Kleinboer (1956–)

  • 0

Foto van Kleinboer (bo): uit ’n dokumentêre film wat oor hom gemaak is en foto van Kleinboer (fokusprent): verskaf

Sêgoed van Kleinboer

In 2004: “Ek is nou 48 jaar oud. Ek voel soos iemand van 30. Ek wil nie wanneer ek 68 jaar oud is, spyt wees oor dinge wat ek sou gedoen het en nooit by uitgekom het nie. Die lewe is kort.” (Die Burger, 1 Oktober 2004)

“Een of ander instink lei my na bordele. Ek sê nie dis moreel reg nie, maar daar is tog iets suiwer en basies omtrent die instink.”

“Die boek is nie geskryf met ’n boodskap in die agterkop (of selfs voorkop) nie. Dit wys bloot mens kan steeds Afrikaans wees en tussen ander kultuurgroepe woon en dit geniet.”

Aan Fred de Vries of hy eensaam is: “I admit that I am a bit of a loner. [B]ut there’s a difference between loneliness and being a loner. Maybe it has to do with living in a world where you’re not part of the social scene and where the contact with people is superficial. But I don’t think you have to feel sorry for the guy in the book.” (This Day, 22 Januarie 2004)

Tien jaar ná demokrasie: “Die townships het na die stad toe beweeg, nie dat ek omgee nie, al is my huis naby die stad. My woonbuurt is nou so ’n halwe make-shift township waar mense van oral oor Afrika bymekaargekom het. Eintlik is dit kulturele chaos en vir ’n skrywer skep dit baie dinge om waar te neem. Ek woon in ’n kulturele kookpot waar baie dinge gebeur.” (Vrouekeur, 13 Maart 2004)

“Ek kan net drie dinge goed doen. Skryf en n**i en ’n bad se rand deeglik was met Handy Andy. Eendag as ek Viagra nodig het, sal ek ’n bietjie sielsondersoek doen. Ek is nie eintlik ’n diep mens nie.”

Kan hy oor enigiets anders as seks skryf? “Die dag as my seksdrang weg is, sal ek dalk oor berge en tuine en goed skryf, soos Hennie Aucamp. Maar voorlopig is dit nog ... drank, seks, musiek en so aan. Al is my hi-fi se speakers geblaas en die amp gesteel. Ons het nou net ’n radio’tjie wat ons tussen drie kamers in die huis ronddra.” (Rapport, 20 Junie 2004)

“Iewers in my is daar iets wat die establishment so ’n bietjie in sy sokkies wil skud. Ek ontken dit nie. Ek wil hulle ’n bietjie ontstel, al daardie groot Afrikaners. Anton-f*kken-Rupert. Rudolf-f*kken-Straeuli.” (Rapport, 20 Junie 2004)

Wat is dringender? “Die dráng om iets te doen. Om met passie te leef. Om te skryf. In ’n kroeg het ’n ou gevra waar kry jy al hierdie idees, en toe sê ek jy moet net genoeg rondn**i. Ek kan net oor mense en dinge skryf wat ek self beleef het. Ek het iets nodig om my aan te por, soos ’n koei deur ’n drukgang. Vir my is dit gevaar. En seks. Met net rubber tussen my en die gevaar.” (Rapport, 20 Junie 2004)

“Die enigste aanvaarding wat ek soek, is as mense vir my sê: dis goed geskryf.” (Rapport, 20 Junie 2004)

“I have a feeling of accomplishment. I always wanted to be more infamous than famous. A bit like a punk rocker – like a Sex Pistol.” (This Day, 22 Januarie 2004)

“My stories moet op die werklikheid gegrond wees. Dit moet dinge wees wat ek self beleef het. Ek is nie een van daardie ouens wat hom in ’n donker kamer kan toesluit en alleen ’n storie kan sit en uitpomp nie. Ek het nie daardie soort verbeelding nie.” (Rapport, 25 Januarie 2004)

Oor sy werk as subredakteur by Farmer’s Weekly: “Voorheen het ek met ’n viltpen teen geen betaling die graffiti agterop toiletdeure in hoerhuise gekorrigeer. Nou word ek betaal om spelfoute reg te maak. Is dit nie wonderlik nie?” (Rapport, 25 Januarie 2004)

“As ek my hele lewe nog net in woonstelle gebly het, sou die boeke wat ek voortgebring het, baie anders gelyk het, of ek sou dalk niks gepubliseer het nie. ’n Huis is geanker in die aarde, jy voel jou wortels, jy het materiaal om oor te skryf.”(De Kat, Herfs 2004)

Kleinboer sê aan Pieter Malan: “In my lewe het ek albei wêrelde nodig: die intellektuele Westerse boekewêreld waarin ek grootgeword het en die gemaklike, ontspanne wêreld van swart Yeoville. Ek kan nie sonder een van hulle klaarkom nie. As ek in die een is, verlang ek na die ander.” (Rapport, 25 Januarie 2004)

Sien hy homself as ’n gewoonteverneuker, wou Pauli van Wyk weet: “Seker. Wel, ek was. Maar ek doen dit amper nooit meer nie. Daar is deesdae meer skuldgevoelens en issues as ek so iets aangevang het. Ek het net nie meer die behoefte nie. Ek het wel nog fantasieë. As ’n man nie ander vroue begeer nie, is hy nie normaal nie. Die beteken wel nie jy moet dit uitleef nie.” (Beeld, 16 November 2012)

“As ek my hele lewe nog net in woonstelle gebly het, sou die boeke wat ek voortgebring het, baie anders gelyk het, of ek sou dalk niks gepubliseer het nie. ’n Huis is geanker in die aarde, jy voel jou wortels, jy het materiaal om oor te skryf.” (LitNet, 27 Oktober 2017)

Waarom skryf hy? “Want die mond kan nie backspace nie. Wat gesê is, is gesê. Met die pen is daar darem die moontlikheid om iets beter te formuleer voor jou woorde ander bereik. Ek skryf ook om ’n wyer gehoor te bereik. Ek kan byvoorbeeld op Facebook skryf ek is so lief vir my vrou soos die koronavirus vir longe, en hoop mense kan daarmee identifiseer of daaroor lag, terwyl my vrou self dalk sal frons as ek dit sê (sy is nie op Facebook nie, maar gebruik wel WhatsApp). Ek is ook gek oor woordspel en met die geskrewe woord werk dit dikwels beter. [...] Skryf kan moeisaam wees, ’n pyn in die gat. Ek tik wel elke oggend moeiteloos oor koffie ellelange WhatsApp-boodskappe aan my tweelingbroer; die woorde vloei eenvoudig by my vingers uit. Ek sou hom nie elke oggend met sulke lang stories kon bel nie.” (LitNet, 19 Junie 2020) 

Kleinboer woon sedert 1990, toe hy sy huis daar gekoop het, in Yeoville, Johannesburg. Is hy steeds gelukkig daar of sal hy ook koers in ’n meer voorstedelike rigting kies? “Die geraas van die taxi’s voor my venster pla my en daar is nou drie keer soveel mense as in 1990, toe ek my huis gekoop het. Maar daar is nog steeds ’n happy vibe hier. Ek is heel gelukkig hier. Bedags voel ek ook heel veilig, maar as ek nie die Lotto wen nie, sal ek seker maar eendag hier doodgaan.” (Taalgenoot, Lente 2017)

Gebore en getoë

Kleinboer is as Fanie de Villiers in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore. Hy is een van ’n tweeling – sy broer is Manie. Sy pa was ’n wiskunde-onderwyser. Hy vertel aan Hanlie Retief (Rapport, 20 Junie 2004) dat sy pa soos Hitler was. “Hoef jou nie eens te klap nie. Sy stem en houding was oorgenoeg.” Oor sy ma, toe sy gelewe het, “maar sy’s in Huisgenoot en die Bybel”. Sy ma was ’n deeltydse onderwyser wat later ’n huisvrou geword het. Sy is in 2004 oorlede.

