. Dit is dus te begrype dat uitgewers alles in hulle vermoë sal doen om ter wille van hulle besigheid, maar ook ter wille van die skrywers, van elke moontlike geleentheid sal gebruik maak om hulle boeke te bemark.
Johan Coetzee van Naledi meen Bennett-Moll se artikel was ’n baie positiewe en tydige artikel. “Kom ons hou egter ook in gedagte dat kreatiewe denkers mekaar oor en weer stimuleer. Die feit dat mense op die onderskeie platforms mét mekaar pleks van óór mekaar gesels is belangrik. Die openbare gesprek (NP Van Wyk Louw se oop gesprek) is tog die sleutel. Intellektualiteit behoort aan almal. Met of sonder spesifieke spesialiteitskwalifikasies. Ons kan tog by mekaar leer,” sê Coetzee.
Hy glo resensies is bedoel as leidraad vir alle lesers van ’n boek. “Sommiges soek na akademiese onderbou in ’n resensie en ander wil bloot ’n kundige verteerbare beoordeling lees.”
Die beïnvloeders speel volgens Coetzee ’n uitstekende rol in die bemarking en reklame van ’n boek. Dit vind normaalweg plaas op Facebook en bereik baie ander persone wat die dagbladresensies, die Sondagkoerant, LitNet of Versindaba en ander nie bereik nie.
“Hierdie persone is uit eie reg baie waardevol en dié met wie ons werk is uitstekende lesers. Hulle is almal objektief en word geheel en al nie deur ons vergoed nie. Ek wonder of daar ’n uitgewer is wat dit doen!”
Coetzee sê dit is nooit lekker vir ’n uitgewer wanneer daar ’n negatiewe resensie in die media verskyn oor ’n boek uit sy stal nie. Hy is al egter gewoond daaraan in sy lewe dat die dwarslat altyd moet hoër. “Dit het my laat hoër spring, maar ek moes op die harde manier leer.”
Oor die demokratisering van literêre kritiek op sosiale media is Coetzee baie positief. “Skrywers en ons as uitgewers is saam in hierdie ding. Indien daar leemtes is, moet ons nog harder dink, skryf en werk. Dit is juis Nini se punt, dink/hoop ek. Populisme is uit. Goeie en verbeterde standaard is die antwoord. Ek weet nie alles nie. Ek dink saam kan die skrywer, die taalversorgers en die uitgewer toenemend poog tot beter. In hierdie proses is die resensent onontbeerlik. Hierdie resensente sal op tone trap. Die ’influencers’ wat hulle storie ken se tone mag maar omkrul van lekkerkry.”
Coetzee sê hy verwelkom die debat en mense moenie bedreig voel nie. “Daar is plek ook vir ’influencers’. Objektiwiteit en integriteit is aan die orde.”
NB-uitgewers het op navraag gesê hulle verkies om nie betrokke te raak by die debat nie en wou geen kommentaar lewer nie.
Nini se man, Mellet, voel daar word nie genoegsaam onderskeid getref tussen lesersindrukke en resensies nie. Selfs LitNet se omskrywing by elke lesersindruk dat dit uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur is, dra volgens hom nie veel by tot ’n kritieke onderskeid nie. Hy glo dit bevestig die beskouing dat die demokratisering van literêre kritiek ’n realiteit geword het. Iets waaroor hy duidelik ongemaklik voel, omdat dit volgens hom tot die vervlakking van boekgesprekke kan lei, terwyl ander dit verwelkom.
Conradie glo ook dit is haas onmoontlik vir gewone lesers om tussen resensies en lesersindrukke te onderskei. “Dis nou soos die perd wat reeds weggehardloop het toe die boer die stal se deur toeklap. Dis dalk te laat, maar dit sou ideaal gewees het as almal daardie onderskeid kon maak. Sy glo ’n resensie moet baie meer as bloot ’n opsomming van die publikasie wees. Dit moet ten minste ’n kritiese evaluering en gemotiveerde gevolgtrekking bevat.
Die demokratisering van literêre meningsvorming is reeds ’n werklikheid, sê Conradie. “In ’n demokratiese bestel kan iemand kwalik verbied word om op ’n seepkis te klim. Ek het nie al die antwoorde nie, maar ek dink tog lesers se intelligensie en onderskeidingsvermoë moenie onderskat word nie. ’n Literêre resensent se aanslag verskil hemelsbreed van dié van ’n oppervlakkige skrywer.”
