
Foto: https://www.litnet.co.za/steedsdink-met-litnet-akademies-willie-burger-deel-1-van-3/
Willie Burger skryf teen die agtergrond van die gesprek oor boekresensies, beïnvloeders en die boekebedryf.
Hoe lyk ’n goeie boekresensie?
Drie vervlegte sake staan vir my uit van ’n “goeie” boekresensie:
- dat enige waardeoordele sal berus op ’n deeglike ontleding en dat uitsprake gemotiveer word deur van ’n wye verskeidenheid argumente gebruik te maak (waaroor ek hier onder uitwei)
- dat waardeoordele nie noodwendig sentraal hoef te staan in resensies nie – boeke kan op ’n boeiende en stimulerende wyse bespreek word sonder dat waardeoordele uitgespel word
- dat in gedagte gehou word dat ’n resensie nie slegs oor die bekendstelling van ’n boek en die aanbeveel daarvan by lesers of waarskuwings daarteen gaan nie, maar dat ’n resensie ook tot interessante nadenke oor die wêreld en oor menslike bestaan kan lei.
- Evaluerende uitsprake
Wanneer mense aan resensies dink, is die eerste gedagte wat by baie van hulle opkom dat dit ’n evaluerende geskrif is – die resensie beveel ’n boek aan by lesers of waarsku hulle om dit liewer nie te koop/lees nie. Die eerste vraag oor ’n resensie is daarom vir lesers of dit ’n positiewe of ’n negatiewe resensie was. Dit is te verstane. Soos ’n mens vir jou vriende vertel van ’n goeie boek wat jy gelees het en by hulle aanbeveel om dit ook te lees, is ’n resensie volgens hierdie beskouing ook ’n soort aanbeveling (of afraai daarvan) om ’n boek te lees. Anders as die vriend se opgewonde vertelling kom die resensie egter van iemand wat jy (heel waarskynlik in die meeste gevalle) nie ken nie (en wat jou nie ken nie en dus nie weet waarvan jy hou nie), maar wie se oordeel jy om die een of ander rede vertrou (omdat dit ’n gepubliseerde mening is, ’n opinie wat deur ’n “kenner” uitgespreek word) – of nié vertrou nie (want jy het al agtergekom jou opinies verskil van hierdie spesifieke resensent se opvattings).
.............
Hoewel resensies ’n evaluerende funksie vervul en gevolglik ook bemarkingswaarde het – jy lees ’n uitasem lofsang oor ’n boek en wil dit dan ook lees – is evaluering nie die enigste funksie van resensies nie. Dit is ook nie noodwendig eens die waardevolste eienskap van resensies nie. Dit behoort moontlik te wees om ’n goeie resensie te lees waarin dalk ’n negatiewe waardeoordeel deur die resensent uitgespreek word en om nogtans nuuskierig te wees oor die boek júis omdat die resensie deeglik geskryf is en soveel ander interessante aspekte bevat.
.................
Hoewel resensies ’n evaluerende funksie vervul en gevolglik ook bemarkingswaarde het – jy lees ’n uitasem lofsang oor ’n boek en wil dit dan ook lees – is evaluering nie die enigste funksie van resensies nie. Dit is ook nie noodwendig eens die waardevolste eienskap van resensies nie. Dit behoort moontlik te wees om ’n goeie resensie te lees waarin dalk ’n negatiewe waardeoordeel deur die resensent uitgespreek word en om nogtans nuuskierig te wees oor die boek júis omdat die resensie deeglik geskryf is en soveel ander interessante aspekte bevat.