Hy word groot in ’n Calvinistiese omgewing in Kemptonpark en Benoni, in Zesfontein aan die Oos-Rand, waar daar altyd vir hulle gesê is seks buite die huwelik is taboe.

Op LitNet (19 April 2011) vertel Kleinboer hoe hy sy hart op boeke verloor het: “My ma was ’n onderwyseres wat huisvrou geword het. Ek kon die ABC opsê voor ek skool toe is. 

“My pa (ook ’n onderwyser) het ’n groot boekrak gehad. Dit was meestal ligte leesstof. My pa was ’n lid van die Klub 707-Boekklub en het elke maand ’n boek in die posbus gekry. Spioenasie-rillers, dikwels in vertaalde Afrikaans. Maar dit het gehelp om die leesaktiwiteit vroeg op my af te stempel. Daar was darem ook ’n AG Visser en ’n Langenhoven uit my ouers se studentedae in die boekrak. 

“My ma het my en my tweelingbroer vroeg by die biblioteek laat aansluit. Eenkeer tydens ’n vakansie het sy gesê: ‘Julle draf ’n voetpaadjie uit biblioteek toe.’ Ek het veral CF Beyers-Boshoff en Elmar Steyn se boeke opgeslurp. Daar was ook elke maand ’n nuwe Reader’s Digest en weekliks ’n Huisgenoot.”

Kleinboer matrikuleer in 1973. Tydens ’n Geloftedag-herdenking in matriek “het ek skielik die futiliteit van alles besef. Maar ek kon dit nie uitdruk nie. Net geweet.” (Rapport, 20 Junie 2004) 

Ná die publikasie van Kleinboer se Hierdie huis in 2017 stel Herman Lategan dit aan Kleinboer dat van die roerendste tonele in die boek is waar daar sterftes voorkom. Lategan gaan voort: “Die verhaal vat jou hier, dan daar, en alles is lekker jollie (op die oppervlak), en skielik slaan die woorde en tonele jou wind uit. Dit bring my by die swart hond en ennui. So tussendeur al die katelkaskenades en nagvlinders is daar ’n ysige mineurtoon. Het jy altyd hierdie hartseer in jou gedra, al van kleintyd af?”

As antwoord neem Kleinboer vir Lategan terug na sy kinderjare: “My vertroebelde jeug is ingelei in die Van der Horst-koshuis op Wolmaransstad in 1968, toe ek 12 was. My pa is vanaf Kemptonpark na plat Wolmaransstad verplaas vir die laaste ses maande van daai jaar om daar wiskunde te gee. Ek en my tweelingbroer was in standerd 5 (deesdae graad 7), maar is in die hoërskoolkoshuis slaapplek gegee terwyl ons ouers in ’n kamer in die onderwyserskwartiere gebly het. In die koshuis is ek en my broer vir die eerste keer oor seks ingelig danksy wêreldwyse hoërskoolseuns. Die donker vermoede soos ’n skaduwolk oor my gemoed het my een naweek getref toe al die koshuisseuns weg was na hulle ouerhuise. 

“Dit was laatwinter en ’n mistroostige Wes-Transvaalse wind het gewaai. Ek was alleen op die trappe wat na die tweede verdieping van die koshuis lei. Ek het daar gestaan en deur ’n groot venster op ’n binnehof afgekyk. Daar was nie ’n siel in sig nie. My tweelingbroer was dalk in die badkamer of by ons ouers in hulle kamer. Ek en hy het reeds begin katkiseer. Ek het gestaan en dink aan die hardeband-katkisasieboek met die growwe grys omslag en die ewigheidsleringe en verdoemenisse wat daarin gepredik word. Die wind het meteens ’n klomp droë blare op die sementblad van die verlate binnehof saamgekolk en ek is oorweldig deur gevoelens van verlange, verlies en eensaamheid en ’n nuwe wete dat die lewe nie so maklik en sorgvry gaan wees as wat dit tot dusver gelyk het nie. Vir die res van my jeugjare, en eintlik nog tot diep in my twintigs, sou ek soms verskrik in die donker nag regop sit uit ’n nagmerrie of gewek word deur ’n donderslag en bevrees dink dat die Oordeel op ons is en dat ek geweeg en te lig bevind gaan word en in die ewige hellevuur gaan brand.”

Oor sy mooiste herinneringe aan sy kinderjare vertel Kleinboer aan Herman Lategan: “Ek was ses of sewe jaar oud toe ek deur ’n onbeboude erf gestap het onderweg huis toe ná skool. Ek het ’n stowwerige kruik in die bosse gesien en opgetel. ’n Lieflike wit kruik waarop blompatrone geverf was. Ek was erg in my noppies daarmee en het dit tuis vir my ma as ’n geskenk gegee. Sy spoel dit toe onder ’n kraan skoon en tap water daarin, maar ag, toe spuit water deur ’n gaatjie soos ’n engeltjie wat piepie. My pa het so lekker gelag dat die gaatjie vir my nie eens ’n teleurstelling was nie. Ek kan nie onthou of my ma die kruik dadelik weggegooi het nie – ek hoop nie so nie.

“En dan is daar die minirok en bene van juffrou Gerber, ons blonde kunsonderwyseres in standerd 6. Van die seuns het bespiegel of hulle skelmpies spieëltjies bo-op hulle skoene moet plak sodat hulle die juffrou beter kan beskou wanneer sy tussen die skoolbanke deur loop.”

Verdere studie en werk

Kleinboer studeer eers BSc aan die Universiteit van Pretoria en gradueer uiteindelik as rekenaarprogrammeerder. Hy het glad nie in rugby belanggestel nie en het ook geen aanleg vir dans gehad nie, met die gevolg dat hy ’n totale buitestander op universiteit was.

Sy belangstelling in poësie is aangewakker toe hy Breyten Breytenbach ontdek het, asook deur die radioprogram Klankpaljas.

In 1977 word sy hond, waarvoor hy baie lief was, doodgery. Hy het ’n klein bruin dagboekie gehad en het al sy gevoelens oor sy hond in die boekie begin neerskryf. Dit is hoe hy begin skryf het.

