Werfsonde deur Kleinboer: die groter geheel is in die klein detail

  • 1

Werfsonde
Kleinboer

Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415202043

Koop Werfsonde by Kalahari.com!

Op sy beste, vreemd soos Breyten Breytenbach, maar op sy eie manier. In dieselfde asem totaal on-Afrikaans en pragtig-mooi Afrikaans. Iemand wat met alle opregtheid die taal meer maak, dit is hoe ek voel oor Kleinboer se jongste roman, Werfsonde.

Gewoonlik sluit mens ’n resensie met so ’n tipe sin af, maar dis einde van die jaar en dalk spaar ek nou ’n klomp mense ’n klomp onnodige leeswerk deur sommer uit die staanspoor my gevoel neer te lê.

Soos in sy debuutroman, Kontrei, vertel Kleinboer  weer sy eie storie – die storie van ’n wit Afrikaner wat in Johannesburg se ongerepte middestede woon, met ’n Zoeloe-vrou getroud is en op ’n gereelde basis sy seksverslawing  in goedkoop bordele uitleef. Daar is amper iets van ’n sosiale  eksperiment in, met Kleinboer wat as kulturele toergids dien tot ’n arm, swart, ongetemde landskap wat meeste van die boek se uiteindelike lesers eerder op ’n veilige afstand sou wou hou.

“By wit partytjies vorm die mense dikwels verskeie groepies in verskillende ruimtes van die huis en erf. Swartes koek weer meestal en masse saam, hulle wil die atmosfeer luidrugtig saam aanhelp. Wit partytjies vorder meestal nie verder as ’n gepraat nie. By swart partytjies is dit nie ’n krisis as die speakers distort nie.” (p 12)

“Phumla, die een wat verjaar, sit by ’n gedekte tafel op die stoep met twee jongvroue weerskante van haar. ’n Horde mense dans hoogskoppend en jillend voor haar. Sam draai na my en sê: ‘Don’t worry, it’s only culture.’ Ek knik. Ek woon al lank genoeg tussen swart mense om te weet hierdie is nie ’n Piet Retief-situasie nie.” (p 25)

Ek onthou hoe ’n mede-skrywer na die lees van Kontrei destyds gesê het: “Ek weet mens moet seker só lewe om ’n goeie storie te kan skryf, maar ek kan nie …”  Is Kleinboer onverskrokke, of lewe hy maar net ’n goeie, ongewone storie?

So, op die eerste vlak bring Werfsonde dieselfde tipe wins as Kontrei – dit bied die meestal geborge leser ’n veilige paspoort tot ’n wêreld van sjebiens, straatslaghuise en hoere – ’n wêreld waarin jy met ’n panga in jou kattebak moet rondry en met ’n rewolwer onder jou kopkussing slaap.

Werfsonde verwys juis na die ‘sonde’ wat Kleinboer het met sy Zoeloe-vrou Lungi se konstante gedrinkery, sy ‘seun’ Jomo wat sy penne en geld steel en die bure se rasende brakke wat hy na middernag met klappers moet stilmaak.

Werfsonde – soos in Kontrei – is ook ’n verwysing na verslawing aan swart prostitute, maar al is daar baie gemene delers, is Werfsonde ’n veel meer genuanseerde, menslike verhaal.  Om presies te wees, voel dit of Werfsonde, op ’n manier ’n meer internasionale “remake” van Kontrei is, waarin sy komplekse verhouding met oa Lungi,  veel beter ontgin word as in sy debuutroman. (Die Hollanders gaan hierdie boek verslind.)  

En dit is dalk een van die groot winste wat Werfsonde na die tafel toe bring. Die ontgin van die klein menslike detail.

“Ek is glo biologies geprogrammeer om my saad wyd te saai, maar ek voel effens skuldig elke keer na ek dit gedoen het, ek wil ophou daarmee en ’n eenvrouman wees.” (p 117)

“Ek sit en dink dat ek Lungi nog nooit aan ’n ander man sien raak het nie. Ek sal platgeslaan wees as ek ’n ander man se arm om haar sien. Maar nog nooit, self wanneer ek onverwags in ’n sjebien inloop, het ek haar gevang dat sy my verneuk nie. Geen Bybel het my genoop om te voel wat ek nou hier in die gonsende lughawekroeg voel nie. Ek voel vanself so in my bors: ek kan Lungi vertrou. Al pis haar gedrink my dikwels af, vertrou ek haar heeltemal. Ek skryf op die kroegkwitansie:

‘my heupe het soveel maal intens voor en agter
vreemde vroue heen en weer beweeg – vrugteloos?
ek wil terugkeer na iets suiwer, maar my oupa se plot
in Zesfontein buite Benoni is nou ’n woesteny
en die motelkamer in New Orleans waar ek my
maagdelikheid verloor het
is sekerlik erg deur Orkaan Katrina se vloed geraak.’”  (p 232)

Ten spyte van al die konflik met Lungi, kom die liefde en deernis wat ’n man vir sy vrou voel opreg deur.