Enige resensie behoort op ’n deeglike en versigtige beskrywing en ontleding van die teks te berus. Dit klink soos ’n gemeenplaas, maar dit is sommer by die beskrywing van die boek waar so baie resensies reeds tekortskiet. ’n Goeie beskrywing kan nie bloot ’n kort verduideliking wees van waaroor die verhaal gaan of ’n aanduiding wees van die temas wat aangesny word nie. Te dikwels is die beskrywing byna uitsluitlik ’n kort opsomming van die “storie” (hopelik sonder om te veel te verklap) of ’n aanduiding van die temas, sonder dat enigsins op ’n sinvolle manier beskryf word wat die vertelinstansie is, uit wie se perspektief dit aangebied word, by watter vorm die teks aansluit en die implikasies daarvan uit te spel. Soms is daar nog opmerkings oor die vertelperspektief of die gebruik van die sonnetvorm of die aansluiting by die tragedie, sonder dat enigsins pogings aangewend word om te verduidelik wat die effek daarvan is of om na te dink wat die implikasies daarvan vir die verstaan van die teks is. Sulke besprekings maak my moedeloos, want dit reduseer die resensie tot ’n bekendstelling.
Eerder as so oppervlakkige beskrywing behoort ’n grondige ontleding ook tot gemotiveerde interpretasie te lei. En dit is eintlik die belangrikste deel van ’n goeie resensie. Ek weet dit is moeilik om in die kort ruimte (700 woorde) wat gewoonlik aan resensente gebied word, werklik tot deeglike analise en interpretasie te vorder – en ek besef alte goed dat dit ook die grootste tekortkoming in my eie resensies is – maar dit is die ideaal. En dis ook hier waar die resensente hulle eie nekke uitsteek – jy kan dalk ’n vrot interpretasie maak, heeltemal verkeerd wees en vrees dat jou kollegas vir jou gaan lag omdat jy so verkeerd geïnterpreteer het. En juis daarom is dit belangrik dat jy jou interpretasies so goed moontlik moet motiveer, jou argumente moet uitspel.
Heel dikwels is dit “veiliger” om bloot te sê dat die roman of digbundel aansluit by die huidige debatte oor gender of armoede of witheid of skuld, of postkoloniale debatte of objekgeoriënteerde ontologie. Opmerkings word gemaak dat hierdie temas in ’n teks ter sprake kom en daarmee volstaan sonder om ’n interpretasie te maak daaroor, om tot ’n gevolgtrekking te kom wat hierdie spesifieke boek se bydrae tot daardie debat is en hoedat dit op ’n besondere manier hier genuanseer word, en dit skep soms die indruk dat ’n boek goed is bloot omdat dit sekere huidige debatte in die literatuurteorie of die sosiale teorieë aansny. Hierdie soort resensies (en ek is ook dikwels skuldig daaraan) is eintlik ook weinig meer as ’n boekbekendstelling met enkele vlaggies wat daarin geplant is.
’n Goeie resensie berus op ’n deeglike ontleding van die hele teks en die konteks. Ja, ek weet die “New Criticism” se neiging om die teks as ’n sluitende geheel met ’n enkele betekenis te wil lees het ten regte in onguns verval. Maar om jou in te span om fyn te lees bly van sentrale belang: van woordkeuse tot sintaksis en klank tot struktuur en metafore en karakters en perspektief, aansluiting by genre en ontleding van digvorm bly die basis van alle goeie leespraktyke. Ek vind dikwels dat wanneer ek nie weet wat hoe om ’n boek te takseer nie, wanneer ek versigtiger na hierdie verskillende aspekte begin kyk en hulle beskryf, ek skielik insigte kry en begin verstaan waaroor dit gaan. Soms kan ’n enkele aanduiding van ’n aspek van die teks skielik tot ’n ander insig lei – en die proses behoort in die resensie gedeel te word. Soms is dit juis wanneer ’n resensie die aandag op een aspek fokus wat jy nie raakgesien het nie, dat jou hele interpretasie van en opinie oor die boek kan verander. (En so ’n “sleutel” is meer waardevol as ’n blote waardeoordeel wat uitgespreek word.)