Hy begin in die rekenaarswese werk – vir 23 jaar – by die WNNR, die Reserwebank, Eskom, Brouerye en Hewlett-Packard. Hy beskryf die werk as sieldodend – reguit uit die televisiereeks The office, met die humor, eindelose koppies koffie en ’n lakse houding. By Hewlett-Packard gebruik Kleinboer die voordele om eindelose e-posse aan sy tweelingbroer, Johan van Wyk en Koos Kombuis oor sy seksuele bedrywighede te skryf. Hulle moedig hom aan om die ervaringe in ’n boek te beskryf. 

Sy skuilnaam Kleinboer is nie uitgedink toe hy besluit het om Kontrei te skryf nie, maar kom uit die tyd toe hy vir Ons Klyntji, Koos Kombuis se tydskrif, geskryf het. Hy het met rissies in die agterplaas van sy huis geboer – vandaar die naam. (Die Burger, 10 Januarie 2004)

In 1999 bedank hy by Hewlett-Packard, bank sy pensioengeld en begin aan sy eerste boek, Kontrei, werk. Hy voltooi dit in 2001, maar om ’n uitgewer te kry, was nie maklik nie. Hy ontvang etlike briewe wat hom meedeel dat sy manuskrip afgekeur is. Uiteindelik is dit deur Praag, die uitgewery van die Afrikaanse ekstremis Dan Roodt, uitgegee.

Kleinboer het later subredakteur by ’n Engelse koerant geword en vertel aan Hendrik Hancke in Taalgenoot van Lente 2017 as volg: “Agt jaar werk ek hier en verlede jaar (2016) word ek toe van permanent na vryskut oorgeskuif. My kontrak sou ook net van 1 Julie tot 1 Julie elke jaar verleng word. En toe hoor ek ’n maand gelede [dieselfde tyd as die bekendstelling van sy boek] dit maak einde van hierdie jaar klaar. My direkte baas was net so geskok soos ek.

“Die rede vir my ontslag is die pap gekoude toffie van regstellende aksie. Ja, ek is ’n wit, Afrikaanse man. En ja, ek is 61 jaar oud. Maar wat hulle nie verstaan nie, is dat ek ’n wit, Afrikaanse man is wat na ’n swart gesin kyk. Ek het ’n lewensmaat, Nelly, en is ’n oupa. Ek help my oorlede vrou se familie waar ek kan. My skoonma is ’n pompjoggie – ek dink sy is twee jaar jonger as ek – wat haar werk verloor het. Ek stuur elke maand geld [KwaZulu-]Natal toe. Ek betaal die sogenaamde black tax. Maar vir hierdie beleid is ek net ’n wit Afrikanerman van 61.” 

Volgens Praag bied Kontrei ’n “ryk en onthutsende kennismaking met die werklikheid. Dit neem ons op ongekarteerde paaie in Afrikaans, na die nihilistiese wêreld van ’n seksmal hoerloper wat as blanke die geselskap van swart prostitute uit Mosambiek, Swaziland, Zambië en elders verkies. Dit is ’n meedoënlose relaas oor een man se behoefte aan gereelde seks in die bordele van Hillbrow en omstreke, maar word onderbreek deur mymerende herinneringe aan sy tipies Afrikaanse kinderdae, asook die mooiste versameling Bybelversies wat enigeen nog ooit uitgesoek het. Die leser sal maar self moet besluit of hierdie debuutroman satire, bedekte outobiografie of sosiale kommentaar is.” (Rapport, 28 Desember 2003)

Die verteller in Kontrei woon in die Johannesburgse buurt Yeoville saam met sy Zoeloe-minnares, Lungi, en haar seun, Jomo. Francois Smith (Die Burger, 22 Maart 2004) skryf: “Hy het haar ’n wintersnag op straat opgelaai en ’n ruk daarna het sy by hom ingetrek ‘met haar tweejarige kind, ’n ysterpot, ’n dosyn bruin koppies, ’n suikerpot, ’n melkbeker, die klere aan haar lyf, twee koffers en ’n virus’. Hy werk by ’n rekenaarmaatskappy, en ná werk drink hy ’n paar biere, betaal ’n prostituut R80,00, gaan wag daarna op sy bed vir Lungi terwyl ’n hond straatop onophoudelik blaf. Dit is ’n soort boer-in-beton-verhaal, sielig, en veral aanvanklik gryp die hunkering na ’n gelukkige jeugtyd aan die hart.”

Die roman vertel van die verteller se alledaagse Yeovillese bestaan, saam met Lungi en Jomo. Maar, meen Jean Meiring (Beeld, 31 Desember 2007), “alledaags” is waarskynlik nie die mees juiste tipering van die lewe wat in Kontrei beslag kry nie, want die grootste gedeelte van die boek is aan die verteller se gereelde, kompulsiewe, en adrenaliengedrewe besoeke aan bordele gewy, bordele waarin swart prostitute om den brode die nodige doen. Kleinboer vertel aan Meiring: “Maar weet jy, wit prostitute het sulke lang, stroewe gesigte, is heeltemal meganies, terwyl swartes baie keer die seks geniet; hulle is ’n sisterhood; in die swart bordele kuier die mense lekker jollie in die kroeg saam.”

André P Brink (Insig, Maart 2004) beskryf die roman as ’n “befokte boek” en ook as een van die genoeglikste lese in ’n lang ruk. “Maar bowenal ’n boek van paradokse: op die oog af ’n n**ikatalogus, maar daarágter ’n verbasend behoudende relaas. [...] Hoer-en-rumoer is skering en inslag van sy bestaan. [Maar] die werkwaardige is dat die hoofindruk nie soseer ‘losbandigheid’ as beheersing is nie. Beheersing allereers van taal en vertelling: maar ook, en selfs, en dalk juis, in ’n morele dimensie. [...] Want diep in sy binneste is onse verteller ’n baie behoudende man, gedrewe deur ’n drang om die wêreld skoon te hou deur onkruid en vullis uit te roei, taalfoute in graffiti te korrigeer. Hy hou van honde, is gesteld op sagtheid by ’n vrou en nogal bedagsaam in sy omgang met hoere, braai sy vleisie gereeld, kyk sport op TV; en hoe seer hy ook al aan homself mag dink as ’n ‘verloopte Boer’, bly hy in sy hart getrou (al is dit soms ironies) aan die stel bourgeois-waardes wat hy uit sy jeug saamgedra het. [...] Al wat hom werklik ‘anders’ maak (of dalk is hy maar net eerliker as ander?), is sy verknogtheid aan swart prostitute (en ironies was dit sy ma se beskrywing van ’n swart vrou wat heel eerste sy belangstelling geprikkel het).” Brink meen dat die vaart van die vertelling ’n mens voortsleur en dat ’n man wat so kan skryf, sy storie ken.

Volgens Fanie Olivier (Beeld, 1 Maart 2004) skryf Kleinboer van die gemaklikste en beste Afrikaans wat hy in ’n lang tyd in ’n debuut teëgekom het en dat dit baie welkom is.

Vir Joan Hambidge (Volksblad, 16 Februarie 2004) lê die krag van die roman in sy eerlikheid opgesluit en die varse, niestudeerkameragtige prosa. “Die skrywer skryf uit sy gut. Miskien selfs verder af, sou ’n mens speels kon aanvoer. Tog is dit terselfdertyd ’n slim boek vol verwysings en klappies. Koos Kombuis is daar; ook ander herkenbare mense word by die naam genoem. Dis nie ’n boek wat jou ‘opwerk’ nie; daarvoor is dit te slim geskryf en word te veel intellektuele kwessies soos identiteit, taal, herkoms en die dood betrek.” Sy beskryf die roman as ’n kragtoer.

