Vrystaat Kunstefees 2017: Kleinboer tussen tradisie en moderniteit

  • 0

Johann Rossouw bied by die Vrystaatse Kunstefees vanjaar ’n lesingreeks aan oor Kleinboer en sy oeuvre. Hier is nog besonderhede rondom die geleenthede.

Hier onder gesels hy met Naomi Meyer oor dié lesingreeks.

Johann, voordat sosiale media ’n faktor was, was Kleinboer aan LitNet-lesers bekend as skrywer van vars en ongewone briewe vir LitNet se baie aktiewe briewekolom, SêNet. Hoe en as gevolg van watter skryfwerk het jy van hom as skrywer notisie geneem? (En wie is Kleinboer vir jou?)

In daardie vroeë dae van LitNet was ek vaagweg bewus van Kleinboer se briewe, maar ek het hom as skrywer eers behoorlik ontdek met die verskyning van sy debuutroman, Kontrei. Vir my is hy nie net die meester van die prosafragment nie, maar ook ’n lewende bewys van ’n eg Afrikaanse lewe ná die dood van apartheid – ondanks die skade wat hy in sy vormingsjare deur ’n misvormde stelsel aangedoen is, is genoeg van die goeie in daardie selfde vorming aan hom oorgedra – spesifiek in die vorm van puik Afrikaanse en ’n landelike etos – dat hy ’n skeppende, sinvolle lewe aan die hand daarvan kon lei en dit op weergalose wyse boekstaaf.

Jy bied drie lesings oor Kleinboer se trilogie aan by die Vrystaatse Literatuurfees (deel van die Vrystaatse Kunstefees). Wil jy dalk kortliks hier uitbrei op sy drie boeke?

In Kontrei leer die leser Kleinboer ken as ’n Afrikanerman met ’n kleurryke amoreuse geskiedenis, ’n uitdagende aangenome kerngesin en ’n onmiskenbare Afrikaner-etos, wat veral neerslag vind in hoe hy optree as die chronies ondermynde hoof van sy huis, sy omgang met taal, en sy liefde vir plant en blom. 

In Werfsonde, sy tweede roman, is al hierdie temas ook teenwoordig, maar geleidelik begin die skrywer ’n geïntegreerde lewe lei, welke integrasie ten nouste saamhang met die vorm wat hy al skrywende aan sy lewe gee, as’t ware al skrywende tot verhaal kom.

In Hierdie huis, die sluitstuk van sy trilogie, word die voortsetting van hierdie prosesse verder geboekstaaf, tot op die punt van vrede met sy lot, ondanks alle verlies en misvorming. Waar Kleinboer in die eerste twee romans nog momentum opbou, bereik sy lewe en sy skryfwerk ’n klimaks met Hierdie huis

Is dit verkieslik dat mense al drie lesings bywoon omdat die gespreksinhoud by mekaar sal aansluit? So ook: dink jy dat sy boeke onafhanklik van mekaar gelees kan word, of eerder in samehang met mekaar? Dink jy, ongeag wat jou antwoord is, dat skrywers wat meer persoonlike soort fiksie skryf, se werk op hierdie manier gelees behoort te word? Jy kan dalk uitwys watter pluspunte of gebreke daar is wanneer al sy boeke gelees word, of dan ook as slegs een van sy boeke gelees word (in ag genome dat die waarheid dadelik fiksie word as dit neergeskryf word en ook dat die skrywer van die teks altyd self redigeer en die leser die skrywer dus nie volkome kán lees nie).

Omdat Kleinboer se fiksie so outobiografies is, behoort sy drie boeke saam gelees te word, nes elkeen van ons van ons lewe slegs as een lang verhaal met kleiner hoofstukke sin kan maak. Vir dieselfde rede sal mense beslis meer daaruit put as hulle al drie lesings kan bywoon, ofskoon elke lesing ook – nes elk van sy romans – ’n selfstandige eenheid sal vorm en dus steeds sin sal maak sonder om die ander twee ook by te woon.

Eweneens vir dieselfde rede spreek dit bykans vanself dat hierdie soort skrywer se werk op hierdie manier gelees behoort te word. 

Wat van hom as skrywer gryp jou aan? En wie dink jy sal dit geniet of geïnteresseerd wees om te kom luister na hierdie lesingreeks?

Bowenal sy geniale omgang met taal in die algemeen en Afrikaans in die besonder, maar ook sy vernuftige boekstawing van die wel en wee van ’n geslag Afrikanermans tydens en ná apartheid – sonder dat dit vir een oomblik ooit selfbewus of duidelik polities gedoen word. Ek dink Kleinboer is ’n onguns aangedoen toe die ongewone aard van sy lewe (“’n seksmal hoereloper”) gebruik is om sy eerste roman te bemark. Afgesien daarvan dat, soos ek in my lesingreeks sal uitwys, daar baie goeie redes vir sy ongewone voorkeure is, is daar veel meer in sy werk aan die werk. Enigiemand wat goeie letterkunde waardeer, behoort die lesingreeks te geniet.

Kleinboer was die eerste ontvanger van die Jan Rabie Rapport-prys vir sy boek Kontrei. Het hy van die begin af die ander twee boeke beplan om deel te vorm van ’n trilogie? En hoe gemaak met ’n volgende boek?

Ek praat onder korreksie, maar soos ek dit het, was die uiteindelike totstandkoming van ’n trilogie meer organies as bewustelik beplan. Ek laat dit aan hom oor om self iets te sê oor die moontlikheid van ’n volgende boek.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top