Evaluerende uitsprake het bykans altyd te make met vergelyking. Die boek onder bespreking word met iets anders vergelyk. Daarom is waardeoordele relatief – dit plaas die boek wat bespreek word, in verhouding tot iets anders en dan word dit in ’n rangorde geplaas, beter of slegter as daardie iets waarmee dit vergelyk word. Die mees algemene gronde vir waardeoordele berus op die volgende vyf vergelykings:
1.1 Waardeoordele wat die boek met die “werklikheid” vergelyk
In resensies waarin die resensent die boek onder bespreking aan die “werklikheid” (maar wie se werklikheid?) meet, lees mens dikwels opmerkings soos: “Hierdie gedigte/verhale beeld die werklikheid so realisties uit”; of “Die gebeure is heeltemal onrealisties; mense onder sulke omstandighede sal nooit so optree nie”; of “Dit sê die dinge so raak en gee insig in hoe dit is om ’n vrou/gay/swart/wit/arm/ryk/gelowig/ongelowig/ens te wees”; of “Die navorsing vir die boek is deeglik gedoen en al die feite stem ooreen met die geskiedenis.” Of natuurlik kan aangedui word hoedat die bepaalde boek nié goed met “die werklikheid” vergelyk nie.
Hierdie soort beoordeling berus op die afspieëlingsargument en daaragter lê die verwagting dat ’n kunswerk die werklikheid moet uitbeeld. (Selfs as dit ’n fantasieverhaal is, behoort dit volgens hierdie argument ten minste sekere menslike ervarings – haat/liefde/vrees – “realisties” of geloofwaardig uit te beeld – soos wat mense dit regtig ervaar.) Die probleem met dié argument is dat die veronderstelde werklikheid waarmee dit vergelyk word, natuurlik nie heeltemal objektief gesien word nie. Die resensent vergeet maklik dat sy/haar werklikheid nie almal se werklikheid is nie. Sommige mense wil die teks eerder met ’n ideale werklikheid vergelyk – een waarin Afrikaners byvoorbeeld nie onchristelik of onwelvoeglik leef nie, onskuldig is aan apartheid, of waarin daar nie regtig gay mense is (of behoort te wees) nie.
Benewens die afspieëlingsargument geld soms ook ʼn betrokkenheidsargument. Dit kry ons wanneer die boek “betrokke” is by die sosiale, politieke, ekologiese of ander debatte van die dag. Ongelukkig word ’n boek dikwels in ’n resensie aangeprys bloot omdat dit by sulke debatte aansluit (dit gee byvoorbeeld stem aan die gemarginaliseerdes) sonder om krities te kyk na hóé die stem gegee word en wat die stem sê.
Agter die afspieëlingsargument en die betrokkenheidsargument skuil daar dikwels morele redenasies – die boek is goed wanneer dit aansluit by die resensent se morele waardes (of opvattings oor die werklikheid) en is swak as dit daarmee verskil.
1.2 Waardeoordele wat die boek met die leser vergelyk
Waardeoordele berus dikwels op die effek wat die teks op die leser het. Gewoonlik word geredeneer dat ’n teks wat ’n sterk emosionele reaksie ontlok, goed is, terwyl een wat die leser koud laat, ’n mislukking is. Hierdie emosionele waardeoordele word herken aan woorde soos “boeiend”, “roerend”, “onthutsend” of (hopelik nie!) “vervelig” in die resensie.
’n Ander manier waarop die boek aan die leser gemeet word, is deur die inspan van identifiseringsargumente, soos: “Ek kon glad nie met die karakters identifiseer nie”; of “Die karakter se optrede is so bekend, dis net soos ek is.” Soms kry mens ook didaktiese waardeoordele: “Ek kon soveel leer oor hierdie onbekende geskiedenis.”
1.3 Waardeoordele wat die boek met die outeur vergelyk
Waardeoordele word ook soms gegrond op ’n vergelyking met die outeur. Die teks is so “eerlik”, of die outeur het sy/haar doel bereik of nie bereik nie (volgens die resensent).