Ryk Hattingh (Rapport, 15 Februarie 2004) meen dat Kontrei nie die erotiese vertelling is van ’n toegewyde hedonis wat hom onbevange aan sy luste oorgee nie. “Dit is eerder die relaas van ’n seksbehepte, kompulsiewe man wat wroeg om sy weg uit die doolhof van die vleispaleis en die ooraanbod van onverpersoonlikte organe te vind. Dit is die mymeringe van ’n boerseun wat op die hoewes aan die Oos-Rand onder die juk van die ancien regime grootgeword en met onder meer ’n vertraagde seksualiteit in Yeoville beland het. [...] Ondanks die soms stamperige prosa en die ooraanbod van insider-inligting, bied Kontrei ’n leeservaring wat ’n mens nie maklik sal vergeet nie.”

Kontrei was Danie Marais se verrassing van 2004: “Ná al die bohaai en omstredenheid oor die seks het ek nie juis lus gehad om die boek te lees nie. Kleinboer se roman is egter soveel meer as hoe die vurk in die hef steek in seks en bordele – dis die noukeurige voorraadopname van ’n wêreld; ’n swart gat wat niksvermoedende lesers insuig na ’n ander dimensie. Wanneer ’n mens na melk onder ’n mikroskoop kyk, is jy verstom oor die skepsels wat daarin krioel. Om na Afrikaans en sy mense te kyk deur Kleinboer se mikroskoop, is ewe skrikwekkend en fassinerend. Kleinboer boei die leser met fyn besonderhede uit die eksotiese, gevaarlike plekke onder ons neus. Hy laat Afrikaanse woorde galm in die steeds so verre oorde anderkant die kleur- en vreesgrens.” (Rapport, 19 Desember 2004)

Kontrei word in 2004 as die eerste wenner van die Rapport/Jan Rabie-prys aangewys. Volgens die beoordelaars was Kontrei die inskrywing wat die beste by die profiel van ’n prys vir vars, nuwe stemme in Afrikaans pas. “Dit is in vele opsigte ’n moedige en baanbrekersteks. [...] Die skrywer se uiters vaardige woord- en taalgebruik is opvallend en sy taalsensitiwiteit blyk uit byna elke sin. In die baie knap skryfwerk lê veral die waarde van hierdie roman. Die reeks besoeke aan prostitute is herhalend en leeg (dermate dat dit ’n mens eintlik met ’n droefheid agterlaat oor die gebrek aan liefde, die leë soeke na aanvaarding en liefde), maar nietemin boei die teks. Dít het grootliks met die taalgebruik te doen. Die outentiekheid van die teks is treffend, die rou eerlikheid van ’n andersoortige boer in beton. Hier is ’n boer wat sy kontrei – so anders as dié van sy jeug – met die hand uitgekies het en nie ’n enkele dag daaroor kla nie: hy is bloot paraat en geprogrammeer vir oorlewing. Dat Kleinboer kan skryf, veral ’n vonk in lesers wakker maak en aanmoediging verdien vir sy besonder sensitiewe taalgebruik – daaraan kan ’n mens nie ontkom nie.” (Rapport, 20 Junie 2004)

Willie Burger skryf in De Kat (Herfs 2004) dat die manier waarop Kleinboer in Kontrei met die taal omgaan, opvallend is: “Sy taalsensitiwiteit blyk uit byna elke sin.” 

Die taal wat Kleinboer daagliks om hom in die sjebeens en bordele hoor, fassineer hom, sê hy aan Willie Burger: “Taal is vir my die uitgangspunt van my skryfwerk. Skryf is vir my ’n poging om sin te geen aan ervarings en om my ervarings as stories só aan te bied dat dit ’n bepaalde effek op die lesers het. Daartoe is taal die sleutel.”

En oor die baie Bybelversies in Kontrei sê die skrywer aan Willie Burger: “Mense staar hulle dikwels so blind teen die Bybel se reëls en die wette en sien nie die poëtiese daarin raak nie.”

In 2006 word die Engelse vertaling van Kontrei, getiteld Midnight missionary, deur Zebra Press gepubliseer. Jaco Fouché was die vertaler.

Vir 2004 se Aardklop-kunstefees is dit verwerk in ’n verhoogproduksie, Diep kontreie, saam met die sanger Albert de Vos. Kleinboer en De Vos het mekaar by ’n gemeenskaplike vriendin in Johannesburg ontmoet en mekaar dadelik “gevind”. Nadat De Vos Kontrei gelees het, het hy sekere ooreenkomste tussen sy werk en die boek gesien en Kleinboer genader met die idee vir ’n verhoogproduksie. De Vos vertel aan Mariana Malan (Die Burger, 1 Oktober 2004) dat hulle baie verbaas was dat die produksie gekeur is. “Dit bewys dat die keurders se kop oop is. Die vraag is nou net of gehore al reg is vir hierdie werk.” Volgens Malan was die reaksie op die produksie uiteenlopend. Dit word in die eerste instansie as woordkuns geadverteer en Kleinboer en De Vos voel dat dit dalk mense kon afgeskrik het. Die woorde slaan jou harder as dit hardop en in die openbaar uitgespreek word, meen Malan. “As jy lees, kan jy hulle nog vinnig laat verbyglip, maar nie wanneer hulle van ’n verhoog af voorgelees word nie.” Kleinboer vertel dat hy eintlik maar net ’n paar van die “rofste” stukke uit sy boek voorgelees het.

Kleinboer woon reeds die afgelope meer as twintig jaar in Yeoville. Toe hy in die woonbuurt ingetrek het, was dit een van die jong, boheemse omgewings. Rondom 1997 het dinge begin verander. Die jong, boheemse inwoners het nie meer verlief geneem met die oorvloei van tsotsi’s en dwelmhandelaars van Hillbrow en Berea nie. Kleinboer het gebly – een van die min wittes wat nog in Yeoville woon. Hy vertel aan Fred de Vries dat hy nêrens anders gehad het om heen te gaan nie. Hy het ’n huis in Yeoville gekoop wat vinnig besig was om af te neem in waarde en hy het saam met sy Zoeloe-meisie, Lungi, en haar seun Jomo gebly. “Die inwoners van die ses huise rondom hom moes almal ’n ooreenkoms teken dat hulle nie omgee dat ’n wit man saam met ’n swart vrou daar woon nie.” 

Hy het Lungi in die winter van 1992 as Promise op ’n straathoek raakgesien, vertel hy aan Hanlie Retief. “Sy’t lang, swart stewels gedra, en vir hom gewuif. Dit was twaalf jaar gelede, dis nie asof ek haar weggegooi het na een nag nie.”

Lungi het die lewe in Yeoville met sy toenemende aantal sjebiens begin geniet. Kleinboer se motorhuis is ook in ’n sjebien omskep en die huishulpkwartiere is uitverhuur aan migrante uit Afrika.