Hugo skryf gereeld resensies vir hoofstroom- Afrikaanse koerante en LitNet. Sy doen ook boekbemarking op verskillende platforms, onder andere haar en ’n vriendin, Analize Vljoen, se eie Facebook-blad Boekemakranka, waar hulle hul passie vir boeke en tegnologie met hulle volgelinge deel.
Sy erken ruiterlik dat sy nie ’n akademiese resensent met jare se letterkundige opleiding is nie. Soos baie ander mense glo sy egter nie dit behoort iemand te diskwalifiseer om ’n resensie te skryf nie. Daar is vir haar ’n reuse verskil tussen hoe sy ’n resensie aanpak en hoe sy ’n boek op sosiale media bemark.
“Vir sosiale media sal ek eerder daarop konsentreer om ’n foto te plaas wat op ’n kreatiewe manier die aandag op die boek plaas, kortliks my mening oor die boek gee, en dan die lokteks aanhaal en waar die boek te kry is. Vir ’n resensie vluglees ek dikwels eers weer deur vorige werk van die skrywer. Daarna lees ek aandagtig, terwyl ek notas maak soos ek vorder. As ek klaar gelees het, maak ek ’n paar oorkoepelende notas, lees weer terug op al die plekke waaroor ek aantekeninge gemaak het en begin dan skryf. As daar tyd is, vluglees ek weer deur die boek, laat dit ’n dag rus en slyp dit die volgende dag. Dis maar my persoonlike werkwyse.”
Vir haar is ’n goeie resensent iemand wat die genre verstaan en wyd gelees het daarin, wat ’n ingeligte opinie kan gee oor waar die boek in die groter opset van die skrywer se oeuvre en ander skrywers in dieselfde genre inpas. “Objektiewe denke help, maar ’n resensie is immers net die resensent se opinie. Belesenheid, kritiese denke en analitiese vermoë is noodsaaklik. Nie alle akademici is goeie resensente nie, en party van ons beste resensente is opgelei in ander vakgebiede. (Dink Jean Meiring.)”
Iemand wat resensente dikwels die harnas in jaag met sy vlymskerp kritiek op hulle resensies. is Crito van LitNet. Hy het verlede jaar erg onder skoot gekom omdat hy na boekbeïnvloeders verwys het “snotjantieties”.
“As snotjantietie op Facebook of Twitter ietsie oor die boek blerts, dan dra dit net soveel gewig as ’n resensie in ’n koerant of tydskrif of op LitNet. Hierdie resensies hoef nie deur die publikasie aangevra te word nie; mens skryf net en bied dit aan. Soms gee dit vir die redakteur van die betrokke boekewerf ’n oplossing vir ’n lastige situasie.”
Die duiwel was behoorlik los oor sy skrywe. “Is dit reg dat die gemaskerde Kavalier van Afrikaanse lettere anoniem dwarsklappe uitdeel?” het Sidney Gilroy in Vrye Weekblad teruggekap.
Crito stem volledig saam met Nini Bennett-Moll se artikel op Versindaba.
“Daar is vir my die voor die hand liggende oplossing vir die vrae wat sy in haar laaste paragraaf stel, wat afgestem is van die integriteit van literêre kritiek.
“Laat almal wat in die posisie is om literêre kritiek te lewer, LitNet oorval met resensies. Uit eie beweging, met boeke wat hulle self gekoop het. Hopelik uit die geledere van die akademici en skrywers self.
“Gebruik die koerante se meningskolomme om te reageer op twak, gemaskeer as resensies. Weerspreek brabbeldenke met kundige, vlymskerp insig.
“Maar as dinge moet voortgaan soos tans, sal daar eendag vir ons gesê word dat ons die mense was wat Afrikaanse boeke door die holen getrokken het,” meen Crito.
Bennett-Moll benadruk dat sy self nêrens na boekbeïnvloeders as “snotjantieties” verwys het nie. “Dis ’n woord wat Crito gebruik het in sy blog, “Ongevraagd”: Hy het die woord teruggetrek, en ek het in my artikel duidelik genoem dat die skeldnaam onnodig was.”
Nadat alles gesê of geskryf is, bly die vraag steeds wat dan die definisie van ’n resensent is en wie kwalifiseer om ’n boek te resenseer. Daaroor sal nog lank gedebatteer word.