1.4 Waaroordele wat die boek met ander boeke vergelyk
Waardeoordele word ook gegrond op vergelykings met ander boeke. Eerstens kan die spesifieke teks gemeet word aan ander boeke deur dieselfde outeur: “Hierdie is Deon Meyer se beste tot nog toe”; of “Hierdie is ’n laagtepunt in Brink se oeuvre.” Tweedens kan die boek ook relatief tot ander soortgelyke boeke in Afrikaans of die wêreldletterkunde geplaas word. (En hieruit blyk die resensent se kundigheid of onkunde dikwels!)
Een van die belangrikste gevolge van vergelyking met ander boeke is dikwels dat ’n teks as “oorspronklik”, “vars” of “clichématig” beskou word. (Die vernuwingsargument staan veral sedert die modernisme dikwels op die voorgrond. Die teks kan maar baie ander dinge wees, solank dit net “vernuwend” is.) Hierdie soort waardeoordeel verg ’n kennis van die literatuurgeskiedenis, van literêre strominge en tegnieke, en dikwels blyk ’n resensent se onkunde wanneer iets as vernuwend beskryf word wat eintlik glad nie so nuut is nie.
Die maniere waarop met die tradisie en die konvensies omgegaan word, is belangrik – hoe sluit die teks aan by die konvensies en hoe verskil dit daarvan en wat is die effek daarvan?
1.5 Waardeoordele wat die boek “aan sigself” meet
’n Teks wat heg inmekaarsteek, waar al die onderafdelings bydra tot die geheel, waarin talle lae van betekenis skuil, word dikwels as beter beskou, terwyl ’n onsamehangende voorkoms waarin die funksionaliteit van alles nie aangedui kan word nie, as swakker beskou word.
1.6 Hoe meer argumente, hoe beter
’n Mens sou seker ook nog ander argumente kon identifiseer op grond waarvan waardeoordele uitgespreek word. Dit is nie die heel belangrikste nie. Die beste resensies spreek waardeoordele uit op grond van ’n verskeidenheid van hierdie argumente. Die algemene reël is: Aan hoe meer van hierdie argumente aandag gegee word in ’n resensie, hoe beter is die resensie (mits die oordele berus op interpretasies wat gemotiveerd aangebied word).
’n Resensie wat slegs een van hierdie argumente voer, doen waarskynlik afbreuk aan die teks wat geresenseer word. Is die feit dat ek met die karakters kon identifiseer, of nie, regtig al wat ek oor die teks kan sê? Of is die feit dat die boek nie my emosies opjaag nie, regtig die belangrikste wat ek oor die boek kan opmerk? Kan dit genoegsaam wees om aan te dui dat die boek aansluit by belangrike debatte, of dat dit vernuwend is binne die genre? Is iets goed bloot omdat dit nuut of anders is?
- Resensies waarin waardeoordele oor die teks nie sentraal staan nie.
Onder die invloed van ontwikkelings in die literatuurteorie is die idee dat evaluering die belangrikste doel van resensies is, veral sedert die 1960’s (en sedert die 1980’s in Afrikaans) uitgedaag. Heel dikwels is geredeneer dat die debat oor hoe goed of hoe sleg die teks is, nie belangrik is nie, want dit berus in ieder geval op smaak. En smaak is gevorm deur die gemeenskap, deur wat onderrig word, wat voorgeskryf word, wat bemark word, deur ’n tradisie. Daar bestaan immers geen ewige, vaste, objektiewe maatstawwe vir wat goed en wat sleg is wanneer dit oor kunswerke gaan nie. Boonop het dit al dikwels geblyk dat boeke wat op een stadium as swak geag is, later hoog aangeslaan word. Daarom is die taak van ’n resensie nie om bloot ’n subjektiewe waardeoordeel uit te spreek nie, maar om eerder te kyk wat die teks oor die samelewing waaruit dit verskyn, laat blyk.