Kleinboer en Lungi is in 2006 in ’n tradisionele seremonie buite Pietermaritzburg getroud. Hy moes lobola in kontant betaal en tydens die huwelikseremonie ’n bees met ’n spies doodsteek. Lungi was onbewus daarvan dat haar man ’n boek geskryf het waarin baie van hul private besonderhede saam blootgelê word. “Maar,” het Kleinboer op ’n keer gesê, “sy lees nie Afrikaans nie, dus behoort ek darem veilig te wees.”

Lungi is in Augustus 2008 na ’n ongeluk oorlede. Volgens tradisie het haar kleinniggie by hom ingetrek, vertel hy aan Pauli van Wyk (Beeld, 16 November 2012).

In ’n onderhoud met Mariana Malan (Die Burger, 1 Oktober 2004) vertel Kleinboer dat hy nog altyd geskryf het. “Eers was dit beskrywende briewe huis toe terwyl hy in die Weermag was. Daarna het hy alleen gebly en het die briewe dagboekstukke geword. Uiteindelik het ’n kombinasie van alles ’n boek geword.” Hy vind die gedagte dat daar mense is wat mag dink dat hy in sy boek spot of dat hy ’n baie vrugbare verbeelding het, baie amusant. “Ek het in ’n baie Calvinistiese omgewing grootgeword. Veral seks was iets wat onderdruk en geïgnoreer moes word. Dit was soos ’n veer wat al verder afgedruk is. Toe dit uiteindelik losspring, was daar nie keer aan nie. Ek moet sê ek het baie gekalmeer sedert ek die boek in 2001 klaargeskryf het. Maar ek sorg dat ek elke maand my tiende gee!”

Op ’n vraag van Jean Meiring waar die “hoerlopery” en die aangetrokkenheid slegs tot swart vroue begin het, antwoord Kleinboer: “Ek’t baie konserwatief grootgeword. Ek’t ’n BSc op Tukkies gedoen, maar ek’t die studentelewe baie vervelig gevind. Ek was nie bewus daar is iets beters nie. Ek’t kerk gegaan; darem nooit Nasionaal gestem nie. In my tweede jaar is ek Maroela-koshuis toe, maar die militarisme daarvan het my nooit aangestaan nie. Studente se sosiale lewens het grootliks bestaan uit bokjolle. Die meisies wat as tiere bekendgestaan het, het so teen die mure gestaan. En as die ouens instap, het hulle met gespitste neuse gesê: O, ons ruik die tiere, ons ruik die tiere. Dis nou van die parfuum wat hulle aangehad het. En dan water jou bek skoon. Maar ek kon nooit die kode, die sleutel bemeester nie. Jy kon nie na een van hulle stap en vra: Wil jy volgende week saam met my gaan koffie drink nie. Jy moes eers met hulle dans, langarm.” Op 27-jarige ouderdom is Kleinboer New Orleans toe en daar het hy “sy sonder opset bewaarde maagdelikheid aan ’n gesellin prysgegee”. Toe was die koeël deur die kerk “en het Johannesburg se bordele een van hul grootste beleggers bygekry”.

“Toe het ek uit die skaduwee van Calvinisme getree, waarin ek vir 27 jaar verkeer het. Dit was 10 000 dae plus nóg ’n 100 ná my geboortedag dat ek vir die eerste keer seks gehad het. Dit was laat in my lewe, en dit was asof ’n veer – ’n spring – wat ek vir so lank onderdruk het, skielik losgespring het. Dit was soos ’n vuurpyl wat weggeskiet het. En dis steeds, in my vroeë vyftigs, effe buite beheer.”

Op LitNet vertel Kleinboer aan Rian Malan dat buiten seks, sy stokperdjies skryf, lees, en rugby en krieket kyk op kroeg-TV’s is. “Ek gooi plante nat as dit nie onlangs gereën het nie, en trek soms onkruid uit. Ek’s soos ’n Romeinse keiser op my eie erf – ’n benign patriarch. Soos Nero wat besluit het watter Christen die leeu se kake gespaar sou bly, besluit ek self watter onkruid kan maar aanhou lewe. Ek trek onkruid uit terwyl Yeoville brand. Ha, dis darem net vleis op roosters wat brand, nie ons geboue nie.”

In 2012, nege jaar na Kontrei, word sy tweede roman, Werfsonde, by Umuzi gepubliseer. En, skryf Rudolf Stehle in Beeld van 22 Oktober 2012, as ’n mens na die illustrasie van Anton Kannemeyer op die voorblad kyk, is dit ’n voortsetting van Kontrei.

Kleinboer self sê dat Werfsonde ’n vervolg op Kontrei is, asook die tweede boek in ’n trilogie – “tril-ogie met die klem op ogie, natuurlik,” sê hy aan Stehle. 

Werfsonde is ook gedeeltelik op korrespondensie gebaseer, maar vir hierdie tweede boek is die korrespondensie hoofsaaklik met sy tweelingbroer, Manie. 

Kleinboer vertel meer aan aan Stehle oor die pad wat sy lewe geloop het sedert Kontrei verskyn het: “Ten tyde van Kontrei se bekendstelling in 2003 het ek as taalversorger by Farmer’s Weekly in Johannesburg gewerk. Ek het aangehou skryf ná Kontrei, dikwels skelmpies by die werk. Daarom moes ek dikwels tot ná 21:00 alleen werk om my agterstallige werk in te haal.

“Ek het darem hierdie feit by Farmer’s Weekly geleer: Die dragtyd van ’n vark is drie maande, drie weke en drie dae, dis 115 dae – ek noem dit in Werfsonde

“Ek het Farmer’s Weekly in 2006 verlaat en ’n jaar blaaskans geneem om ’n boek van 300 000 woorde te kan fatsoeneer. In hierdie tyd het ek op erfgeld geleef. Maar my lewe was te chaoties en die woorde het tot 400 000 gegroei.”

Later gaan werk hy by Sondag en ten tyde van hierdie onderhoud is hy ’n taalversorger by Daily Sun in Aucklandpark in Johannesburg: “Ek het dissipline gevind: Ek skryf soggens voor ek werk toe gaan tuis aan my boek. Uit die 400 000 woorde het ek 80 000 eenkant toe geworstel en versorg. Dis Werfsonde.” 

Die agtergrond van Werfsonde is dieselfde as dié in Kontrei – in Yeoville waar die honde nog steeds erg blaf: “Die hoofkarakter besoek steeds kroeë en bordele, maar minder gereeld. Hy waag soms sy hand aan poësie. Daar is ook geheueflitse na sy jeug en mymeringe in sy tuin. In sy werf, natuurlik, want ’n kleinboer het nie ’n plaas nie.”

In Tydskrif vir Letterkunde van 2013 skryf HP van Coller as volg oor Werfsonde: “In die lig van veral die debuutwerk, maak die tweede roman tog ’n ietwat vermoeide en selfs gedateerde indruk. Die historiese tyd wat hier beskryf word, is reeds byna tien jaar gelede (kyk p 51 en die verwysing na ‘Big Brother’, p 157) en die fokus juis op dié tydsnit word nie gemotiveer nie. Seksuele terme soos: ‘wiks, spyker, bygekom, reggesien, pakgegee, bewerk, geraps’ doen ook ietwat anachronisties (lees: daterend uit matriek van die sewentigerjare) aan. Dit is byna asof die roman vir ’n tyd stof vergaar het en toe opgepoets en uitgegee is.

