
Organiese kompos
my kompos bestaan uit die as van ’n behoorlike braai
piesangskille eierdoppe rooibosteesakkies pampoenbinnegoed
beenmeel vrotterige avokado ’n hondedrol of drie en natuurlik grond
ook semen en pampier (kom-pos) nee ek speel maar die res is waar
en o ja ook ’n dooie goudvissie vol eksotiese bakterieë
op 1 Oktober gaan ek ’n donker daggapit in die agterplaas plant
wat ek teen R280 van Trophy Seeds oor die internet gekoop het
my gerookte kop sal sewe maande later gaan en kom
gaan en kom met vreemde gedagtes
soos erdwurms wat ekstaties in hul paradys wriemel
en dinge wat liefs nie neergeskryf moet word nie
Erediens
ek is ’n mens wat nie genoeg
emosie wys nie
maar ná drank en veral dagga
Saterdagaand in die atmosferiese garage (braaivuur
se rook, droë takke vir Afrika uit my vrygewige tuin)
jirre, lieflike note uit die Bluetooth-luidspreker
rol die trane bevrydend oor my wange
en my vrou vra why are you crying?
what is wrong?
maar dis tears of joy, geen smart
geen rukkende mond nie, net positiewe trane
my mosie van vertroue in die hemelse musiek
my vrou preek teen dagga maar ek sê
ek gaan nie ophou rook nie
net een keer ’n week asseblief
let me be


Kommentaar
Wat 'n unieke styl. Met raakvatwoorde skets jy 'n weldeurdagte, relevante gedig.