“Horses for courses,” sê Jo Prins van Netwerk24. “Literêre kritiek oor ’n digbundel word anders benader as ’n skrywe oor die jongste krimi. Jy skiet nie met ’n haelgeweer wanneer een skerppunt-skoot die ding gaan doen nie.”
Prins sê hy het geen rigiede definisie van ’n goeie resensie nie. “Dis vloeibaar. Wees eerlik in jou benadering; kry ’n balans tussen lofprysinge en kritiek; en moet om godsnaam nie die leser verveel nie. Mense wat nie die medium in ag neem waarvoor hulle skryf nie, kry my dikwels onder. Soms moet jy iemand aan die hand (aan die oor?) neem en vra: Kom nou! ’n Paragraaf vir ’n koerant (wat in kolomme werk) kan nie een kwart van ’n A4-bladsy wees nie!”
Hy stem ook nie saam dat ’n resensent noodwendig ’n opgeleide literator met jare se studie in die lettere moet wees en ’n kwalifikasie in literatuurstudie moet hê nie.
“Vir my was een van die lekkerste resensies verlede jaar een wat deur ’n meubelhandelaar van Bellville geskryf is … Hoe daai ene nie ’n blip op die radar van die pryskomitee’s gemaak het nie, gaan my verstand te bowe. Die skrywer het nou wel ’n honneurs in joernalistiek, maar hy’s geen letterkundige nie.
“Daarteenoor: Daar is maar ’n paar mense wat iemand soos Breyten vir die koerantleser kan oopskryf (sonder om af te skryf), en daar is maar ’n paar mense wat weet wat om van ’n nuwe Deon Meyer te maak sonder om net ’n gushing fan boy/girl te wees. Gaan kyk gerus na die jongste resensie oor Leo deur Marni Bonthuys – dis uitstekend.”
Die sogenaamde boekbeïnvloeders werk volgens hom perfek op sosiale media en elders, maar dis nie waar die boekeblad van die Afrikaanse dagblaaie hom bevind nie. Ja, daar ís ’n Boeke24-blad op Facebook, maar dis meer ’n plek om te boer met wat reeds in druk verskyn het … ’n voertuig om FB-lesers na Netwerk24 te lok.
Vir ’n redakteur van ’n boekeblad om die regte boek by die regte resensent te kry is ’n bietjie soos ’n “wine pairing”, sê Prins. “Mens ontwikkel (oor jare) ’n sintuig daarvoor. Jy kry dit meestal reg … ander kere nie. Maar in die joernalistiek help dit nie om kleinserig te wees nie. Ook, enigiemand wat dit waag om pen op papier te sit (hetsy poësie of ’n ander genre): As jou velletjie dun is, is hierdie game nie vir jou nie.”
Prins sê hy het oor jare heen ’n korpus resensente opgebou. ’n Mens weet later wie kan wat takseer … watse pyle ’n spesifieke resensent in sy of haar koker het.
“Ek is ook gedurig op die uitkyk vir nuwe mense en dikwels ’ontwikkel’ ons resensente. Ons het al ’n hele paar resensiekursusse aangebied, maar die tyd is nou waarskynlik ryp vir nog ’n rondte.”
Skaars ’n kwart van al die boeke wat oor sy tafel kom, staan ’n kans om die blad te haal, weens ’n gebrek aan ruimte. “My uitdaging is gewoonlik om ’n lekker mix vir die leser aan te bied. Gewoonlik ’n hoofresensie wat meer ernstig is; twee of drie korter skrywes waar die resensent in sowat 500 woorde sy of haar draaie moet maak … dis nogal ’n kuns. Vir my is korter heel dikwels beter. Jy kan nie agter ’n klomp wollerige woorde wegkruip nie.”
.............
Een faktor wat mense dikwels vergeet, benewens die beperkte ruimte, is die beperkte beursie. As daar meer geld beskikbaar was, het die boekeblad waarskynlik heel anders daar uitgesien. Maar mens doen wat jy kan met wat jy het, sê Prins.
................
Een faktor wat mense dikwels vergeet, benewens die beperkte ruimte, is die beperkte beursie. As daar meer geld beskikbaar was, het die boekeblad waarskynlik heel anders daar uitgesien. Maar mens doen wat jy kan met wat jy het, sê Prins.
Dit pla hom geensins dat soveel nuwe mense (en nuwe mediums) die gesprek oor boeke betree het nie. “Maar moet ek my juis aan hulle steur? Wat ek al van literêre teorie vergeet het, het van daardie mense waarskynlik nog nie van gehoor nie. Maar so what? Dis ’n ander gehoor, dis ander mense.