“Hierdie enigsins negatiewe beoordeling het egter meer te make met die feit dat soveel aspekte van die eerste boek herhaal word. Die hoofkarakter se huwelik en gesinslewe is ewe disfunksioneel as toe, daar word ewe lustig gedrink en (dagga) gerook én omgegaan met swart prostitute. Uiteindelik raak die uitvoerige verslag van nóg ’n sekservaring en nóg ’n seksposisie vervelig.

“Maar bloot vanweë sy onverbloemde liefde vir en verknogtheid aan Afrikaans (p 101 en p 129) wat by tye die taal laat sprankel, sy eerlike weergawe van sy onvermoë om hom van vooroordele los te maak én sy wilsbesluit om soos ’n Gysbrecht Edelhart te bly voortlewe, is die boek lesenswaardig.”

Op LitNet (20 Desember 2012) begin Jaco Botha sy resensie só: “Op sy beste, vreemd soos Breyten Breytenbach, maar op sy eie manier. In dieselfde asem totaal on-Afrikaans en pragtig-mooi Afrikaans. Iemand wat met alle opregtheid die taal meer maak, dit is hoe ek voel oor Kleinboer se jongste roman, Werfsonde.

“Gewoonlik sluit mens ’n resensie met so ’n tipe sin af, maar dis einde van die jaar en dalk spaar ek nou ’n klomp mense ’n klomp onnodige leeswerk deur sommer uit die staanspoor my gevoel neer te lê.

“Soos in sy debuutroman, Kontrei, vertel Kleinboer weer sy eie storie – die storie van ’n wit Afrikaner wat in Johannesburg se ongerepte middestede woon, met ’n Zoeloe-vrou getroud is en op ’n gereelde basis sy seksverslawing in goedkoop bordele uitleef. Daar is amper iets van ’n sosiale eksperiment in, met Kleinboer wat as kulturele toergids dien tot ’n arm, swart, ongetemde landskap wat meeste van die boek se uiteindelike lesers eerder op ’n veilige afstand sou wou hou. [...]

“Ek onthou hoe ’n mede-skrywer na die lees van Kontrei destyds gesê het: ‘Ek weet mens moet seker só lewe om ’n goeie storie te kan skryf, maar ek kan nie ...’ Is Kleinboer onverskrokke, of lewe hy maar net ’n goeie, ongewone storie?

“So, op die eerste vlak bring Werfsonde dieselfde tipe wins as Kontrei – dit bied die meestal geborge leser ’n veilige paspoort tot ’n wêreld van sjebiens, straatslaghuise en hoere – ’n wêreld waarin jy met ’n panga in jou kattebak moet rondry en met ’n rewolwer onder jou kopkussing slaap. Werfsonde verwys juis na die ‘sonde’ wat Kleinboer het met sy Zoeloe-vrou Lungi se konstante gedrinkery, sy ‘seun’ Jomo wat sy penne en geld steel en die bure se rasende brakke wat hy na middernag met klappers moet stilmaak.

Werfsonde – soos in Kontrei – is ook ’n verwysing na verslawing aan swart prostitute, maar al is daar baie gemene delers, is Werfsonde ’n veel meer genuanseerde, menslike verhaal. Om presies te wees, voel dit of Werfsonde, op ’n manier ’n meer internasionale ‘remake’ van Kontrei is, waarin sy komplekse verhouding met oa Lungi, veel beter ontgin word as in sy debuutroman. (Die Hollanders gaan hierdie boek verslind.)

“En dit is dalk een van die groot winste wat Werfsonde na die tafel toe bring. Die ontgin van die klein menslike detail. [...] Werfsonde is ’n boek wat vir homself moet praat met dié wat die hart en die maag het daarvoor.”

Koos Kombuis is die resensent van Werfsonde vir Netwerk24 (10 Desember 2012) en hy meen dat dit Kleinboer se “obsessiewe omgang met die woord” is wat Werfsonde onderskei van die “vieslike en die bloot vervelige gegewe tot die vlak van letterkunde”.

Kombuis skryf verder: “Want of ’n mens nou saamstem met die man se lewenstyl of nie, en selfs put jy as leser geen plesier uit die talle beskrywings van seks (32 sulke tonele, waaronder slegs agt tussen hom en sy vrou), is Werfsonde ’n boek wat mens boei en wat jy moeilik neersit. Van die briljante voorbladontwerp deur Anton Kannemeyer tot die laaste asemteug iewers duskant bl 237, inisieer hierdie roman mens in ’n vreemde wêreld waarvan die gemiddelde Afrikaanse leser tot nou toe meestal slegs teoreties bewus was. [...]

“Die spanningslyn van beide Kontrei en Werfsonde dui daarop dat Kleinboer ons nog dalk op die ou end gaan verras met iets wat die hele reeks sal red van blote enumerasie van seks en nogmaals seks.

“Die mees fassinerende aspek van Kleinboer se oeuvre tot op datum is egter nie net die seks, die dekadensie en die chaos van die gegewe nie, maar die lyn wat, bewus of onbewus, deurgetrek word vanaf die ou Afrikaanse romans tot nou toe. Kleinboer as skrywer is dubbel en dwars geanker in sy Afrikaner-verlede.

“Daarvan getuig sy eie skuilnaam asook die boerterige titels wat hy kies. In albei boeke vind hy, as ontwortelde stadsmens, eindelik sy heil in ’n terugkeer na die landelike (die beskrywing van die platteland in die laaste drie bladsye is van die mooiste Afrikaanse prosa). [...]

“Kleinboer is dus allesbehalwe ’n moderne liberaal. Sy houding teenoor vroue en die huwelik is net so steriel as dié van sy tweelingbroer wat in suburbia woon. Alles in sy lewe strook met die ergste dinge wat in wit voorstede gebeur; slegs die kleure is omgekeer. Dis asof Werfsonde die negatiewe fotobeeld van ’n Seder val in Waterkloof en Triomf kon wees.

“Op ’n potsierlike en onverwagte manier, hoewel die gegewe in hierdie boek vreemd en multikultureel mag voorkom, hou die skrywer eintlik maar net die spieël op sodat ons ons eie skynheiligheid en voorspelbaarheid kan herken vir wat dit is.” 

Vyf jaar na die publikasie van Werfsonde word die laaste deel van Kleinboer se trilogie by Umuzi uitgegee onder die titel Hierdie huis.

Op LitNet gesels Herman Lategan met Kleinboer oor Hierdie huis. Lategan stel dit aan Kleinboer dat hy soos Hennie Aucamp ’n “flâneur is wat honger en nuuskierig wandel deur neonbeligte stede van die nag. Wat is daardie hunkering wat ’n mens van kroeg tot kroeg en lyf tot lyf dryf?”