Die teks word beskou as ’n samelewingsverskynsel en die samelewing kan ondersoek word deur te kyk hoe die publikasie van juis hierdie boek, op hierdie tyd, ’n rol speel om sekere samelewingsnorme te bevestig of om bepaalde opvattings oor die wêreld (ideologieë) of oor konsepte te naturaliseer – hoedat die boek byvoorbeeld lesers lei om te aanvaar dat hoe sekere sake beskou word, “natuurlik” is. Die teks word dan met ’n vraag benader wat nie noodwendig met die sentrale temas van die boek of die storielyn of die spanning of die effek van die boek op die leser in die eerste plek fokus nie, maar wat aandui hoe die konsep van man of vrou of swart of wit of kolonie of armoede in die teks self aan bod kom – sonder dat die outeur of uitgewers daarvan bewus is. Dit gaan daaroor om aan te toon hoedat die samelewingsbeskouings waarvan mense nie eens bewus is dat hulle dit het nie, in hierdie teks ingebed is. (Liefdesverhale met gelukkige eindes dui daarop dat die samelewing eintlik voorhou dat mense gelukkig kan wees alleen as hulle die ware liefde vind en in ’n heteroseksuele huwelik tree.)
Die teks, as ’n produk uit die samelewing, bevat spore van die samelewing wat onbewus daarin vasgelê is. Onbewuste, onuitgesproke vooroordele (oor ras, klas, ekonomie, politiek, kolonialisme, godsdiens, morele waardes) wat in die teks se taal of vorm ingebed is sonder dat die skrywer daarvan bewus is, word deur hierdie soort kritiese resensie blootgelê. Op sy heel negatiefste beskou, kan so resensie nooit as ’n positiewe aanbeveling van ’n boek beskou word nie, aangesien elke teks, soos Rita Felski dit gestel het, reeds by voorbaat as “skuldig” aan iets beskou word – ons moet net uitvind waaráán: rassisme, seksisme, aardverwarming, diskriminasie teenoor nielewende dinge of diere of kapitalisme.
Hierdie soort kritiek word dikwels uit ’n Marxistiese agtergrond gedoen, maar word nie slegs op die ontmaskering van ’n ekonomiese en politieke bestel gerig nie, maar die metodes van kritiese analise word ook ingespan om gendervooroordeel bloot te lê. Die dekonstruksie van tekste in resensies is vir baie mense te ingewikkeld of verval te veel in jargon, en baie mense wil eintlik net meer oor die teks self lees. Nietemin kan hierdie soort resensies in die hande van ’n goeie resensent besonder insiggewend wees. Dekonstruksie kan ’n kragtige manier wees om aan te toon hoe “feite” nie regtig feite is nie, maar genaturaliseerde, gekonstitueerde idees – daar kan aangetoon word hoe konsepte soos “man” of “vrou” of “wit” of “gay” of “god” gemaakte idees is wat in ’n sekere tyd en op ’n sekere plek ontstaan het en wat daarom ook weer kan verander. Op sy beste kan hierdie soort resensie mens bewus maak van hoe kennis en mag keersye is (mag is nodig om kennis te produseer en kennis gee mag) – en dat geen kennis sonder mag bestaan nie. Veral resensies oor populêre fiksie leen hulle daartoe dat hierdie soort ontledings gemaak word. Ongelukkig laat hierdie soort resensie dit dikwels lyk asof alle literatuur (veral genrefiksie) eintlik sleg is, omdat dit kop in een mus met die heersende ideologie is.
- Goeie resensies as stimulerende leesstof
Een belangrike aspek van resensies is dat dit nie alleen iets oor die boek sê nie, nie slegs ’n positiewe of negatiewe oordeel hoef uit te spreek nie, maar dat dit as ’n eie stukkie skryfwerk stimulerend behoort te wees, dat dit na aanleiding van die geresenseerde boek iets oor ons wêreld sal kwytraak wat dit selfs vir die persoon wat nooit die boek gaan of wil lees nie, betekenisvol kan maak om die resensie te lees.
...........