“As ek byvoorbeeld ’n behoorlike koerant wil lees, gaan troll ek nie die Net vir gratis kopie nie, ek gaan koop iets soos ’n FT Weekend (my gunsteling- weeklikse koerant). Dieselfde geld letterkunde of wat ook al. As jy dink daar is fantastiese gesaghebbende mense op TikTok … good for you.”
Solank mense oor boeke praat, is hy gelukkig. Net solank die gratis PDF’s nie heen en weer vir ieder en elk op die groepies rondgestuur word nie.
Lees ook:
Op hol met Nini Bennett-Moll se heerlike artikel op Versindaba
Willie Burger oor boekresensies, beïnvloeders en die boekebedryf


Kommentaar
Ek lees maar meestal 'verstrooiingslektuur'. Was nou interessant om, na aanleiding van hierdie artikel, die doktor se resensie van Leo (waarvan ek onbewus was) te gaan soek en lees. Daar word skynbaar ook nie ingewikkelde letterkundige teorie in daardie bespreking betrek nie. So kon selfs ek dit toe ook volg.
Ek weet nie van enkele standbeeld wat opgerig is om 'n resensent te huldig nie.
Jy roer nou 'n saak aan wat my lekker aan die dink gesit het, Charl Adams. Die vraag wat ek mee stoei, voortvloeiend uit jou opmerking, is hoeveel van ons Afrikaanse skrywers is met standbeelde vereer? Sal interessant wees om te weet. Die mensdom hou maar meer van standbeelde van hulle politici. Cecil John Rhodes. Paul Kruger. Nelson Mandela. Verwoerd. Jan Smuts. As jy goed kan oorlog maak, soos generaal De Wet, dan is jou kanse ook belowend. Ek weet nie of De la Rey 'n standbeeld het nie. Maar darem 'n liedjie. Skrywers se oes is oor die algemeen veel skraler. Selfs De Klerk het sy eie standbeeld by die V & A. Daar staan hy saam met Tutu, Madiba en Albert Luthuli, maar geen standbeeld vir Nadine Gordimer en JM Coetzee nie, wat ook Nobelpryse gewen het.
Totius had 'n standbeeld in by die NWU, maar dit is verwyder. Ek wonder waar dit vandag is. Ons is as 'n nasie ook bitter lief vir ons teoloë. Prof (Pienk Piet) Du Plessis wat so vervolg was deur die kerk se beswaarde ooms, het darem ook 'n standbeeld in Stellenbosch. En Andrew Murray het een in Wellington.
Een van ons grootste skrywers was Sol Plaatje. In Kimberley word daar toe 'n laaifsaais standbeeld van hom opgerig. Die standbeeld het R 600 000 of so iets gekos. Dit was in 2008. Maar die familie was gladnie gelukkig nie. Die standbeeld beeld vir Plaatje uit met gebalde vuis. Dis totaal anachronisties, word gekla. Die gebalde vuis sou eers in die 1960's gewild word in die tyd van Afrika dekolonialisering, lank na Plaatje se heengaan. Uiteindelik is die standbeeld toe in 'n stoor gedruk (by die McGregor). Later was daar sprake dat die Sol Plaatje universiteit daardie einste standbeeld wil oorneem. Ek wonder of dit toe gebeur het.
Klomp politici se koppe is ook verskuif na monumentkoppie in Orania. Hertzog. Malan. Verwoerd. En andere.
In Bloemfontein het die Boere 'n hele woonbuurt na Seejay Langenhoven vernoem. Dit heet Langenhovenpark. Ek het altyd daar gaan shop by die Boeremark. Al Langenhovenpark se strate is ook na skrywers vernoem. Daar kry mens straatname soos Topsy Smith en Alba Bouwer.
Snotjan, my aanhaling is nie oorspronklik nie.
"Pay no attention to what the critics say. A statue has never been erected in honor of a critic." - Jean Sibelius
Ek hou van geen standbeeld nie. Vir wat 'n dooie mens eer met 'n beton-/staal-/koper-/bronsbeeld? Die Romeine het nie foto's gehad nie. Hulle het geliefdes onthou met beelde en afdrukke. 'n Foto of skilderstuk is vandag genoeg. Standbeelde streel net ego's en gaan dikwels meer oor die lewende oprigter(s) as die dooie.
Geldmors.