Hierop antwoord Kleinboer: “Ek het nie ‘early affirmation’ gehad nie. Ek het tienerromanse misgeloop, al was ek as skoolseun heimlik op minstens drie meisies verlief en het ek Jan van Elfen se Wat elke seun moet weet gelees. Ek het die hunkering in my binnekamer bewaar, so daar was ’n groot onvervuldheid wat tot uitbarsting moes kom. Toe word ek later ’n rondloper, of soos jy dit meer beskaafd stel, ’n flâneur. ’n Rondloper oorwin nie, hy neem in, maar dis oukei. Ek het die underbelly verken.

“Ek het my eerste seks eers op ouderdom 27 gehad, in soel New Orleans, Amerika. In my eerste boek, Kontrei, was ek te skaam om die 27 jaar plus sowat sewe maande te erken, toe stel ek dit meer kripties: my eerste seks 10 000 dae plus nog 100 dae ná my geboorte. Ek moes dit in die buiteland doen om weg te kom van die lang Calvinistiese skaduwee. Ek was ’n veer wat ondertoe gedruk en daar gehou is vir jare; die spanning het vreeslik geword en moes losgelaat word. My eie Orkaan Katrina het die dyk eindelik gebreek.

“Ek is aan die introverterige kant. Is rondfok net my manier van uitreik na die mensdom? vra ek in Kontrei, en ek herhaal dieselfde frase later in Hierdie huis.

“Ek sou vreeslik min mense ontmoet het as ek nie die underbelly verken het nie. Nou, ná drie boeke, het my lewetjie weer klein geword. Daar is die roetine van huis, werk, huis, werk. Die flâneur in my is aan bande gelê, ek is getrou aan my nuwe(rige) vrou, ek oefen op ’n stilstaande trapfiets in die slaapkamer, voel nie wind deur my hare nie, en die buurt se uitgelate brakke hol nie saam nie. My grootste ontvlugting is ’n zolletjie soms by die braaivleisvuur – dan reis ek met die petrol genaamd paranoia, maar skud dit later af en raak gehipnotiseer deur die laatnagkole. Totdat my vrou my kom inroep huis toe – sy sê die Jack Russell op my skoot en die panga wat langs my lê, is nie genoeg beskerming teen betreders nie, en ek sit boonop en visvang in die seilstoel.”

Jan Taljaard resenseer Hierdie huis vir Rapport (20 Augustus 2017): “Die gegewe waarmee Kleinboer in Hierdie huis omgaan, is lankal nie meer taboe of grensverskuiwend nie. Maar dit is nie waarom ’n mens die boek moet lees nie.

“Eerstens is dit eerder Kleinboer se ongelooflike vermoë om los fragmente rondom die een perfekte Afrikaanse sin na die ander Afrikaanse sin op papier neer te pen wat van Hierdie huis ’n besondere roman maak.

“Voeg daarby sy vermoë om los fragmente op samehangende wyse saam te voeg sodat die bladsye vir die leser begin sing en jy het waarskynlik met ’n skrywer te doen wat nie sy gelyke in Afrikaans het nie. Ten spyte van die fragmentariese aard van die teks, beland die leser gou in ’n gedagtestroom wat hom intrek en die bladsye soos in ’n soort Zen-prosessie laat verbygaan. [...]

“Kleinboer se stem raak boonop nooit skor van selfvoldaanheid of bewuste intellektualiteit nie. [...] Enige sweem van hoogdrawendheid word verder nek omgedraai deur die skrywer se alomteenwoordige humor en die onbeduidende rol wat hy vir homself in die groter bestel sien. Die saaklike beskrywings van besoeke aan prostitute kan dalk vir sommige lesers knaend raak, maar dit is tog elke keer anders en meestal vol pret. [...]

Hierdie huis is ook ’n nostalgiese roman wat grepe uit Kleinboer se betreklike onskuld tydens sy grootwordjare en selfs as jong volwassene bly kontrasteer met ’n rowwe buurt waarin hy steeds sy onmiddellike omgewing netjies probeer hou en die tradisionele rol van broodwinner vir Lungi en Jomo probeer speel. [...]

“Dit is ook die verhaal van die lewe in sy kop wat hy soms jaloers beskerm en ander tye hoogstens met sy tweelingbroer deel. [...] Maar, laastens, en ook in die eerste plek, is Hierdie huis ’n liefdesverhaal wat oorwegend met deernis en ’n meestal onuitgesproke hartseer vertel word.”

In Beeld (17 Julie 2017) sluit Riaan Grobler sy bespreking só af: “Ek hou nie daarvan om die term ‘eksistensieel’ te veel te gebruik nie, maar Hierdie huis is in vele opsigte ’n eksistensiële werk waarin kwessies soos identiteit, godsdiens, bloedverwantskap, liefde, verslawing(s), herkoms en kultuur soos lottonommers in Kleinboer se sinne na vore kom. Dit is boonop kamp geskryf, maar my kop tol steeds soos ’n lottoballetjie op ’n Saterdagaand.” 

Johann Rossouw (LitNet) som die drie boeke van die trilogie teenoor Naomi Meyer as volg op: “In Kontrei leer die leser Kleinboer ken as ’n Afrikanerman met ’n kleurryke amoreuse geskiedenis, ’n uitdagende aangenome kerngesin en ’n onmiskenbare Afrikaner-etos, wat veral neerslag vind in hoe hy optree as die chronies ondermynde hoof van sy huis, sy omgang met taal, en sy liefde vir plant en blom. 

“In Werfsonde, sy tweede roman, is al hierdie temas ook teenwoordig, maar geleidelik begin die skrywer ’n geïntegreerde lewe lei, welke integrasie ten nouste saamhang met die vorm wat hy al skrywende aan sy lewe gee, as’t ware al skrywende tot verhaal kom.

“In Hierdie huis, die sluitstuk van sy trilogie, word die voortsetting van hierdie prosesse verder geboekstaaf, tot op die punt van vrede met sy lot, ondanks alle verlies en misvorming. Waar Kleinboer in die eerste twee romans nog momentum opbou, bereik sy lewe en sy skryfwerk ’n klimaks met Hierdie huis.” 

Koos Kombuis skryf as volg oor Hierdie huis op LitNet: “Ek vermoed dat Kleinboer, soos alle groot kreatiewe geeste, met Hierdie huis, anders as met sy vorige boeke, ’n veel meer universele boodskap het om oor te dra, ’n boodskap wat baie meer vervat as die verbrokkeling van een man se huwelik of die rampspoedige ervarings van een huisgesin. Dit is ’n idioom en tydsdokument vir vandag, ’n beeld van dit wat ons geword het, ’n skets van die tragedie waarop ons besig is om af te stuur as gevolg van ons eie onnadenkendheid en onverantwoordelikheid.

“Hierdie boek is, in kort, ’n woordskildery van die nuwe Suid-Afrika soos dit vandag daar uitsien. Dit is ’n spieëlbeeld van ons as samelewing. Dit gee ons ’n prentjie waarin ons die tye waarin ons leef, kan herken. En dis allermins ’n mooi prentjie. Eerder as die kitsch reënboognasie-idiome wat die idealistiese middel-’90’s gekenmerk het, herinner Hierdie huis eerder aan die donker kannibalistiese en grusame gestaltes van Francisco Goya se afgesonderde sterwensjare.