Een belangrike aspek van resensies is dat dit nie alleen iets oor die boek sê nie, nie slegs ’n positiewe of negatiewe oordeel hoef uit te spreek nie, maar dat dit as ’n eie stukkie skryfwerk stimulerend behoort te wees, dat dit na aanleiding van die geresenseerde boek iets oor ons wêreld sal kwytraak wat dit selfs vir die persoon wat nooit die boek gaan of wil lees nie, betekenisvol kan maak om die resensie te lees.
............
Marcel Proust het opgemerk dat boeke die “gevolgtrekkings” is waartoe die outeurs daarvan gekom het, maar dat boeke vir die lesers slegs ’n beginpunt vir hulle eie gedagtes moet wees, dat dit die leser in staat moet stel om op ’n ander manier oor die wêreld te dink, om aspekte van menslike bestaan raak te sien waarvan hulle voor hierdie boek nie bewus was nie, dat die ervaring van die boek, soos enige regtelewe-ervaring, wanneer jy daaroor nadink, iets nuuts gebring het. Natuurlik is dit nie die geval met elke boek wat mens lees nie – soos mens ook maar baie ervarings het wat nie jou lewe verander nie – maar wanneer ’n resensie iets beskryf van ’n ervaring wat ander moontlike maniere van verstaan en beleef van die wêreld oopmaak – selfs oor ’n boek wat ek glad nie gaan lees nie – is dit interessant. Dit is baie soos ’n reisbeskrywing oor ’n plek waarvan ek weet dat ek dit nooit sal besoek nie, maar die reisbeskrywing word self ’n ervaring, bied insigte, stimuleer my eie nadenke. Ek dink hierdie is een van die aspekte waarna ek sou wou streef in my resensies, maar waar ek heeltemal tekortskiet.
Behoort alle boeke boekresensies te ontvang – liefdesromans, kookboeke, kinderboeke, wetenskapfiksie en speurverhale? Letterkundige werke. Digbundels. Reekse. Alles?
Alle boeke kan op die een of ander manier geresenseer word. Populêre fiksie kan dikwels op baie interessante maniere gelees word – veral vanuit die kritiese tradisie. Maar dan is dit eerder breër besprekings as wat dit aan die verwagtings voldoen van mense wat aangemoedig word om boeke te lees.
Wat die rol is van die beïnvloeder op die sosiale media
Die vereistes vir ’n goeie, insiggewende beskouing van ’n boek soos ek dit hier bo uiteengesit het, hoef nie te verander as dit in verskillende media voorkom nie. Baie besprekings op persoonlike blogs kan uitstekend wees en aan talle aspekte van die boeke aandag gee, op goed gemotiveerde stellings berus en ’n billike oordeel vel.
............
Die vereistes vir ’n goeie, insiggewende beskouing van ’n boek soos ek dit hier bo uiteengesit het, hoef nie te verander as dit in verskillende media voorkom nie. Baie besprekings op persoonlike blogs kan uitstekend wees en aan talle aspekte van die boeke aandag gee, op goed gemotiveerde stellings berus en ’n billike oordeel vel.
................
Waar die medium wel ’n beduidende rol speel, is ten opsigte van die ruimtebeperking. Kan mens werklik in ’n minuut lange TikTok-video laat reg geskied aan baie van die aspekte wat genoem word, of berus dit dan net op ’n soort emosionele appèl?
Ek besef maar alte goed dat opinies vinnig gevorm kan word, maar oorwoë menings neem tyd en ruimte in beslag. Al is die tyd waarin ons leef geneig om op die haastige, vinnige oordeel te vertrou, om aan die eenvoudige, ongenuanseerde idee voorkeur te gee bo ’n meer besinnende en gemengde oordeel, bly ’n goeie resensie een wat aan meer aspekte aandag gee, wat berus op ’n versigtiger lees, op ’n wyer basis. Anders is dit maar bloot dieselfde as haastige subjektiewe opinies wat ek gou teenoor my vriende lug.