“Lungi is nou wakker. Sy vra swakkies vir ’n glas melk en ’n appel (dis haar babelaskuur). Maar vanoggend is die appelsakkie in die spens leeg. Ek gaan sit melk langs haar op die bedkassie neer, darem yskoud, en in ’n groter glas as gewoonlik.” (p 191)

So ja, Kleinboer lewe ’n unieke storie, maar dit is in die taal en in die beskrywing van die klein oomblikke, die klein detail, wat die groter prentjie van ’n groot skrywer na vore kom.

“Hierdie huis se honde: Bokkie en Woester, albei reggemaakte tewe. Bokkie is ’n veertienjarige swart-en-wit foksterriër wat ’n paar maande gelede geopereer is – ’n groeisel is uit haar dikderm verwyder, naby haar agterent. Al begin sy doof word, is haar tande en sig nog goed, en sy is op en wakker en raak steeds opgewonde as daar tekens is dat ek en Woester park toe wil gaan. Die veearts moes ’n stukkie van Bokkie se anus in die operasie verwyder en nou wys ’n bietjie van die binnekant buitentoe, pienk soos ’n bobbejaan se hol. Dis grillerig, ek probeer dit miskyk. Die veearts het gesê ek moet een maal ’n week vir die res van Bokkie se lewe haar agterent met ’n ontsmettingsmiddel was, maar ek het nie die maag daarvoor nie, en dit lyk of sy goed oorleef daarsonder. Sy blaf mooi en suiwer, en nooit onnodig nie (anders as baie ander honde in die buurt wat vir fokol staan en blaf)”.  (p 16)

Die subtiele selfbewustheid van weet dat jy dalk besig is om ’n storie te skryf wat ander met weersin kan vervul – die ondeunde opstuur daarvan.

“Ek moet wikkel om betyds by die werk te wees, het nie tyd om my broer vanoggend te antwoord nie. Daar is net twee kouse in my laai oor, en aan een van hulle is iets harderig. Dit lyk of ’n voëltjie op die kous gekak het toe dit aan die wasgoeddraad gehang het. Ek kan nie nou fiemies bekostig nie, ek trek die kous maar aan. Die blertsie mis is darem droog, en dis bloot verteerde saadjies en insekkies, vertel ek myself.” (p 14)

Van die beskrywing van hoe ’n gleufie in ’n bankmasjien vibreer, tot die fyn waarneming van die verskillende wyses waarop hy en Lungi lemoene afskil, bied Kleinboer via Werfsondes ’n unieke blik op unieke skyfies lewe uit ’n ongewone landskap.

Sonder om enigsins pretensieus of kopknikkerig te raak, haal hy selfs skrywers soos Breyten Breytenbach, Kafka en Nietzche aan.

“Presies die minste, die sagste, ligste, ’n akkedis
se ritseling, ’n briesie, ’n flikkering, ’n oogwink –
’n biétjie maak die blyste.”  – Frederich Nietzche

En juis in hierdie laaste aanhaling, verwoord Kleinboer dalk sy groot bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Op sy beste, is hy vreemd soos Breyten Breytenbach, maar op sy eie manier. In dieselfde asem totaal on-Afrikaans en pragtig-mooi Afrikaans. Iemand wat met alle opregtheid die taal meer maak.

Ek wil eintlik nie verder aan hierdie resensie skryf nie – Werfsonde is ’n boek wat vir homself moet praat met dié wat die hart en die maag het daarvoor.  Ek volstaan gevolglik met een laaste aanhaling, waar Kleinboer – ons ongekunstelde kunstenaar, dappernaaierverkennerdwerg – selfs sy hand aan die poësie waag.

“nadat ek gepis, gekak, gekots,
’n geel puisie in ’n stil spieël uitgedruk,
my neushare gesnoei, dieselfde neus geblaas,
geskeer, gebloei, my draad getrek, gestort, en twintig
van my naels geknip het, het ek gaan stap, verby ’n
kleuterskool
onder skoenlappers, verby note  aan ’n boom, gestop om my hare
te laat kap,
En toe vensterinkopies gedoen, veerlig.
(ek het gelieg oor die kots – ’n oranjerige leuntjie)
(die skoenlappers was regtig oranje en die bloed helder)” (p 192)

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top