Hierdie huis is ’n verontrustende boek. Ons het rede om verontrus te voel. As ek hierdie boek in die historiese konteks van Afrikaanse literatuur in die geheel moet plaas, sou ek sê dat dit die een boek is, meer as baie ander, wat ons in die jaar 2017 waarsku dat ons, as volk, as nasie en as land, reeds veels te naby aan die afgrond van totale kulturele en sosiale verval is. Be afraid. Be very afraid ...”

Vir Johann Rossouw is Kleinboer nie net die “meester van die prosafragment nie, maar ook ’n lewende bewys van ’n eg Afrikaanse lewe ná die dood van apartheid – ondanks die skade wat hy in sy vormingsjare deur ’n misvormde stelsel aangedoen is, is genoeg van die goeie in daardie selfde vorming aan hom oorgedra – spesifiek in die vorm van puik Afrikaanse en ’n landelike etos – dat hy ’n skeppende, sinvolle lewe aan die hand daarvan kon lei en dit op weergalose wyse boekstaaf.” (LitNet, 29 Junie 2017)

In 2020 begewe Kleinboer hom op ’n heeltemal nuwe terrein wat sy skryfwerk betref en word sy eerste digbundel by Naledi gepubliseer, onder die ietwat “lywige” titel Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels. Die uitgewers beskryf die poësie as “huislike toneeltjies (nie altyd vredig nie), bedenklike groenkrui-gedagtes, en geheueflitse na wilder jare”. Op Facebook som Kleinboer self dit op as “motpoësie, want die skryf van vlinderpoësie is buite my bereik” en voeg dan by: “Ná drie joernale, vermom as romans, verskyn opgetjopte prosa (ietwat in die styl van Charles Bukowski), vermom as ’n digbundel. Hopelik kan die inhoud iemand iewers laat grynslag.”

Op LitNet in ’n onderhoud met Kleinboer wil Remona Voges weet hoe hy die samestelling van die digbunbdel ervaar het en of hy dit weer sal doen. Kleinboer se reaksie op die vraag is as volg: “Die saamstel van ’n digbundel was vir my veel makliker as die byeentrek van ’n roman se baie drade en gebeure in ’n sekere volgorde. Of ek nog ’n bundel sal skryf? In hierdie stadium voel dit vir my na nee. Gert Vlok Nel is in dié opsig ’n rolmodel met sy eenmalige bundel, Om te lewe is onnatuurlik.”

Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels is ’n lywige bundel met byna 100 gedigte. “Hoe lank het dit jou geneem om die bundel te voltooi?” vra Voges. “Dit het my sewe maande geneem om al die gedigte te skryf. Daarteenoor was dit met van my romans ’n worsteling van vyf jaar en selfs langer,” vertel Kleinboer.

Fanie Olivier is die resensent van Groen pyltjies vir Volksblad (4 Mei 2020) en hy is van mening dat dít wat vir Kleinboer se romans geld (kru taalgebruik, grafiese beskrywings) ook van toepassing is op sy gedigte: “Die titel, en veral die voorblad se tong-in-die-kies-subtitel ‘Koffietafelboek vir ganjamense en ander fragmentlesers’, berei ’n mens voor vir die aanslag: vol humor en ironie, biersessies en daggawalms en gedigte wat hulleself as fragmente aanbied.

“Dis ’n lywige bundel. Daar is 92 gedigte, van wisselende lengte, waarvan ’n hele klompie geskryf is in ’n ongewone versvorm: 20 woorde. [...]

“Oorheersend is die verse in hierdie bundel ironies juis huis- of huislike gedigte, kleinburgerlik op ’n wyse wat ons eintlik nie meer sien of hoor nie. Maar daar is ’n egtheid wat daaruit spreek. Hier word daar nie doekies omgedraai nie: Die taal is dikwels befok, uitbeeldings rondom die liefde en liefdesverhoudings rou. Hier lééf daar mense, word gesuip en gerook, dwarrel die daggawalms, word die agtertuin ’n mini-woud en vleisbraai sowel ’n bevestiging as ’n ontvlugting. Babelas en jags word hier gemaklik bedmaats; Viagra en wensdenkery kuier saam. 

“Maar daar is ook ander temas. Die talle aanhalings uit of verwysings na die Bybelse wys waar die skrywer se diep wortels lê; herinneringe aan jeugkontreie duik elke nou en dan op. Daar is ’n klomp goeie, sterk gedigte (of soms net fragmente, toegegee) rondom die skryfdaad – soms ook optelgedigte soos ‘7 x 6 = 42’ (58), byvoorbeeld, wat op sy ironiese en humoristiese wyse ’n pragtige ars poetica is waarin die digter skryf:

dié is dalk geen digbundel nie
net ’n obsessiewe gerondfok met
woorde

“Humor, ook rondom taal: dit is die wondergom waarmee Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels bymekaargehou word, sodat ’n mens uiteindelik maklik die swakker gedigte (die fragmente, waarskynlik, waarvan Kleinboer op die buiteblad praat) vergewe en sommer gaan vergeet. En die eiesoortige 20-woord-versvorm tel onder hulle. [...]

“’n Belangrike en lekker debuut, juis al is dit te laat. Maar, soos die waarskuwing by beeldmateriaal lui: Die inhoud van hierdie bundel mag sensitiewe lesers ontstel.”

Joan Hambidge skryf in Rapport (12 April 2020): “Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels is ’n lywige digbundel vol praatverse waarin die digter dikwels in ’n selfgesprek gewikkel is. Dít wat oënskynlik maklik lyk, sit vol woordspeletjies. [...]

“Miskien kon die digter minder verse opgeneem het, maar in die geheel is dit ’n pretensielose, eerlike, sjarmante digbundel van ons Boere-Bukowski. Hopelik sal lesers en liefhebbers van sy prosatekste net soveel plesier hê aan Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels as hierdie leser!”

Oor die invloed wat sy werk as taalpraktisyn op sy skryfwerk het, verduidelik Kleinboer aan Remona Voges op LitNet dat dit wel die kreatiewe prosa kelder, “deels deurdat ’n mens gatvol raak van heeldag voor die skerm sit en ander mense se skryfsels redigeer. Saans is ek nie lus om te skryf nie. Die oggend is my kreatiewe tyd, maar dan moet ’n mens jou eie dinge tuis agterlaat en opsaal vir werk. Dis paradoksaal dat ek nou weens die koronavirus ingeperk sit en heelwat tyd het, maar dat hierdie vrae wat ek vir LitNet beantwoord verreweg die meeste is wat ek vanjaar in ’n dag getik het. Ek het wel die verskoning dat ek tans aansterk ná ’n groot skoueroperasie (ek sit hier met slegs my linkerhand en tik), en ek voel ook my digbundel het onlangs verskyn, so ek kan soos ’n branderplankryer bietjie rus op my plank vir ’n ruk, terwyl ek vir die volgende lekker golf wag.”

Publikasies:

 

 

 

 

Artikels oor Kleinboer beskikbaar op die internet

Artikels deur Kleinboer beskikbaar op die internet:

Kleinboer se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2009-11-06 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top