Hoe gemaak met resensies van boeke wat die persoon wat dit geresenseer het, direk van die uitgewer ontvang het?
Dit is ’n ingewikkelde vraagstuk. Die probleem is dat sekere uitgewers met groot begrotings dit kan bekostig om boeke te bemark, om reklameveldtogte te loods en boeke na elke moontlike resensent en publikasie te stuur. Dikwels het kleiner uitgewers nie dieselfde moontlikhede nie, en die speelveld is dus ongelyk. Die een manier waarop ’n onbekende skrywer of uitgewer kan probeer om onder die wyer publiek se aandag te kom, is as daar resensies van hulle boeke verskyn. En omdat boekeblaaie dikwels beperkte ruimte het, gee hulle voorkeur aan die bekende skrywers, die reeds gevestigde uitgewers, gewoon omdat dit reeds as belangrik geag word. En die moedeloosheid wat dit by kleiner uitgewerye tot gevolg het, of by onbekende skrywers, is verstaanbaar. En dat dit dan kan lei tot pogings om mense te betaal om resensies te skryf om ruimte af te staan aan resensies, kan mens ook verstaan.
Mens moet ook onthou dat die koerante en sommige uitgewers aan dieselfde maatskappye behoort. Ek het nog nooit ervaar dat van my vereis word om positief oor ’n sekere uitgewer se boeke te skryf omdat ek in een van die maatskappy se koerante daaroor skryf nie. Maar ’n mens kan jou voorstel dat so iets moontlik sou wees, en sekere Amerikaanse resensente het al daaroor gekla.
Self bly ek maar ongemaklik met die idee dat ek betaling van die skrywer of die uitgewer sou ontvang om hulle boek te resenseer. Ek het die enkele keer wat ’n digter/vertaler my daarvoor gevra het, geweier. My pa het ons kleintyd gewaarsku: “Wiens brood men eet diens woord men spreekt” (of soos ’n variasie lui: “Wiens dakt men dekt diens gat men lekt”).
Ek dink dat die vergoeding wat resensente ontvang, nie heeltemal dieselfde is nie. In die eerste plek is dit glad nie uit ’n finansiële oogpunt die moeite werd om resensies te skryf nie – om ’n roman of digbundel werklik deeglik te lees, waarskynlik twee keer voor jy ’n deeglike resensie kan skryf, neem ure en ure in beslag, ure wat mens saans en tussen jou werk deur op die trein moet afknyp en dit daarom soms weke neem om ’n boek te lees. En dan moet jy nog jou eie woorde daaroor formuleer, jou eie gedagtes vorm, en dit is iets wat my lank neem (ek is dalk maar stadig) – maklik nog vier tot agt ure se skryfwerk. En om dan ’n vergoeding van R1 000 of R2 000 daarvoor te ontvang, maak nie finansiële sin nie. Maar tweedens is die vergoeding deur ’n koerant of tydskrif soortgelyk aan die vergoeding van die joernaliste wat vir daardie publikasies skryf. Die resensente word vergoed vir die inhoud wat gegenereer word, nie vir die bemarking wat hulle doen vir die boek nie. Om dus betaling aangebied te word om ’n boek te bemark, sou vir my ’n bietjie moeilik wees in ’n algemene publikasie.
...........
As mens betaling ontvang om bemarking te doen, dink ek jy sal dit moet uitspel.
...............
As mens betaling ontvang om bemarking te doen, dink ek jy sal dit moet uitspel. En as mens dan negatief oordeel oor ’n boek, sal die resensie waarskynlik nie gepubliseer word nie.
Lees ook:
SteedsDink met LitNet Akademies: Willie Burger (deel 3 van 3)
SteedsDink met LitNet Akademies: Willie Burger (deel 2 van 3)
SteedsDink met LitNet Akademies: Willie Burger (deel 1 van 3)
Op hol met Nini Bennett-Moll se heerlike artikel op Versindaba

